Efesiërs 2:13-18; Filippense 4:4-7; Johannes 20:19-22, 26

Vrede vir julle



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Kerstyd, en die tyd van die wisseling van die jaar, sou 'n mens in 'n sekere sin as 'n tyd van vrede kon beskryf. Tydens Kersfees is die boodskap onder andere `vrede op aarde’, en so met die aanbreek van die nuwe jaar hoor ons telkemale (en miskien hierdie jaar meer as in voriges) dat verskeie mense se nuwejaarswens dié van vrede is.

Die vraag is egter, broers en susters, wat hierdie vrede is waarvan ons praat. Is die vrede wat deel is van die Kersboodskap byvoorbeeld dieselfde vrede as wat mense voor hoop in die nuwe jaar? En as Jesus net na sy opstanding telkens vir sy dissipels sê `vrede vir julle’, en politici beloof byvoorbeeld vrede, praat ons dan ook van dieselfde vrede? En miskien tog maar 'n laaste vragie: al kom ware vrede met Kersfees, wat word daarvan die res van die jaar?

Jesus Christus, broers en susters, het dikwels die woordjie vrede gebruik en van vrede gepraat. In die wyse waarop Jesus die woord vrede gebruik het, het Hy in die eerste plek, wil dit lyk uit die beskikbare bronne wat ons het, aangesluit by die gewone Joodse groet en spraakgebruik van sy tyd. Want as die Jood van vrede gespreek het — die bekende sjaloom — dan het hy/sy bedoel: voorspoed en welvaart vir jou wat betref veral die tydelike. Met ander woorde: amper iets soos ons `mag jy 'n heerlike dag hê’, `lekker dag’, `geniet die dag’ of `sterkte’.

In Jesus se mond, broers en susters, het die Joodse vredesgroet egter ook 'n baie ruimer en ryker inhoud verkry. En hiervan is die gedeelte wat ons uit Johannes 20 saamgelees het, 'n pragtige voorbeeld. Die dissipels, omdat hulle bang was vir die Jode, lees ons, het agter geslote deure vergader. Wanneer Jesus na sy opstanding tussen hulle kom staan is sy eerste woorde aan hulle: vrede vir julle.

Hierdie vrede wat Hy hulle toesê is egter nie vrede in die sin dat hulle nou nie meer bang hoef te wees vir die Jode, of dat hulle die betrokke dag 'n goeie en rustige dag mag beleef nie. Nee. Die vrede wat Jesus aan hulle toesê is die vrede van die graf, die vrede van die opstanding, die vrede wat Hy, deur sy liggaam, tussen God en die mens tot stand gebring het.

Dit is die vrede waarmee God elke erediens open wanneer ons met die seën begin deur te sê: `genade en vrede van God, Jesus Christus en die Heilige Gees’. 'n Groet van God se kant af wat sê: julle mag maar in my teenwoordigheid verskyn, julle mag maar hier saam wees rondom my Woord, julle mag My loof en prys, julle mag julle voor My verootmoedig, want daar is vrede tussen My en julle, dit is verwerf aan die kruis, julle is met My versoen, alles tussen My en julle is reg, alles is in orde, en daarom: heil en saligheid vir julle!

Met ander woorde, broers en susters: met Jesus se `vrede vir julle’, en God se `vrede vir julle’, byvoorbeeld aan die begin van elke erediens, word gesê: die vrede is beskikbaar, vrede tussen God en die mens, en daarom ook tussen mense, dit moet net aangeneem en toegeëien word. En tog, broers en susters, weet ons werk dit nie so maklik en eenvoudig nie.

Want so baie mense leef in onvrede met God, om nie eers te praat van onvrede met ander mense nie. En net so baie mense hunker na ware vrede, maar vind dit nooit nie. En dat die meeste mense 'n werklike behoefte na vrede het, of behoort te hê, meen ek is ook waar.

Wat maak mense/wêreld gewoonlik wanneer hulle na vrede smag en dit nie kry nie? Dikwels word diplomate en staatshoofde ingeroep. Persone met 'n bepaalde charisma word aangestel om mense met mekaar te versoen. En gewoonlik word sogenaamde vredesverdrae gesluit nadat vredeskonferensies gehou is. Of die radio, pers en televisie se hulp word ingeroep om mense aan te spoor om vrede te bevorder ('n huidige advertensie op televisie is hiervan 'n goeie voorbeeld), of mense word gevra om vredestuine aan te lê (en kry selfs toekennings daarvoor). En so kan ons aangaan.

Al hierdie pogings, broers en susters, en miskien is ek nou te negatief, is eintlik maar vrugteloos. Want in die eerste plek misken hierdie pogings die wese van ware vrede (dat dit om vrede met God gaan, vrede wat reeds verwerf is en nie geskep hoef te word tussen mense nie), en in die tweede plek hou hierdie pogings nie rekening met die oorsaak van onvrede nie — die bekende en alomteenwoordige sonde van die mense.

Vrede tussen mense, broers en susters, kan net kom waar daar reeds vrede tussen mens en God gekom het. Wanneer die mens sy sonde raaksien en die aard van sy sondigheid verstaan, werklik verstaan, sal die mens moet erken dat hy/sy nie eintlik in staat is om in vrede met ander te lewe nie. Dat hy/sy 'n ander nie eers vrede kan/mag toewens nie, juis omdat hy/sy dalk die eerste gaan wees wat onvrede in die persoon se lewe gaan veroorsaak. Want dit is ons aard, broers en susters, dit is ons manier.

Daarom: geen oppervlakkige Kersfees, geen goedbedoelde nuwejaarswens, of watter voorneme ook al, gaan en sal maak dat ons nou ewe skielik vredeliewende mense sal wees nie. Nee, broers en susters. Daar is net een iets wat mense se hunkering na ware vrede kan omsit in die leef van ware vrede: wanneer ons met ons hele wese Jesus se woorde van Johannes 20 aan sy dissipels en byvoorbeeld Johannes 14:27 aanneem — `Vrede laat Ek julle na, My vrede gee Ek aan julle’.

Met ander woorde: wanneer ons besef dat ons die vrede wat Jesus Christus tussen ons en God bewerkstellig het, deelagtig geword het, dat ons dit in besit geneem het, dat ons dit het, dat ons met God versoen is, dat God met ons vrede het — hoe vreemd dit ook al mag klink — dan, broers en susters, eers dan — nadat die mens nuwe mens geword het — is die mens in staat om met ander in vrede te lewe.

En hierdie vrede, broers en susters, hierdie ware vrede (die vrede waarvan Kersfees praat, die vrede wat Jesus sy dissipels in Johannes 20 toesê, die vrede wat God aan ons aan die begin van elke erediens toesê) kan die wêreld ons nie gee nie, maar ook, kan die wêreld nie van ons af wegneem nie (gaan lees gerus maar weer Filippense 4:4-7). Want dit is 'n vrede wat rus gevind het in God — nie in die wêreld nie — dit is 'n vrede wat diep in die hart en gemoed van die gelowige ingedaal het omdat hy/sy versoen is met God, met homself en daarom ook met almal naby aan hom of haar.

Kom ons wees maar eerlik, broers en susters. Hoeveel van ons hunker nie maar eintlik baie diepgrondig om ware vrede met God, onsself en ons medemens te hê nie? Wie van ons gun tog nie maar ook 'n ander persoon vrede in sy/haar lewe nie? En wie van ons bedoel dit tog nie ook maar opreg wanneer ons vir iemand sê: vrede vir jou nie? Die Woord sê vanoggend vir ons: dit alles kan en is moontlik.

Want soos eenmaal, op 'n Sondagaand lank gelede, het God vanoggend, en kom God nou weer, tussen ons staan terwyl Hy sê: vrede vir julle! En ons mag hierdie vrede toeëien, broers en susters, want ons is deel van sy volk, ons is deel van diegene van wie Psalm 29:11 gepraat het toe die psalmskrywer gesê het: `Die Here sal sy volk seën met vrede’.

My wens vir u, broers en susters, vir die jaar wat voorlê, is dat u ware vrede sal belewe. Waar u versoen met God, vrede met uself en met diegene by u sal hê. En daarom ook die ware vrede in die gemeente sal kan uitleef.

Maar dit is alleen moontlik wanneer ons God se vredesaanbod aanneem. En wie dit regtig doen, belowe die Woord ons, sal beleef dat God se vrede bewaar, dat God se vrede soms alle verstand te bowe gaan, dat God se vrede heel, dat God se vrede blydskap bring, ja, selfs in die tye waarin ons leef.

Vrede vir julle, sê God vanoggend.
Amen