Prediker 1:1-11; 1 Petrus 1:8-9

Wat maak ons met die tyd wat God aan ons skenk?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Van al die Griekse legendes wat ons van weet, is dié een oor Minotauris een van die minder bekendes. Egter een van die minder aangenames. Minotauris was ‘n monster, half man en half bul, met sy stapelvoedsel mensvleis. Vir hom was die Grieke baie bang. Die groot geluk egter was dat hy nie op vrye voet was nie. Die koning van Kreta, Minos, het Minotauris laat opsluit in ‘n tronk, die labirint. Anders gesê: die doolhof. Die tronk het bestaan uit ‘n hele klomp gange, deurgange en paadjies, maar met geen uitgange nie. Soos ‘n doolhof maar is, het een gang uitgeloop in die ander, sonder enige uitgang iewers. Om en om het Minotauris in hierdie gange rondgeloop, verdwaald, om en om in sirkels. Dus: om en om in ‘n wêreld sonder hoop en sonder uitkoms.

Baie mense in ons tyd, broers en susters, voel nie veel anders nie. Is ook sonder hoop en toekoms. Hulle reken die lewe bied hulle niks meer nie. En saam met Prediker (Pred 1:2; 9) sug hulle: Wat was, sal weer wees; wat gebeur het, sal weer gebeur. Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie. Alles kom tot niks…tot niks.

Om en om (in die jaar wat verby is het hulle en) loop hulle in hulle eie vervelige roetine. Die wekker lui, en hulle staan op, maak ontbyt en gaan werk toe. Dan kom hulle by die huis, maak kos, eet, kyk miskien ‘n bietjie televisie, en gaan slaap. En dan weer: die wekker lui, en hulle staan op. Die lewe het vir hulle geen koers, geen doelwit meer nie.

Soos Minotauris in die doolhof dwaal hulle deur elke dag. Dae kom, en dae gaan. Wat was, sal weer wees. Wat gebeur het, sal weer gebeur. So vervelig, so eentonig, so voorspelbaar word die lewe, dat hulle ook geen hoop meer het nie. Niks, glo hulle, sal anders wees en anders word nie. Alles sal vervelig en negatief bly soos dit is.

Dit is nou een maal die lewe: een groot dolle gejaag. Een groot gejaag na niks. ‘n Stewige stel afsloof om maar net te oorleef. Een groot poging om al die teenspoed en ellendes af te weer. Een saak van oorlewing. ‘n Saak van vasbyt. En moenie, ou maat, (sê hulle maklik en hoor ons dikwels) hoop op werklike, langdurige vreugde of voorspoed nie, want dit is maar net ‘n illusie.

Is ek baie negatief vanoggend, broers en susters? Miskien. Maar kom ons dink maar net so ‘n bietjie terug aan die jaar wat verby is. Is u tevrede met wat u vermag het? Is u tevrede met dit wat u met u tyd gemaak het? Is u tevrede oor wat alles wat met u gebeur het? Was dit ‘n moeite-werd jaar? Hoeveel vreugde was daar in u lewe? Hoeveel vrede? Wat het u bereik? Wat het van u drome, u doelwitte geword?

En God? Wat van God? Watter rol het God in u lewe gespeel in die jaar wat verby is? Nog meer: watter rol het u verhouding met God gespeel in die wyse waarop u u tyd bestee en ingekleur het? Het die feit dat u in God glo, u jaar anders gemaak? Of nie eintlik nie? En u verhouding met God? Het dit verdiep? Dieselfde gebly? Getaan? Of bestaan dit eintlik nie meer nie, juis as gevolg van die lewe wat so ‘n dolle gejaag geword het?

Daar is seker baie antwoorde op hierdie vrae, broers en susters. Een ding staan egter vas, en laat ons dit vanoggend maar weer baie goed hoor: vir die gelowige, vir die een wat werklik in God glo, kan die lewe nie sonder koers of doelwit wees nie, sonder drome en doelwitte, sonder vrede en vreugde wees nie. Tyd wat God skenk, kan nooit — en mag nooit — verspeelde of verspilde tyd wees nie.

Watter tyd, broers en susters, skenk God aan ons? Kom ons praat vanoggend so ‘n bietjie daaroor. God skenk aan ons ten minste drie soorte tye: genadetyd, leeftyd en ewige tyd (saligheid/ewigheid).

God se genadetyd, broers en susters, is nou-tyd, beslissingstyd, konfronteringstyd. Van God se genadetyd lees ons in 2 Petrus 3:9: ‘Die Here stel nie vervulling van sy beloftes uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore moet gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer’.

God se genadetyd, broers en susters, is hierdie sekonde, hierdie oomblik. Hier waar u en ek nou na die evangelie luister. Hier waar ons so pas (as ons geluister het) deur die Gees gekonfronteer was oor ons verhouding met God deur die afgelope jaar. Wat, broers en susters, wat is ons antwoord, eerlike antwoord, op daardie indringende vrae van die Gees? Het ons gesê: miskien was my verhouding met die Here nie lewendig soos dit moes nie, maar dit was darem daar. Dan, broers en susters, pleit die Gees in God se genadetyd by u: begin weer van voor af, soek die koninkryk, soek die Here opnuut in jou lewe in die nuwe jaar wat voorlê. God se geduld mag dalk ophou.

Miskien was u antwoord: ek moet erken, daar bestaan nie meer veel van my verhouding met die Here oor nie. Dit is alles net skyn, net vorm, met geen inhoud nie. Dan, broers en susters, pleit die Gees in God se genadetyd by u: maak die keuse een maal werklik vir God. Wend jouself werklik tot die Here. Ontvang sy gawes, maar deel hulle ook uit. Word nuwe mens. Waag net een keer om jou hele lewe aan God toe te vertrou, en kyk wat gebeur. Want God se geduld kan ophou.

Of miskien was u antwoord: deur die genade kon ek die jaar wat verby was, naby aan die Here leef. Het ek die Here se hand in my lewe gesien. Bid dan, broers en susters, dat u nie sal uitsak en moeg sal word in die geloof in die jaar wat kom nie. En doen so voort. God het u lief.

Wat gebeur, broers en susters, wanneer ‘n mens God se genadetyd aangryp? Wanneer ons reageer op die vrae van die Gees? Wanneer die Gees ons dring om te antwoord op God se gesproke Woord? Ons ontvang God se ewige tyd (saligheid/ewigheid). Petrus sê dit pragtig in 1 Petrus 1:8-9: Hom het julle lief…Deur in Hom te glo…het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met onuitspreeklike en heerlike blyd¬skap.

Wat sê Petrus hier? Ten minste dit: wie in die oomblik van genadetyd werklik vir God ‘n keuse maak — met ander woorde, wie werklik glo — kry onmiddellik deel aan God se ewige tyd. God skenk aan so iemand ewige tyd, saligheid, ewigheid. Nooit weer sal so iemand sonder God hoef te wees nie.

Die derde soort tyd wat God aan ons skenk, broers en susters, is leeftyd, of dan lewetyd. Wat is hierdie leeftyd? Dit is die tyd tussen God se genadetyd (die beslissing) en God se ewige tyd (saligheid). Met ander woorde, dit is die tyd wat ons as God se kinders lewe terwyl ons die finale saligheid afwag.

In hierdie tyd, sê 1 Petrus 1:8-9 behoort een saak sigbaar deel van ons lewe te wees: onuitspreeklike en heerlike blydskap. In alle omstandighede. Want ons behoort mos nou aan God. Is ons mos nou geborge. Ons het mos nou ‘n toekoms. Daar is mos nou hoop. God wag mos vir ons in elke nuwe dag. En Hy is mos nou by ons. Daarom, sê Petrus, behoort ons in ons leeftyd/lewetyd met blydskap vervul te wees?

Wat, broers en susters, is hierdie blydskap? Hoe lyk dit? Dit kan baie dinge wees, broers en susters. Meer nog: dit kan geweldig baie gesigte hê. Maar kom ek sê vir u wat ek dink dit behoort te wees. En ek haal aan wat ek iewers gelees het:

Mense is dikwels onredelik, onbeskof en egoïsties;
vergewe hulle IN ELK GEVAL.
As jy sagmoedig en altyd die minste is, sal sommiges oor¬deel dat jy eintlik selfsugtig is met bedekte motiewe;
wees sagmoedig en die minste IN ELK GEVAL.
As jy suksesvol is, sal jy ‘n klompie mooiweersvriende en ‘n klompie jaloerse vriende bykry;
wees suksesvol IN ELK GEVAL.
As jy naïef en eerlik is, sal baie mense jou kul en indoen;
wees naïef en eerlik IN ELK GEVAL.
Wat jou jare geneem het om op te bou, kan sommige men¬se oornag verwoes;
bou IN ELK GEVAL.
As jy geluk en vrede gevind het, sal baie op jou jaloers wees;
wees gelukkig en vol vrede IN ELK GEVAL.
Die goed wat jy vandag doen, sal waarskynlik môre al vergete wees;
doen goeie dinge en goed aan ander IN ELK GEVAL.
Gee aan almal die beste wat jy het, en dit sal vir baie nie goed genoeg wees nie;
gee jou beste IN ELK GEVAL.
Want sien, in die laaste instansie is alles in hierdie lewe eintlik net ‘n saak tussen jou en God;
dit was IN ELK GEVAL nooit ‘n saak tussen jou en ander nie.

Dit was, broers en susters, en is ‘n saak tussen jou en God. ‘n Saak tussen jou en die tyd wat God jou gee. God gee lewe. Daarom moet ons ons lewe vir Hom gee. God gee tyd. Daarom moet ons ons tyd vir Hom gee. Aan Hom alleen is ons enigiets verskuldig, aan Hom alleen moet ons en sal ons verantwoording doen.

God, broers en susters, gee in die jaar wat kom vir ons elkeen tyd. Genadetyd sal daar baie wees. Want Hy het met ons geduld. Saligheid kry ons, as ons op sy gawe en oproep reageer. Dan, broers en susters, moet ons egter weet: die tyd wat God dan skenk, die lewetyd, is tyd wat aan Hom behoort. Dit is tyd waarin ons alleen vir Hom mag leef.

Want vir die kind van God gaan dit mos in elk geval in die eerste plek oor God. Vir die kind van God gaan dit mos in elk geval om te lewe soos God vra.

Mag ons in die jaar wat kom so lewe dat almal rondom ons ons blydskap sal sien. En mag ons God se gawe van lewetyd so inruim, so benut, dat ons aan die einde van die volgende jaar kan sê: ek het gelewe soos God van my gevra het, al het dit my wat gekos, want dit gaan vir my in elk geval net oor God!
Amen