Efesiërs 5:6-17

Waarheen is ons op pad?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
As iemand vanoggend vir u en my sou vra waarheen ons op pad is in die lewe, hoe sou ons antwoord? Of miskien moet ons vra: sou ons hierdie vraag kon antwoord? Het ons al ooit werklik oor hierdie vraag gedink? Of lewe ons maar net voort, sonder doel, so half en half uitgelewer aan die lewe, ons lewe, ons omstandighede?

‘n Mens sou hierdie vraag, broers en susters, op baie ander maniere ook kon vra. Wat beteken my lewe vir my, op hierdie mooi oggend? Waarvoor leef ek? Vir wie leef ek? Hoekom leef ek? Weet ek waarheen ek op pad wil wees, en waar ek wil uitkom met my lewe? Eintlik harde vrae hierdie, broers en susters. Want dit konfronteer so bietjie. Dit maak selfs seer. En ja, al antwoord ons dikwels hierdie vrae nie vir onsself nie, weet ons: een of ander tyd sal ek tog maar aan die paar ou lastige vragies aandag moet gee. Want in wese het al hierdie vrae tog eintlik maar net met die een groot vraag te make: wat is die sin van my lewe? ‘n Vraag wat, meen ek, nie te laf is om so aan die begin van die jaar te vra nie.

Die bekende teoloog filosoof Paul Tillich het by geleentheid gesê dat daar by die meeste mense dikwels twee vrese bestaan: vrees vir die dood as gevolg van skuldgevoelens, en die vrees vir sinloosheid. Dus: een vrees oor hierdie lewe, en een vrees oor die lewe hierna.

Ons hoef nie met hom saam te stem nie, broers en susters, maar wanneer ‘n mens vir ‘n slag goed luister na wat ander mense soms sê, of eintlik wil sê (hulle gebruik net ander woorde) is dit moeilik om dit wat hy hier sê te ignoreer. Wat sê mense soms? Ek noem maar net twee voorbeelde: ‘Die lewe maak nie vir my meer sin as ek kyk na alles wat rondom my gebeur nie – daar kan nie ‘n God van liefde wees nie!’ Of: ‘Ek is moeg – dit voel vir my asof ek in ‘n donker put ingesak het en eintlik wil ek nie meer leef nie want alles het vir my te veel geword – die lewe het sy sin verloor!’

Hierdie, broers en susters, is die taal van mense wat moedeloos geword het – mense wat voel dat daar nie meer ‘n doel agter elke dag se gejaag is nie. Mense wat die vreugde van elke dag iewers verloor het. En kom ek voeg by: watter angs moet dit nie by iemand na vore bring wat werklik so voel, en weet: die hele jaar lê voor. Wat gaan ek maak? Gaan ek dit maak? Of dalk, die ergste: ‘Ek gaan dit nie maak nie!’

Daar is basies twee maniere broers en susters, oordeel ek, waarop ‘n mens hierdie vrae (eintlik een vraag) kan antwoord: op jou eie, op jou manier (dus sonder God), of saam met God. Soos God. Of kom ons sê: soos God sou wou dat hierdie vraag geantwoord moet word. En kom ek begin by die eerste manier deur aan u net een voorbeeld te noem.

U het dalk almal al van die wêreldbekende skrywer, Leo Tolstoi gehoor. Sy bekende werke soos War and peace en Master and man word beskou as van die beste nog ooit geskryf. Sommige oordeel dat van hierdie werke van hom onder die beste vyf ooit in die wêreld tel. Dus: bekend, beroemd, ‘n gemaakte man. En op die oog af het dit ook so gelyk.

Maar dan publiseer Tolstoi in 1879 ‘n boek getiteld A Confession, waarin hy vertel van sy soeke na die sin en doel van die lewe. As kind het hy die Christelike geloof verwerp, na universiteit het hy soveel genot moontlik uit die lewe probeer put, hy het homself aan die sosiale lewe van Moskou en St Petersburg oorgegee; straf begin drink, uitspattig gelewe, ryk geërf en net so baie met sy boeke verdien. Maar, skryf hy, hy was nie tevrede nie: want ondanks al hierdie roem en sukses hy het steeds met ‘n leegheid in sy binneste gesit. Hy skryf hoe die vraag na die sin van alles hom tot op die rand van waansin gedryf het. En dan sluit hy hierdie groot werk met die volgende sin af: ‘Nie eers die dood kan enige sin in my in my lewe uitwis nie. Want daar was nie sin nie’. Iemand wat, broers en susters, alles gehad het, maar tog ook niks nie.

Wat is God se antwoord op hierdie vraag? Paulus gee dit vir ons in die gedeelte wat ons saamgelees het, en wat meer is, hy gee aan ons eintlik ‘n baie eenvoudige en ‘n baie praktiese antwoord. Lewe jou lewe soos God dit van jou vra. Lewe jou lewe versigtig. Lewe jou lewe met ‘n doel. Moenie jou tyd mors nie. Gryp elke kans aan.

Wat beteken hierdie antwoord van Paulus prakties, broers en susters? Ek wil probeer om dit soos volg te verduidelik: vra jouself die vraag af wat jy oordeel die belangrikste saak vir jou in die lewe is. As jy sê dit is wat ook al, jaag dit na, en dra die konsekwensies van ‘n sinlose lewe. Maar as jy sê dit is God, dan is die doel van jou lewe mos voorhande: smag na ‘n dieper verhouding met God in Jesus Christus. Wees besig met God soos hy met jou besig is. Wees besig met God se Woord, en God se Woord sal met jou besig raak.

En in hierdie proses sien toe dat jy versigtig lewe. Deur nie tyd te mors nie, en elke geleentheid aan te gryp. Watter geleentheid of geleenthede? Om deur jou lewe ‘n verskil te maak. ‘n Verskil te maak deur iets sigbaar te maak, teenoor ander, met ander en vir ander, van die liefde wat God vir ons het.

Al is jy besig met wat. Al doen jy wat. Al werk jy waar. Al is jy in watter graad op skool. Al hou jy van wat. Al bly jy waar. Dit maak nie saak nie. Want hierdie dinge is nie die pad van die lewe nie. Dit is maar net deel van een groter pad: om te lewe, elke dag nader aan God, tot ons eendag by God sal wees. Hou die groter prentjie in gedagte. Onthou waarheen jy eintlik op pad is. En dit sal jou pad in die lewe die moeite werd maak.

Hoekom, broers en susters, sal so ‘n lewe ‘n mens se lewe sinvol maak? Omdat so ‘n lewe ‘n mens daagliks konfronteer met wie en wat jy werklik is, en, tweedens waartoe jy werklik in staat is. En kom ek verduidelik.

Dieselfde Tolstoi skryf: toe ek myself vir die eerste keer werklik ondersoek het, was ek geskok oor wat ek gevind het: ‘n hele dieretuin vol sondige begeertes, ‘n gestig vol ambisies, ‘n kindertuin vol vrese, ‘n harem vol vertroetelde wrokke. My naam was Legio.

Dit is hierdie dinge, broers en susters, ons sondige begeertes, ons ambisies, ons onnodige vrese, ons vertroetelde wrokke, wat ons kom beroof van die sin van die lewe en van ware lewensvreugde. Want dit is nie hoe God wil hê ons moet lewe nie, dit is nie waarvoor Hy ons geskape het om te lewe nie, dit is nie, soos Paulus hier sê, die dinge van die lig nie.

Wat meer is, hierdie dinge beklemtoon maar net die feit dat ons almal ‘n ontsaglike behoefte het aan vergifnis. Ons kan nie daarsonder lewe nie. En ons almal weet: net God kan dit gee. Net God kan my losmaak van my begeertes, my ambisies, my onnodige vrese, my vertroetelde wrokke. Net God kan my vry maak om werklik te begin lewe. In kort: sonder God kan daar nie sin wees nie. Nie die vryheid om die lewe te gryp nie, ook nie die wysheid om versigtig te lewe nie, ook nie die kennis om te weet waaraan ek eintlik my tyd moet bestee nie.

Maar ons ken God mos, kan baie van ons hierop antwoord. Ons glo mos! Hoekom lyk my lewe dan nie so nie? Hoekom is daar nie sin nie? God se pad, broers en susters, die pad wat God met ons stap, is nie kafee toe en terug nie. Dit is nie kort nie, dit is nie bekend nie, dit is ‘n pad wat ons nog nooit geloop het nie. Want die pad saam met God breek nuwe dinge in ‘n mens se lewe oop. Dit open jou oë vir baie dinge wat jy voorheen nie raakgesien het nie. Juis omdat dit God se pad is, en nie jou pad nie.

Want ons eie paaie kies ons. En ons kies juis die bekendes, die kortes, die maklikes, die paaie waarmee ons gemaklik is. Paaie wat ons nie baie vra nie. Want wat vra dit nou eintlik om vinnig kafee toe te ry?

Nee. God se paaie is anders. En hulle is moeilik. Want hulle is dikwels onbekend. Ons weet tog nie wat God se pad vir ons elkeen die res van ons lewe is nie. Maar: God se paaie is ook opwindend. Dit lei ons na insig oor onsself, dit laat ons sien wie ons eintlik is. En wanneer ons vrygemaak word van daardie twee groot vrese in die lewe waarvan Tillich praat – die vrees vir die dood oor al die skuldgevoelens, en die vrees vir sinloosheid – lei Gods se paaie ons na ander. Na hulle langs my. Dit leer ons om versigtig met God se ander mense om te gaan, dit leer ons om elke geleentheid te gebruik wat God ons bied. En dit, broers en susters, dit alleen, maak ‘n mens vry. Wanneer jy met God op pad is, al weet jy soms nie eers waarheen jy op pad is nie.

Die jaar lê voor. Hierdie jaar gaan ek poog om van voor af, van nuuts af, te poog om naby aan God te lewe. Ek gaan God weer vra om my te leer om versigtig te lewe, om nie my tyd te mors met die dinge wat nie sy dinge is nie. En ek glo met my hele hart, broers en susters, dat God vir my, en vir u, so sal aanraak dat ons nie meer tevrede sal wees met die ou manier van doen nie.

Kom ons stap saam hierdie jaar, broers en susters, op God se pad. Nie omdat ons iewers wil uitkom nie, maar omdat dit God se pad is. Want om by God en saam met God te wees, is mos genoeg.

Ek sluit af met die vraag aan die begin: waarheen is ons op pad? Die antwoord? Saam met God! Vrolik, vergewend, versigtig, vol hoop, vol lewe, vol geleenthede, vol vreugde. Met baie sin. Want God is by my!

Mag u elkeen hierdie jaar God se ongelooflike teenwoordigheid, liefde en genade elke dag ervaar. My gebed vir u kan daarom ook nie anders wees dat die liefde van God, die genade van Christus en die teenwoordigheid van die Heilige Gees elke dag met u elkeen sal wees nie.

Mag u pad van 2005 God se pad wees!
Amen