1 Korintiërs 15:12-34

Die bewys vir die opstanding



Die volgende eksegetiese opmerkings het tydens die Preekwerkgroep (van die HTO) se werksessie op 15 Maart 2000 gedien:
Die volgende moontlikhede kan oorweeg word, deur of gebruik te maak van óf 1 Korintiërs 15:12-34 as sodanig, óf deur saam met 1 Korintiërs 15:12-34 ander tekste te gebruik:

  1. Deur op 1 Korintiërs 12-19 klem te lê kan die werklikheid van die opstanding as tema gekies word. In die lig van sekere van die jongste navorsing op Nuwe-Testamentiese gebied word die feitlikheid van die opstanding dikwels bevraagteken op grond van onder andere die volgende tekste:
    Die feit dat ons geen vertelling van Jesus se opstanding het nie, alleen vertellinge oor na-opstandings verskynings;
    Klem word gelê op die verskille tussen hierdie vertellings. Let byvoorbeeld op die verskille tussen Matteus 28:1-10 (Maria Magdalena en die ander Maria gaan na die graf, die engel verskyn aan hulle, en daarna Jesus self, hulle herken Jesus en aanbid Hom), Matteus 28:16-20 (Jesus verskyn aan die elf dissipels, party aanbid Hom, ander twyfel, Jesus gee die bekende missionêre opdrag), Markus 16:1-8 (Maria Magdalena, die ander Maria en Salome gaan na die graf waar net die engel aan hulle verskyn), Lukas 24:1-12 (‘n aantal vroue saam met Maria en die ander Maria gaan na die graf en vind dit leeg), Lukas 24:13-35 (twee persone loop saam met Jesus maar erken hom aanvanklik nie), Lukas 24:36-43 (Jesus verskyn aan die dissipels, maar hulle erken Hom nie, Hy nooi hulle uit om aan Hom te raak en te sien dat dit Hy is, Jesus is honger en vra iets om te eet), Johannes 20:1-10 (Maria gaan alleen na die graf, en wanneer sy dit leeg vind, gaan roep sy vir Petrus en die ander dissipel), Johannes 20:11-18 (Jesus verskyn aan Maria, maar sy herken Hom nie, nadat sy Hom herken, belet Hy haar om aan Hom te raak), Johannes 20:19-25 (Jesus beweeg deur ‘n deur, en hulle herken Hom), Johannes 20:26-31 (Jesus verskyn die tweede keer aan sy dissipels, Hy is nie beperk wat tyd en ruimte betref nie, hulle herken Hom, Thomas word genooi om aan Hom te raak) en Johannes 21:1-19 (Jesus verskyn ‘n derde keer aan sy dissipels, hulle erken Hom egter aanvank¬lik nie); en
    Matteus 27:62-66 en 28:11-15 (die steel van Jesus se liggaam en die komplot van die priester- en familiehoofde).

    Die vraag wat hier aan die orde kom is natuurlik of geloof gegrondves moet wees in historiese bewysbaarheid. Is glo en sien dit wat nodig is? Klem moet gelê word op die feit dat die opstanding ‘n geloofswerklikheid is, en dat die ‘bewys’ van die opstanding lê in die kerk en die lewe van die kerk.
  2. ‘n Tweede moontlikheid is om doodeenvoudig uit te gaan van die feit van die opstanding. Klem kan gelê word op die feit dat ‘n blote belydenis oor die opstanding egter nie genoeg is nie, maar dat die gelowige ook moet besef watter betekenis die opstanding vir hom/haar het. Drie sake kan hier aandag ontvang:
    Daar is ‘n direkte verhouding tussen die opstanding en ons geloof. Indien Jesus nie opgestaan het, is ons geloof ‘n halwe geloof. Jesus se opstanding is God se ja op die kruisdood. Sonder die opstanding is ons geloof ‘n halwe geloof.
    Jesus se opstanding is ‘n waarborg vir ons eie opstanding.
    Die verband tussen die opstanding en die doop. In die doopformule is die opstanding van die gelowige as belofte ingesluit. Ons doop dus nie alleen kinders wat van God af kom nie, maar wat ook na God teruggaan.
  3. ‘n Derde moontlikheid is om die oop graf te sien as ‘n bewys van God se liefde (hier kan Joh 13:1 en 20:1-10 as aanvullende tekste gebruik word). Die breë lyne van ‘n moontlike preekskets lyk dan soos volg: Daar kan baie redes aangebied word hoekom God ons eintlik behoort te verwerp, wat nog sy Seun in die graf te laat ingaan. God doen dit egter nie. Hoekom nie? Omdat ons God se idee is, sy hande, voete en oë. Ons is sy kinders. Daarom kan Hy ons nie meer liefhet as wat Hy ons reeds liefgehad het by wyse van die kruis en die oop graf nie.
  4. ‘n Vierde moontlikheid is om, met Kolossense 3:5-17 as aanvullende teks, te handel oor die volle betekenis van die opstanding, te wete ons eie opstanding eendag, maar ook die daaglikse opstanding uit die ou lewe om die nuwe lewe te lewe. Die Heidelbergse Kategismus kan hier aan die orde gestel word.

MOONTLIKE PREEK OOR 1 KORINTIËRS 15:12-19
Tema: Die bewys vir die opstanding

Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons vier vandag Paassondag, opstandingsdag, die dag waarop God Jesus Christus uit die graf opgewek het. Ons vier vandag wat ons elke Sondag bely wanneer ons belydenis van ons geloof doen: Christus het opgestaan, en Hy lewe!

Hierdie belydenis van ons, broers en susters, dat Jesus opgestaan het en lewe, is egter nie ‘n belydenis wat alle mense in ons tyd op hulle lippe sal neem nie. Selfs so vroeg as die tyd van Paulus, lei ‘n mens baie duidelik af uit 1 Korintiërs 15:12, was daar mense wat nie saam met Christene kon of wou bely dat Jesus opgestaan het nie.

In ons tyd, broers en susters, is hierdie ‘n oortuiging wat al hoe meer na vore kom. ‘n Oortuiging wat gegrond word op die uitspraak dat, omdat daar geen historiese bewyse gevind/aangebied kan word vir Jesus se opstanding nie, dit eenvoudig nie geglo kan word nie. Sien is glo, is die spreekwoord. Bring my die historiese bewyse, dan sal ek dit glo. Maar wat dan van dit wat in die Bybel staan, sal ons onmiddellik vir hierdie mense vra. En dan is hulle antwoord baie vinnig soos volg:

In die eerste plek, sê hierdie mense, vind ons in die Bybel geen vertelling, geen beskrywing van Jesus se opstanding nie, alleen vertellinge oor verskynings van Jesus na sy opstanding. Hierdie verhale van Jesus se verskynings na sy opstanding, beweer hulle verder, is nie sonder probleme nie. Wat meer is, hulle weerspreek mekaar so dat ‘n mens skaars die waarheid daarvan kan glo.

En kom ek noem u ‘n paar voorbeelde: in Matteus 28:1-10 gaan Maria Magdalena en die ander Maria na die graf, die engel verskyn aan hulle, daarna Jesus self, hulle herken Jesus en aanbid Hom. Volgens Markus 16:1-8 is dit egter Maria Magdalena, die ander Maria en Salome wat na die graf gaan en waar net die engel aan hulle verskyn. Lukas 24:1-12 vertel weer dat ‘n aantal vroue saam met Maria en die ander Maria na die graf gegaan het en dit leeg gevind het. En volgens Johannes 20:1-10 (het Maria alleen na die graf gegaan, en toe sy dit leeg vind het sy vir Petrus gaan roep. 1 Korintiërs 15:3-8 sê weer dat Jesus eerste aan Sefas verskyn het, en glad nie aan die vroue nie. Dus: die vertellinge verskil oor wie eerste by die graf was, en wie Jesus eerste gesien het, of Jesus nie gesien het nie maar net die engel.

Maar hulle gaan ook verder. In Matteus 28:16-20 verskyn Jesus aan die elf dissipels, party aanbid Hom, ander twyfel. In Lukas 24:13-35 loop twee persone saam met Jesus na Emmaus, maar herken hom aanvanklik nie. Dieselfde vind ons min of meer in Lukas 24:36-43, waar Jesus aan die dissipels verskyn, maar hulle herken Hom nie. Hy nooi hulle uit om aan Hom te raak en te sien dat dit Hy is. Volgens Johannes 20:11-18 verskyn Jesus aan Maria, maar sy herken Hom aanvanklik nie, en nadat sy Hom herken, belet Hy haar om aan Hom te raak. In Johannes 20:26-31 herken die dissipels egter wel vir Jesus, en Tomas word genooi om aan Hom te raak. Dus: soms word Jesus erken, soms nie, en soms mag hulle aan Jesus raak en ander kere weer nie.

Hulle laaste argument dat Jesus sogenaamd nie opgestaan het nie, baseer hulle op ‘n interpretasie van Matteus 27:62-66 en 28:11-15, waarin beweer word dat Jesus nie opgestaan het nie, maar dat die dissipels Jesus se liggaam uit die graf gesteel het.

Hoe antwoord die kerk, hoe antwoord ons, broers en susters, op aantygings soos hierdie? Daar is baie maniere moontlik. Ons sou eerstens kon gaan en aantoon hoekom dit so is dat die verskillende evangelies die verhale oor Jesus se verskynings na sy opstanding anders oorvertel. Of, ons sou kon gaan en aantoon hoeveel van Jesus se profesieë en voorspellings voor sy dood (bv dat Hy, na sy dood en hemelvaart die Trooster sal stuur) waar geword het. Hoe sy profesie dat Hy die tempel in drie dae sal afbreek en opbou (as verwysing na sy dood en opstanding) waar geword het.

Ek wil egter vanoggend, broers en susters, hierdie aan¬tygings van hulle wat sê Jesus het nie opgestaan nie, anders antwoord. En ek wil hê u moet dit vanoggend saam met my antwoord. Of, kom ek sê dit anders: ek wil u vanoggend nooi om hierdie aantygings saam met my op ‘n heel persoonlike wyse te antwoord. Om te sê: ons kan die tekste anders lees, is natuurlik ‘n goeie antwoord, maar dit is ‘n antwoord daar. Alleen iets wat u en ek kan sê. En om te sê dat ons maar net na Jesus se profesieë voor sy dood kan gaan kyk, en kyk hoe hulle bewaarheid geword het, is ook ‘n goeie antwoord, maar dit is ook ‘n antwoord daar. Iets wat ‘n mens kan sê of skryf.

Kom ons gee vanoggend, broers en susters, aan hierdie mense en aan die wêreld ‘n antwoord hier, ‘n antwoord wat uit ons harte kom, ‘n antwoord wat uit ons lewens kom, of, skerper gestel: kom ons bied onsself as antwoord aan.

En om dit te verduidelik, wil ek aansluit by een van die groot Nuwe-Testamentiese teoloë van ons tyd. Hy het op ‘n keer, toe hy oor die bewys van opstanding gepreek het, dit soos volg hanteer. Soos ek, broers en susters, het hy begin deur al die besware en argumente te noem wat mense het oor hoekom die opstanding nie ‘n historiese feit kan wees nie. Met ander woorde, hoekom dit nie moontlik is dat Jesus uit die graf kon opstaan nie, en hoekom dit maar net as ‘n ou storietjie van sy dissipels verstaan moet word.

Het Jesus dan nie opgestaan nie, het hy gevra? Natuurlik het Hy opgestaan, het hy uitgeroep. Hoe weet ek dit? Hy het met sy vinger na die naaste kerkganger gewys en gesê: Jy is tog die opgestane Christus.

Waarop hy onmiddellik gevra het: is dit te veel gesê? Is dit kettery om so te sê? Waarop hy geantwoord het (en nou moet u mooi luister): My liewe gemeente, as die opgestane Christus nie in julle leef nie, wat help dit dat ons al die bewyse kan bring dat hy wel 2000 gelede opgestaan het? As Jesus as die opgestane Here nie in die kerk leef nie, as Hy nie in ons wat in Hom en die opstanding glo leef nie, as Hy as die opgestane Here nie ons lewens verander het nie, as Hy nie deur die kerk en sy kinders die wêreld verander het nie, help dit niks dat Hy opgestaan het nie. Dan het sy opstanding, al het Hy werklik opgestaan, aan jou lewe niks verander nie.

Daarom: watter nut sou enige historiese bewys van die opstanding van Christus hê as sy opstanding geen verskil gemaak het nie. Watter nut sou enige historiese bewys vir die opstanding hê as jy dit nie met jou vinger kon aanwys nie.

As Jesus Christus opgestaan het, broers en susters, moet Hy immers iewers leef. Waar anders kan Hy leef as in ons wat in Hom glo, ons wat glo in die opstanding en die krag van die opstanding. En omdat ons glo en hierdie krag van God ontvang het, maak ons nou die koninkryk van God sigbaar. Lewe ons die nuwe lewe. Vorm ons saam die kerk. Maak ons almal saam die koninkryk sigbaar. Omdat Jesus opgestaan het, omdat Hy in ons lewe (deur sy Gees), en ons daarom nie anders kan as om self veranderende die lewe te verander in die rigting van sy koninkryk nie.

Hierdie preek, broers en susters, het in ‘n baie groot mate my lewe (en worsteling met baie sake in die geloof, soos bv die historisiteit van Jesus se opstanding) verander. Ek het met een besef: as jy ‘n bewys vir die opstanding soek, kyk maar net na die kerk. Kyk maar net na God se kinders. Kyk maar net hoe die kerk, 2000 jaar na Hy opgestaan het, moedig die lewe pak in die geloof.

Kyk maar net in hoeveel mense se lewens Christus leef. Kyk maar net hoe mense mekaar, ten spyte van geweldige verskille, voorkeure en afkeure, in die geloof as broers en susters aanvaar. Hoe hulle mekaar vergewe. In liefde ondersteun en dra. Hoe hulle met Christus se oë na mekaar kyk, as’ t ware met Christus se hande aanraak en versorg. Hoe Christus, omdat Hy opgestaan het en leef, in hierdie mense, in die kerk, leef.

Of, broers en susters, kom ek sê dit anders: ek het besef dat die evangelie, die blye boodskap van Jesus Christus se opstanding, nie ‘n historiese merkwaardigheid of maar net ‘n dogma/leerstuk van die kerk is wat ‘n mens met logiese en historiese argumente kan staande hou nie. Nee. Dit is ‘n krag van God, ‘n krag wat nie alleen Christus uit die graf opgewek het nie, maar ook ‘n krag wat Christus in my laat leef, my deel van Hom maak, soos die Johannesevangelie dit sê, waar ek ‘n lopende bewys word dat Jesus die graf oorwin het.

Ons lewe, broers en susters, u lewe en my lewe, die lewe van die kerk, moet elke oomblik se bewys bring en wees dat Christus leef en dat die opstanding van Christus mense se lewens verander het en anders en nuut kan maak.

Anders het Jesus, al kan ons dit histories tot op die punt bewys, verniet gesterf en opgestaan. Dan het sy opstanding net nog ‘n punt van bespreking tussen historici en ongelowiges geword. Ja, dan is ons, ons wat nie die opstanding sigbaar wil leef in ons lewens nie, die oorsaak dat mense begin sê, en glo, dat Jesus in die graf gebly het.

Dit help nie, broers en susters, en hiermee sluit ek af, dat ons maar net elke Sondag kom en hier kom bely dat Jesus opgestaan het en lewe nie. As ons wil hê die wêreld moet dit glo, ander wat ons sien leef moet dit glo, moet hierdie belydenis sigbare dade word, dade wat tekenend is van die feit dat ons in Jesus Christus nuwe mense geword het, dat Hy in ons leef, omdat Hy opgestaan het en leef!
Amen