Johannes 13:1; 20:1-10; Lukas 23:38-43

Die oop graf: 'n bewys van God se liefde



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Waarom, broers en susters, het God ons lief, so lief, soos Johannes 13:1 dit stel, dat Hy bereid was om nie alleen te sterf nie, maar ook die Godverlatenheid van die graf te deurleef en op te staan sodat ons ook altyd sal lewe? Hoekom, is die vraag, het God ons so lief, dat Hy bereid was om dit te doen?

Beslis nie omdat ons dit verdien nie. Want hoeveel pyn het ons nie al vir God veroorsaak nie? Wat meer is, Hy gee ons elke dag elke asemteug, maar dank ons Hom ooit daarvoor? Net so het Hy aan ons elkeen 'n unieke liggaam met vermoëns gegee, maar loof ons Hom ooit daarvoor? Ek dink die antwoord is eenvoudig: selde.

Of, broers en susters, God gee vir ons dag vir dag om in te lewe. Maar dan kla ons oor die weer. Ons stry oor watter geslag die beste is, mans of vrouens. Daar gaan ook nie 'n sekonde verby nie of iemand gebruik God se naam as 'n swetswoord. Verder oorlaai God die wêreld met kos, ons gooi dit soms weg, maar dan blameer baie God vir die plekke waar daar hongersnood is. Gee God vir ons mooi blou lug, dan wil ons reën hê. En as dit reën, eis ons sonskyn (so asof ons in elk geval weet wat die beste is).

Wat meer is, broers en susters, is dat ons soms meer lof vir 'n gespierde man met 'n rugbybal in sy hand het as vir God het wat ons gemaak het. Ons sing ook meer liedere oor die maan en die liefde as vir Christus wat ons deur die graf heen gered het. Ons is soos 'n muggie op die stert van 'n olifant, en tog dring ons soms daarop aan dat God presies moet maak soos ons wil. En as God nie vir ons gee wat ons wil hê nie, dan sê ons Hy bestaan nie (so asof ons opinie in elk geval saak maak). Wat meer is, ons besoedel die aarde wat God aan ons geleen het. Dikwels mishandel ons die liggaam wat Hy ons gegee het. Ons ignoreer soms te gou en te maklik die Woord wat Hy vir ons gestuur het.

Dus, broers en susters, honderde redes hoekom God ons eintlik maar aan ons eie slimmigheid, opinies, menings en lot kan oorlaat. Maar Hy doen dit nie. Hy het ons lief. Selfs tot in en deur die graf. Ons boosheid verander niks aan sy liefde nie. Inteendeel. God se liefde hou nooit vir ons op nie. Hoekom nie, broers en susters? Hoe kan ons dit verstaan, hoe kan ons dit verklaar?

Die antwoord, broers en susters, op hierdie vraag lê opgesluit in nog 'n ander vraag, 'n vraag wat 'n mens aan 'n moeder van 'n baie jong baba moet vra: hoekom het sy haar baba lief?

Vir maande het die moeder haar baba in haar rondgedra, en het hierdie baba aan haar taamlike ongerief en ongemak veroorsaak. Die baba het haar elke oggend naar gemaak, en haar laat smag of ewe skielik na beskuitjies of ewe skielik na iets anders. En geskop en geskop totdat alles later seer was. Maar die ma het nie omgegee nie. Sy het haar baba in haar warm gehou. Haar gevoed. Haar veilig gehou, sonder om van haar baba te verwag om vir haar dankie te sê.

En skaars was die kleinding gebore, of sy bly die hele tyd aan die huil. Dan is die vertrek te warm, dan is dit te koud. Dan is die kombers te grof, dan is ma se hande te koud. In die nag slaap sy nie veel nie. Nooit laat sy haar ma met rus nie. Goed, pa spring in en is bereid om te help. Maar kleinding soek sy ma, want pa is nie goed genoeg nie.

Al die moeite, broers en susters, al die ongerief. Maar dit maak vir die ma nie saak nie. Want sy is gek oor haar baba. Jy kan dit sommer op haar gesig sien wanneer sy haar optel. Sy het haar lief. Oneindig lief. Hoekom? Omdat die baba hare is? Ek dink selfs meer as dit. Omdat die baba sy is. Haar bloed. Haar rugstring. Haar vlees en spier. Haar hoop. Haar erfenis. Haar liggaam. Dit maak haar 'n ma.

Presies om dieselfde redes, broers en susters, het God ons ook so oneindig lief, so lief dat Hy bereid was om selfs die dood vir ons te oorwin. Want ons is niks anders as God se idee nie. Ons is Syne. Ons is sy oë. Sy gesig. Sy hande. Sy aanraking. Wat meer is, soos die baba neefs en niggies sal hê, ander wat naby en verlangs familie van haar sal wees, het God geen neefs en niggies nie. Net kinders.

Wat ons almal is. Kinders van God. Omdat ons glo dat Jesus gekruisig, begrawe en opgestaan het. Vir ons. Omdat Hy ons liefhet. En al tree ons nie altyd op soos daar van kinders van God verwag word nie, broers en susters, is daar geen groter waarheid as juis dit nie: ons is altyd God se kinders, ons bly en is syne. Want hy het ons lief. Onsterflik lief. Presies soos Paulus dit in Romeine 8:38-39 uitdruk: niks kan ons skei van die liefde van Christus nie. Nie eers die dood nie. Want juis in die graf, en deur die graf, het God aan ons bewys hoe lief Hy ons het.

Niks kan ons van die liefde van God skei nie, nie eers die dood nie. Dit sê God. En as dit nie God was wat hierdie woorde gesê het nie, sou ek vanoggend 'n gek gewees het om dit aan u te sê. Want wie kan tog die dood oorwin? Maar aangesien dit God is wat dit sê, broers en susters, sou ons gekke wees om dit nie te glo nie. Niks kan ons skei van die liefde van Christus nie, nie eers die dood nie, want Sy opstanding was juis 'n teken van hoe lief Hy ons het.

Daarom broers en susters: wanneer u of ek iets doen wat ons meen ons buite die kring van God se liefde plaas, iets wat ons meen verraad teen God was, dalk 'n verbreekte belofte, en ons begin dink dat God ons liewer sou hê as ons hierdie dinge nie gedoen het nie, of as ons 'n beter mens was, dan skree die oop graf oor die hele wêreld uit: Nee, nee, nee!

God se liefde is nie menslik nie. Sy liefde is nie normaal nie. Sy liefde sien jou sonde en het jou steeds lief. Keur Hy ons foute goed? Natuurlik nie! Wil Hy hê dat ons onsself moet bekeer. Natuurlik, en diepgrondig ook! Wil Hy het ons moet met groter toewyding voor Hom lewe? Altyd!

Maar Hy kan ons nie meer liefhê as wat Hy ons reeds het nie. Daarvan is die oop graf 'n bewys. En wie dit nie glo nie, sê Paulus in 1 Korintiërs 15:2 en 17, se geloof is tevergeefs en waardeloos.
Amen