Kolossense 3:5-17

Die volle rykdom van Jesus se opstanding



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Wanneer ons aan die opstanding van Jesus Christus dink, ook wanneer ons dit elke Sondag bely, is die eerste gedagte wat gewoonlik by ons opkom die feit dat, omdat Christus gesterf en opgestaan het, en omdat ons in Jesus Christus glo, ons ook eendag, wanneer ons sterf, sal op¬staan en vir ewig sal lewe. Dit is immers wat die opstanding van Christus vir ons beteken, naamlik dat uit die dood lewe voortkom.

Paulus, broers en susters, in die bekende opstandinghoofstuk in die Bybel (1 Kor 15) beskryf die inhoud van Christus se opstanding dan ook presies so: die dood en opstanding van Christus, en so ook ons dood en opstanding, kan vergelyk word met 'n saadjie wat geplant word. Wanneer 'n saadjie geplant word, sê Paulus, sterf dit as 't ware eers voordat dit weer begin lewe. Dus: soos 'n graankorrel in die aarde moes gaan en sterf voordat dit in nuwe lewe uit die grond kon opskiet, so moes Jesus eers verneder word tot in die graf om as verheerlikte weer te kon lewe. Uit die dood kom die lewe. Uit die nag kom die dag. Na die winter kom die lente.

Hierdie verstaan van die opstanding van Jesus Christus, broers en susters, alhoewel dit heeltemal korrek is, en ek glo, u met my onvoorwaardelik deel as 'n belydenis van die totale verlossingswerk van Christus, kan egter 'n gevaarlike beskouing van die opstanding van Jesus Christus wees.

Gevaarlik in dié opsig dat ons kan begin meen dat die opstanding van Christus enkel en alleen te make het met die toekoms, met die eendag daar ver vorentoe, met die dag waarop ons elkeen gaan sterf. Waar ons die op¬standing van Jesus bely, met oorgawe, en daarmee bedoel: Jesus se opstanding is ons waarborg dat ons, omdat ons in Jesus Christus glo, ook eendag sal opstaan wanneer ons sterf. Dus: al bely ek die opstanding nou, het dit eintlik te make met iets vorentoe, die eendag wanneer ek sal sterf.

Hierdie verstaan van die opstanding van Jesus Christus, broers en susters, wil ek amper sê, is 'n halwe, 'n onvolledige verstaan van Jesus se opstanding. Nog meer: as ons elke Sondag Jesus se opstanding bely as sou dit net van betekenis wees wat betref ons eie opstanding eendag iewers vorentoe, is ons belydenis van Jesus se opstanding 'n halwe belydenis.

Hoekom, broers en susters, stel ek dit so? Omdat, om dit kort en eenvoudig te sê, Jesus se opstanding nie enkel en alleen te make het met ons dood eendag vorentoe nie, maar veral, en in die besonder, te make het met vandag, met nou, met elke dag in ons lewens, en in die besonder te make het van hoe ons elke dag lewe voor God en in God se teenwoordigheid.

Hoekom sê ek so? Die Heidelbergse Kategismus, in antwoord op die vraag `Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?', antwoord die vraag soos volg: `Ten eerste dat Hy deur sy opstanding die dood oorwin het en dat sy opstanding dien as 'n waarborg dat ons ook eendag uit die graf sal opstaan om vir ewig te lewe'. Dus: dit wat ons normaalweg onder opstanding van Jesus Christus verstaan.

Maar die Kategismus hou nie hier op nie, broers en susters. Want die Kategismus volg hierdie eerste deel van die antwoord op met 'n tweede deel, naamlik: `Ten tweede (is die nut van Christus se opstanding) ook dat ons elke dag opgewek word tot 'n nuwe lewe'.

Elke dag, nou, hier. Met ander woorde, sê die Kategismus, die nut van Jesus se opstanding het nie alleen te make met eendag vorentoe nie, maar ook met elke dag, met nou, met die hier en dus eintlik met altyd.

Wat is die nut wat die opstanding het vir die nou en die hier? Eintlik is die antwoord heel eenvoudig en logies: soos ons eendag sal sterf en opstaan, so moet ons ook elke dag sterf en opstaan.

Wat sou dit beteken? Hier antwoord Kolossense 3:9-10 vir ons die vraag pragtig: julle moet met die gewoontes van die sondige en ou mens breek, en julle moet die lewe van die nuwe mens begin lewe. Met ander woorde: julle moet elke dag die ou mens begrawe, en as 'n nuwe mense opstaan. Julle moet al julle sondes begrawe, dit wegbêre, en dan lewe soos mense wat in Christus glo.

Met ander woorde, presies soos ek aan die begin gesê het: alleen uit en deur dood kom nuwe, en kan nuwe lewe kom. Eers wanneer ek as sondige ou mens voor God gaan staan, my sondes bely, die ou mens begrawe, en dan opstaan, kan ek waarlik as nuwe mens begin lewe.

Die Ou Testament in die besonder, beskryf, wil ek amper sê, hierdie reël van die koninkryk van God op treffende wyses: die volk moes eers vir veertig jaar in die woestyn rondswerf voor hulle die beloofde land kon intrek, Josef word eers in die gevangenis gewerp voordat hy tot hoër diens geroep word, en Jona moes eers in die maag van 'n vis 'n draai gaan maak voor hy God se werk kon doen.

Net so, broers en susters, moet ons ook eers sterf voordat ons werklik vir God kan lewe. Ons kan byvoorbeeld nie teenoor sekere mense vol woede wees, vol nyd, vol haat, en in dieselfde asem teenoor ander verdraagsaam, sagmoedig en goedgesind nie.

Hoekom nie? Want, om die beeld van Paulus, die Kategismus en Kolossense te gebruik, dit sou beteken om gelyktydig in die graf en in die lewe te wees, en dit is tog nie moontlik nie. Dit is of die graf, of die lewe, en indien dit laasgenoemde is, kom lewe alleen deur die graf, deur die begrawe van die ou mens, en die lewe van die nuwe mens in Christus.

Laat ons daarom, broers en susters, wanneer ons volgende keer die opstanding van Christus met soveel oorgawe bely, soos dit ook hoort, net goed onthou: Christus se opstanding het nie alleen waarde vir die toekoms nie, maar ook vir die hier en nou. Vir die hier en nou waar die opstanding se waarde as 't ware 'n opdrag word: begrawe die ou mens, lewe die lewe van die nuwe mens.

En ons kan nie broers en susters, die een wil en die ander nie. Ek kan nie sê: baie dankie dat Jesus se opstanding beteken dat ek eendag ook sal opstaan. Maar ek is nie bereid om elke dag die ou mens te begrawe en met die krag van die opstanding oor die ou mens sonder Christus te heers deur die nuwe lewe te lewe nie.

Paulus sê dit pragtig in Kolossense 3:16: Sorg dat die volle rykdom van die boodskap van Christus in julle bly. En die volle rykdom van die opstanding van Christus is gawe en opdrag, dit is deel wees van Jesus Christus se opstanding tot nuwe lewe, maar dit is ook deel wees van die lewe van die nuwe lewe.

Wie, broers en susters, die opstanding van Jesus bely as sou dit maar net betrekking hê op die eendag, op die toekoms, op dit wat ek daaruit kan kry, as sou dit al wees wat die opstanding van Christus vir ons onthou, in so iemand bly die volle rykdom van Christus nie. Wat meer is, so iemand bely, wat die opstanding betref, 'n halwe belydenis.

Sterker gestel, so iemand is nog steeds in die graf, en heel waarskynlik sal so iemand vir altyd in die graf bly.
Amen