Johannes 21

Paasfees word voortgesit in die gewone alledaagse die lewe



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Dis al die vierde Sondag ná Paasfees...en die lewe gaan maar weer sy doodnormale gang. Tydens Paasfees het ons opnuut onder die indruk gekom van die wonder van Christus se opstanding en sy oorwinning oor die dood. Maar wat (behalwe die historiese Paasfeite) het oorgebly van ons Paasbelewenisse? `n Mens moet eerlik wees: nie veel nie! Daar kom nie veel tereg van ons belewenisse tydens Paasfees in die gewone alledaagse lewe nie!

Dit was ook die geval met die dissipels: vir die dissipels is Pase verby. Dis weektyd en werktyd: hulle is terug by die viswaters want hulle moet eet. Die dissipels keer terug na die ou lewe vóór Pase...maar wat het dan nou geword van die Here se opdrag aan hulle (Joh 20:21)? Word dié so gou vergeet...of dalk ontvlug? Die dissipels sit met die brokstukke van hul ervaringe tydens die pas afgelope Paasfees: hulle is onseker oor die toekoms: bang, wanhopig, alleen. Maar ons sien: te midde van hul onsekerheid oor die toekoms; midde in die gewone alledaagse lewe; in die frustrasie van nuttelose arbeid (Joh 21: 3,5), ín die sieldodende roetine van nette ingooi en uitrek - met die net wat al swaarder word na die môre se kant toe - word die dissipels se hele lewe meteens “opgevang en ingetrek” by die Paasgebeure wanneer Jesus vir die soveelste keer aan hulle verskyn - ja, al vir die derde keer! (Joh 21:1, 14).

Maar hulle herken nie die Here nie (Joh 21:4): want mense wat Hom nie verwag in die gewone alledaagse lewe nie, herken Hom moeilik... Dis die beskamende, die ontoereikende van óns Paasgeloof: die Here moet Hom telkens weer aan ons openbaar, `n tweede keer...`n derde keer, `n vyfde Sondag na Pase... en selfs daarná telkens weer en weer!

Mense, het julle nie iets gevang om te eet nie? Het julle nie iets te ete vir My nie? Nee, Here, antwoord hulle Hom (Joh 21:5). Nee, Here kom dit uit die monde van dissipels... én deur die eeue heen ook uit die monde van kerkrade en sinodes: ons het nie brood vir die hongeriges nie, nie skuiling vir die dakloses nie, nie woorde vir stomgeslanes, nie hulp vir die hulpeloses; nie raad vir die radeloses nie... Ja, hier waar die stem van die Here... in die stem van die noodlydendes gehoor word, hier voor ons oë waar daar `n beroep op ons gedoen word om konkrete hulp, staan ons ook dikwels verleë; met leë hande... weet ook ons dikwels nie raad nie - soos die dissipels wat daardie oggend terugkeer na die land na `n vrugtelose visvangs.

Dán tree Jesus midde-in hulle lewe in - en voorsien in hul gebrek: Hy, aan Wie alle mag in die Hemel en die aarde behoort, gebied en die vissers volg sy raad... dalk nog teen alle visvangreëls in! En soos in `n droom verander alles... Daar geskied `n wonder! Daar word in die dissipels se nood, gebrek voorsien: Jesus maak hulle nette tot barstens vol... maar nie tot brekens toe nie. Hulle sleep `n net vol visse (153!) aan land: `n net wat nie skeur nie; wat sterk genoeg is om al die vis in die wêreld te hou.

Daar is 153 groot visse en die net bly heel! Is 153 dalk `n simboliese getal? En die net wat nie skeur nie: is dit `n waarborg dat Christus se kerk heel en behoue sal bly tot Hy weer kom? Waarskynlik. Want hierná word die dissipels “vissers van mense”. Daar was 153 volke in die antieke wêreld bekend: dit wil dus voorkom asof die getal 153 die simbool van die reikwydte is van die dissipels se opdrag om die evangelie te gaan verkondig want die Here stuur hulle na die héle wêreld (Hand 1:8).

Wanneer die dissipels die net vol vis op die strand sleep, is die maaltyd egter reeds daar! (Joh 21:9). Oorgenoeg: brood én vis. Want dis nie die dissipels wat die Here voed met die arbeid van hulle hande nie: nee, die Here voed hulle met die vrug van sy hande. Hy is die Heer, die Gasheer by hierdie “Paasmaaltyd”. So word dit telkens weer Paasfees, midde in die gewone alledaagse lewe; ín die roetine van ons gewone alle alledaagse lewe en arbeid wanneer die opgestane Here telkens weer in ons gebrek voorsien; wanneer Hy ons voed, versorg en versterk met die oog op ons arbeid in sy koninkryk; wanneer Hy voorsien vir die pad wat voorlê... totdat Hy weer kom.

Dís die geheim van “gevulde nette” en gevulde hande en gevulde lewens en die sukses op ons arbeid in die koninkryk van God: “dit is die Here!” (Joh 21:7) wat op wonderbaarlike wyse vir ons voorsien wanneer ons verleë; met leë hande staan; wanneer ons raad op is. Ons leef so dikwels in die waan dat ons vir onsself kan sorg; dat ons in eie krag die Here se opdrag kan uitvoer. Hier sien ons egter weer duidelik dat as die Here nie voorsien nie, is ons tot niks in staat nie...

Tóg kom die opdrag: “Bring van die vis wat julle nou net gevang het... ” (Joh 21:10). Hoekom? Daar is mos genoeg op die kole? Waarom ons “vis” by sy “vis insluit? Hier waar hy tog alles gee? Omdat dit juis is wat die gemeente van die Here moet doen: ons moet die “visse” (die vrug en seën wat die Here op ons arbeid gee) by sy gawes (sy verlossingswerk) insluit. Die Here gee alles... en vra dan wat Hy gee (Luther).

Ons werk, ons daaglikse arbeid waarop die Here vrug gee, word by die Here se werk ingesluit. Die gawes wat ons van die Here ontvang word in diens gestel van sy koninkryk: ons sending word by sy sending ingesluit (Joh 20:21). Die sukses van ons sending na die wêreld hang nie van ons af nie: die Here se suksesse word in ons lewe bygehaal! So word die dissipels uiteindelik “vissers van mense”; só word ook ons in staat gestel om met vrug te arbei in die koninkryk van God.

Kom lê dus die vrug van jou handearbeid by die voorbereide maal - die maal wat die Here voorberei en voorsien het: vier die seën op die vrug van die Here se verlossingswerk by hierdie maaltyd, by elke viering van die Nagmaal. “Kom eet” (21:12) saam met Hom en saam met mekaar. So berei die Here se werk én ons werk `n “maaltyd” voor waarmee sy hele kerk, maar ook die ganse wêreld gevoed kan word.

Só word Paasfees voortgesit... midde in die roetine van ons gewone alle alledaagse lewe en skynbaar tevergeefse arbeid. Paasfees eindig dus nie die Sondag na Goeie Vrydag nie. Nee, Paasfees gaan voort...Johannes sê:”Dit was al die derde keer dat die Here aan sy dissipels verskyn het (Joh 21:14). Dit word dus nie net een keer Paasfees nie, maar telkens weer: ja, ook in ons leeftyd! Elke keer wanneer die Here by wyse van spreke die plek aanwys waar “vis” te vinde is, (elke keer wanneer die Here in ons gebrek voorsien) word Paasfees voortgesit; beleef ons opnuut weer die wonder van Paasfees!

Dit word algemeen aanvaar dat hoofstuk 21 van die Johannesevangelie `n latere redaksionele toevoeging tot dié evangelie is: in Joh 20:30-31 vind ons immers duidelike afsluiting van die Johannesevangelie. So nooi hierdie verhaal elkeen van ons om die Paasverhaal verder te vertel in terme van ons eie ervaringe vandag... as die Here Hom telkens weer - in die gewone alledaagse lewe - aan ons openbaar en dit opnuut weer Paasfees word!

Kan jy die Paasverhaal verder vertel? Kan ons ná Paasfees nog iets aan die Paasverhaal toevoeg - soos die skrywer van Johannes 21?
Amen