Psalm 84:12-14; Psalm 104:1-5, 19-23

Wat is ons ervaring van God?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Soos die Egiptenare, die Babiloniërs, Kanaäniete en byvoorbeeld die Sumeriërs het die volk van die Ou Testament, Israel, die son as 'n tydmeter gesien (vgl Ps 104:19-23).

Dit is, volgens Psalm 19:5-7, die son wat elke dag soos 'n bruidegom uit sy slaapkamer kom en sy hemelpad soos 'n held loop om die dae en jare af te meet. Dit is die son wat, sê Genesis 8:22, terwyl hy van suid na noord skuif, die seisoene bepaal. In baie kunswerke van daardie tyd, broers en susters, is dit dan ook nie vreemd dat die son dikwels met vlerke geteken is nie, 'n teken daarvan dat die son deur die lug beweeg, en waarom in die lewe niks stilstaan nie.

Ook ons teken vandag die son met vlerke, broers en susters, maar dan nie met prentjies nie, maar met woorde. Want sê ons nie graag dat die tyd vlieg nie?

Voor ons ons kan kry, hoor ons dikwels mense sê, is die dag om, of nog 'n maand of nog 'n jaar of dalk my lewe, en daar is nog so baie dinge wat ek graag sou wou gedoen het. Maar nou is die dag verby, die maand is om en die jaar is geskiedenis. Altyd soveel dinge op ons agenda, maar so min tyd. Wat meer is, broers en susters, mense sê ook: ek het soveel gulde kanse verspeel omdat in die dolle gejaag van die lewe ek op die verkeerde tyd daaraan aandag gegee het.

En juis daarom, broers en susters, gee verbygaande tyd dikwels aan mense 'n gevoel van mislukking. Want vir so baie belangrike dinge — soos om na my gesin om te sien, om aan my verhouding met die Here aandag te gee — was daar in die jaar wat verby is, net eenvoudig nie tyd nie. En so belas verbygegane tyd mense dikwels dan ook nog met skuldgevoelens. Want die son het eenvoudig net te vinnig sy vlerke geklap.

As dit enige troos kan wees broers en susters, is dit wat ek so pas gesê het, darem nie net van vandag af so nie. Lank al voel mense, beleef mense, dat die tyd vlieg, dat kanse verspeel word. So vroeg as Prediker in die Ou Testament lees ons van hierdie probleem.

'n Mens se tyd, sê hy, is beperk: daar is 'n tyd om gebore te word en 'n tyd om te sterwe. En hierdie kortstondige leeftyd, sê hy, is afgemeet in gunstige en ongunstige, regte en verkeerde tye. As 'n mens maar net geweet het, sê hy, wanneer dit die regte tyd is om te plant of om uit te trek, te bou of af te breek, sou 'n mens baie meer sukses en geluk in die lewe gehad het.

As 'n mens maar net geweet het wanneer jy moes sterk staan en wanneer jy moes toegee, wanneer jy moes ingryp en wanneer jy moes tru staan. Maar, kom hy tot die konklusie, ons sal ongelukkig nooit hierdie geheim van tyd uitvind nie. Ons sal nooit regtig weet wanneer dit presies die regte tyd is om 'n ding te doen nie. Want ons lewe onder die son, ons lewe in die tyd, in die oomblik. Waar ons uitgelewer is aan ons onkunde. So maklik doen ons die verkeerde ding op die verkeerde tyd, of selfs, die regte ding op die verkeerde tyd. En kort voor lank het die son jou laaste dag uitgemeet. Dan, sê hy, wil 'n mens sê: dit was alles tevergeefs.

Slegte tye wat ewe skielik op 'n mens afkom, broers en susters, goeie tye wat te vinnig verbygaan, of onkunde oor die regte tyd om 'n sekere ding aan te pak, kan 'n mens baie beangs maak. Waarheen vlug 'n mens met hierdie angs? Waarheen vlug 'n mens met hierdie vrese? Waarheen vlug 'n mens, in die tye waarin ons leef? Met die jaar wat voorlê, 'n jaar wat niemand van ons presies weet wat dit vir ons gaan inhou nie?

Vandag is u en ek gesond. Ons het geen versekering dat die aan die einde van die jaar nog so sal wees nie. Vandag het u en ek nog u geliefdes by ons. Watter versekering het u en ek dat dit die einde van die jaar nog so sal wees?

Waar vlug 'n mens heen? Wat is die oplossing?

U ken die antwoord, broers en susters. Na God. Hy sal sorg. Hy is ons sekerheid. Hy is ons vastigheid. En wat meer is broers en susters, u ken nie alleen die antwoord nie, dit is ook 'n baie ou antwoord. Heel waarskynlik 'n antwoord wat u feitlik elke begin van die jaar van een of ander kansel af gehoor het. Nie dat dit 'n verkeerde antwoord is nie. Inteendeel. Albei ons teksgedeeltes ondersteun ons antwoord. Die Here ons God is 'n son, sê Psalm 84:12 in die 1953-vertaling, Hy is die son by wie daar lewenskrag is in onsekere tye, sê Psalm 104:2. Soos die son elke dag opkom en sak, so getrou is God. Soos die son altyd daar is, so is God. Inteendeel. Die son is altyd daar omdat God dit gee, omdat God daarvoor sorg. Daar¬om, so seker as wat jy elke dag die son sien, so seker kan jy weet, God is daar. Jy kan op Hom vertrou. Hy sal daar wees. Jy kan op Hom hoop. Hy is getrou.

Ek glo, broers en susters, dat u hierdie antwoord ken. Ek glo verder, dat u hierdie antwoord glo. Die vraag is egter: hoe doen ons dit? Prakties. Nie in die kop nie, in die lewe. Met ander woorde: hoe lewe 'n mens wat nie maar net glo jy kan op die Here hoop, op die Here vertrou nie, maar dit lewe? Wat dit prakties lewe, so lewe, dat dit 'n verskil maak aan die lewe, so 'n verskil dat so iemand nie sê: maar die tyd vlieg maar net nie. Ek weet nooit wanneer ek wat moet doen nie. My lewe is 'n boek vol verspeelde kanse. Ek het soveel vrese vir die jaar wat voorlê.

Kom ons antwoord hierdie vrae vanoggend so prakties en eenvoudig as moontlik. Glo u, broers en susters, dat die son môre sal opkom? Ek glo feitlik almal van ons sal sê ja. Op grond van ons ervaring, dink ons tog so. Want elke dag van ons lewe wat verby is het dit gebeur.

'n Volgende vraag: dink u, broers en susters, dat indien u 'n baie goeie vriend van u 'n guns sou vra, iemand wat u lank ken, iemand wie u tevore verskeie kere genader het vir hulp, hy aan u daardie guns sal bewys? U sal waarskynlik antwoord: ek glo so, want my ervaring van die persoon is dat dit sal gebeur. Soos dit my ervaring is dat die son elke dag skyn, so is dit my ervaring met my vriend: hy het nog altyd gedoen wat hy beloof het.

Wat, broers en susters, is u ervaring van God? Wat ervaar u, en het u die afgelope jaar, byvoorbeeld, ervaar van God se teenwoordigheid in u lewe? Of God se teenwoordigheid vir solank u God ken, 'n besluit vir God in u lewe gemaak het?

Of, kom ons vra dit nog anders: wat het die afgelope jaar met u gebeur wat u graag nie sal wil oorhê nie? Of, kom ons kyk so 'n bietjie verder terug: wat, sou u reken, was die vyf dinge wat u al in u lewe oorgekom het, wat u as die mees traumatiese, ergste of wat ook al sal kan beskryf?

En kom ons probeer nog meer spesifiek wees: kan u miskien onthou wat deur u gedagtes gegaan het die oomblik toe hierdie dinge met u gebeur het? Watter spoke, heel menslik natuurlik, u en ek opgejaag het, watter negatiewe senarios u vir u geskep/geteken het, hoe vreeslik ons gedink het dit ons toekoms sou beïnvloed?

En wat, broers en susters, het toe gebeur? Kom ek sê vir u. Ons is vandag nog hier. En al het alles nie pragtig mooi uitgewerk of is alles presies opgelos nie, God het op sy manier gegee dat ons vandag, met al daardie dinge in ons verlede, nog sinvol kan leef. Hy was daar toe ons Hom nodig gehad het. Hy het nie ons hand gelos nie. Hy het ons nie in die steek gelaat nie. Is dit nie, broers en susters, u ervaring van God in u lewe nie? En as dit is, sê dit nie vir ons iets vir die toekoms nie? Iets vir die tyd wat so vlieg nie? Iets vir wat môre en oormôre dalk vir ons lê en wag nie?

Wat meer is, broers en susters, is dat ons glo die son sal môre waarskynlik weer opkom. Ons glo verder dat die wie ons vertrou, tog hulle beloftes aan ons sal nakom. Hoekom, dan nie, broers en susters, ook dit van God glo nie. God wat die son in sy baan plaas, God wat aan hulle wie ons vertrou, die lewe gee?

Miskien is ons probleem die wyse waarop ons ons geloof leef en beleef. Miskien is ons geloof nog te veel van net 'n kopsaak, 'n saak van kerk toe kom, Bybellees en bid. En te min 'n saak van ervaar, van ervaar hoe God in my lewe teenwoordig is, van ervaar hoe Hy my lewe stuur en rig.

Ek glo egter vas, broers en susters, dat wanneer 'n mens vir 'n slag gaan sit en so 'n bietjie jou eie geskiedenis in oënskou neem, jy nie anders kan as om raak te sien dat God altyd daar was nie. Dat iemand wat glo, nie anders sal kan as om te sê: maar ek sien raak hoe God my lewe beheer het nie. Ek sien nou raak dat ek God teenwoordig in my lewe ervaar het, al het ek dit nie besef nie.

Ervaring van God se teenwoordigheid, broers en susters, het natuurlik te make met die aard van 'n mens se verhouding met God, en meer spesifiek, die inhoud en diepte van daardie verhouding. Daarom meen ek dat dit die eerste saak is waaraan 'n mens dan ook moet werk. Nie in die eerste plek aan gebeure en omstandighede nie, maar aan my verhouding met God wat teenwoordig is in daardie gebeure en omstandighede.

Mag u broers en susters, die jaar wat voorlê so aanpak. Mag u daarna soek om raak te sien waar God op besondere wyses in u lewe teenwoordig is. Bo alles: mag u dit ook ervaar. Die Gees doen dit vir 'n mens wat daarna smag.

Dan sal ons saam met die Psalmskrywer kan sê: God is vir my 'n son, Hy is altyd daar, dit gaan goed met die mens wat op Hom vertrou!
Amen