Markus 12:1-12

Wat doen ons met God se wingerd?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Ons sou die gelykenis wat ons vanoggend gelees het vanaf verskeie hoeke kon benader.  Die eerste moontlikheid, veral wanneer ‘n mens vers 12 is ag neem, is om die gelykenis te verstaan as ‘n verhaal wat Jesus oor Homself vertel.  God het vir Hom ‘n volk uitgekies (‘n wingerd geplant), aan hulle die wingerd toevertrou, en herhaaldelike kere sy profete na hulle gestuur om hulle vrugte van geloof te sien.  Hierdie profete was egter nie welkom nie.  Laastens stuur Hy sy Seun, Jesus Christus.  Maar hy word ook doodgemaak.  En wie maak Hom dood?  Die Joodse leiers, hulle wat dink die wingerd (tempel) behoort aan hulle.  En omdat hulle die gelykenis verstaan, maak hulle juis planne om Hom om die lewe te bring (v 12).

‘n Tweede moontlikheid is om die gelykenis so te lees da dit iets te sê oor sonde en genade.  Die gelykenis beskryf hoe sonde soms in die lewe van die sondaarmens werk.  Sonde, as dit eers begin is, groei later welig.  Die eerste slaaf word gegryp, geslaan en weggejaag.  Die tweede slaaf word oor die kop geslaan en uitgeskel.  Die volgende slaaf word doodgemaak.  En baie ander na Hom.  En so het die sonde gewoonte geword.  Dit is nou hoe daar gelewe word.

God se genade, sê die gelykenis, groei dikwels ook.  Dikwels word die genade van God in die lewe van die mens net meer en meer.  God het sy mense so lief, dat die genade van God, so lyk dit, nooit ophou nie.  Keer op keer praat God met sy mense (hy stuur die wat die Woord verkondig), maar hulle luister nie.  En dan probeer Hy maar net weer.  En weer.  So groot is sy genade dat Hy later selfs sy eie Seun stuur. Ja, aan God se genade is daar geen einde nie.

‘n Derde moontlikheid is om die gelykenis te gebruik om iets oor die wederkoms te sê.  God praat met sy kinders op verskeie wyses.  Telkens sorg Hy dat ons sy Woord hoor.  God se mense moet egter nooit vergeet nie: op ‘n dag gaan sy Seun weer kom – met die wederkoms – en dan gaan God sy mense tot finale verantwoording oproep.  Ons moet daarmee rekening hou, en daarom elke so leef asof God vandag weer sal kom.  Dit beteken om God se wingerd (koninkryk van God) so te bewerk dat ons vrugte sal kan toon.

‘n Laaste moontlikheid, en ek wil dit tog noem al is dit net vir die interessantheid daarvan, is om die gelykenis te lees teen die politieke, sosiologiese en ekonomiese agtergrond van die tyd.  Ons weet dat Palestina in die tyd van Jesus onder Romeinse oorheersing was.  Baie van hierdie Romeine (veral die Herodiane – familielede van Herodes; Markus 3:6 en 12:13) het op verskeie wyses die grond van die Jode ingepalm, die grond met hulle geld verbeter en dan uitgehuur, dikwels aan die mense van wie die grond bekom is.  Die gelykenis wil sê dat dit nie langer geduld sal word nie.  Daardie boere sal hulle grond terugvat.  Al beteken dit dat almal wat gestuur word vir die invordering van die huur, doodgemaak moet word.  Dit is veral Markus 12:13 (waar die Herodiane juis planne maak om Jesus dood te maak net nadat Hy hierdie gelykenis vertel het) wat maak dat sommiges hierdie gelykenis sou lees.

Ek wil egter vanoggend saam u hierdie gelykenis op ‘n ander wyse lees.  Deur veral te kyk na soveel onverstaanbare en merkwaardighede dinge wat in die vertelling gebeur.  Of kom ek sê dit anders: kom ons gaan dink aan wat vir ons, in ons tyd, aanvaarbaar en nie aanvaarbaar is nie, normale of abnormale optrede is, en dan kyk ons na ‘n paar dinge wat in hierdie gelykenis gebeur.

Die eerste merkwaardige optrede in die gelykenis is dit wat die eienaar met sy grond maak voordat hy dit uithuur.  Hy plant ‘n wingerd, en bou ‘n muur om die diere en skelms uit te hou.  Hy rig selfs ‘n wagtoring op dat die wat daar werk en woon, kan sien wie en wat aan die kom is.  Die merkwaardigste egter is dat hy selfs ‘n parskuip uitkap.  Dit was baie moeite.  Drie groot gate is gewoonlik uitgekap, die volgende een altyd ‘n bietjie laer as die vorige.  In die eerste was die druiwe gegooi en uitgetrap.  Die sap en doppe het dan na die volgende gat gevloei.  In die tweede gat is die druiwe verder getrap en gesif, sodat in die derde gat net die sap ingeloop het.  Hierdie gate was met baie duur en moeilik bekombare kalksteen uitgelê.  So, baie moeite is gemaak. Alles was van die beste, niks was tekort nie  En dan?  Dan huur hy dit uit.

Wie van ons, broers en susters, sal ‘n huis koop, dit met die duurste en die beste regmaak, en dit dan uithuur?  Om te weet dat dit heel waarskynlik nie opgepas gaan word nie, en heel moontlik verniel sal word.  Om dan maar net weer, as ons dalk eendag self daar wil gaan bly, maar net weer van voor af alles reg te maak?

Die tweede merkwaardigheid is die wyse waarop die eienaar sy huur invorder.  Wie van ons, broers en susters, sal wanneer ons byvoorbeeld ons huur wil invorder, dit maar net gelate aanvaar as ons uitgeskel, geslaan en weggejaag word?  Dit sou totaal onaanvaarbaar wees.  Ons sou voel dat ons tog geregtig is op ons huurinkomste.  Ons sou so iets beslis nie maar net daar laat nie.

Meer nog.  As ons iemand anders stuur, en daardie persoon word sommer summier doodgemaak, sal ons dit maar net aanvaar?  So gelate, dat ons maar net weer en weer iemand stuur, heel waarskynlik met die wete dat hy seker ook maar doodgemaak sal word?  Ons sal dit nie doen nie, ons sal dit nie toelaat nie.  Die gemeenskap sal dit nie toelaat nie.  Maar die merkwaardige is: die eienaar bly maar geduldig, hy bly maar hoop, en daarom bly hy maar iemand stuur.

En dan die miskien heel merkwaardigste van die gelykenis: wie van ons, broers en susters, sal met hierdie geskiedenis van iemand stuur om ons huur in te vorder, so dom wees om ons eie kind te stuur?  Ek dink nie ons sal nie.  Want dit is mos duidelik: ook hy of sy sal doodgemaak word.  Teen hierdie tyd sal ons al van elke wettige middel (soos ‘n prokureur of die polisie of wat ook al) gebruik gemaak het om ons huur te kry.  En heel waarskynlik sou die huurders al lankal in die tronk gesit het.  Maar die merkwaardige: hulle word nie gestraf nie, dit is amper asof hulle gelate gelos word om maar net aan te gaan en aan te gaan en te doen net wat hulle wil.

Maar, broers en susters, is dit wat die huurders in hierdie gelykenis doen en vir ons so onaanvaarbaar is, en die merkwaardige dinge wat die eienaar doen, werklik so onaanvaarbaar en merkwaardig?

Wanneer God kom, en vir ons net die heel beste gee, ervaar ons dit as merkwaardig?  Ons behoort, maar ons doen nie eintlik nie.  Nee wat, God is maar so.  Hy is mos goed.  En dit sal mos maar altyd daar wees.  Eintlik het God se goedheid vir ons alledaags geword.  Dit is eintlik nie vir ons meer spesiaal nie.  Al sy liefde, genade, die gawes wat Hy ons gee, ons talente, ons geleenthede – ten spyte van wat ons is – nee wat, dit is eintlik nie spesiaal nie.  Immers, broers en susters, ons leef ten minste soms asof dit nie merkwaardig en spesiaal is nie.

Net so stuur God sy Woord na ons keer op keer.  Op verskillende maniere.  Deur die verkondiging, deur sy Woord, deur die Gees, deur die ouderling, die diaken, ander gelowiges – noem maar op – en wat maak ons soms daarmee?  Ons maak sy woord dood.  Ons maak sy boodskap dood. Want dit raak ons soms nie, dit roep ons nie op nie, dit bring ons nie in beweging nie.

Ja, selfs die feit dat Hy sy Seun aan die einde van alles stuur om ook maar net doodgemaak te word, is eintlik ook nie vir ons so merkwaardig nie.  Want, sê Jesus, jy is of vir my of teen my.  En elke keer, by wyse van spreke, as ons God se vergifnis eenkant toe stoot deur byvoorbeeld self nie te wil vergewe nie, of sy liefde vertrap deurdat dit ons nie verander nie, ook nie ons verhoudings met ander verander nie, kruisig ons Jesus maar net weer.  En weer.  Elke keer wat ons die wêreld kies, skree ons soos die skare voor Pilatus: ons kies Barabbas, ons kies Barabbas.  Maak Jesus maar dood.

En so, broers en susters, was daar op ‘n keer ‘n gemeente.  God was vir hulle goed.  Deur die mense in die gemeente het Hy gesorg vir pragtige geboue, gemaklik, gerieflik, daar was geen tekort nie.  Meer nog: op sy manier het Hy mense deel van daardie gemeente gemaak en hulle wonderlike gawes gegee om Hom, mekaar, die gemeenskap en die wêreld te dien.  Verder het God gesorg dat sy Woord altyd in die gemeente gehoor word.  Hy het mense gestuur om hulle te kom vertel dat God graag die vrugte van hulle arbeid en geloof wil sien.  Want hulle behoort tog aan Hom.  Hulle behoort darem tog dankie te wil sê vir dit wat Hy alles vir hulle gedoen het.

Hy het ouderlinge na hulle huise gestuur om hulle in die geloof op te bou, hulle te bemoedig, hulle van Hom te vertel.  Hy het ook diakens gestuur om hulle te vertel van die nood rondom hulle.

Maar dit het nie altyd gehelp nie.  Sommiges het pragtig gereageer, en self begin om ander van hulle wonderlike God te vertel.  Maar party het hulle nie veel daaraan gesteur nie.  Baie het geoordeel dat dit alles nou nie eintlik so merkwaardig is nie.  Sommiges het selfs gedink dat die vrug van hulle arbeid net hulleself toekom.  Ook hulle tyd.

God was vir die gemeente so goed, dat Hy selfs ‘n klomp pragtige kategete met gawes toegerus het om die kinders van hierdie gemeente van Hom te vertel.  Party kinders was baie opgewonde oor alles, ander egter weer het die hele ou spulletjie maar eintlik net as nog ‘n las gesien.  Nog iets wat gedoen moet word omdat ‘n mens moet.  Tragies is dat van hierdie kinders se ouers ook nie veel belang gestel het nie.  Dit was tog so baie moeite.  Al het God met hulle kinders se doop aan hulle getoon dat Hy hulle God is, en vir hulle sal sorg.  Al het hulle self beloof dat hulle – op verskeie maniere – hulle kinders van God sal vertel.

Baie dinge was reg in hierdie gemeente.  Sommige dinge was verkeerd.  En ander dinge kon so ‘n bietjie verbeter.  Maar dit was soms maar ‘n gesukkel.  Want vir baie was God se wingerd tog nie werklik so belangrik nie.  Vrugte het soms ontbreek, en soms was daar maar ‘n taamlike gebrek aan liefde en omgee vir mekaar.

Wat dink ons, broers en susters, sal die eienaar van daardie gemeente doen?  Heel waarskynlik sal sy Seun sê: Pa, kom ons gee hulle nog ‘n kans.  Ek sal weer soontoe gaan. Kom ons wees weer genadig.  Kom ons kyk wat gebeur in die jaar wat kom.

Hoe dink u, broers en susters, gaan hierdie gelykenis eindig?
Amen