Johannes 20:19-23

Ontvang die Gees en staan op!



1. Agtergrond: Eksegetiese opmerkings
1.1 Sosio-historiese konteks
Die moontlike datum vir die Evangelie van Johannes is ongeveer 90-100 n.C. Konflik bestaan tussen die Johannese Christene en die sogenaamde Jode. Hierdie opmerking is belangrik vir die interpretasie van Johannes 20:19-23.

1.2 Teologie
Binne die konteks van die sinkretiese Hellenistiese Judaïsme kan die hoof teologiese idees van die Johannesevangelie kortliks soos volg saamgevat word:

1.2.1 Christologie
Die evangelie het ‘n sogenaamde hoë Christologie. Jesus vervul die Ou Testamentiese messiaanse verwagtings (Lam van God ens), en is dus Johannes die Doper se meerdere. Hy is die misterieuse “man van die hemel”. Hy is nie die sinoptiese evangelies se apokaliptiese figuur nie, maar kom van God in die hemel en kom aarde toe as gestuurde. Hy is ‘n vreemdeling afkomstig van ‘n vreemde wêreld. Die “Ek is” uitsprake bevestig Jesus se godheid en wys op die openbaring van God aan die mens. Johannes beklemtoon ook die Logos, die voor-skepping mistiese wysheidsfiguur wat deel het aan die skeppingsgebeure komende van die omgewing van “Lig”.

1.2.2 Dualisme
Die evangelie word gekenmerk deur simboliese teenpole: lig/duisternis; lewe/dood; God/Satan; bo/onder; hemel/aarde; vlees/gees;. Hierdie dualisme is nie slegs temporeel, dit wil sê “nou en dan” nie, maar kosmies of vertikaal: kontras tussen die hemelse en aardse. Dit is ook persoonlik; die aardse/die mens as skepsel is sondig en staan teenoor die intensies van God. Die aarde is negatief en donker en het die redding nodig van ‘n figuur afkomstig van die lig. Hierdie dualisme toon die negatiewe ervaring van die Johannes se werklike lesers, hulle vervreemding van dominante politieke en godsdienstige strukture.- versterk die idee dat die Johannes se lesers ‘n sekte was wat verban is uit die Joodse sinagoge.

1.2.3 Tekens en geloof
Die evangelis herinterpreteer ‘n sogenaamde “Teken-bron” wat Jesus teken as die Man van God wat geloof versterk deur die doen van tekens. Tekens dien ook as bevestiging van sy goddelikheid. In Sinoptiese evangelies word geloof gesien as voorwaarde vir wonderwerke, in Johannes dien dit as geloofsversterking. Jesus word geteken as Hellenistiese held wat wonderwerke doen om geloof te versterk, maar herinterpreteer dit deur te sê: Geloof deur wonderwerke gewek, is nie genoeg.

1.2.4 Eskatologie
Aksies wat met normaalweg met die toekoms verbind word, word in Johannes met die teenwoordige verbind – die koms van die Messias, wederopstanding, oordeel en ewige lewe is alreeds teenwoordig in die gelowige se ontmoeting met Jesus. Dus; gerealiseerde eskatologie. Tog is daar ook ‘n tipe parousia teenwoordig, maar dit word oorskadu deur gerealiseerde eskatologie.

1.2.5 Gees, kerk en sakramente
Johannes se gerealiseerde eskatologie word ondersteun deur sy siening tov die Gees se teenwoordigheid by gelowiges. Spesiale term vir die Gees is Parakleet; dit kan beteken; a) advokaat of tussenganger tussen God en mens; b) Trooster; c) verkondiger van boodskap. Die Parakleet is ook van die hemel afkomstig en verteenwoordig die teenwoordigheid van Christus. Hy is ook ‘n profeet wat getuie is van die opgestane Christus. Jesus word gesien as die eerste Parakleet saam die ander Parakleet (die Gees;14:16). Johannes verwys nie na ‘n georganiseerde kerklike struktuur nog sakramentele verwysings. Verwysings na bv ‘water’ ens word beskou as latere invoegings.

2. Johannes 20:19-23: Enkele opmerkings
Die gedeelte vorm deel van die lydensnarratief. Dit word voorafgegaan deur Jesus se verskyning aan Maria Magdalena. Die suggestie word hier geplaas van Jesus se geestelike teenwoordigheid by die gelowiges. Jesus noem aan haar dat Hy moet teruggaan na die Vader. Hierdie gebeurtenis maak die geestelike teenwoordigheid van Jesus moontlik en die belofte van hierdie teenwoordigheid word in 20:19-23 volvoer.

Vers 19: Die dissipels is bymekaar agter geslote deure, moontlik in Jerusalem (in aansluiting by Handelinge 1:8 dat die kerk vanuit Jerusalem versprei het). Tomas en Judas is nie teenwoordig nie. Die motivering vir die geslote deure was die dissipels se vrees vir die vervolging van die Jode (die werklike lesers van die evangelie is ook deur die Jode uit die sinagoge gedryf – die dissipels word dus hier geteken as ‘n eksklusiewe groep wat nêrens welkom was nie). Geslote deure a) beklemtoon die dissipels se vrees en b) beklemtoon Jesus se vermoë om oral teenwoordig te wees. Jesus staan tussen hulle en uiter ‘n groet “Vrede vir julle”. Het die betekenis van a) ‘n gewone groet: “Hallo, hoe gaan dit met julle” of b) Vrede: moenie meer bekommerd wees nie, wees rustig.” Stem ooreen met Lukas 24:36, Jesus se verskyning aan dissipels.

Vers 20: Johannes maak ook hier gebruik van bron gedeel met Lukas. Jesus bevestig sy identiteit. Wys sy hande en sy sy. “Hande” verwys na die polse en voorarms. Johannes vervang die Lukaanse verwysing van voete met “sy”; sommige kommentare beweer dit is met verwysing na Sagaria 12:10. Die reaksie van die dissipels word genoem; Vrees verander in vreugde. Johannes gebruik die woord ‘die Heer’ en word hier as titel gebruik. Aanduiding van Jesus se gesag as God en as voorbereiding vir Tomas se belydenis in 20:28.

Vers 21: Die groetformule word herhaal as voorbereiding vir die opdrag wat volg. Die vertaling van “moenie meer bekommerd wees nie” is hier van toepassing gesien in die lig van die opdrag; met ander woorde moontlik as belofte van bystand en ondersteuning. Die opdrag volg: God het die Seun gestuur (verteenwoordiger van lig en lewe gesien in die lig van Johannes se kosmiese dualisme) om lig en lewe (teenoor duisternis en dood) te bring en die opdrag geld vir die dissipels. In hierdie vers lê iets van Johannes se gerealiseerde eskatologie opgesluit: lewe kom tot stand in die gelowige se ontmoeting met Jesus. Insiggewend hier is ook die verandering van reaksie by die dissipels nadat hulle vir Jesus sien.

Vers 22: Na die opdrag blaas Jesus oor die dissipels. Die woord emfussaw is ‘n hapax legomenon in die Nuwe Testament. Volgens kommentare word die verwagting in 1:33 vervul sowel as die belofte van ‘n Parakleet. Die woord emfussaw as ‘n illusie tot Gen 2:7 waar God die mens gevorm het en lewe in hom geblaas het. Dieselfde woord (emfussaw) word in Gen 2:7 in die LXX gebruik sowel as in Esegiël 37. Dit impliseer die lewegewende aard van die Heilige Gees, die totstandkoming van iets nuuts en iets anders. Dit mag impliseer dat die dissipels self nuutgeskep word deur die Heilige Gees en hulle kry die opdrag om die lewegewende boodskap/Christus self vir ander lewendig te maak. Christus word lewendig waar Hy verkondig word. Die woord pneàmagion kom in Johannes slegs weer in 1:33 voor wat dui op ‘n moontlike sinspeling op hierdie teksvers. Volgens kommentare is die belofte van die uitstorting Heilige Gees nie teenwoordig in die kruisigingsverhale (Matt 28:16-20; Mark 16:14-18) nie, maar wel in Lukas 24:29; Hand 1:8 maar dan as twee aparte gebeurtenisse. Vir Johannes is dit ‘n direkte gevolg van Jesus se kruisdood.

Vers 23: Jesus gee die opdrag hoe die gawe van die Gees gebruik moet word. Hier sluit aan Johannes aan by sy bronne (Matt 28:19; Mark 16:15; Lukas 24:47),. Die woord ‘sal vergewe word’ kom voor in die subjunktief perfektum passief wat dui op ‘n toestand/stand van sake met moontlike passivum divinum – passief word gebruik wanneer verwys word na ‘n aksie van God. Dit versterk die idee dat die dissipels met die leiding van die Gees namens God/Jesus op aarde optree.

PREEK
Broers, susters en kinders, toe Jesus na drie dae lewendig geword het, was die dissipels eintlik dood en begrawe binne in ’n graf. Toe Jesus dood is het hulle doodeenvoudig net besluit dat daar niks meer is om voor te lewe nie. Hulle was lewende dooies net soos baie van ons ook wanneer ons iets in die lewe verloor wat vir ons baie belangrik is. “Toe my kind in ’n ongeluk dood is, het ek ook stukkie vir stukkie doodgegaan, het ’n vrou eenkeer gesê. Die lewe het alle sin en betekenis vir my verloor”. “’n Vriend van my is langs my doodgeskiet in ’n rooftog”, vertel ’n polisieman. “Ek voel dit moes eintlik ek gewees het. Ek sukkel om met my lewe aan te gaan. Ek sien oor en oor dieselfde toneel voor my oë afspeel”. “In ’n oomblik van swakheid het ek owerspel gepleeg en nou kan ek myself nie vergewe nie”, sê ’n vrou. “Ek kan my man en kinders nie in die oë kyk nie, om die waarheid te sê kan ek nie meer die lewe in die oë kyk nie.” Net so was dit ook met Jesus se dissipels. Johannes skryf dat dit die aand van Paassondag was. Die dissipels was doodbang dat hulle ook soos Jesus doodgemaak sal word. Toe sluit hulle hulself maar agter slot en grendel vas. Agter toe deure is hulle weggesteek vir die wêreld, kan niks hulle seer maak nie.

Net soos ons ook partykeer. Ons is bang vir die wêreld daarbuite, dan bly ons maar liewer binne ons huise. Ons is bang om kerk toe te kom, want wat sal mense sê as hulle dalk my storie hoor. Ons bou mure om onsself en verskans ons diepste gevoelens agter veiligheidshekke en driedubbele betonmure. Die wêreld maak ons seer en daarom trek ons maar terug in onsself, weier ons om met ander mense kontak te maak, weier ons om uit te reik na ander mense net ingeval ons dalk met ander mense moeite moet doen.

Maar toe staan Jesus skielik daar tussen die dissipels. Hy kom deur die mure en slotte en grendels en ystertralies en veiligheidshekke en skielik staan Hy tussen die vreesbevange dissipels. Dit is presies wat Jesus so goed kan doen: omdat Hy God is, kom Hy deur die deure waaragter ons onsself so goed wegsteek. Hy ken al ons vrese en hartseer. Hy weet van die dinge waaroor ons skaam voel en waaroor ons met niemand kan praat nie. Jesus kom in die dissipels en in elkeen van ons se lewens om ons weer lewend te maak. Jesus groet met die woorde: “Vrede vir julle.” Dit was maar ’n gewone Hebreeuse groet, net soos wat ons sê: “Hallo, hoe gaan dit?” Maar Jesus sê dit nie net een keer nie maar twee keer. Johannes wil hiermee vir ons sê dat dit meer as net ’n groet is hierdie. Jesus gee vir dissipels meer as net “Hallo, hoe gaan dit met julle?” Jesus se groet is eintlik ’n begin van ’n nuwe lewe vir hierdie dissipels. Wanneer elkeen van ons ook vir Jesus in ons lewens toelaat, wanneer ons ook kan hoor dat Hy vir elkeen van ons ook hier vanoggend in Wesmoot sê: “Vrede vir julle”, dan begin alles nuut. Jesus maak ons weer lewendig, Jesus maak weer nuut. In die donkerte met die deure gesluit en die vensters so dig dat ’n mens skaars kan asemhaal, terwyl al die dissipels met fluisterstemme praat sodat niemand hulle kan hoor nie, sê Jesus: “Vrede vir julle”.

Toe wys Hy vir die dissipels sy littekens, sy hande en sy sy. Hierdie littekens was die bewys van Jesus sy identiteit. Hulle moes doodseker maak dat hierdie man Jesus was wat aan die kruis gesterf het. Nuuskierig het hulle sy hande en sy voete bekyk. Hy trek sy klere weg en daar sien hulle die plek waar die soldate hom met ’n spies in die sy gesteek het. Toe hulle hierdie littekens sien het hulle geweet dat dit Jesus was. In die Joodse offersisteem kon diere met gebreke nie geoffer word nie. Geen lelikheid nie, geen swakhede nie, geen foute nie! Maar Jesus kom na mense toe juis met al hulle foute. Hy openbaar homself aan Petrus wat gemaak het asof hy Jesus nie ken nie, aan Johannes en Jakobus wat so vol van hulleself was, aan elke dissipel wat weggehardloop het toe hy hulle die nodigste gehad het. Aan hierdie mense met hulle foute, met hulle eie littekens wat hulle met hulle moes saamdra wys Hy sy eie littekens. Ons dink mos dat Jesus net die mense sonder foute aanneem. Die mense wat suksesvol is, met baie geld en ’n goeie opvoeding. Mense wat elke Sondag in die kerk kom, mense wat geen gebreke het nie. Mense wat nie geskei is nie, wat nie seer het nie, mense wat nog nooit in hulle lewe spyt was oor dinge wat hulle gedoen het nie. Ons dink mos die evangelie van Jesus is die evangelie van sondeloses, vir mense sonder littekens. Ek wonder waar ons ooit hierdie gedagte gekry het. Jesus het dan juis sy evangelie verkondig aan die laagste van laagste mense: aan die prostitute en vissers, die dwelmslawe en straatkinders, die tronkvoëls en die hongeriges. Jesus het daardie Sondagaand vir sy dissipels met hulle eie seer en littekens en skaamkry gewys dat Hy juis na hulle toe kom. Hy het sy eie littekens met Hom saamgedra, vir ons en die dissipels kom wys dat Hy elkeen van ons se seerkry ken. Jesus het vir ons en sy dissipels kom wys dat Hy nie mense eenkant toe stoot as hulle foute maak en self ’n klomp littekens en seerkry met hulle saamdra nie.

Iets het toe met die dissipels gebeur. Dit gebeur ook met elkeen van ons as ons die boodskap van God se vergewing in ons lewe toelaat. Hierdie dissipels het begin lewe kry. Skielik het hulle wanhoop in hoop verander, het hulle weer kans gesien vir die wêreld daarbuite. Skielik het die dooie dissipels weer begin lewe kry. Toe blaas Jesus oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees”. In Genesis lees ons hoe God die asem van die lewe in mense geblaas het. Dit is presies ook wat daardie Sondagaand agter die toegesluite deure gebeur het. Die Here het die dooie dissipels weer laat lewe. Hy het vir hulle die moed gegee om aan te gaan met die lewe. Hulle het die Heilige Gees, die krag van God ontvang. Dit is wat die Heilige Gees ook met elkeen van ons doen. As ons vanoggend hoor dat Jesus ook vir elkeen van ons met ons foute en littekens sê; Vrede vir julle”, as ons luister en glo dat God dit vir elkeen van ons sê en ons glo dit, blaas God ook oor ons en sê: “Ontvang die Heilige Gees”. Ons voel hoe ons krag kry vir vandag en môre. Ons voel hoe die spoke van gister en eergister nie meer so baie saak maak nie. Die Gees van God stel elkeen van ons in staat om aan te gaan met ons lewe, agter ons toegesluite deure uit te kom en die lewe in die oë te kyk.

Toe Jesus nuwe lewe aan hierdie dooie, moedelose dissipels gegee het, los Hy hulle nie net daar in die kamertjie met toegesluite deure nie. Hy stuur hulle weg met die opdrag: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek ook vir julle. As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit julle deur God vergewe.” Eintlik stuur die Here Jesus hierdie dissipels die wêreld in om ook ander mense lewendig te gaan maak. Hulle moes oral waar hulle kom vir mense die storie van Jesus vertel. Hulle moes vir mense vertel dat Jesus self aan die kruis gesterf het, dat Hy littekens aan sy liggaam dra sodat elkeen van ons met ons eie littekens, ons eie seerkry en skaamkry weer kan begin lewe. Jesus gee ook hierdie opdrag wat aan sy dissipels gee aan elkeen van ons wat vanoggend hier is, vir elkeen van ons wat hoor dat Jesus ook vir ons sê: Vrede vir julle, vir elkeen van ons oor wie die Here Jesus Christus ook die Heilige Gees blaas. Jesus sê vir ons dat dit ook ons taak in hierdie wêreld is om weer vir ander mense lewe te gee deur vir hulle van God se vergifnis te vertel. Vertel vir die ma wat ’n kind verloor het en nie meer kan aangaan met die lewe nie omdat sy so skuldig voel, dat God vergewe, dat God seerplekke weer kan gesond maak. Vertel vir die polisieman wat skuldig voel omdat sy vriend dood is en hy lewe dat God weet wat Hy doen, dat God hom in hierdie wêreld wil gebruik. Vertel vir die vrou wat owerspel gepleeg het en nie nou meer weet hoe verder nie, dat sy haar man en kinders nog in die oë kan kyk, want God vergewe. Vertel vir al die mense met letsels en seerkry wat voel die lewe is net te veel, dat Jesus Christus weer lewendig maak, dat Hy al ons foute en tekortkominge vergewe. Vertel vir al die mense wat hulle agter slotte en grendels toesluit, wat voel dat die lewe net nie die moeite werd is nie dat Jesus deur hierdie deure kan kom en ook vir hulle sê: “Vrede vir julle”.

Vertel dit vir elkeen wat julle mag teëkom, want Jesus Christus het een Sondagaand toe die son al begin sak het, deur ’n toe deur gekom en vir bang en moedelose mense weer moed en vreugde gegee. Hy het mense wat nie meer kans gesien het vir die lewe, nuwe asem gegee deur die Gees vir hulle te gee. Jesus het deur ons toe deure gekom, verby ons littekens en seerkry en hartseer en vir ons die Gees kom gee – sodat elkeen van ons nie verlore sal gaan nie maar weer sal begin lewe.
Amen