Handelinge 2:1-13

Die doel van die Pinksterverhaal



EKSEGETIESE OPMERKINGS
DIE PINKSTERGEBEURE VOLGENS HANDELINGE 2:1-13
Dit is belangrik om te onthou dat die Lukasevanglie en die Handelingegeskrif eintlik een verhaal vorm en waarskynlik deur dieselfde outeur geskryf is.
Handelinge is nie ‘n noukeurige geskiedenisboek oor die lewe van die vroeë kerk nie. Die verhaal het ‘n teologiese oogmerk, dit wil ‘n boodskap oordra wat die leser in die geloof sal versterk.
Die pinkstergebeure word reeds in Lukas voorberei. Aan die einde van Lukas (24:49) lees ons dat die dissipels die opdrag ontvang om in Jerusalem te bly om bekragtig te word met die ‘gawe’ (letterlik: ‘belofte’) van die Vader. In Handelinge 1:4-5 word die opdrag herhaal met spesifieke verwysing na die ‘doop met die Heilige Gees’.
Die pinkstergebeure vorm die grondslag of oorsprong van die Christelike sending. Die Gees sit dus die groot uitbreidingsgebeure aan die gang.
Dat dit die Gees is wat telkens die sending aan die gang sit is duidelik uit die feit die Gees as’t ware weer uitgestort word (Hand 8:15-17; 10:44-48; 19:6).
Alhoewel die Gees nie elke keer ‘uitgestort’ word nie is dit duidelik dat die Gees die Een is wat telkens die inisiatief neem by belangrike besluite en gebeure (Hand 8:29; 10:19; 13:2; 15:28; 21:11).

Die eerste dertien verse van Handelinge 2 vertel vir ons hoe die Gees op die pinksterdag uitgestort is.
Wie die almal was en presies waar hulle op die dag van die pinksterfees bymekaar was (v 1), is nie heeltemal duidelik nie. Tog kan ons uit die omstandigheidsgetuienis moontlike afleidings maak. Uit Hand 2:14 blyk duidelik dat ten minste die twaalf apostels teenwoordig was. Verder verwys Hand 1:15 na honderd en twintig gelowiges wat by geleentheid vergader was en ook aan die kies van ‘n twaalfde apostel in die plek van Judas Iskariot deelgeneem het (Hand 1:23-26). Dit is dus redelik om te aanvaar dat hierdie honderd en twintig gelowiges, waarvan die apostels deel was, die ontvangers van die uitstorting van die Heilige Gees was.
Wie was hierdie honderd en twintig gelowiges? Die name is nie bekend (behalwe die apostels s’n) of belangrik nie. Die belangrike aspek is hulle nasionaliteit. Uit die res van Handelinge weet ons dat hulle almal Jode was wat in Jesus as die Messias geglo het. Hoekom is dit so belangrik? Omdat alles wat in Handelinge 2 omtrent die pinkstergebeure vertel word, in verband staan met God se beloftes aan Israel. Hoewel Handelinge vertel van die heidensending, begin die sending egter onder die Jode.
Handelinge 2:1 sê slegs dat hulle ‘op een plek’ bymekaar was. Vers 2 meld dat die geluid van die stormwind die ‘hele vertrek’ gevul het. In die oorspronklike Grieks staan egter: dit het die hele ‘huis’ gevul. Dit het sommige verklaarders laat dink aan die bovertrek van Hand 1:13 waar die apostels gewoonlik vertoef het. Dit is egter te betwyfel of so ‘n vertrek honderd en twintig mense sou kon huisves. En verder lees ons in 2:6 dat daar gou ‘n groot skare saamgedrom het. Dit laat vermoed dat die Gees by die tempel uitgestort is, want daar was in elk geval baie mense byeen vir die Joodse pinksterfees. Boonop is die tempel ook soms ‘huis’ genoem (vgl Lk 11:51 [‘tempel’ is hier ‘huis’ in die Grieks]). Dit pas in by die belangrike plek wat die tempel in die Lukas-¬Handelingeverhaal inneem. Die tempel, en wyer geneem, Jerusalem, vorm vir Lukas die middelpunt van sy aardrykskunde. Alles stuur hierop af (vgl Luk 9:51) en hiervandaan kring die evangelieboodskap in konsentriese sirkels uit na die hele wêreld (Hand 1:8). Dit alles maak goeie sin, want die tempel is gesien as die plek waar God op ‘n spesiale manier teenwoordig is.
Wanneer die Heilige Gees uitgestort word, gaan dit met drie uiterlike tekens gepaard: die geluid van ‘n sterk stormwind (Hand 2:2); sigbare vuurtonge (v 3); en vreemde tale (v 4). Die eerste twee is in die Ou Testament tekens van God se teenwoordigheid: wind: (kyk 2 Sam 5:24; Ps 104:4; vuur: Eks 3:2; 13:21).

Opmerklik is verder die verband in die Grieks tussen die woord vir ‘wind’ en vir ‘Gees’. Dis basies een en dieselfde woord. Dit laat dink aan ‘n soortgelyke woordspeling in Johannes 3:5-8 waar Jesus aan Nikodemus die werking van die Gees in die wedergeboorte verduidelik: soos die wind, so is ook die werking van die Heilige Gees: misterieus, geheimsinnig en tog sigbaar. En in Lukas 3:16-17 word weer ‘n verband tussen die Heilige Gees en vuur gelê as Johannes die Doper voorspel dat die Messias nie met water sal doop nie, maar met die Heilige Gees en vuur. Vuur simboliseer ook die suiwerende en reinigende werk van die Gees. Die begeleidende tekens wil dus aan die leser die boodskap deurgee dat hier in die tempel, waar geglo is dat God op ‘n spesiale manier teenwoordig is, op die pinksterdag ‘n uitsonderlike Godsverskyning plaasvind: deur die uitstorting van sy Gees kom woon God nou op ‘n nuwe manier onder sy volk.
Dit is op ‘n besondere manier sigbaar uit die volgende teken: die vreemde tale. Die woord vir ‘tonge van vuur’ (Hand 2:3) en ‘tale’ (Hand 2:4) is in die Grieks presies dieselfde. Dit is veelseggend. Hiermee word op ‘n subtiele manier die band gelê tussen die bekragtiging deur die Heilige Gees en die feit dat die gelowiges in vreemde tale begin praat. Hoewel hierdie verskynsel beslis ‘n ekstatiese moment bevat (vgl die reaksie van ‘n deel van die skare, Hand 2:13), moet dit nie oorbeklemtoon word nie, want uit Hand 2:6-10 is dit duidelik dat dit tale was wat desyds deur mense gepraat is. In Hand 2:9-10 word selfs die gebiede genoem waar dit mense se moedertaal was. Die boodskap hiervan is duidelik: die uitstorting van die Gees is nie net ‘n seën vir dié wat dit ontvang nie, maar ook vir ander. Die goeie nuus omtrent die groot dade van God in Jesus Christus moet deur almal gehoor word.
Wie was die mense wat die gelowiges in hulle eie tale hoor praat het? Handelinge 2:5 sê dit was ‘godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son wat in Jerusalem gewoon het.’ Dit is nie om dowe neute dat Lukas die lande so pertinent noem nie. Daardeur skep hy die indruk dat verteenwoordigers van die hele destydse wêreld teenwoordig is. Hy sê spesifiek in Hand 2:5 ‘...al die nasies onder die son’. Die indruk word geskep dat die hele wêreld as gehoor hier teenwoordig is.
Hierdie waarneming pas ook goed in by die karakter van die Joodse pinksterfees. Dit was by uitstek ‘n oesfees wat na die koringoes en vyftig dae na die paasfees plaasgevind het. Soos die koringoes ingesamel is, so begin God ook nou die rypgeworde oes van mense uit die hele wêreld insamel.
Dit is nodig om die talewonder in breër perspektief te stel. Daar word soms allerlei afleidings uit die wonder gemaak wat nie verband hou met die betekenis wat Lukas self daaraan heg nie. So word daar partymaal ‘n direkte verband gelê met die tongespraak van 1 Korintiërs 12 en 14. Dat daar bepaalde ooreenkomste is, ly nie twyfel nie - veral die ekstatiese moment. Die mees voor-die-hand¬liggende verskil is egter dat die tongespraak van 1 Korintiërs waarskynlik nie erkende tale van die tyd was nie, terwyl dit juis die kenmerk van die talewonder van Handelinge 2 is. Die tongespraak van 1 Korintiërs was meer ‘n geestesverrukking waar iemand ongewone klanke voortgebring het wat vir niemand verstaanbaar was nie (1 Kor 14:2) en onordelikheid tot gevolg gehad het. Daarom beklemtoon Paulus juis die noodsaak van uitleg van die klanke. Alleen so kan die gemeente opgebou word (1 Kor 14:5). Dit onderstreep die gedagte hierbo dat die koms van die Gees nie gemik is op die selfsugtige aanjaging van mense se oorverhitte godsdienstige ego’s nie, maar op die kommunikering en uitbreiding van God se koninkryk. Dit is die saak wat in Handelinge 2 uitstaan. Daarom, afgesien van die hoorders wat die evangelie in hulle eie tale hoor, is Petrus se toespraak vanaf Hand 2:14 gebou op rasioneel verstaanbare argumente.
Petrus se verduideliking van die uitstorting van die Heilige Gees is van uiterste belang vir die verstaan daarvan, maar ons gee nie nou daaraan aandag nie.

‘n Moontlike preekskets
Handelinge 2:1-13
Om aan die gemeente die doel (teologiese skopus) van die verhaal te verduidelik
Ons as gelowiges dink vandag terug aan die uitstorting van die Heilige Gees, die feit dat God die Trooster na ons gestuur het. Jesus het opgevaar, maar ons as mense nie alleen agtergelaat nie.

Nou is dit so dat ons siening en ervaring van die Heilige Gees nie ooreenstem met baie ander groepe en kerke se siening en ervaring van die Gees nie. Dus, ons siening/interpretasie van die Gees verskil van hulle s’n. Dit bring noodwendig mee dat daar ‘n groot verskil is in die manier waarop ons aan die een kant en hulle aan die ander kant die Gees ‘ervaar’ en noodwendig ook ‘n verskil in die siening van die werk van die Gees. Ons kan dit anders stel: die wyse hoe ons God in ons lewens as teenwoordig beleef en hoe hulle aan die ander kant God se werking sien, verskil van mekaar.

Sommige wil dit hê dat die werking van die Gees slegs op ‘n uitsonderlike manier verstaan moet en kan word. Met ander woorde, as daar nie uitsonderlike dinge met jou gebeur nie, beteken dit dat jy nie die Gees ontvang het nie en dat jy dus ook per implikasie nie gelowig is nie. Verder verstaan hierdie mense dit ook so dat die werking van die Gees ‘n bepaalde emosionele belewing by mense behoort tuis te bring. Gelowiges wat die Gees ontvang, moet dus of huil of skreeu of een of ander sigbare emosie toon of in een of ander liggaamsbeweging oorgaan.

Ons Kerk se verstaan van die Gees was nog altyd anders. Ons ontken nie dat die mens God of dan die Gees van God kan ervaar nie, maar ons ervaring van God is nie by uitstek en alleen ‘n emosionele, uiterlike/sigbare ervaring nie. Die teenwoordigheid van God in ons lewens hoef volgens ons verstaan van die Woord nie met uiterlike tekens en geweldige emosionele belewing gepaard te gaan nie. Al beleef ons nie sulke dinge nie, glo ons wel dat God deur sy Gees in ons lewens teenwoordig is.

Die vrae waarvoor ons dus eintlik gestel word is:
Wie is die Heilige Gees;
wat doen die Heilige Gees en
hoe moet/kan ‘n mens die Heilige Gees (wat niemand anders is as God nie) ervaar?

Ek is van mening dat ons ‘n bepaalde perspektief op ons vrae kry in die verhaal wat ons saam gelees het en wat handel oor die ‘uitstorting’ van die Heilige Gees.

Dit was pinksterfees, 50 dae na die pasga. Dit was die dag waarop die fees van die oes gevier is. Feesgangers het hulle offerandes van die oes na die tempel gemeen waar hulle dit tydens ‘n seremonie aan die priesters oorhandig het as teken van dank. Dit was nie een van die belangrikste feeste nie. Eintlik het die waarde van die fees later gelê in die feit dat dit gesien is as die afsluiting van die pasgafees. Na die vernietiging van die tempel kon die fees nie meer plaasvind nie omdat die tempel verwoes was. Toe het die fees die karakter begin kry van ‘n herdenking van die dag waarop die oorhandiging van die wet aan Moses plaasgevind het.

Die dissipels was almal bymekaar. Skielik was daar uit die hemel ‘n geluid wat soos ‘n geweldige stormwind geklink het. Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel het en op elkeen van hulle gekom het. Hulle is met die Heilige Gees vervul en het in ander tale begin praat. Daar was godsdienstige Jode uit al die nasies wat in Jerusalem gewoon het. Hulle het die skare uitgemaak wat saamgedrom het toe hulle die geluid gehoor het.

Met die lees van die gedeelte merk ‘n mens ‘n aantal eienaardighede in die teks op. Die eerste vraag wat ‘n mens kan vra is of alles werklik so gebeur het soos wat die skrywer dit hier vertel. Die skrywer skryf immers die verhaal lank nadat die gebeure plaasgevind het. Hoe sal hy dan presies geweet het hoe alles plaasgevind het? ‘n Volgende legitieme vraag sou wees, naamlik hoe Petrus homself aan 3000 mense hoorbaar kon maak? Is dit werklik moontlik?

Uit die bogenoemde twee vrae (opmerkings) is dit duidelik dat die gedeelte ‘n mens voor ‘n aantal probleme stel wat vir ‘n moderne mens/leser moeilik verstaanbaar is. Juis dit laat die vraag ontstaan of die gedeelte soos ‘n koerantberig gelees moet word. Dit sou beteken dat alles soos dit daar staan presies so gebeur het. Ek meen dat dit nie die bedoeling van die skrywer was nie. Dit gaan nie in die eerste plek om ‘n presiese beskrywing van alle gebeure nie, maar om die boodskap/saak wat die skrywer wou oordra.

Toe die skrywer die gedeelte geskryf het, wou hy sy lesers oortuig dat Jesus na sy kruisiging nog teenwoordig /lewend is. Hierdie saak van Christus se teenwoordigheid, dat hy nie dood is nie maar nog steeds lewe en by Sy kerk teenwoordig is, wou hy op een of ander manier voorstel sodat dit die lesers kon bybly en hulle daarin kon glo. Dit is dus nie ‘n geskiedkundige verhaal nie. Die feit dat daar oor die ‘uitstorting van die Gees’ in die Johannesevangelie anders berig word, onderstreep hierdie feit.

Wanneer ons na die skrywer se skryfstyl kyk, sal ons die verhaal beter begryp. Die skrywer skryf op ‘n konkrete en dramatiese manier en daardeur wil hy die leser se aandag trek om hom sodoende die verhaal te laat onthou. Hy sê dat die geluid skielik is en dat die stormwind geweldig is. Daarmee probeer hy aantoon dat Christus teenwoordig is, dat God hier ‘n werklikheid is.

Om iets van die verhaal te verstaan is dit verder belangrik om daarop te let dat die skare Jode was en nie heidene nie. In die eerste deel van die boek Handelinge gaan dit juis om die verkondiging van die evangelie aan die Jode. Eers na die Kornelius-verhaal kom die heidense volkere in die kollig. Die feit dat daar gesê word dat die skare uit Jerusalem afkomstig is, het ook betekenis aangesien die gemeente van Jode wat gelowig word in Jerusalem bly en dit gestel word dat dit die eerste gemeente is. Daarmee wou die skrywer sê dat God met die Jode bly bemoeienis maak.

Anders as wat sommige meen, is speel die spreek in tale nie so ‘n groot rol nie. In die eerste plek word daar gesê dat die spreek in tale in verstaanbare tale was en nie soos sommiges wil sê ‘n gebrabbel nie. Die mense kon die evangelie in hulle eie taal hoor. Die spreek in verstaanbare tale word gevolg deur die verkondiging van die woord. Die klem val dus hier op die preek van Petrus en nie die spreek in tale nie. In die preek van Petrus word die spreek in tale feitlik geïgnoreer. As ons die struktuur in ag neem, word die bedoeling van die skrywer duidelik: deur sy Gees (die uitstorting van die Gees) stel God mense in staat tot sendingwerk (tot woordverkondiging). Die gawe om die boodskap van God te verkondig (Petrus) volg dus op die verhaal van die ‘uitstorting’ van die Gees.

Wat is die gevolg van die verkondiging? Die gevolg is dat mense tot bekering kom en dat hulle in God glo. Na hierdie gebeure word die leefwyse van die eerste gemeente beskryf. Dus, die Gees wat in staat stel om te verkondig, lei tot bekering en tot die vorming van ‘n gemeente. Dit is hierdie gelowiges (die gemeente) wat op hulle beurt weer die woord moet verkondig.

Die doel van die skrywer is dus om die werk van die kerk na hemelvaart te beskryf. Hierdie werk word moontlik gemaak deur die werk van God self, deur sy Gees; nie deur mense nie. Dit is God wat mense deur sy Gees toerus om die woord te verkondig.

Maar hierdie toerus deur die Gees (of die belewing van die Gees) is nie anders en bonatuurlik soos sommige dit wil hê nie. Dit is ‘gewoon’ of ‘natuurlik’ dat elkeen die boodskap in sy eie taal kan hoor. Die ‘bonatuurlike’ lê daarin dat mense deur God se Gees hierdie woorde glo en dat dit hulle lewens verander.

Eintlik, broeders en susters, sê die verhaal niks anders as dat God/Christus deur sy Gees by mense (hier veral die klem op die kerk) teenwoordig is nie. Dit is Hy wat deur sy Gees aan ons die moontlikheid gee om die woord te verkondig. Hy self rus ons daarvoor toe. Die Gees bring sondaars tot bekering en bring sodoende die kerk byeen.

Moet die ervaring van die Gees dan noodwendig buitengewoon wees? Dit blyk nie so nie. Mense kon die evangelie in hulle eie taal hoor. Die buitengewone lê daarin dat mens tot beweging gebring word om hierdie woord te bring. Die buitengewone lê daarin dat ons wat nie glo nie, wel deur die verkondiging tot geloof kom.

Hierdie gedeelte gee aan ons die opdrag om juis opnuut die groot werke van God te verkondig. Die Heilige Gees is volgens hierdie verhaal, so wou die skrywer sê, niemand anders as Christus nie, die opgestane Jesus. Hy is, in die woorde van Johannes, die Trooster. Ons is nie alleen nie. Ons, die kerk is ook nie alleen in die groot taak wat aan ons opgedra is nie. God self rus mense toe om die woord te verkondig. Uit ons eie kan ons nie. Sonder Hom is dit net nie moontlik nie.

Beteken dit dan nou dat ons buitengewone ervaring moet hê om te kan bewys dat God ook by ons teenwoordig is. Nee! Wanneer ons deur sy Woord aangespreek word en hierdie Woord verkondig is dit die teken dat Hy met ons is. En ons ontmoet God nie deur ons emosies nie, maar deur sy Woord en die sakramente. Die groot wonder is dat mense deur die Woord en sakramente beweeg word tot ‘n vurige liefde vir God en ons naaste.
Amen