Genesis 15:1-21

Twyfel



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Ons almal ken meneer Twyfel. Hy is soos ‘n nuuskierige en neusinstekerige buurman. Eintlik ‘n onwelkome gas, en onwelkome besoeker. Want net as jou lewe weer in orde is, net as al die krisisse verby is, net as jy weer gesond is na ‘n lang siekte, net as al jou kommer verdwyn het, net as al jou planne in plek is en jy sien kans vir wat voorlê, dan klop hy aan jou deur.

Haai, ou maat, het jy ‘n paar oomblikke vir my? Ek wil jou nou nie kwaad maak of snaaks of lastig wees nie, maar dink jy regtig alles in jou lewe is in plek? Dink jy regtig jou planne gaan slaag? Dink jy regtig daardie siekte van jou gaan nie weer sy opwagting maak nie? Dink jy regtig die jaar wat kom sal beter wees as die voriges, dat jy die jaar sal maak? Dink jy nie die ellendes gaan met woede op jou toesak nie?

En bo alles: dink jy regtig ‘n wese so groot soos God gee regtig vir jou om? Dink jy nie dit is so bietjie voorbarig om te dink dat God mense vol van sonde liefhet en hulle versorg nie? Buitendien: onthou jy nie meer daardie keer toe jy soveel mense so seer gemaak het nie? Toe jy willens en wetens so liefdeloos opgetree het nie? Om nie eers te praat van al die kere wat jy so gruwelik nagelaat het om die regte ding te doen nie? En jy sê God sal help en beskerm? Gaan Hy nie eerder jou tot verantwoording roep en jou die straf gee wat jy verdien nie?

Het u ook, broers en susters, so ‘n buurman? Hy bevraagteken jou motiewe, hy sê jou planne gaan nie werk nie, hy sê jy mik te hoog, hy sê dit is belaglik om in die onsigbare God te glo. Hy maak jou bang vir wat kom, hy laat jou al die negatiewe dinge raaksien. Hy verlam jou, hy beroof jou van enige hoop, hy vertel jou hoe hopeloos en swak jy is. Hy vertel jou jy is uitgelewer aan ‘n wrede wêreld, en bo alles, hy oortuig jou dat jou God baie vêr is.

Abram, broers en susters, het op ‘n keer ook ‘n besoekie van meneer Twyfel gehad. So pas het God aan Abram belowe (eintlik weer belowe), dat sy nageslag soveel as die sterre in die hemel sal wees. En dat hy saam met hierdie nageslag in sy eie land sal woon. Goeie nuus. Wonderlike nuus. Nuus wat sê (en nuus wat ons altyd maar weer en weer wil hoor): alles sal regkom. Moenie bekommerd wees nie. Ek sal jou help, Ek sal by jou wees. Want Ek is God, die almagtige.

Maar wat gebeur toe? Toe God vertrek, toe klop meneer aan die deur. Hoe weet jy Abram, dit is God wat met jou praat? En dink jy regtig God kan dit doen? Kyk maar net na Sara, is sy nie al ‘n bietjie te oud vir die soort van ding nie? En dit was genoeg. Want toe meneer Twyfel vertrek, stort die woorde uit Abram se mond: Hoe sal ek dit weet, God? U belowe soveel, maar hoe kan ek dit glo?

En wat maak God? Hy besoek Abram weer. Met ‘n opdrag. Neem drie diere, sny hulle in die middel deur, en plaas hulle reg teenoor mekaar. Vir ons is hierdie bevel vreemd, broers en susters. Maar vir Abram was dit nie. Hy het die seremonie geken. Want dit was hoe verdrae of verbonde in daardie tyd gesluit was. Die diere word middeldeur gesny, teenoor mekaar geplaas, en dan het die twee persone wat die verdrag gesluit het, saam deur die dele van die karkasse geloop en dan aan mekaar verklaar: Mag wat met hierdie diere gebeur het ook met my gebeur as ek in gebreke bly om by die voorwaardes van hierdie verdrag/verbond/ooreenkoms te hou (Jer 34:18 is ‘n goeie voorbeeld).

En toe wag Abram. God sal weer kom, en dan sal hulle saam deurstap. So sal hy weet dat God sy woord sal hou. So sal meneer Twyfel op sy neus kyk. Want God het immers self vir die seremonie gevra. God wil self wys dat Hy vertrou kan word. Maar wat gebeur dan?

Ja, God kom. Maar Hy vat Abram nie aan die hand om saam met Hom deur te stap nie. Nee. Hy stap alleen deur. Hy vat Abram nie saam nie. Ongelooflik! Hoekom? Want wat sê God hiermee? Ek, Abram, sal my verbond met jou hou. Ten spyte van jou. Ten spyte van dit wat jy is en wat jy gaan doen. Ek sal getrou wees aan my beloftes, al sal jy nie getrou wees nie. Ek sal nie van jou vergeet nie, al sal jy my nog baie vergeet.

En wat leer die geskiedenis ons na hierdie gebeure, broers en susters? God se mense vergeet Hom tog so gereeld, maar God vergeet hulle nie. God se mense gee moed op, maar God nie. En dit is skokkend as ‘n mens na voorbeelde hiervan in die Bybel gaan soek, want die voorbeelde hou eenvoudig net nie op nie:

Toe Josef se eie broers hom in die put gooi, het God nie moed opgegee nie. Toe Moses gesê het dat God liewer vir Aäron moet stuur, het God nie moed opgegee nie. Toe die verloste Israeliete in die woestyn wou terug na die kospotte van Egipte, het God nie moed opgegee nie. Toe Aäron ‘n vals god gemaak het presies op dieselfde oomblik toe Moses by die ware God was, het God nie moed opgegee nie. Toe net twee van die tien spioene gedink het dat God magtig genoeg was om hulle te verlos, het God nie moed opgegee nie. Toe God se woord uit was en die blink afgode in, het God nie moed opgegee nie. Self toe God se mense in ballingskap weggevoer was, het God nie moed opgegee nie.

God kon, broers en susters. Dit moet ons nooit vergeet nie. God kon sy rug op sy mense draai, God kon van die gemors af weggeloop het wat sy mense weer en weer geskep het. Ons doen dit. Ons wil nie by sulke dinge betrokke wees nie. Maar nie God, broers en susters. Hy het alleen deur daardie karkasse gestap, dit was sy belofte.

En daarom het Hy nie alleen nooit sy rug op sy volk gedraai nie, Hy het na hulle toe gekom. Hy het hulle weer kom besoek. Vir die soveelste keer. Hy het onder ons kom woon. En ook toe geweier om met sy eie mense moed op te gee.

Toe die mense van sy eie tuisdorp probeer het om Hom oor ‘n afgrond te stamp, het God nie moed opgegee nie. Toe sy eie familie gesê het Hy is mal, het God nie moed opgegee nie. Toe so baie nie in Hom wou glo nie, het God nie moed opgegee nie. Toe Petrus Hom by die aandete aanbid het en by die vuur verraai het, het God nie moed opgegee nie. En ja, toe mensehande daardie spykers deur sy hande geboor het, het God nie moed opgegee nie. Want daardie deurboorde hande was dieselfde hande wat daardie brandende fakkel deur daardie karkasse gedra het. Dieselfde hande wat sy volk al die jare gedra het. Al het hulle so dikwels daardie hande van hulle af weg geklap.

Verstaan ons iets hiervan broers en susters? Partykeer dink ek dit is juis ons probleem. Dit is so ‘n ongelooflike liefde, dit is sulke geweldige trou, dat ons dink dit is nie moontlik nie. Maar dit is. Dit is die werklikheid waarin ons lewe. Die werklikheid waarin ons lewe is nie dit wat ons sien en ervaar wat meneer Twyfel sulke lekker skietgoed gee nie. Die werklikheid waarin ons leef is dat daar ‘n God is wat saam met ons loop, omdat Hy deur daardie karkasse geloop het. En toe Hy alleen deur daardie karkasse geloop het, toe het Hy al gesê, belowe: Ek sal saam met jou stap, al sal jy, my kind, nie altyd wil nie. Ek sal jou, my kind, nooit vergeet nie, al sal jy My nie altyd onthou nie.

Nee wat, broers en susters, met so ‘n God kan meneer Twyfel maar kom. Kan hy maar enige dag kom. Selfs as ek in ‘n kerkbank sit en luister na die begrafnisdiens van die een wat ek meer as my lewe liefgehad het. Selfs as ek hoor daardie gewas is kwaadaardig. Self as die donkerte oor my toeslaan as ek besef ek het weer gefaal, weer my humeur verloor, weer daardie sonde gedoen. Selfs as ek dink dit is alles verby. Want met so ‘n God kan 2*** maar kom. Ek is gereed. Want God wag vir my in elke dag wat gaan aanbreek.

Maar God wag ook vir meer. Hy wag dat ek uit dankbaarheid sal lewe soos Hy vra. Hy wag dat ek vir ‘n slag ernstig en toegewyd met Hom en sy gebod sal omgaan. Hy wag dat ander iets van sy liefde vir my in my liefde vir ander mense sal raaksien. Hy wag dat ek vir ‘n slag meneer Twyfel die deur goed sal wys.
Amen