Johannes 5:1-9; 9:35-38

Wat God doen om ons aandag te trek



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
'n Goeie en verantwoordelike ouer sal altyd sorg dat sy kinders versorg en veilig is. So sal ons byvoorbeeld, wanneer 'n klein kind met 'n skêr speel, die skêr met groot beslistheid afneem en selfs 'n harde woord toevoeg. Al huil die kind, al kla die kind. Want ons weet beter. Daarom soms die harde woorde: die kind se aandag moet op een of ander manier daarop gevestig word dat ons ernstig is.

Net so sal 'n werkgewer, wanneer 'n werknemer 'n bietjie laks is, eers die saak heel diplomaties hanteer. Daarna, as dit aanhou, sal daar miskien 'n bedekte waarskuwing volg. Later sal die werkgewer egter nie 'n ander keuse hê as om 'n brief van finale waarskuwing aan die werknemer te gee nie. Hoekom: want op een of ander manier moet die werknemer besef dat die werkgewer ernstig is. Dat hy aandag aan sy laksheid sal moet gee.

Dieselfde geld byvoorbeeld vir die vlieënier: 'n goeie vlieënier sal altyd alles in sy vermoë doen, alles wat nodig is om sy passasiers veilig by hulle bestemming uit te bring. Ek het op 'n keer, toe ek nog 'n student was, iets daarvan beleef: die lugwaardin het al die mense gevra om dadelik te gaan sit en vas te gordel, aangesien daar 'n groot donderstorm aan die kom was. Die meeste mense het gehoor gegee, maar 'n paar het gemeen dat dit nou nie werklik nodig was nie. Wat gemaak het dat die lugwaardin, vir 'n tweede keer, hierdie keer met 'n harder en waarskuwende stemtoon, die mense gevra het om vas te gordel. Selfs dit het egter nie op 'n paar 'n indruk gemaak nie. Met die gevolg: die vlieënier het vanuit die stuurkajuit gekom en die paar — kom ons sê maar —ongehoorsames met die volgende woorde individueel en persoonlik beveel om te gaan sit en hulleself vas te gordel: `Mense het al seergekry deur hulle tydens 'n storm nie vas te gordel nie. Kom ons spel ons verantwoordelikhede hier uit. Dit is my werk om julle deur die storm te kry. Julle werk is om te maak soos ek sê. Daarom: gaan sit nou en gordel vas!’

Het hy verkeerd opgetree? Sou ons reken hy was ongevoelig of onbedagsaam? Nee, juis die teenoorgestelde. Want hy sou eerder sien dat 'n paar mense verleë is as om seer te kry. Want goeie vlieëniers — en kom ons sê maar so terloops ook by — bestuurders, moet doen wat nodig is om hulle passasiers veilig by hulle bestemming te kry. Daarom moet hulle soms vêr gaan om mense se aandag te kry.

God ook, broers en susters. Dit is die saak vanoggend wat ons hier aan die woord wil stel. Hoe vêr wil ons hê moet God met ons gaan om ons aandag te kry? Luister gerus maar baie mooi na hierdie vraag: Hoe vêr wil u hê moet God gaan om u aandag te trek? As God moet kies tussen u ewige veiligheid/saligheid of u aardse gemak, wat hoop u sal God kies?

As God sien ons staan waar ons behoort te sit, as God sien ons is in gevaar eerder as veilig, as God sien dat die pad wat ons stap op chaos afstuur en niks goeds nie, as ons besluite neem of wil neem wat net negatiewe gevolge kan hê en geen positiewe afloop nie, ja, as ons lewe afstuur op 'n einde sonder God eerder as met God, hoe wil ons hê moet God kies?

En wat meer is, hoe vêr wil u hê moet God met u en my gaan om ons aandag te trek, om aan ons te toon dat Hy dit met ons erns het. Byvoorbeeld dat Hy ons op een of ander plek nodig het, dat Hy ons op een of ander plek wil gebruik? Of, kom ons sê dit nog anders: as God met u 'n bepaalde plan het, met u 'n bepaalde pad wil stap, maar u of ek stap 'n ander pad, wat hoop u sal God doen? Ons net los, of in ons lewens ingryp, hoe drasties ook al, dat Hy vir 'n keer werklik ons aandag kan kry?

Die Bybel is vol van voorbeelde hoe God in mense se lewens ingegryp het om óf te sorg dat sy plan met die wêreld en met die mens deurgaan, óf om te sorg dat mense se lewens nie langer verder skeefloop nie. So verskuif Hy Abraham na 'n totaal ander en vreemde land toe om te sorg sy plan met sy volk die loop kan neem. Vir Moses roep Hy, kan ons amper sê, nadat Moses al afgetree het. Met Jona praat Hy deur 'n vis wat Hom insluk of deur Jona se geliefde skaduweeboompie in 'n oogwink te laat verdor. Dit alles net om Jona se aandag te trek op wat God se plan is, maak nie saak wat sy eie plannetjies is nie. Of dink maar aan Daniël se bevordering van dienskneg tot as 't ware onderkoning, of Simson se terugslae, of vir Saulus wat Hy letterlik op pad na Damaskus gryp en hom net daar en dan Paulus maak: alles net om sy plan te laat deurgaan, al moet Hy die mens hoe hard tot aandag ruk om die mens se aandag te kry.

God, leer die Bybel ons dus, broers en susters, doen wat nodig is om ons weer op koers te bring, om ons aandag te kry. Dit is, myns insiens, ten minste een manier waarop die boodskap van die Bybel kan opsom. God wat die mens meedoënloos agtervolg. God op die jag uit. God aan die soek. Hy loer onder die bed na sy kinders wat vir Hom probeer wegkruip, Hy kyk agter elke bossie vir elke verlore skaap. Met hand bak, soos die Psalmskrywer sê, roep Hy in die klowe af na ons, worstel Hy met ons soos met Jakob by die Jabbokrivier totdat ons erken Hy is ons groot Vlieënier, Hy is die Koning van ons lewens.

Verder: net so onverbiddelik en onversetlik soos God kan wees, broers en susters, so kreatief is Hy. Want met dieselfde hand wat die manna stuur, dood Hy vir Ussa, dieselfde hand wat sy volk uit Egipte bevry, stuur hulle in ballingskap na Babel. Ja, so leer die Bybel ons is God: goed en streng, sag en taai, getrou maar beslis. Geduldig maar dringend. Of, soos iemand dit een keer beskryf het: God praat in die vorm van sagte donderweer.

Dit is hoe Johannes Jesus gesien het. Jesus wat met die mense gepraat het en gesê het wie Hy is. En die mens wat moes kies. God wat praat, en die mens wat moet kies. So het Jesus byvoorbeeld, beskryf Johannes dit vir ons, gesê: Ek is die brood wat lewe gee. Ek is die ware wingerdstok. Ek is die lig vir die wêreld. Ek is die opstanding en die lewe. Ek is die lewe. Ek alleen is die ingang vir die skape. Ek alleen is die goeie Herder. Ek alleen is die weg, die waarheid en die lewe. En Ek kom terug en sal julle na my toe neem.

Maar let op, broers en susters, al bied Jesus Homself aan die mens aan, dwing Hy die mens aanvanklik nooit om vir Hom te kies nie. Dit kom pragtig na vore in die twee kort gedeeltes wat ons vanoggend saamgelees het. Vir die man by die bad van Betesda sê Hy nie: `klim nou in die water in’, of, `word gesond’, nie. En vir die man wie se blindheid Hy so pas genees het, sê Jesus nie: `nou moet jy in My glo nie’. Nee, vir die man by die bad van Betesda vra Hy: `Wil jy gesond word’? En vir die blinde wat Hy genees het: `Glo jy in die Seun van die Mens’. God praat, sê Johannes dus, en die mens moet kies.

Maar, broers en susters, as die mens eers gekies het, eers een maal vir God gekies het, en so God se kind geword het, dan werk God anders met ons. Want as ons God eers ingenooi het, hou Hy nie op nie, loop Hy nie voordat sy werk klaar is nie. Want toe die man by die bad van Betesda sê: `ek wil gesond word’, maak Jesus hom nie net gesond nie, maar beveel hom dan: ‘Staan op, tel jou goed op en loop’.

Daarom sal God soms vir ons, broers en susters, ons wat klaar vir Hom gekies het, ons wat klaar sy kinders is, fluister. Soms sal Hy ons deur die verkondiging aanspreek. Soms sal Hy ons net saggies aanraak, en ons liggies op die regte pad stuur. Maar soms sal Hy skree, die klowe in. Hy sal ons aanraak en ons na Hom toe trek, al kos dit wat. Om ons aandag te kry, om ons te kry dat ons erken Hy alleen is God, Hy alleen is Koning, sal Hy soms ons laste wegneem, maar ook ons seëninge. As daar 'n duisend tree tussen ons en Hom is, sal Hy almal afstap om ons aan die hand te kom vat: soms saggies, soms 'n bietjie meer hardhandig.

En wat God dan ook al moet doen om ons aandag te trek, sal Hy doen. As ons is waar ons nie hoort nie, besig is met wat ons nie moet nie, of nie besig is waarmee ons behoort besig te wees nie, sal Hy ons bring om in pas te kom. Al moet Hy ons aandag op watter manier trek. Siekte of gesondheid, teenspoed of voorspoed, geluk of hartseer, noem maar op wat u al in u lewe ervaar het. Dit alles sal God gebruik om ons weer by Hom te kry, weer deel van sy plan, weer deel van sy koninkryk.

Een ding moet ons egter net baie goed verstaan, broers en susters. God doen hierdie dinge aan ons, God gryp soms in ons lewens in op radikale maniere, nie om ons noodwendig gelukkig te maak nie, maar om ons Syne te maak. Nie om ons te laat kry wat ons wil hê nie, maar om ons te laat kry wat ons nodig het. Nie om ons pragtige voorspoedige mense te maak nie, maar om ons sy kinders te maak.

En as dit 'n stamp en 'n stoot kos om ons ons sitplekke te laat kry, laat dit dan so wees. Want dit gaan oor of aardse gemak, of hemelse vreugde. Dit gaan oor my eie ingerigte lewe sonder God, of 'n gehoorsame lewe saam met God. Hoe sal u en ek wil hê God moet kies: dat ons maar moet aangaan, of dat Hy ingryp?

'n Laaste vraag voor ek afsluit. Ons kan vra: maar wie gee God die reg om met soveel gesag in ons lewens in te gryp? Wie gee God die reg om so beheer oor ons lewens oor te neem? Die antwoord is eenvoudig: Hy, net soos die vlieënier, weet wat ons nie weet of kan weet nie, sien wat ons nie kan sien. En God wil ons veilig by ons bestemming uitkry: wat ons voor bestem is in hierdie lewe, maar ook wat ons ewige bestemming betref. Daarom kan en moet God praat, en moet ons kies. En as ons nie wil kies nie, nie reg wil kies nie, moet God maar soms by wyse van sagte donderweer praat. Want anders kry Hy nie ons aandag nie.

Ek sluit af: Die Bybel bevat eintlik 'n baie eenvoudige verhaal. God het die mens gemaak. Die mens het God verwerp, en doen dit soms nog steeds. God weier egter om moed op te gee voor Hy die mense nie vir Hom, en sy saak, teruggewen het nie. Van Adam tot by Johannes se Openbaring sê Hy daarom: Ek is die Kaptein. Jy is die passasier. My werk is om jou by jou eindbestemming te besorg. Jou werk is om te maak soos Ek sê.

Dit alles, broers en susters, maak die volgende vrae vanoggend baie relevant: wat moet Ek maak, vra God, hoe moet Ek jou aanraak, wat moet Ek doen om jou aandag te trek voordat jy werklik jou doopbelofte teenoor My en jou kinders uitleef, wat moet Ek doen voordat jy besluit om wel op die kerkraad te dien, betrokke te wees by jou gemeente, die liefde te leef soos Ek vra, te lewe soos jy weet my Woord van jou verwag? Wat wil jy hê moet Ek doen om jou aandag te trek voor jy hierdie dinge doen?

Mag ons in die jaar wat voorlê, wanneer God praat, wanneer God ons aandag trek, die krag ontvang om reg te kies.
Amen