1 Korintiërs 15:35–58

Hoe gaan die opstandingsliggaam lyk?



Broers en susters in ons Here Jesus Christus:
WAT GEBEUR WANNEER `N MENS STERWE? Wát bly van jou oor na die dood? Wáár bevind jy jou? Wát weet en beleef 'n mens na jou dood?
Die Bybel gee ongelukkig nie vir ons klink-klare antwoorde op al ons kwel- (of eintlik nuuskierige) vrae rondom die dood nie...

Maar daar is goeie redes daarvoor: een van die redes hiervoor was dat die eerste Christene die wederkoms van Christus spoedig - in hul leeftyd - verwag het:
In die verwagting dat Christus enige oomblik weer kon kom, is dus nie aandag gegee aan vrae wat ontstaan het nie: dit was nie nodig nie, want Christus sou spoedig kom...

Wat ons egter wel weet is, dat 'n ontslapene hom/haar in teenwoordigheid van die Here bevind. Daaroor bestaan daar gelukkig géén twyfel nie: NIKS KAN ONS OOIT WEER VAN GOD SKEI NIE...geen dood of lewe of wat ook al nie (Rom 8:38,39 )

Die gelowige se gemeenskap met God word dus nie verbreek wanneer sy aardse lewe beëindig word nie (vergelyk Fil 1:21 24 )

Presies HOE en WAAR die gemeenskap met God vóór die opstanding van die dooies voortgesit word, is egter nie duidelik nie...
Maar dis nie belangrik nie: al wat van belang is, is dat ons ook eendag - op grond van Jesus se opstanding - uit die dood sal opstaan!

Daar is dus 'n onverbreeklike verband tussen Jesus se opstanding en óns opstanding: die een kan nie sonder die ander verstaan of van die ander losgemaak word nie (15:12-13 12 As ons dan verkondig dat Christus uit die dood opgewek is, hoe kan party van julle nog beweer dat daar geen opstanding van die dooies is nie? 13 As daar geen opstanding van die dooies is nie, beteken dit dat Christus ook nie opgewek is nie. ):
Tog was daar sommige in die destydse gemeente van Korinte wat allerlei vrae en argumente teen die opstanding van die vlees (=óns opstanding) gehad het:

''HOE word die dooies opgewek en WATTER SOORT LIGGAAM sal hulle hê?'', het hulle gevra (1 Kor 15:35 35 Maar iemand kan vra: Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê? ).

AGTERGROND
Op watter gronde sommige in Korinte die opstanding van die dooies verwerp het, is nie duidelik nie.

Dit kan moontlik verband hou met die ou Grieke se godsdienstig filosofiese opvatting van die mens:
Hulle het `n onderskeid gemaak tussen die liggaam en siel van die mens en geglo dat alleen die mens se siel onsterflik is:

Daarom was hulle dan ook van mening dat die opstanding van die liggaam onnodig of oorbodig is...
Dit kan ook wees dat diegene wat die opstanding van die dooies verwerp het die opstanding vergeestelik het, dit wil sê nie letterlik verstaan het nie:

Dis 'n misverstand wat in die gemeente van Tessalonika bestaan het.
Hulle was van mening dat die ''opstanding'' van die gelowige plaas vind by die wedergeboorte (=wanneer jou ou mens saam met Christus sterwe en saam met Hom opstaan tot `n nuwe lewe).

Die Bybel beskryf wel die vernuwing van die gelowige se lewe as 'n geestelike opstanding (vgl Rom 6): wie in Christus glo, is `n nuwe mens.

Maar die opstanding van die dooies word nie in die Bybel vergeestelik nie. Kyk nou maar net hoe heftig reageer Paulus hier in vers 35: Maar iemand kan vra: Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê? (“dom vraag”):

Dis asof Paulus wil sê: die feit van die opstanding is hoofsaak, die wyse is bysaak! Waarom lol julle met allerlei vrae oor hoe so iets moontlik kan wees? Maar Paulus beantwoord tog hul vrae...

Die HOE van die opstandingsliggaam

Op die vraag: ''Hóé word die dooies opgewek?'' antwoord Paulus deur die volgende vergelyking te tref: die mens wat sterf, is soos saad wat geplant word... Die saad vergaan maar die kiem bly leef.
Nou sê Paulus: soos die halm (plantjie) uit die saad (wat sterf, tot niet gaan in die grond) te voorskyn kom, só is dit ook die geval met die opstandingsliggaam...

Ons moet onthou dat God die almagtige Skepper van die hemel en die aarde is:
As God dan in die begin alles ''uit niks'' geskape het, hoeveel te meer sal Hy dan nie ons liggame wat tot stof en as vergaan met die opstanding weer kan herskep nie?

Hoe lank iemand al dood is... of wanneer die wederkoms eendag sal plaasvind, speel dus geen rol nie: ook nie of iemand begrawe of veras is nie:
God, die almagtige Skepper van hemel en aarde, sal my liggaam wat tot stof of as word weer herskep, `n nuwe gestalte aan die eertydse liggaam gee!

Hoe kan mense dan nog vra:''Hóé word die dooies opgewek?''

Dit bring ons by die tweede vraag:

Die HOEDANIGHEID van die opstandingsliggaam

Die liggaam waarmee ek eendag uit die dood opstaan, sal hemelsbreed verskil van die liggaam wat ek nou het:
Hierdie verganklike liggaam van my wat in die graf tot niet gaan sal by die opstanding onverganklik wees (1 Kor 15:42 So is dit ook met die opstanding van die dooies: wat gesaai word, is verganklik en word in onverganklikheid opgewek;).

Met die opstanding sal hierdie geringe en swak liggaam van my HEERLIK en KRAGTIG wees (1 Kor 15:43 wat gesaai word, is gering en word in heerlikheid opgewek; wat gesaai word, is swak en word in krag opgewek. ):

By my dood gee ek 'n vleeslike liggaam prys, maar ontvang by die opstanding 'n geestelike liggaam...

GEESTELIK, omdat hierdie liggaam van my wat by die wederkoms herskep sal word, so van God se Gees deurdronge sal wees dat dit 'n GEESTELIKE LIGGAAM genoem sal word.

Die KONKREETHEID van die opstandingslewe
Dis presies hier waar die misverstand dat slegs 'n mens se siel bly voort leef insluip. As Paulus hier sê dat ons 'n ''geestelike'' liggaam sal hê, beteken dit nie dat net my siel bly voortleef nie:
Dít was immers die opvatting van die ou Grieke! Dat slegs `n mens se siel na die dood bly voortleef is dus nie `n Bybelse gedagte nie, maar `n heidense opvatting!

Nee, by die opstanding sal ons liggaamlik uit die dood opstaan: want Jesus het liggaamlik uit die dood opgestaan ( vergelyk Luk 24:37 40 37 Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ’n gees. 38 Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte? 39 Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! ’n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” 40 Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete. ).
Ek sal by die opstanding `n liggaam hê: EK IN MY VOLLE SELF na liggaam én siel sal uit die dood opstaan. Ons bely immers: ek glo aan die opstanding van die vlees...

Daarom moet ons nie aan die lewe ná die dood dink as 'n blote sielsbestaan nie: ''dit wat van my oorbly ná die dood'' is wesenlik ék (siel én “liggaam”).

Ek sal wel 'n totale transformasie ( 50 Wat ek bedoel, broers, is dit: vlees en bloed kan nie aan die koninkryk van God deel kry nie. Die verganklike kan nie aan die onverganklike deel kry nie.
51 Kyk, ek maak ’n geheimenis aan julle bekend: Ons sal nie almal sterwe nie, maar ons sal almal verander word. 52 By die laaste trompet sal dit in ’n oomblik, in ’n oogknip gebeur, want die trompet sal weerklink, en die dooies sal as onverganklikes opgewek word, en ons sal verander word. 53 Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike.
) ondergaan, maar dit sal steeds ék wees wat uit die dood opstaan: die opstandingsliggaam is dus nie 'n totaal nuwe skepping van God nie, maar 'n herskepping.
Dit blyk duidelik uit die beeld van die saad wat Paulus hier gebruik: `n Mieliepit sal mos nie `n koringhalm laat ontspruit nie!

Só sal God sal my eendag herskep netsoos ek nou is - NET BAIE ANDERS!
Hoewel daar kontinuïteit (`n verband) tussen die aardse- en opstandingslewe bestaan, is daar dus ook `n diskontinuïteit :

Dis nie 'n totaal ander mens wat uit die dood opstaan nie: dis nog steeds “ek” wat uit die dood opstaan: maar ek is nou gans anders, ek het 'n verheerlikte liggaam as ek uit die dood opstaan...

Dit blyk ook duidelik uit die beeld van die koringkorrel: dis dieselfde koringkorrel wat as koringaar verrys, maar in 'n veel heerliker gedaante.
So sal ek by die opstanding `n verheerlikte liggaam hê: Hierdie oë van my wat verswak het, sal by die opstanding duidelik en helder kan sien...

En hierdie ore van my wat nie meer so goed kan hoor nie, sal by die opstanding weer kan hoor suiwer en helder! En die pyn van my ledemate sal verdwyn nié die ledemate nie!
Na my dood leef ek voort in my persoonlike eie aard soos ek nou is! Maar dan sonder pyn en leed en siekte en dood. Want dan sal ek onverganklik wees!

Die GEESTELIKE opstanding
Die opstandingslewe ontvang 'n mens egter nie eers eendag anderkant die graf nie: jy ontvang dit NOU REEDS!
Daar ís dus `n geestelike opstanding...Maar nou moet ons nie die opstanding van die dooies soos sommige nét vergeestelik nie: ons sal ook eendag LIGAAMLIK uit die dood opstaan!

Intussen, is dieselfde krag waardeur ons eendag uit die dood sal opstaan, reeds in ons aan die werk:

Ons moet weet, sê Paulus in Ef 1:19,20 19 hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag 20 wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek het ...

Die kragtige werking van God se mag waarmee Hy ons eendag uit die dood sal opwek, roep ons voortdurend op tot inkeer/bekering:
Die opstanding van Christus maak ons opstandig teen die sonde in ons eie lewens én in die wêreld...

Dit beteken prakties dat ons nie verlief neem met ons sonde en kragteloosheid nie: ons kán en móét daarom met die sonde breek...en nou reeds soos nuwe mense begin lewe...

Ons oue mens (sondige lewenswyse) het immers reeds saam met Christus gesterwe: ons oue mens is dood en begrawe - vir goed iets van die verlede!

TOEPASSING
Ja, jy kán daardie sonde waaraan jy nou dink, los! Jy kan uit jou skynbaar hopelose situasie kom - nié omdat jy verbete daarteen stry of in jouself die potensiaal daartoe het nie:
MAAR OMDAT JESUS UIT DIE GRAF IS...en jy reeds saam met Hom opgestaan het tot `n nuwe lewe...

Jesus se opstanding was nie ‘n terugkeer tot die lewe hier en nou nie. Hy het die dood nie (in hierdie aardse bedeling) omgekeer nie maar oorstyg (Andries van Aarde). Dit geld ook vir ons eie opstanding aangesien Jesus se opstanding en ons opstanding onlosmaaklik aan mekaar verbonde is - soos die preek dan ook beklemtoon.

Ons is geneig om wat die opstanding betref te veel klem te lê op die lewe na die (aardse) dood. Ons het nou reeds die nuwe lewe in Christus ontvang (sien Joh 5 en Rom 6) en behoort dus baie meer klem te lê op die opstandingslewe hier en nou.

Die opstandingsliggaam is dus nie ‘n resussitasie (”resussitation”) van ons aardse liggaam nie. Ons keer nie terug na hierdie lewe soos Lasarus nie. (Let wel: Lasarus het weer gesterwe...) Ons staan op in ‘n totaal ander werklikheid (=God se werklikheid). Ons moet dus oppas om nie “appels met pere te vergelyk nie”.

Die opstanding van Christus wat die opstanding van die dooies insluit, maak 'n mens dus nie alleen opstandig teen die sonde nie, maar ook opgewek!

Dit bied jou nuwe hoop: maak dit jou opstandig? En opgewek?
Amen

SLOTSANG: Gesang 260:9-11

Vers 9 Bely ons die konkreetheid van die opstandingsliggaam.
Vers 10 Bely ons dit waarop ons ons hoop vestig in die toekoms.
Vers 11 Beklemtoon dat ons nou reeds die nuwe lewe in Christus ontvang en soos nuwe mense leef. Dis dan ook ons slotgebed...Heer, leer my U ken al beter...