Lukas 24:13-35

Laat ons harte warm klop!



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Ons as Hervormers is soms so bang om oor emosie te praat, veral as dit by die uitleef van ons geloof kom.  Maar laat ek maar erken, broers en susters: van my kindertyd af kon ek nooit my verhouding met God emosieloos beleef nie.  Dit was vir my net nie moontlik nie.

Miskien was en is dit ook so in u lewe.  En wanneer dit so is, weet ons dikwels nie of dit mag en wat ons met hierdie emosies van ons moet maak nie.  Ek, in elk geval, kan nie maar net emosieloos voor God lewe nie.  Veral nie op ‘n dag soos hierdie waar ons die oorwinning oor die dood vier nie.  Daarom het ek gekies om vanoggend hierdie vertelling oor die twee Emmausgangers aan die orde te stel.  Juis omdat ons in hierdie vertelling ten minste twee dinge hoor: hoe hierdie twee mense die oorwinning oor die dood gevier het, maar ook watter emosies hierdie oorwinning oor die dood by hulle losgemaak het, emosies waarsonder hulle die opstanding van Jesus nooit sou kon verstaan nie.  Hulle het dit wat gebeur het eers met hulle verstand probeer verstaan, en toe met hulle hart.  En ja, eers toe hulle met hulle harte (of dan: ook met hulle harte) begin glo het, het die opstanding van Jesus Christus in hulle lewe ‘n stuk krag geword.

Kom ons kyk na wat hier gebeur.  Twee mense, een met die naam Kleopas en een sonder naam (waarskynlik ‘n vrou, as ons in ag neem dat in Lukas-Handelinge die volgelinge van Jesus dikwels twee-twee op pad is om ander van God te vertel, en Lukas dikwels uitdruklik sê dat een van die twee ‘n vrou is) is op pad vanaf Jerusalem na Emmaus.  En terwyl hulle so loop, praat hulle oor die Paasfees wat so pas in Jerusalem plaasgevind het.  Maar voor ek meer sê oor dit waaroor hulle gepraat het, wil ek eers iets meer sê oor hulle vier van Paasfees daardie tyd.

Paasfees was vir hierdie mense in wese ‘n verlossingsfees.  Dit is ‘n fees wat baie jare terug gaan – lank voor ons as Christene Paasfees begin vier het.  Ons weet dat die Israeliete, nadat hulle in Egipte van hulle slaweband bevry is, Paasfees begin vier het.  Met elke Paasfees het hulle teruggedink aan daardie bevryding van God uit die hande van die Egiptenare.  Maar hulle het ook, veral in die tyd van Jesus, ook om ‘n ander rede Paasfees gevier.  Hulle was, onder die juk van die Romeine, weer nie vry nie.  En daarom het hulle tydens elke Paasfees nie alleen teruggekyk op God se verlossing uit Egipte nie, hulle het ook vorentoe gekyk.  Want hulle het ‘n Messias verwag wat hulle van hierdie nuwe juk, die Romeine sou kom bevry.

Maar hierdie Paasfees was nie vir hulle lekker nie.  Want twee dinge het gebeur: hulle het gehoor van Jesus, hulle het gehoor dat Hy hierdie verwagte Messias was wat hulle sou verlos.  Maar toe gebeur dit nie.  Hy is doodgemaak.  Hulle drome was aan skerwe.  Hulle was ontsteld.  Maar hulle was om ‘n ander rede ook ontsteld.  Vroue, van alle mense, het nou geloop en vertel dat hierdie Jesus opgestaan het, en dat hy lewe.  Vroue wie se getuienis in daardie tyd van so min waarde geag is, dat hulle byvoorbeeld nie eers in ‘n hof kon getuig nie.  Dit was dus vir hierdie twee niks meer as vrouepraatjies nie.  Maar tog het hulle ook gehoor dat die mans gaan kyk het na die graf, en gesê het dat wat die vroue vertel het, waar was.  Hulle was dus baie verward.  Wat moes hulle glo?

Dan sluit Jesus by hulle aan.  ‘Waaroor praat julle’, vra Hy?  Oor Jesus van Nasaret, antwoord hulle.  Daardie man wat van Nasaret af kom.  Hy was ‘n profeet, en het met mag en krag opgetree.  Maar toe lewer ons leiers Hom oor om gekruisig te word.  Ons dink so hard oor alles, maar ons verstaan dit nie.

Meer nog: daar loop stories rond wat sê Hy het opgestaan.  Dit verstaan ons ook nie.  Eerstens is ons geleer om nie vrouens se getuienis te aanvaar nie, en tweedens kan ons nie met ons verstande indink dat iemand wat dood was, weer kan lewe nie.  Buitendien, niemand het Hom gesien nadat Hy sogenaamd opgestaan het nie.  Ons verstaan hierdie dinge nie.  Ons breine kan nie alles so lekker uitwerk nie.  En dit alles maak dat ons ontsteld is, en nie meer weet wat om te glo nie.  En so gaan hulle verstandspraatjies voort.

En dan antwoord Jesus hulle.  Julle het ‘n gebrek aan begrip en is so traag van gees.  Want julle dink en praat verkeerd oor wat gebeur het.  Julle wil alles met julle verstand uitwerk.  Julle wil hê dat die Messias moet wees soos julle wil hê Hy moet wees.  Maar onthou julle nie wat die profete gesê het nie?  Dat die Messias hierdie dinge moes ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?

Julle praat van mag, van krag, van bande breek.  Dit is hoe julle die Messias verwag.  Maar Hy het nie gekom in krag nie, eerder in swakheid, in pyn, in seerkry, deur lyding, deur swaarkry.  God is anders teenwoordig as wat julle dink.

En toe hulle by die huis aankom, en hulle Jesus vra om as gas by hulle aan te bly, gebruik ‘n snaakse ding.  As gas word Jesus die gasheer.  Hy breek vir hulle die brood, die breek van die brood wat hulle laat sien, hulle laat ervaar wat met Jesus gebeur het.  Dat sy liggaam gebreek is, dat die Messias nie met krag gekom het nie, maar juis in pyn, in seerkry, deur die kruis, deur Golgota.

En toe erken hulle Hom.  Toe hulle ervaar, toe hulle beleef.  Toe hulle verstand vir die oomblik opsy geskuif word.  Toe hulle emosies ook ‘n rol begin speel.  En ja, toe onthou hulle ook hoe warm hulle harte geword het toe Hy daar so mooi met hulle op die pad gepraat het.  En toe glo hulle dat Hy lewe.  Al was Hy nie meer by hulle nie.  En hulle haas hulle na Jerusalem om te gaan vertel dat Jesus lewe.  Dat Hy lewe.  Al is Hy nie by hulle nie.  Al kan dit nie met die verstand uitgewerk word nie.  Al glo ander hulle dalk nie.  Want in hulle harte lewe Jesus.

In ons tyd, broers en susters, is daar baie Emmausgangers wat in Jesus Christus met net hulle verstand wil glo.  Veral as dit kom by die opstanding.  Mense staan nie op uit die dood nie, sê hulle.  Wys my bietjie iemand wat dood was en weer lewe.  Dit is nie moontlik nie.  Ek hou my nie op met vrouepraatjies nie.

Daar bestaan buitendien geen verhaal wat beskryf hoe Jesus opgestaan het nie.  Wys my ‘n video opname daarvan, en ek sal dit glo.  Want sien is glo.  Die verhaaltjie dat sy dissipels sy liggaam gaan steel het (soos ‘n vertelling in Matteus berig) om te kan sê Hy het opgestaan, maak vir my verstand meer sin.  Buitendien, as hierdie Jesus van julle opgestaan het, wys Hom ‘n bietjie vir my.  Nee wat, dit maak alles net nie sin nie.  My verstand sê ek moet van beter weet.

Ook ons, broers en susters, is soms Emmausgangers wat alles met die kop wil uitwerk.  Die lewe draai teen ons.  Ons word siek.  Ons word neerslagtig.  Ons verloor moed.  Ons glo alles en almal het teen ons gedraai.  Ek verloor my werk.  Ons voel of ons net opdraande pad loop.  Niks wil vir ons uitwerk nie.  En ons soek, maar vind God nêrens teenwoordig nie.

Ons kyk na alles rondom ons, ons rasionaliseer, ons maak somme, ons sit een en een bymekaar, en ons kom tot die konklusie: God bestaan nie, Hy hoor my nie.  Ek wil graag hê God moet met my so maak, maar Hy doen dit nie.  Hoekom bring Hy dit op my lewenspad, en nie dat nie.  En kyk net na al die ellende rondom my wat ander en die wêreld tref.  Nee wat, God leef nie.  Al sê ander wat, wat ek sien, en hoe ek daarvan sin maak, bring my net by een slotsom: God is nie meer hier nie!

Dit is dan, broers en susters, wanneer ons oë verhinder word om God in ons lewens raak te sien.  Wanneer ons oor God begin dink vanuit die mens se oogpunt, vanuit my oogpunt.  Wanneer ek wil hê God moet in my raampie inpas.  Wanneer ek wil hê hy moet dit wees wat ek wou gehad het Hy moes wees.  Ons het gedink Hy is ‘n profeet wat ons sou verlos, maar nou is Hy nie.  Ek het gedink dat Hy so moes maak, maar Hy het nie.  Daarom is Hy nie ‘n profeet nie, daarom bestaan Hy nie.

Wanneer ons so, broers en susters, na die wêrelde kyk, sal ons God nie raaksien nie.  Maar wanneer ons God op plekke soek waar Hy sogenaamd nie te vinde is nie, dan sal ons Hom vind.  Daar by die siekbed.  Al is daar siekte.  Hy is daar om ons krag te gee.  Hy is daar waar ons krag vind om die lewe te leef.  Hy is daar waar ek die krag vind om te vergewe, geduldig te wees, genadig te wees.  Hy is daar deur sy Gees waar ek die regte keuses maak.

Hy is daar waar ek die kop optel en besluit om weer van voor af te begin.  Hy is daar waar ek ly ter wille van sy Naam.  Hy is daar waar ek vrede vind in ‘n lewe waarin vrede eintlik nie moontlik is nie.  Hy is daar waar ek kan sê: alles is reg, al is alles nie reg nie.

Hy is daar waar ek voel hoe sy genade my omvou.  Hy is daar waar ek voel hoe sy vrede my oorbluf.  Hy is daar waar ek met ‘n snik voor Hom staan oor my sonde.  Hy is daar waar ander my vergewe, en ek ander vergewe.  Hy is daar waar ek stil raak en ek bewus word van sy heilige teenwoordigheid.

Hy is daar in die lag van my kind.  In die tere aanraking van my geliefde of geliefdes.  Hy is daar wanneer ander sê ek verstaan.  Ja, Hy is daar waar nuwe lewe begin, en ander mekaar lewensruimte gee.  Hy is daar waar ons van ‘n oop graf wegstap en in ons hartseer weet dat die angel van die dood ons nie kan steek nie.

Jesus het die graf oorwin, Hy het opgestaan, Hy lewe.  Dit vier ons vandag.  Klop u hart ook warm vandag?  Veral wanneer u terugdink aan al daardie kere wat God u aangeraak het?  Waar Hy uitkoms gegee het?  Het u hart warm geklop toe ons Vrydag saam die brood gebreek het?  Het u hart warm geklop omdat u vandag saam met ander kon ervaar dat God deur sy Gees hier by ons is?  Dat Hy deur sy Gees vandag weer vir u en vir my aangeraak het?

Paassondag is nie ‘n dag waarop ons verstand oortyd moet werk nie.  Om dit wat op hierdie dag gebeur het werklik te verstaan, vra dat ons harte warm sal klop.  Warm sal klop omdat God vir ons goed is.  Goed was tot in die dood, en deur die dood.  Dat Hy lewe, en ons daarom kan lewe, en lewe kan gee!  Probeer gerus om God met u verstand vas te gryp.  Dit is nie moontlik nie.  God kan nie verklaar word nie.  Word egter stil en ervaar hoe God in u lewe werksaam is.  Hoe Hy elke dag lewe gee, op soveel maniere.  Gebeur dit, ervaar ons hoe God ons gryp, hoe warm ons harte klop omdat Hy God is, die lewende God!
Amen