1 Korintiërs 15:1-28

Die opstanding en ons geloof



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Daar is nie een van ons vanoggend hier wat nie glo dat Jesus uit die dood opgestaan het nie. Om die waarheid te sê, ons bely dit gereeld wanneer ons elke Sondag saam met die gemeente ons geloof bely, soos ons dan ook vanoggend weer gedoen het.

Wat meer is, broers en susters, die opstanding van Jesus is nie maar net iets wat ons bely omdat dit in die belydenisse van die kerk staan, of omdat ons maar net hoop dat dit werklik gebeur het nie.

Inteendeel. Teenoor so baie teoloë wat deesdae van mening is dat Jesus nie werklik opgestaan het nie, bely ons dit omdat dit vir ons 'n historiese feit is. En hier is die Bybel in baie opsigte baie interessant. Want waar ons bely dat die Bybel nie 'n geskiedenishandboek is nie, is die Bybel, wat die opstanding betref, amper 'n geskiedenis-handboek. Want in 1 Korintiërs 15:1-11 lees ons van nie minder as ses verskynings van Jesus na sy opstanding aan verskeie groepe mense. En in die evangelies word van ook nog ander verskynings van Jesus vertel.

Vir ons is die opstanding van Jesus dus histories vas en waar. En bely ons dit nie maar net omdat ons hoop dit het gebeur nie, maar omdat ons weet dat dit gebeur het.

Aan die ander kant, broers en susters, mag die opstanding van Jesus egter nie iets wees wat ons maar net formeel bely nie. Juis omdat Jesus se opstanding 'n gebeure is wat ons elkeen intens raak. Ons kan dit ook anders stel: al weet ons dat Jesus opgestaan het, is die vraag watter betekenis sy opstanding vir ons het.

Aan hierdie vraag wil ek vanoggend in die res van die prediking aandag gee. Myns insiens is daar ten minste drie sake wat hier van belang is, twee waarna daar in 1 Korintiërs verwys word, en een saak wat met die doop te make het. Kom ons kyk daarna.

In die eerste plek, broers en susters, moet ons raaksien dat daar 'n direkte verband tussen die opstanding van Jesus en ons geloof is. As Jesus in die graf gebly het, nie opgestaan het nie, was Jesus maar soos enige ander groot figuur in die verlede, iemand van wie ons baie kan leer, net nog 'n held wat op die ou end maar net gesterf het.

En niemand verwag tog iets van 'n dooie mens nie. Niemand kan iets ontvang van 'n dooie mens nie. Wat meer is: hoe kan 'n godsdiens lewe as daardie godsdiens 'n dooie mens vereer?

Daarom skryf Paulus in 1 Korintiërs 15:14 baie duidelik: ‘En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud’. Letterlik staan daar eintlik: dan is julle geloof leeg.

Met ander woorde, sonder die opstanding van Christus is ons geloof leeg, en kon ons maar net sowel in Sokrates, Plato, Buddha of Baäl geglo het. Dit sou ons presies ewe veel in die sak gebring het.

En in vers 17 gaan Paulus nog verder: `en as julle nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes’. Met ander woorde, as Jesus nie opgestaan het nie, sou ons verlossing 'n halwe verlossing gewees het, 'n onvoltooide verlossing. Die feit dat God Hom, na sy kruisdood uit die dood opgewek het, was God se JA op sy daad aan die kruis op Golgota. Daar het Hy vir ons, in ons plek, versoening gedoen by God. En omdat God daardie versoening aanvaar het, het Hy Jesus uit die dood opgewek.

Daarom sê Paulus: as Jesus nie opgewek is nie, is ons geloof nie alleen nutteloos nie (want dan glo ons in 'n dooie afgod), maar ons verlossing alleen halwe verlossing. 'n Halwe verlossing wat eindig by sondevergifnis, maar wat tog eindig in die dood. Maar nou het Jesus opgestaan, is ons geloof nie nutteloos nie want ons glo in 'n lewende God, en is ons verlossing volkome: is ons verlos van die sonde en die ewige dood.

Tweedens, broers en susters, het die opstanding van Jesus betekenis wat betref ons eie opstanding. Want in 1 Korintiërs 15:20 skryf Paulus: `maar nou, Christus is opgewek uit die dood as eersteling uit die wat gesterf het’.

Die begrip eersteling is hier belangrik om te verstaan wat Paulus bedoel. Die begrip eersteling vind ons veral terug in die Ou Testament, soos byvoorbeeld in Levitikus 23:10 waar daar beveel word dat die eerste gerf van die oes na die priester gebring moes word. Die eerste gerf het die hele oes verteenwoordig, en as die eerste gerf deur die priester geseën is, was dit die waarborg dat die hele oes geseën was, en omdat die eerste gerf aan God geoffer is, was dit die waarborg dat die hele oes as' t ware aan God geoffer was.

Nou noem Paulus Jesus die eerste/eersteling wat opgewek is uit die dood. Wat eenvoudig beteken, in lyn met die beeld wat in die Ou Testament gebruik word, dat Sy opstanding die waarborg is dat ons ook eendag sal opstaan.

En hier gaan Paulus ook verder, want in 1 Korintiërs 15:24-28 impliseer hy: mense wat deel is van God se opstanding gaan 'n wonderlike toekoms tegemoet. Want met Jesus se wederkoms, wanneer Hy kom om te oordeel, behoort ons reeds aan Hom. Daarom, omdat ons reeds in sy opstan¬ding deelagtig geword het, het ons niks te vrees vir die wederkoms of die eindoordeel nie.

Dus: Jesus se opstanding verseker ons toekoms by God en saam met God: omdat Hy opgestaan het sal ons opstaan, omdat Hy lewe sal ons vir altyd lewe, omdat Hy by God is sal ons ook eendag by God wees.

Ten slotte: die opstanding van Jesus het ook 'n direkte verband met die doop. Want wanneer ons kinders doop, doop ons hulle altyd in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Wat eenvoudig gesê, die volgende beteken:

Dat die beloftes van die Vader ook beloftes vir hierdie kind is, dat die redding van Jesus (en dus ook sy opstanding) ook die redding van hierdie kind sal wees, en dat die Heilige Gees die beloftes van die Vader en die redding en opstanding van die Seun waar in hulle lewens sal maak, dat hulle dit werklik deur die geloof sal ontvang en alles deelagtig sal word.

Wanneer ons dus kinders doop, doop ons nie alleen kinders wat van God af kom nie, maar kinders wat weer na God toe sal teruggaan, juis omdat ook in die doop alreeds die belofte van die opstanding opgesluit lê.

Met ander woorde, ons doop kinders wat aan God behoort, kinders wat van God af kom en na Hom sal teruggaan, dus, kinders wat maar net vir 'n kort leeftyd aan ons geleen word.

En nou weet ons mos, broers en susters, dat iets wat 'n mens leen, dikwels (altans so hoort dit!) beter opgepas word as ons eie besittings. Wat maar net sê: dat ons as ouers 'n geweldige verantwoordelikheid het ten opsigte van die doopbelofte, en by implikasie teenoor ons kinders.

Die opstanding van Jesus gee lewe, ook ons moet aan ons kinders die lewe gee. En dit kan hulle alleen ontvang as ons die brood van die lewe, Jesus Christus, aan hulle voorleef en aan hulle voorhou.

Wat op sy beurt alleen moontlik is wanneer die opstanding van Jesus deur die geloof ook ons opstanding geword het. Wanneer ons raaksien dat die opstanding van Jesus nie maar net iets is wat bely moet word nie, maar iets is wat ons elkeen intens raak.

So raak dat dit ons toekomsblik moet verander, so raak dat ons ons kinders se toekoms en toekomsblik kan veran¬der, so raak dat dit die wêreld kan verander.

Maar kom ons begin maar by onsself en by ons kinders. Die res sal vanself kom. Want wie werklik glo dat Jesus opgestaan het, lewe, en wie in Christus lewe, laat ander lewe.
Amen