Lukas 23:26-43

Waar was ons dié Paasfees? (preek vir eerste Sondag na Paassondag)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Paasfees behoort vir die Christen die belangrikste fees van die jaar te wees. Want Paasfees sê vir ons dat Jesus in ons plek gely het, dat Hy vir ons sonde gekruisig is, en wonderlik, dat Hy vir ons die dood oorwin het. Paasfees se boodskap beteken vir ons lewe, nuwe lewe, ware lewe. Dit beteken lewe in vrede met God. Paasfees, dus, vat in ‘n sekere sin die sentrale boodskap van Die Bybel saam.

Tog, broers en susters, vier ons baie selde Paasfees met oorgawe. Kersfees, ja, maar nie Paasfees nie. Paasfees het vir baie mens Paasnaweek geword: ‘n tyd van uitspan en vakansie hou. En so, met ons besig wees en ontspan oor hierdie naweek, staan ons eintlik ver van die kruis af. Jesus is besig om weer vir ons te sterf, maar ons neem nie eintlik daarvan kennis nie. Sommiges, wil ek beweer, dink nie eers meer op Goeie Vrydag aan Jesus se kruisdood nie.

Hierdie jaar, broers en susters, was Paasfees egter vir baie mense anders. Baie het weer intens bewus geword van Jesus se lyding en dood. Maar dan nie omdat hulle weer Die Bybel gelees het, onder die geklank van die Woord gekom het of iewers saam met ander gelowiges aanbid het nie. Nee. Omdat hulle in ‘n teater na ‘n film gekyk het.

Die film waarna ek verwys, en wat baie van u dalk gesien het, is The passion of Christ, ‘n film wat die laaste twaalf uur uit van Jesus se lyding uitbeeld. Baie kan oor die film gesê word. Die geweldige klem op geweld en bloed (dit is effens skokkend) tydens Jesus se kruisiging vind ons nie in Die Bybel nie. Die film is op ‘n paar plekke nie Bybels akkuraat nie: mense is gekruisig deur spykers deur hulle polse te slaan, nie deur hulle hande nie; die kruise waarin mense gehang het was nie so hoog nie; Jesus se weg na Golgota (die sg Via Dolorosa) word vanuit ‘n Roomse perspektief aangebied (die sg 14 stasies, 14 plekke van stilstand op die lydensweg waarvan die vyfde die geleentheid is waar Simon van Sirene Jesus se kruis begin dra); die kraai wat een van die misdadigers se oë uitpik; en Judas wat deur kinders getreiter word en daarna selfmoord gaan pleeg vind ons nie in die Bybel nie. Die film lê byvoorbeeld ook baie min klem (te min klem ) op die opstanding van Jesus.

Daar kan egter ook verskeie positiewe opmerkings oor die film gemaak word. Baie sê dat hulle, na hulle die film gesien het, in hulle geloof versterk is. Die film konfronteer ons beslis ook met lyding van Jesus en wat Hy vir ons kom doen het. Dit verkondig (natuurlik op sy eie manier) Jesus, en dit is goed. Dit wys ook daarop dat Jesus vir baie nog saak maak, al kom hulle nie meer in die kerk nie. Ook wys dit ons weer hoe massas deur hulle hartstog beheer kan word.

Persoonlik, broers en susters, wil ek oor die film een punt maak. En dit is dat dit tragies is dat ‘n film — nie die kerk nie, nie die verkondiging nie, nie die vier van Paasfees deur gelowiges en gemeentes nie — maar ‘n film, baie mense weer tydens Paasfees laat onthou het wat God vir ons in Jesus Christus kom doen het. Ek wil amper sê: as dit nie vir die film was nie, sou Paasfees van 2004 vir baie maar net nog ‘n Paasfees gewees het wat by hulle verbygegaan het sonder enige diepgaande betekenis.

Maar ook dit, broers en susters, is nie nuut nie. Wanneer ‘n mens die vertellinge oor Jesus se lyding en kruisiging in die Bybel lees (waarvan ons vanoggend Lukas se weergawe gelees het), kom ‘n mens tot die (skokkende) ontdekking dat selfs dié mense naby aan Jesus, terwyl Jesus op sy weg van lyding was op pad na die kruis toe, eintlik onbetrokke teenoor hierdie ingrypende gebeurtenis gestaan het. Iets ongeloofliks was besig om voor hulle oë af te speel, maar hulle het dit nie besef nie. Want dit wat hulle gedoen het, het getoon dat hulle eintlik onbetrokke was.

Kom ek noem u ‘n paar voorbeelde. Die oomblik toe Jesus se lydensweg begin, daar in die tuin van Getsemane, het sy dissipels weggehardloop. Darem nie die brawe Petrus nie. Maar ‘n rukkie later verloën Hy vir Jesus. Ek ken de Man nie, ek wil niks met Hom te make hê nie. Die wat Jesus bewaak, bespot Hom. Bespot God. En die Joodse leiers veg om behoud van mag. Maak hom dood, sê hulle, want Hy en sy baie volgelinge is ‘n gevaar vir ons. Dit alles, terwyl God besig is om juis vir hierdie mense juis deur hierdie Man vrede te bewerkstellig.

Pilatus was sy hande in onskuld. Hy wil nie betrokke wees nie. Hy dra geen skuld nie. Hy wil niks met hierdie Man te make hê nie. Herodes besluit soos Pilatus oor Jesus. En so word die twee weer vriende. Die volk skree ‘kruisig hom’. Die soldate dobbel aan sy voete by die kruis oor sy klere. Hulle bespot Hom. En die een misdadiger aan die kruis laster Jesus.

Almal dus, broers en susters, met ‘n houding van: los my, ek is besig met my eie sake en eie belange. Dit, terwyl die grootste gebeurtenis ooit in die geskiedenis van die wêreld besig was om voor hulle oë af te speel. Hulle loop dit mis, want eie belang is belangriker as enigiets anders.

Hoe staan dit met ons, broers en susters? Hoe staan dit met u en met my? Waarmee was u en ek hierdie Paasfees besig? Was ons bewustelik besig om in die geloof weer saam met Jesus daardie lydenspad te stap? Het ons hierdie Paasfees ooit gedink aan dit wat Jesus vir ons aan die kruis en deur die graf gedoen het? Het dit ons weer in die geloof versterk? Het ons weer raakgesien hoe lief God ons werklik het? Het ons op Goeie Vrydag weer daardie intense hartseer beleef omdat ons besef het hoeveel Jesus moes ly ter wille van ons? En het ons op Paassondag gejuig omdat God vir ons die ware lewe gegee het?

Of het ons nie? Waar was ons hierdie Paastyd? Was ons nie ook maar met ons eie dinge en eie belange besig nie? Dit is immers so ‘n heerlike naweek waarin ‘n mens kan ontspan en los kan kom van die werkdruk van elke dag en die spanninge van die lewe.

Meer nog, broers en susters: Paasfees wys ons hoe God vir ons omgegee het. Wat Hy vir ons gedoen het omdat Hy ons lief het. Dat daar geen einde aan sy liefde vir ons is nie. Dat Hy ons as sondaars nie wegstoot nie. Dat Hy ons opsoek, vir ons omgee, by ons wil wees, ons nie in die steek wil laat nie.

En nou ken ons mos die Bybelse boodskap in hierdie verband baie goed. Ek hoef dit amper nie eers te sê nie. Wat God vir ons en aan ons doen, moet ons vir ander en aan ander gaan doen. In ander woorde: dit wat God vir ons met Paasfees doen, en elke dag vir ons doen, moet ons ook elke dag vir ander en aan ander gaan doen.

En wat word hiervan in ons lewens sigbaar? Ons is so met ons eie dinge besig. So baie dinge gebeur rondom ons. So baie mense het ons nodig. En wat doen ons so dikwels so maklik? Soos daardie wonderlike gebeure tydens daardie eerste Paasfees weer en weer by ons verbygaan, ons soms onaangeraak laat, so gaan hierdie mense wat ons nodig het by ons verby, en hulle leed en ellendes laat ons onaangeraak.

Is ons in ons lewens, broers en susters, werklik met God besig? Is God werklik deel van ons lewens? Hoe gereeld dink ons nog aan God? Ken ons God in ons besluite? In ons verhoudinge? Ek wil amper vra: sê die wyse hoe ons soms op so ‘n onbetrokke wyse Paasfees vier, nie ook maar iets van hoe ernstig ons met God omgaan nie?

Mag God ons oë oopmaak vir dit waaroor die lewe werklik gaan en behoort te gaan. Mag ons weer raaksien wat Paasfees vir ons behoort te beteken. Mag ons in die gewone gang van die hoor van die Woord aangeraak word. Mag ons raak sien dat God by ons in die gewone dinge van die lewe is. En dat Hy ons onmeetbaar ontsettend lief het. En mag ons dan so daarop reageer dat die boodskap van Paasfees elke dag in ons lewens waar word.

Maar bo alles, mag dit nooit van ons gesê word wat Jesus aan die kruis gesê het nie: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. Ja, ons doen nie altyd reg nie, maar ons kan nie sê ons weet nie wat God wil hoe ons moet doen en hoe dit gedoen behoort te word nie. Paasfees beteken nuwe lewe. Dit beteken Godgegewe lewe.

Wat, broers en susters, gaan u en ek met hierdie geskenk van die lewe maak?
Amen