Johannes 20:19-25

Om te sien en te laat sien



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Die kerk van Jesus Christus het met ‘n klompie bang mans iewers in ‘n bokamer in Jerusalem begin.  Hoewel opgelei en onderrig, het hule nie geweet wat om te sê nie.  Hoewel hule vir drie jaar saam met Hom geloop het, het hulle nou gesit — bang.  Bang en sprakelose boodskappers.  Hulle dapperste daad was om op te staan en die deur te sluit.

Party het by die venster uitgekyk, party het na die muur gekyk, party het na die vloer gekyk, maar almal het ook na binne, in hulleslef in, gekyk.  En dit was goed dat hulle het, want dit was ‘n uur van selfondersoek.  Al hulle pogings het sinloos gelyk.  Al die beloftes wat hulle aan die Here gemaak het, het nie een gehou nie.  Toe die soldate vir Jesus kom vat het, het hulle gemaak dat hulle wegkom.  Ja, al hulle spoggery, al hulle bravade, al hulle verklarings van toewyding het nou stukkend en verstrooi by die hek van die Getsemane-tuin gelê.

Ons weet nie, broers en susters, waarheen hulle gevlug het toe hule uit die tuin weggehardloop het nie, maar ons weet wat hulle met hulle saamgevat het: ‘n herinnering. ‘n Ontstellende herinnering van ‘n Man wat Homself nie minder as God in die vlees genoem het nie, ‘n Man wie hulle eenvoudig net nie uit hulle gedagtes kon kry nie, maak nie saak hoe hulle probeer het nie.  Want elke keer as hulle ‘n melaatse man gesien het, het hulle aan hierdie Man se barmhartigheid gedink, as hulle ‘n storm gesien het, het hulle gedink aan die keer toe Hy een stilgemaak het, wanneer hulle ‘n kind op straat gesien het (een van die baie wat in hulle tyd uit die huis gegooi is), het hulle gedink aan die dag toe Hy een vasgehou het.  Ja, elke keer as hulle die dominees van die tyd op die straathoeke sien bid het, het hulle gedink aan die Man wat nie geskroom het om skynheiligheid en oneerlik van reg van voor af aan te vat nie.

Nee.  Hulle kon Hom nie vergeet nie.  Daarom het hulle teruggekom.  Weer saamgekom.  En daarom het die kerk van die Here met ‘n groep bang mans iewers in ‘n bokamertjie in Jerusalem begin.

Die tragiese is, broers en susters, dat dinge nie baie in twee duisend jaar verander het nie.  Want hoeveel kerke en gemeentes bevind hulle nie nog maar bang en verlam iewers in ‘n bokamer nie?  Hoeveel gemeentes het net genoeg godsdiens in hulle om te sê hulle glo, om Sondag na Sondag saam te kom, maar nie genoeg geesdrif om uit te gaan nie?  Die deure is nie regtig gesluit nie, maar dit kon net sowel maar gewees het.  Bo-kamer sinloosheid.  ‘n Bietjie geloof, maar baie min vuur.

Nee, sal party antwoord.  Maar dit is darem nie waar nie!  Ons doen ons deel vir die kerk.  Ons betaal ons heffings.  Daar is erediens elke Sondag.  Ons doen met oorgawe huisbesoek.  Ons gee Bybelstudie.  Ons voel sterk oor die sending.  Die diakonie is werklik besig met hulp aan die wat dit nodig het.  Ons reël basaars.  Ons spandeer baie tyd aan fondsinsameling.  Die boeke klop soms selfs.  En ons geboue is in ‘n goeie toestand.

Dit is waar.  Ons doen dit alles.  Wat meer is, dit is goeie gelowige mense wat dit saam met ons doen.  Ons het baie idees.  En baie goeie voornemens.  Ons begroot, ons vergader, ons praat baie, ons maak beloftes.  Maar, geliefdes, terwyl dit alles aangaan bly die deure gesluit.  En is die evangelie soms nêrens sigbaar waar ons woon en werk nie.  Ja, ons draai nie ons rug op Christus nie, maar ons draai nou eintlik ook nie na Hom toe nie.  Ons vloek nie sy naam nie, maar ons loof en prys dit eintlik ook nie.  En ons wil regtig iets vir die Here doen, maar is nie altyd seker wat nie.

Bokamer bangheid.  Verwarde gesante agter geslote deure.  Wat sal nodig wees om hulle oop te sluit?  Wat sal nodig wees om die eerste geslag Christene se geesdrif te herwin?  Wat is nodig dat ons sal uitgaan om met oopgebarste en borrelende oorgawe te gaan leef met woord en daad dat God lewe, dat God by sy mense is?  Dat God ‘n nuwe wêreld kan gee, dat God alles anders kan maak?

Meer opleiding?  Dit is deel daarvan.  Beter strategieë? Dit sal help.  ‘n Groter visie?  Ongetwyfeld.  Meer geld?  Dit is onontbeerlik.  ‘n Groter afhanlikheid van die Gees? Natuurlik.

Maar nog iets.  Presies dit wat die apostels laat uitgaan het.  Wat gemaak het dat hulle die deur van die bokamer oopgesluit het en na buite gestap het.  En begin verkondig het met woorde en dade.  Wat was dit wat hulle dit laat doen het?  Kom ons antwoord die vraag deur kortliks na die gedeelte te kyk wat ons saamgelees het.

Stel jouself die toneel voor wat Johannes vir ons in hierdie gedeelte skets:  Daar sit hulle, Johannes, Jakobus, Petrus en die ander dissipels.  Omdat hulle staatgemaak het op die gekheid dat die put van God se vergifnis tog ‘n paar druppels oorgehad het, omdat hulle gehoop het dat God tog op een of ander manier iets sou laat blyk van wat hulle nou moes doen.  En net toe een van hulle mompel ‘dit help tog niks nie’, hoor hulle ‘n stem: ‘vrede vir julle’.

En daar staan Jesus.  Die graf kon Hom nie vashou nie.  Ook nie die deur van die bokamer nie.  En wat bring Hy?  Dit wat hulle die nodigste gehad het: vrede.  Vrede as gawe sonder verwyte.  Verstommend.  So verstommend dat Petrus ‘n paar weke later in dieselfde Jerusalem waar Jesus gekruisig is in die openbaar verkondig het: God het hierdie Jesus wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!  En drie duisend het tot geloof gekom!

Wat, broers en susters, het hulle daardie deur laat oopsluit?  Wat het die deure van hulle harte oopgesluit?  Die antwoord is eintlik eenvoudig.  Hulle het Jesus gesien.  Hulle het daardie aand die opgestane Christus ontmoet.  Hulle sondes het met die Verlosser gebots, en die Verlosser het gewen.  Die Een wat verraai is het teruggekom om sy verraaiers te vind, nie om te oordeel nie, maar om uit te stuur.  Nie om hulle te veroordeel omdat hulle Hom vergeet het en weggehardloop het nie, maar om hulle die opdrag te gee om Hom te onthou.  Te onthou dat Hy wat dood was lewe, en dat hulle wat skuldig was, vergewe is, en nou ook kon lewe!

En so het hierdie apostels ‘n beweging aan die gang gesit.  Mense het Jesus Chrstus begin volg, en is later Christene genoem.  ‘n Klomp dinge sou die volgende paar dekades met hulle gebeur.  Hule sou baie nagte ver van die huis af deurbring.  Honger sou op hulle mae knaag.  Reën sou hulle vele deurweek.  Skeepswrakke, geseling, martelaarsap.  Maar dit het nie gepla nie.  Want hulle kon nie vergeet nie.  Hulle kon nie vergeet dat hulle die Here gesien het nie, en dat hierdie Here nie geoordeel het nie, maar gestuur het, nie gekritiseer het nie, maar ‘n opdrag gegee het.  Dus: almal kon sien dat hulle die Here gesien het.

En ons, kollegas?  Wat van ons?  Sien die kerk, sien die wêreld, Christus in ons kerkwees?  As ons altyd net so besig is by die kerk en by kerklike aktiwiteite, al ons energie gebruik om mekaar net warm te broei en so niks krag oor het om in die wêreld iets te doen nie, sien die wêreld Christus in ons?  As mense sê dat hulle buite die kerk meer liefde ervaar en vergifnis ontvang, sien hulle Christus in ons?  Wanneer die wêreld nie gesindheid van Christus in ons raaksien wat maak dat ons sagmoedig sal optree nie, sien hulle Christus in ons?

Ja, ook wanneer ons as kollegas soek en soek na populariteit en mag, en ander kollegas voor ander afmaak, sien iemand Christus in ons?  Wanneer ons as kollegas nie alle lidmate oor dieselfde kam skeer as dit kom by die patoraat nie, wat dan?  As ons ‘n houding van ‘ek weet alles’ inslaan, en bereid is om geen kritiek te hoor nie, watter gesindheid is dan ins ons?  Meer nog, en miskien baie persoonlik: as die kerk nie in ons lewens integriteit van lewe bespeur nie, as ons vertroulikheid skend, as ons onvoorbereid optree, as ons goud dien en nie God nie, sien ander in ons lewens Christus?

As ons klieks in gemeentes vorm, as ons iemand wat ‘anders’ is en nie by ons prentjie van God se mense inpas uitstoot, as ons weier om sinvol aan te pas by ons tyd, as ons ons sekuriteit soek in agtergehaalde vastighede, sien ander lidmate en die wêreld hristus in die kerk?

Maar ook ons, broers en susters, sien ons die Here in ons eie lewens raak?  Wanneer u na u geliefdes en kinders, wat God vir ons gegee het om ons lewens te vul, sien ons die Here raak?  Wanneer ons gesond is en daarom kan werk, sien ons die Here?  Ja, elke keer wanneer ons sy Woord opneem en dit lees, en die Gees in ons lewens werk om ons nuut te maak, sien ons die Here?

Daar waar ‘n lidmaat in my gemeente van sy kanker herstel, sien ons die Here?.  Daar waar ‘n kind met al die pype in sy lyf, met ‘n liggaam gekneus en gebreek na daardie motorongeluk sy/haar oë in die intensiewe afdeling oopmaak, sien ons die Here?  Daar waar twee mense, wanneer hulle voor die kansel ewige trou aan mekaar belowe omdat God hulle vir mekaar gegee het, sien ons die Here?  Ja, daar waar dit donker, donker nag in mense se lewe was (om watter rede of gebeure ook al), en hulle met ons hulp die lig sien, weer begin lewe, sien ons die Here?

Dus: sien die wêreld in die kerk se lewe die Here, sien die kerk in ons as leraars se lewe die Here, en sien ons hoe die Here in ons lewens en werk besig is?  Of sien niemand nêrens niks nie?  As gevolg van bo-kamer sinloosheid.  As gevolg van bangheid wat ons verlam laat.  En daarom sluit ons die deure.

Nog een opmerking voor ek afsluit: wat behoort die storie van die kerk te wees?  Hier is my poging (en dit is nie net my eie denke nie): die kerk is ‘n gemeenskap waar gewonde mense saamkom om mekaar se wonde te verbind.  Die kerk is ‘n helende gemeenskap vir gebrokenes.  Die kerk bestaan uit sondaars vir sondaars.

Daarom moet die liefde God sigbaar in die kerk wees.  Daarom moet vergifnis in die kerk voorop staan.  Met dominees wat voorloop as gewonde genesers.  Want ook ons word deur die wêreld gewond.  En daarom het ons ook heling nodig.  En daarom behoort ons weet hoe die mense van God wat aan ons toevertrou is, ook na heling smag.

Ja, die kerk moet ‘n plek wees waar amal moet kan kom sê: ek is stukkend.  Ek kan nie meer nie.  En dan moet die kerk aanraak.  Dan moet die kerk daar wees.  Binne-gemeente-lik en buite-gemeentelik.  Want die kernwaarheid van die evangelie bly tog: die kerk bestaan nie vir homself nie.  Die kerk is daar vir ander, vir die wêreld.

Wanneer laas, kollegas, het ons soos Tomas prontuit die begeerte uitgespreek: ek wil die Here sien?  Wanneer laas het ons net vir ‘n oomblik gaan staan en ons verwonder aan God se onbeskryflike Goddelikheid, en ons te maar maklik beskryfbare menslike sondigheid?  En dat Hy, in sy Goddelikheid, mens geword het en juis kom ly het dat ons kan lewe?

As dit lank laas was, moet ons vandag weer hoor: Hy is nog daar.  Hy het nie weggegaan nie.  Tussen al die papiere, agendas, dik dagboeke, vol programme, verwarde oomblikke, moedelose minute en besluitlose dae, sal ons Hom vind.  Want Hy het mens geword en tussen ons sy tent kom opslaan, om ons nooit weer alleen te laat nie.

Die mens wat op dieselfde oomblik sy of haar totale verlorenheid en God se onwankelbare genade gesien het, moet tog weet en glo dat die lewe ware lewe kan wees.

Maar om te wanhoop sonder om God se genade raak te sien, dit is noodlottig.  Dit maak van ons mense met vrees iewers in ‘n bokamer opgesluit.  Dit verlam ons.  Dit verlam ons vir die lewe.  Dit verlam die kragtige getuienis wat van ons gemeentes en kerk kan uitgaan.

Om egter wanhoop en genade te sien, dit is bekering.  Dit is om te glo, te lewe, met oortuiging, dat alles reg is, al is alles nie reg nie.  Dit is om te glo, te weet: ek sal die Here sien, en die wêreld in ons.  Dit is om te weet: die storie van die kerk sal mooi eindig.
Amen