Kolossense 3:5-17

Het ons ook al gesterf?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
‘n Mens kan op vier maniere sterf. Die eerste manier van sterf is wanneer ‘n mens se liggaam sterf, ‘n dood wat vir die mens eenvoudig maar ‘n verskrikking bly. Want jy staan absoluut magteloos daaroor. Hierdie dood oorval ‘n mens, soms sonder dat jy dit verwag. Dit bly daardie ongenooide gas wat aan ons elkeen se deur gaan kom klop.

Die tweede manier van sterf is om net vir die wêreld te begin lewe, en dus sonder God, sonder God as deel van jou lewe. Dan lewe jy, maar eintlik is jy dood. Jy sterf God af, lewe vir die elke dag se, vir jou werk, vir jou belangstellings of wat ook. En al dink jy jy lewe, is jy eintlik dood. Want sonder God is daar nie lewe nie.

Die derde manier van sterf is om in jouself te sterf. Daar waar jou hart, emosies, drome en hoop binne-in jou doodgaan. Dit kan gebeur as gevolg van omstandighede, hartseer, skok, depressie, teleurstelling, of wat ook. Dan lewe jy nog, maar dit voel of jy dood is. Diep binne jou. Met geen wil van lewe en vir lewe in hierdie lewe nie.

Die vierde manier van sterf is om jouself in die geloof af te sterf. Om vir Christus te sterf, omdat Hy vir ons gesterf het. Hierdie afsterwe van jouself is ‘n pynlike proses. Veral omdat jy self daarvoor verantwoordelik is. Hierdie dood is ‘n seer dood. Want dit vra van jou om diep binne jouself te kyk. Weer en weer. Sonder ophou. En dan nie volgens jou eie maatstawwe nie maar volgens dit wat God van sy mense verwag. Hierdie dood vra van jou ‘n geloofskeuse, ‘n geloofskeuse wat ook nie maar net eenmaal gemaak word nie, maar elke oomblik, elke dag van die lewe.

Die skrywer van Kolossense beskryf hierdie dood soos volg (en kom ons luister maar weer goed daarna): jy gaan graf toe met die ou mens, die ou mens se klere wat haat, nyd, slegte begeertes, gierigheid, jaloesie, leuens, liefdeloosheid (en nog baie) genoem word. Daardie klere trek jy uit, en jy beklee jouself met meelewendheid, nederigheid, sagmoedigheid, verdraagsaamheid, geduld, vergifnis en liefde. Jy sterf dus iets af, en staan op in ‘n ander gedaante (hieroor later meer).

Met die gevolg? Deel van jou lewe word dankbaarheid en vrede. Wanneer dit gebeur, sê Kolossense, dan het die boodskap van Jesus Christus in sy volle rykdom in jou begin bly, in jou lewe tuisgemaak, en dan word jy elke dag meer en meer vernuwe na die beeld van Christus. Dit, natuurlik, as jy bereid is om saam met God hierdie pad te stap. Elke dag. Elke oomblik van jou lewe.

Dan word ons nuut. Dan word die wêreld nuut. Jesus was dood, Hy het opgestaan en lewe. Ons lewe, sterf, en lewe weer, maar lewe nou nuut. En dit is moontlik, omdat Jesus Christus nie in die graf gebly het nie, maar lewe. Wat vir ons nuwe lewe moontlik maak.

Maar is dit moontlik, broers en susters? Kom ons vra maar hierdie vraag vanoggend. Kan so iets werklik waar wees? Om die waarheid te sê, ons staan effens skepties teenoor dit wat die Woord ons hier leer. Want kyk maar net rondom jou. Wat sien jy? Alles behalwe dinge wat jy graag wil sien: haat, geweld, onmin en onvrede, blatante vernietiging van menselewens. Mense wat mekaar met woorde vermoor, mense wat die spel van ‘ek is beter as ander’ speel, mense wat oor ander loop — met woorde en dade — om sogenaamd ‘bo’ uit te kom. Al weet ons dikwels nie eers wat en waar hierdie sogenaamde ‘bo’ is nie.

Ons plunder God se wêreld. Ons verwoes sy mense. En ja, dikwels verwoes ons onsself in die proses. Ons sterf die tweede soort dood waarvan hierbo gepraat is: ons lewe sogenaamd voluit, maar sonder God. Ons lag, maar met seer. Ons is vrolik, maar sonder enige diepte. Ons het sogenaamd vrede, maar eintlik is ons bang. Daarom speel ons die spel van die lewe om te oorleef. Maak nie saak wat dit vra nie. Maak nie saak wie seerkry nie. Om maar net aan die einde leeg binne jouself te sit met heeltemal niks. Om maar net aan die einde te besef: eintlik het ek seergekry.

Daarom die vraag, broers en susters? Is die lewe waarvan Kolossense in ons gedeelte praat, werklik moontlik? Kan mense nuut word? God sê: JA! Dit kan. Dit moet. Want Jesus Christus het opgestaan en lewe. Dit het gebeur, daarom is dit moontlik. Daarom kan dit.

Veral kan dit vir besondere en spesiale mense. Besondere en spesiale mense soos u en ek. Besonderse en spesiale mense wat die uitverkore volk van God genoem word. Wat God se mense genoem word. Wat nie sonder ‘n vader is nie. En omdat ons God se mense is, kan die lewe anders en nuut wees. Die Woord laat hieroor geen twyfel nie.

Maar hoekom sukkel ons dan so? Hoekom gebeur dit so moeilik, so stadig? En dan net soms? Anders gestel: hoe word ek nuut, hoe kry ek dit reg, hoe gebeur dit? Hoe breek ek met die ou, sondige mens en sy gewoontes, en laat toe dat God my meer en meer vernuwe?

‘n Vraag, broers en susters, wat ek persoonlik as geweldig belangrik beskou. Want geloof wat in die lug hang, wat nie grond vat nie, wat nie prakties is nie, wat maar net bly wonder oor wat God werklik van my verwag, wat maar net bly wonder oor God, is nie geloof nie.

Daarom, kom ons dink vanoggend saam. Hoe kan ons dit regkry om nuut te word soos God van ons vra? Hoe kan ons dit regkry om werklik met die ou mens te breek en nuut te lewe? Nuut te lewe vir God en vir mekaar?

Die nuwe lewe begin, broers en susters, waar ons Jesus Christus se opstanding glo. En glo dat, so werklik soos Hy opgestaan het, ons ook in die nuwe lewe kan opstaan. En wil opstaan. Dit vra dus ‘n bewuste geloofskeuse. Dit vra dat ons vir God sal sê (soos Henog van ouds): Here, U is my lewe. Ek wil saam met U lewe, ek wil saam met U wandel. Ek wil U ken Here. En ja Here, ek wil so graag sien hoe U hand in my lewe teenwoordig is.

En dan gaan doen. Maar op die regte manier. En miskien lê ons groot probleem hier. Want hoe doen ons somtyds? Ons doen dom, ons doen onbeholpe, ons doen halfhartig. En kom ek verduidelik: ons gedeelte praat van twee soorte lewens — die ou mens en die nuwe mens. Die lewe van die ou mens wat eintlik maklik is (want dit is ons natuur om God en ons naaste te haat), wat sommer so vanself kom, wat sommer net gebeur. Dit vra van my geen inset nie. En dan die lewe van die nuwe mens, wat nie sommer vanself kom nie, wat alleen met toewyding en inspanning kom. Saam met seerwees oor jouself, saam met die eerlikwees oor jouself.

En hoe probeer ons soms hierdie oorgang van die ou na die nuwe mense bewerkstellig? Juis hier kom die probleem. Ons besluit: ek sal doen wat God van my vra, ek sal die nuwe mense wees wat God wil hê ek moet wees, maar ek sal ook nog soos die ou mens leef. Want ek is tog maar sondaar. En almal maak tog maar foute. En God vergewe mos. Dan, broers en susters, laat ons Christus aan daardie kruis hang, weer en weer. Ons los Hom in die graf. Ons maak sy opstanding iets wat nooit gebeur het nie.

Of ons besluit: ek wil werklik met die ou mens breek. Daarom sal ek nie meer in die sonde lewe nie. Ek sal alles in my vermoë doen om nie opsetlik te sondig nie. En God kan maar kyk. Want wat God sal sien is iemand wat met oorgawe die ou mens begrawe.

Maar ook dit, broers en susters, sal ons nêrens bring nie. Al wat ons sal bring by dit wat God vir ons wil hê, is wanneer ons die ou mens begrawe, ja, werklik begrawe soos ek so pas beskryf het, maar iets in die plek daarvan stel. Nie net begrawe nie, maar ook opstaan. Nie net met toewyding wegbly van woede, leuens, gierigheid en nyd nie, maar bewustelik in die plek daarvan begin vergewe, goedgesind wees, verdraagsaam wees, geduldig wees, die liefde met oorgawe begin lewe.

Sien u die verskil in fokus? Sien u wat God wil hê ons moet sien en doen? Breek met die ou mens, en lewe die nuwe lewe. Begrawe die ou mens, en staan op in die nuwe lewe. Doen die een, en die ander.

Dan bly die volle rykdom van die boodskap van Christus in julle! Dan sal jy vrede oor jou lewe voor God hê, dan sal jy dankbaar wees oor alles wat God vir jou gee. En begin dan om mekaar te onderrig en te leer. Begin om by ander te leer en ander te leer. En kom saam elke Sondag, kom saam met God se ander mense om Hom te loof en te prys. Dan is Christus vir ons alles en in almal.

Ek wil vanoggend, broers en susters, vir u iets vra. Miskien ‘n bietjie te persoonlik, maar hoe doen ‘n mens dit anders? Kom ons almal sterf vanoggend weer saam. Kom ons sterf hierdie vierde dood. Kom ons sterf vanoggend weer in die geloof. En kom ons gaan vul ons lewens met mekaar se lewens. Kom ons lewe soos nuwe mense en maak mekaar nuwe mense.

Geloof in die opstanding van Jesus Christus is om sonder voorbehoud te sê dit is moontlik. En dit sigbaar te gaan maak. So sigbaar dat ons as lede van die een liggaam in vrede lewe. Met onsself. Met ons omstandighede. Met mekaar.

Dan breek die nuwe deur. Dan het ons opgestaan. Dan het Christus nie tevergeefs gesterf en opgestaan nie. Dan sal God met ‘n glimlag trots wees op sy mense.
Amen