1 Korintiërs 12

Die gawes van die Gees



Met die eerste deurlees van hierdie gedeelte, kon ek nie anders as om vir myself te vra of ons, die Hervormde Kerk van die twee en twintigste eeu, nog ‘n Geesvervulde kerk is nie. By Geesvervulde kerk, bedoel ek ‘n kerk wat kan bely dat die Heilige Gees daarin teenwoordig is en dat die kerk die Heilige Gees toelaat om voor te skryf en te lei, soos wat God dit wil hê. ‘n Kerk wat ruimte laat vir die Gees om te kan werk en mense se lewens te verander. Op die oog af lyk dit na ‘n baie dom vraag om te vra, want ons weet mos dat die Heilige Gees hier teenwoordig is. Ons as gemeente het so pas weer sáám bely dat ons in die Heilige Gees glo, wat tog ook beteken dat ons bely dat Hy hier teenwoordig is. As dit dan so is, hoekom wil dit voorkom asof daar baie van die genade gawes van die Gees in óns kerk soos wat dit in die gelese gedeelte uiteengesit word, nie teenwoordig is nie?

Baie lidmate van ons kerk vra die vraag hoekom net mense wat in die AGS is, in tale kan praat? Moet dit nie ‘n vingerwysing na ons kerk wees wat sê dat hulle dalk iets reg doen nie? Wys die spreek in tale nie vir ons dat die Heilige Gees in hulle kerk werksaam is, maar nie in ons kerk nie?

Dan het die “Profeet” van Lagos, Josia, ook ons mense aan die praat. Ons het van bekende rugbyspelers gehoor wat wonderbaarlike genesing van hom ontvang het. Sommige van ons het self op die televisie gesien wat alles daar gebeur: mense wat in rolstoele gekluister was kan opstaan en loop; vroue wat nie kinders kon kry nie, verwag nou skielik; mense wat aan kanker ly, word skynbaar daarvan genees. Ons sien dat dit nie net mense van die Charismatiese kerke is wat daarheen reis nie, daar is ook predikante en lidmate van die 3 Susterkerke wat daarheen gaan. Die vraag by baie lidmate is of God dan nie in ons eie kerk wonder genesing laat plaasvind nie, moet ons mense na Lagos reis?

Toenemend hoor ons ook dat mense na ander kerke gaan, want daar vind hulle ‘n Spirituele ervaring. Baie mense sê dat wanneer hulle uit die erediens stap, hulle geen ervaring gehad het van God wat hulle lewens aangeraak het nie. Ook onder u, broers, susters en kinders, is ek oortuig is daar mense wat so voel. Ek wil nie sê dat u verkeerd is nie, want ek dink in baie gevalle is dit wat werklik gebeur.

Kom ons gaan kyk vervolgens na die teks en probeer vasstel of ons nog ‘n kerk is waarin die gawes van die Gees teenwoordig is. Ons moet eerstens vasstel wat hierdie “gawes” is en wat die doel daarvan is? “Gawes” is iets wat aan die mens gegee word. Dit is soos ‘n geskenk. Ons ontvang nie ‘n geskenk omdat ons dit verdien nie, dan is dit ‘n betaling, nee ons ontvang ‘n geskenk omdat iemand uit liefde dit aan ons gee. Omdat iemand vir ons wil wys dat hulle omgee. Netso ontvang ons die gawes sonder dat ons dit verdien. Die gawes moet gesien word as ‘n manier hoe die Heilige Gees in die gemeente teenwoordig is en ons toerus vir ons taak in die wêreld. Die mens is die ontvanger van God se gawes en nie die bron daarvan nie. Kan u dus insien dat ons niks het om op te roem as ons gawes van die Gees ontvang nie?

Paulus noem ‘n lys van gawes: “Om wysheid te spreek; om kennis te hê; geloof as gawe; om te genees; om wonderwerke te doen; om te profeteer; om ware en valse geeste te onderskei; om in vreemde tale te spreek; om vreemde tale uit te lê. Daar is dus ‘n verskeidenheid van gawes. Maar die belangrikheid van hierdie gawes lê nie in die verskeidenheid daarvan nie, maar in die voordeel wat dit vir die hele gemeente en samelewing moet inhou. Hierdie gawes word deur die Gees gebruik om die liggaam van God, die kerk, tot ‘n eenheid te bind. Ons word met die gawes toegerus om die werk van die Gees, in die gemeente voort te sit. Die gawes is dus nie vir ons eie roem nie, maar vir die werk van God in die wêreld.

Die gawes is ook kultureel en tyd gebonde. Wat hiermee bedoel word is dat die Gees onder sekere omstandighede en sekere tye, verskillende gawes gebruik sodat die gemeente kan funksioneer. Die gawes soos wat Paulus dit hier noem is ook nie volledig nie. Die tydsomstandighede van die gemeente bepaal watter gawes die Gees aan daardie gemeente wil gee. So was dit byvoorbeeld in die vroeë kerk meer noodsaaklik om tussen ware en valse geeste te onderskei as wat dit vandag nodig is. Ons leef vandag in ‘n tegnologiese samelewing waarin geeste nie meer werklik ‘n plek het nie. ‘n Gawe soos rekenaarvaardigheid of gasvryheid is vandag dalk meer nodig as wat die spreek in tale is.

Die tipe gawe is dus nie die belangrikste nie, die onderliggende saak is wat steeds tel, naamlik dat ‘n kerk en gemeente op só ‘n wyse moet funksioneer dat meer mense deel word van Jesus Christus se liggaam, en dat lede van die liggaam mekaar opbou en ondersteun. Alles bly steeds tot eer van ons Here, Jesus Christus.

Dit was egter nie die geval in Korinte nie. Daar was by hierdie mense ’n wedywering aan die gang om te sien wie van hulle die beste gawe ontvang het. Korinte was ‘n groot handelstad waar al die hoofweë bymekaargekom het. Daar was mense van verskillende nasionaliteite, sodat daar ook verskillende tale gepraat is. Daarbenewens was Korinte ook ‘n groot kultuursentrum, ‘n stad van geleerdheid, ‘n stad waar ‘n mens byna elke dag na een of ander wysheidsleraar kon luister. Dit was ook ‘n stad waarin verskillende misterieuse en godsdienstige strominge aangetref is. Korinte was dus ‘n stad waarin mense op vele terreine uitgeblink het.

Paulus het toe op ‘n dag in die stad aangekom en begin om die blye boodskap in ‘n baie eenvoudige taal aan hierdie mense te verkondig. Hy het vertel van dié Jesus wat op Golgota aan die kruis gesterf het en wat die Verlosser, Bevryder en Saligmaker is. Daarby het hy ook vertel dat die dood nie die laaste woord oor ‘n mens spreek nie, maar dat daar na die dood persoonlike, bewuste lewe in die hemel is vir dié wat in daardie Verlosser glo, en dat dié wat Hom verwerp in die verderf sal beland. Vir die Korintiërs was dit maar net nóg ‘n wysheidsleer waarvan sekere aspekte vir hulle goed geklink het en ander onaanvaarbaar was. Dat ‘n man wat as ‘n swakkeling aan ‘n kruis gesterf het, Verlosser kon wees, was vir hulle eenvoudig net dwaasheid en dat ‘n mens wat dood en begrawe is, weer kon opstaan, was vir hulle verstandelike redenasie onaanvaarbaar. Gelukkig was daar mense wat deur die Gees gelei is om tot bekering te kom en die Christelike geloof aan te neem.

Teenoor die Korintiërs wat uitgemunt het in wysheid, wetenskaplike kennis, die redenaarskuns en so meer, het die gemeente gestaan waarin daar nie baie geleerdes, rykes en groot redenaars was nie. Hulle het besef dat as hulle nie iets kon kry om in uit te munt nie, hulle geen indruk sou maak nie; die mense sou hulle prediking nie aanvaar nie en so sou hulle geen bekeerlinge kry nie. Toe het hulle na die genadegawes van die Heilige Gees gegryp om hulleself as’t ware te bemark. Dit is vanselfsprekend dat hulle dié gawes, wat die mees opsienbarende en buitengewone was sou aangryp en boaan geplaas het. Gawes soos Profesie, Genesing, maar veral dan ook die gawe om in Tale te spreek. Hulle kon nou vir die Korintiërs sê: Julle mag oor groot wetenskaplike kennis beskik; julle mag indrukwekkende toesprake hou; julle mag ryk wees, maar julle kan nie soos ons in tale praat nie. Julle is nie organe waardeur God praat nie, want julle is nie met die Heilige Gees vervul nie.

Hierdie wedywering tot die spreek in tale het veroorsaak dat sekere lidmate hulleself bokant ander lidmate verhef het. So het dit gebeur dat die een vir die ander sê: Ek kan tog in tale praat en jy nie! Ek is tog met die Heilige Gees vervul en jy nie! So het daar later twee groepe in die gemeente ontstaan. Dié wat sogenaamde verhewe gawes besit het, en die wat net die gewone gawes ontvang het. ‘n Geestelike hoogmoed het in die gemeente ontstaan.

Hierteen het Paulus homself baie sterk uitgespreek en vir nederigheid gepleit. Niemand kan homself daarop roem dat hy ‘n sekere gawe ontvang het en ‘n ander nie, want alle gawes is deur dieselfde Gees gegee, met dieselfde doel. Die spreek in tale is nie die vernaamste gawe nie, maar die gawe van die liefde is. Hy staan ‘n hele hoofstuk (Hoofstuk 13) af, aan die gawe van die Liefde. Paulus sê: “Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n klinkende metaal en ‘n galmende simbaal geword”. As die liefde ontbreek, is alles waardeloos en maak die mens met die spreek in tale net ‘n lawaai. Die gemeente moet ophou om ‘n geraas op te sit oor hulle “wonderlike” gawes, want die liefde ontbreek in geheel by hulle.

Ek wil geensins ontken dat daar vandag nie meer iets soos die spreek in tale is nie, as ek dit sou doen probeer ek aan die Gees voorskryf hoe Hy moet werk, maar waaroor ek wel twyfel is die manier hoe kerke hierdie gawe gebruik. Het hierdie gawe nog enigsins te make met die eenheid van die liggaam? Het hierdie gawe nog die doel om die gemeente na binne en na buite te versterk? Hierop gaan ek versigtig ‘n “nee” moet antwoord en ek bid dat God my sal vergewe as ek verkeerd is. Uit dit wat ek self gesien het, wil dit vir my voorkom asof hierdie gawe en baie ander gawes, baie keer misbruik word om mense en kerke se sogenaamde geestelike vermoëns te toon. Dit lyk vir my asof hierdie mense soos die gemeente in Korinte, hulleself aan mense wil bemark. Voorbeelde daarvan is volop: ‘n Paar jaar gelede het ons van die sogenaamde “Torronto Blessing” gehoor. ‘n Manifestasie van die Gees, waar hierdie mense begin gil het en neergeslaan het in die kerk en daarna nie kon ophou lag nie. ‘n Meer onlangse voorbeeld is waar mense beweer dat hulle tande verander in goud. My vraag is net hoekom die Heilige Gees sy tyd sal mors om vir mense goue tande te gee? Wat het goue tande te doen met die Koninkrykswerk van God? Ek dink dat baie van hierdie gawes eerder te make het met mense wat aan die wêreld wil wys dat hulle sélf iets besonders is.

Netso kan ek ook nie die gawe van besondere genesing ontken nie. Dit mag so wees dat Josia mense kan genees. Ek wonder net in wie se naam hy dit doen? Is hierdie gawe van hom ‘n gawe van die Heilige Gees, of is dit ‘n gawe wat hy dalk van ‘n valse gees ontvang het? Ek wonder net hoekom sy tempel vol Koran, die Moslem Bybel, aanhaling is. Is dit die Gees van God wat nou deur die Koran werk? Ek twyfel!

Maar wat van die gawes van die Gees in ons eie kerk? Dit is wel so dat ons nie die gawe van die spreek in tale in ons kerk beoefen nie. Ons kerklike tradisie maak dat die Gees nie op daardie wyse in ons kerk werksaam is nie. Dit wil egter nie sê dat die Gees nie in ons kerk werksaam is nie. Die Gees rus ons nou met ander gawes toe om sy werk te doen. Die tradisie in ons kerk is een van nederigheid, ‘n besef dat ons niks het om op te roem nie, want alles wat ons het is aan ons gegee. Ons het ‘n stilte en rustigheid in ons wanneer ons in die erediens is. Ons is versigtig dat dit nie ons is wat ‘n geraas maak nie, maar dat dit God is wat met ons praat Ons het steeds die gawe om wysheid te spreek; om kennis te hê; geloof as gawe; om ook te onderskei tussen waarheid en valsheid; om te genees; om mekaar behulpsaam te wees; om te kan lei; om lief te hê. Ons kan aangaan en aangaan met ons lysie. Wie sal ontken dat dokter Chris Barnard ‘n besondere gawe ontvang het om te genees? U sien Broers, Susters en Kinders, ons het vandag steeds gawes in ons kerk. Hierdie gawes lyk net nie noodwendig soos die gawes van die gemeente in Korinte nie. Ons soek baie keer ook na opspraakwekkende gebeure, maar meermale werk die Gees deur die gewone alledaagse.

Daar is egter ‘n gevaarlig wat vir ons kerk skyn. Mense is dalk reg as hulle sê dat hulle nie altyd die teenwoordigheid van die Gees in ons kerk ervaar nie. Daar kan verskeie redes hiervoor wees, maar ek glo die grootste rede is dat ons in reaksie téén die Charismatiese beweging se oorbeklemtoning van die Gees, somtyds onsself blind hou vir die Gees se werking in ons eie kerk. Dit is duidelik dat mense ‘n behoefte het om meer bewus te wees van die werking van die Heilige Gees in ons kerk en in hulle lewe. Ons moet die Gees die ruimte laat om met mense te handel soos wat Hy dit goed dink.

Ons moet die geleentheid in die kerk skep dat mense hulle gawes kan aanwend binne in die kerk, maar ook na buite. Ons het almal die gawe van liefde ontvang, kom laat ons hierdie gawe weer tot voordeel van God gebruik. Deur in die kerk vir mekaar om te gee, sal ons sien dat ons ook toegerus sal word met ander gawes. Skielik sal ons ervaar dat ons dalk ook ‘n gawe het om met siekes te werk, gee dan vir daardie persoon die geleentheid om deur die kerk, betrokke te raak by siekes. ‘n Ander gaan dalk agterkom dat hulle ‘n gawe het om met oumense te werk, kom ons gee dan ook daardie persoon die geleentheid om by die Ouetehuis behulpsaam te wees. Nog ‘n persoon gaan dalk weet dat hy ‘n gawe het om te organiseer, nooi dan daardie persoon uit om betrokke te wees by die gemeentelike funksies. Ons kla baiekeer dat mense nie betrokke is nie, miskien is dit omdat ons net nie vir hulle die geleentheid gee om hulle besondere gawes aan te wend nie.

Wanneer iemand besef dat hy/sy ‘n gawe het, dan is dit ook hulle verantwoordelikheid om gehoorsaam te wees aan die Gees en daardie gawe aan te wend in diens van die Gees. Ons moet nie dan wegkruip en sê dat ons nie kan nie, of dat ons nie die tyd het nie. Wanneer ons nie woeker met die gawes wat ons ontvang het nie, sal ons agterkom dat ons op ‘n dag nie meer daardie gawe het nie, dan sal die Gees daardie gawe gee aan iemand wat dit sal gebruik.

Gemeente kom dat ons elkeen ‘n ondersoek gaan instel en vasstel watter gawes ons ontvang het. Laat ons dan daardie gawes weer in die kerk gebruik, sodat die wêreld sal sien dat die Gees ook in die Hervormde Kerk teenwoordig is. Dat die Hervormde Kerk ook weer ‘n ware getuie sal wees vir die Één en Ware God. Laat ons dankbaar wees dat die Gees ons op hierdie alledaagse manier toerus met die gawes, want dit sal ons nederig hou en keer dat ons nie soos die gemeente in Korinte, op onsself begin roem nie.
Amen