Markus 8:31-33

Watter jas dra jy?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Dit wat Jesus op aarde gesê het, het veral twee uitstaande kenmerke gehad. Eerstens was Jesus bekend vir sy bondigheid. Sy grootste preek (die bergpredikasie in Matt 5-7) kan in minder as agt minute gelees word, en sy bekendste gelykenis (die verlore seun in Luk 15) kan in negentig sekondes gelees word. Christus het gebed in vyf sinne opgesom (die Onse Vader in Matt 6), ‘n siel gered met een sin (Luk 23:43), die wet in net drie verse opgesom (Mark 12:29-31), en alles wat Hy die mense geleer het, in net een sin saamgevat: julle moet die mense liefhê soos Ek julle liefhet (Joh 15:12). Tweedens, broers en susters, was Jesus bekend vir die feit dat hy van voorbeelde, alledaagse voorbeelde, uit sy omgewing gebruik gemaak het om te verduidelik wat Hy wou sê. Daarom het hy gepraat van onkruid, mosterdsaad, boere, wingerde, skape, herders, diewe en nog wat. Noem maar op. Sake wat vir sy hoorders onmiddellik herkenbaar was.

Ek wil vanoggend, broers en susters, Jesus se voorbeeld volg. Daarom gaan ek, as toepassing van ons teksvers, Markus 8:33, ‘n kort gelykenis vertel met voorbeelde uit ons leefwêreld. Daarna sal ek met enkele opmerkings afsluit.

Daar was eendag ‘n man, kom ons noem hom maar Jan. Jan het geleef om mense gelukkig te maak. As ander ongelukkig was, was Jan nie gelukkig nie. Daarom het hy dit sy taak gemaak om ander gelukkig te hou. Geen maklike taak nie, want ons weet mos, wat party gelukkig maak, maak ander weer ongelukkig.

Jan het in ‘n land gebly waar almal elke dag ‘n jas gedra het. Die mense het nooit hulle jasse uitgetrek nie. Nooit het Jan gevra waarom dit so was nie, hy het altyd net gevra: watter jas sal ek aantrek sodat ander gelukkig sal wees?

Jan se ma was lief vir blou. Daarom het Jan, toe hy nog ‘n kind in die huis was, altyd ‘n blou jas gedra. Dit het sy ma, gelukkig gehou, en omdat Jan eintlik nooit die huis verlaat het nie, was hy gelukkig omdat sy ma met sy blou jas so gelukkig was.

Toe word Jan egter groot en begin om te werk. Hy het sy beste blou jas aangetrek, sy ma gegroet en hom na die stasie gehaas. Groot was sy skok toe hy op pad werk toe aanmekaar die woordjie ‘sies’ moes hoor. Hoekom? Want almal in die straat, by die stasie en op die trein het groen jasse aangehad. En omdat hulle duidelik ongelukkig was met sy blou jas, was Jan ook ongelukkig. Daarom het hy hom na die naaste klerewinkel gehaas en baie vinnig ‘n groen jas gekoop en dit dadelik oor sy blou jas aangetrek.

Groter was egter sy skok toe hy by die werk instap, en weer aanmekaar die woordjie ‘sies’ moes hoor, want by sy werk het almal weer net geel jasse aangehad. Sy werkgewer het gehoor van Jan se groen jas, hom na sy kantoor ontbied, vir hom ‘n geel jas uit sy kas gehaal, en die jas vir Jan met vermanende en streng woorde oorhandig. Trek dit dadelik aan, want hier dra ons net geel jasse. En Jan het dadelik die geel jas oor die blou en groen jas aangetrek. Want nou was almal gelukkig, en daarom hy ook.

Jan het vinnig aangeleer dat dit nie so moeilik was om almal gelukkig te hou nie. Wanneer hy die middag huis toe gegaan het, het hy by die deur van sy werk vinnig sy geel jas uitgetrek, en met die groene geloop. En almal was gelukkig. En wanneer hy amper by die tuinhekkie was, het hy vinnig die groene uitgetrek en sy ma met sy blou jas aan, gegroet. Dan was sy gelukkig, en Jan ook.

So het Jan uitgevind dat hy ‘n baie besondere gawe gehad het. Hy kon baie vinnig van jas verwissel. Of, hy kon baie vinnig van kleur verwissel. Enige tyd kon hy enige kleur wees, en almal was gelukkig. Nooit was daar enige konflik, skewe kyke, of hoef hy ooit weer die woordjie ‘sies’ te gehoor het nie.

Jan was so gewild by almal, dat hy later burgemeester geword het. Almal het van hom gehou. As mense met geel jasse hom kom spreek het, het hy vinnig sy geel jas aangetrek. En as hy ‘n afvaardiging van blou jasse moes te woord staan, het hy vinnig sy blou jas uit die kas gehaal. Almal het van Jan gehou. Want die met geel jasse het gedink Jan is hulle man, want hy dra dan altyd ‘n geel jas. En die groenes het gedink Jan was hulle man, want altyd was hy daar met sy groen jas. En die met blou jasse kon nie woorde vind om Jan te besing nie. Want kyk, waar ander geel en groen jasse dra, was Jan, net soos hulle, die man met die blou jas aan.

Jan se bont lewe het so aangehou totdat ‘n klomp geel jasse een oggend in sy kantoor ingestorm het. ‘Ons het op ‘n misdadiger afgekom’, was hulle woorde, ‘wat tereggestel moet word’, en die man tot voor Jan se lessenaar gestoot. Groot was Jan se skok toe hy sien dat die man geen jas aanhet nie!

‘Waar is jou jas?’, het hy gevra. En die man het geantwoord: ‘Ek dra nie een nie’. ‘Het jy een?’, het Jan gevra. ‘Ek wil nie een hê nie’, het die man geantwoord. ‘Jy wil nie ‘n jas hê nie’, het Jan geantwoord. ‘Maar almal dra dan ‘n jas. Dit is hoe dinge hier werk’. ‘Ek is nie van hier nie’, het die man geantwoord, ‘en waar ek vandaan kom, dra ons nie jasse nie’. ‘Maar wat daarvan’, het Jan gereageer, ‘as die mense hier nie daarvan hou nie? Wat daarvan as jy hulle ongelukkig maak?’

‘Ek soek nie ander mense se goedkeuring nie’, het die man geantwoord. ‘Ek het nie gekom om soos almal ‘n jas aan te trek wat ander pas nie, ek het gekom om die waarheid te verkondig’. ‘Wat is hierdie waarheid waarvan jy praat?’, het Jan gevra. Maar voor die man kon antwoord, het die mense van die dorp, wat buite begin saamdrom het, begin skree: ‘Sit hom in die tronk, sit hom die tronk!’.

Jan het vinnig buite toe geloer en gesien die mense buite het groen jasse aan, sy groen jas aangetrek en na buite gegaan, en gesê: ‘daar is niks fout met hierdie man nie’. ‘Nee, daar is’ het hulle geskree, ‘hy het nie ‘n jas aan nie. Hy moet tronk toe.’. Terug na sy kantoor het die geel jasse hom ingewag. ‘Sies’, het hulle vir Jan se groen jas gesê, en vinnig het Jan sy geel jas aangetrek. Maar voor hy iets kon sê het sy ma, wat van die krisis gehoor het, met haar blou jas die kantoor ingestap. En Jan was vas. Want watter jas moes hy nou aantrek?

Jan was in baie dele geskeur. Wie se kant moes hy kies. Die van die bloues, geles of groenes, of die van die man voor hom. ‘Ek kan nie almal tevrede stel nie’, het hy die man geantwoord. ‘Ek kan nie hulle tevrede stel en jou vrylaat nie. Help my’. Maar die man het nie geantwoord nie. ‘Asseblief’, het Jan in sy nood gesmeek, ‘praat asseblief met my’. En toe het die man sonder die jas net een woord gesê: ‘Kies’.
‘Maar ek kan nie’, het Jan gesê, en sy hande in die lug gegooi. ‘Vat hom’, het hy gesê, ‘ek was my hande in onskuld’. En al het Jan geen keuse gemaak nie, het hy geweet dat hy wel ‘n keuse gemaak het. Die man is weggelei, en Jan het alleen in sy kantoor agtergebly. Niemand om gelukkig te maak nie. Stoksielalleen. Net met sy jasse.

Die vraag vanoggend, broers en susters, aan u en aan my is: in die jaar wat voorlê, hoe gaan u kies wat betref u eie geloofslewe, u kinders se kategese, u betrokkenheid by u gemeente, u persoonlike stiltetyd, en byvoorbeeld God se opdrag van liefde en vergifnis?

Watter jas gaan u en ek aantrek? Of gaan ons geen jas aantrek nie. Mag God net nie vir ons aan die einde van die jaar sê wat ons in Markus 8:33 gelees het nie: jy het nie gedink aan dit wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wou hê. Gaan daarom weg van My!
Amen