Handelinge 2:1-13

Die oorsprong en doel van Pinkster



Geliefdes van ons Here Jesus, volgens die kerklike kalender moet die kerk ook gereeld Pinkster vier. Met hierdie kerklike feesdag wil die kerk die uitstorting van die Heilige Gees herdenk. Vir hierdie doel wil ek graag uit ons gelese gedeelte vers 4 as teksvers voorhou: “Almal is met die Heilige Gees vervul ...”

Broers en susters, as ons Pinksterfees vier, is dit goed as ons eers so bietjie oor twee sake gaan nadink. Die eerste saak is die vraag oor waar kom die Pinksterfees vandaan, met ander woorde, wat was die aanvanklike bedoeling van hierdie fees gewees, en watter betekenis hou dit vir ons vandag in. Die tweede saak waaroor ons moet gaan nadink, is oor wat verstaan jy van die Heilige Gees. Met ander woorde, wie is die Heilige Gees, en wat is sy rol of funksie? Eers as jy hierdie twee sake vir jouself uitgeklaar het, sal jy die ware betekenis van Pinkster verstaan.

Goed, kom ons begin by die begin. Om te verstaan waarom die kerk Pinkstersondag vier, sal ons dit moet verstaan teen die agtergrond van die Ou-testamentiese geskiedenis. Kom ons neem byvoorbeeld die feesvieringe rondom Kersfees. Eers as ’n mens iets weet van die sonde en ellende van die mens, die destydse verlange van die Jode na ’n messias ... iemand wat hulle van die mag van die vyand kan verlos, dan besef jy meer waaroor Kersfees gaan. Waar die Jode na ’n aardse verlosser gesoek het, het God ’n hemelse Verlosser gestuur om ons van die mag van die vyand, Satan, te verlos. Net so kan ons ook gaan kyk na die lyding en sterwe van Jesus. Sy kruisiging het juis plaasgevind tydens die Joodse Paasfeesvieringe. Eers as ’n mens iets verstaan van die paaslam; daardie paaslam wie se bloed aan die huise se deure in Egipte gesmeer is; die uittog uit Egipte na ’n beloofte land, dan eers begryp jy die betekenis van Jesus se kruisdood ... sy offer aan die kruis. Die Here Jesus se bloed is ook aan ons harte se deure gesmeer om ons daarvan te verseker dat Hy ons uit die mag van die sonde na die huis van sy hemelse Vader bevry het.

Wel, so is dit ook met die Pinksterfees. Net soos al die ander kerklike feesdae moet die eintlike betekenis van hierdie feesvieringe ook gesoek word by die Joodse geskiedenis. Die Jode het ook ’n pinksterfees gehad, om die waarheid te sê: Dit was en is steeds een van hulle drie grootste feesdae. Hierdie feesvieringe is presies vyftig dae na die paasfees gehou. Dit is ook hier waar die fees sy naam vandaan kry. Die oorspronklike Griekse woorde vir “vyftigste dag” is pentacoste. In die Afrikaanse taal het ons dit oorvertaal na “pinkster”. Maar in die Joodse tradisie was die pinksterfees eintlik niks anders nie as ’n dankdag vir die oes. Direk na die paasfees het hulle met die insameling van die oes begin, en hierdie insamelingswerk het vir sewe weke voortgeduur. Op die vyftigste dag, nadat al die oes ingebring is, het hulle dan ’n dankdag gehou. Tydens hierdie fees het hulle dan die Here gedank vir die volheid van die oes, omdat Hy alleen die Gewer is van reën en vrugbaarheid. As ons dít eers raaksien, dan kan ons nou terugkom na ons eie feesvieringe van hierdie kerklike feesdag ... hierdie Pinkstersondag.

Gemeente, die eerste wat ons van hierdie feesviering kan sê, is dat dit nie heel toevallig is nie. O nee, net soos die Jode se pinksterfees presies vyftig dae na die paasfees is, net so vier ons ook die Pinkstersondag vyftig dae na die Here Jesus se kruisiging. Met al ons kerklike feesdae sien ons so ietsie van God se raadsplan deurskemer. Dit is so al asof God eers ’n vae beeld, ’n belofte, wou gee van wat Hy met die mensdom wou doen, en toe uiteindelik in sy Seun se lewe en werk daardie beloftes laat waar word het.

Ons kan beslis sê dat Pinkstersondag baie meer beteken as bloot net die terugdink aan daardie gebeurtenis toe die Heilige Gees so ongeveer tweeduisend jaar gelede uitgestort is. As ons vandag weer hoor hoe ons teksvers sê: “Almal is met die Heilige Gees vervul ...”, dan beteken dit, teen die agtergrond van die Joodse tradisie rondom pinkster, dat God uiteindelik die verlossingswerk van sy Seun, Jesus Christus - ja, daardie blye boodskap wat Hy gesaai het, bekroon het met die volheid van die oes ... met die gawe van sy Heilige Gees. Pinkstersondag dui op die voltooiing en volheid van Jesus se aardse werk. En daarom is hierdie dag ook vir ons ’n blye dag, ’n dag om fees te vier! Dit is die dag waarop ons met ons geloofsoë terugkyk, en met onuitspreeklike vreugde kan waarneem hoe God die skure van ons harte met die oes van sy Gees volgemaak het. Ja, op hierdie kerklike feesdag moet die kerk weer eens besef hoe skatryk sy is - nie aan aardse of verganklike goed nie, maar aan die vrug van die leer en lewe van die gekruisigde en opgestane Here Jesus. Op hierdie dag herinner God ons weer aan daardie belofte dat sy Gees vir ons gegee is as waarborg dat ons nie weeskinders is na sy Seun se hemelvaart nie (vgl Joh 14:18). Nee, God se Gees sal ons alles leer en ons aan alles wat Jesus gesê het, herinner.

Geliefdes van ons Here Jesus, wat beteken dit dan om te sê dat God sy Gees oor die mens uitstort sodat jy met Hom vervul kan wees? Die heel eerste wat ons oor die Heilige Gees moet sê, is dat Hy ook werklik God is. God het Homself aan ons geopenbaar as Vader, Seun en Heilige Gees. En die Heilige Gees is saam met die Vader en Seun waaragtige God. Hy gaan uit van die Vader en die Seun, en moet saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik word.

Die feit dat die kerk deur die eeue bely dat ons ook in die Heilige Gees glo, is nie deur mense uitgedink nie. Die Bybel verkondig dit sélf aan ons. In Handelinge 5 vers 3 tot 5 spreek Petrus vir Ananias soos volg aan: “Ananias, hoekom het jy jou deur die Satan laat omgehaal om vir die Heilige Gees te lieg ...? Wat het jou besiel om dit te doen? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God”. Hieruit kan ons dus aflei dat die Heilige Gees ook waaragtig God is. En dit is hierdie Heilige Gees, wat ook werklik God is, wat in ons woon en van ons lewens besit oorneem. As ons egter sê dat die Heilige Gees in ons woon, moet ons baie mooi begryp dat ons eie gees en die Heilige Gees nie een gees word nie. Ons eie gees word beslis nie vergoddelik nie. Die Heilige Gees bly steeds God en ons gees bly steeds ’n geskape gees. Hierdie inwoning gaan egter nie sonder enige stryd gepaard nie. Nee, inteendeel, ons eie gees en die Heilige Gees is gedurig in stryd met mekaar. Ons lees in Romeine 8 verse 5 tot 9 van hierdie stryd: “Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom mee besig hou, is immers vyandskap teen God ... Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle ...” Omdat God se Gees in ons woon, is ons gedurig in stryd met ons sondige natuur. Ons weet dat die dinge van ons sondige natuur uitloop op die ewige dood, maar dat die dinge van die Gees ewige lewe en vrede bring.

Net soos ons van Christus praat as ons Voorspraak by die Vader, so word die Heilige Gees ook ons Voorspraak genoem. Soos ek reeds vir julle gesê het, praat die Here Jesus van die Heilige Gees as die Voorspraak wat ons alles sal leer en ons sal herinner aan alles wat Hy ons geleer het (vgl Joh 14:26). Soos wat Christus by die Vader vir ons pleit, so bepleit die Heilige Gees die geloof in die Drie-enige God by ons. Om dan dít te doen wat God van ons vra, skenk die Heilige Gees aan ons, as gelowiges, die geloof om te antwoord op God se roepstem, en om deel te hê aan Christus en al sy weldade. Die Heilige Gees werk egter nie sommer op enige metode nie. Nee, Hy gebruik die Woord van God as middel om geloof in ons harte te wek tot bekering. En hierdie Woord van God word op Sondae in die kerk verkondig. Daarby het elkeen nog die verantwoordelikheid om sélf die Bybel te lees en huisgodsdiens te hou. Sodoende word ons kennis van God se liefde en genade vir die sondaarmens meer en meer.

Maar die Heilige Gees wek nie alleen die geloof in ons harte nie. Dié van ons wat reeds tot geloof gekom het, word daagliks in ons geloof versterk deur die Gees van God. En daarvoor gebruik Hy ook sekere instrumente soos God se Woord en ook sigbare tekens, naamlik die doop en die nagmaal. Die sakramente is die sigbare tekens van God se Woord om ons geloof, wat deur die gepredikte Evangeliewoord gewek is, te versterk.

Broers en susters, nou kan julle my vra wat is die betekenis van Pinkstersondag vir ons, as moderne gelowige, vandag? Wel, om hierdie kerklike feesdag te vier en te herdenk, is vir die gelowige van groot betekenis. In Johannes 3 vers 3 waarsku Jesus ook vir Nikodemus: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie”. Al wat dit beteken, is dat ons, om deur God aangeneem te word as sy kinders, weer gebore moet word. Hierdie ingrypende daad in ons lewens is slegs moontlik deur die kragtige werking van die Heilige Gees. Hy maak van die ou mens ’n nuwe mens. Dit is dieselfde soos wanneer jy ’n vuil kind vat en hom in ’n bad water indompel en skrop totdat hy skoon is. En as ons die kind uit die water uithaal, is hy skoon gewas en gereinig van alle vuilheid. Hierdie sondige natuur, waarin ons gebore word, kan ons egter nie verander deur dit te wil onderdruk of ignoreer nie. Dit help niks! Dit is presies soos ’n kurkprop wat jy onder die water probeer hou: Los jy die prop, skiet dit dadelik weer na boontoe! Dit is waarom slegs die Heilige Gees ons van hierdie sondige natuur kan verlos en vrymaak.

Maar hoe werk hierdie wedergeboorte deur die Heilige Gees? ’n Mens word van binne af verander! Esegiël 36 verse 26 en 27 sê vir ons baie duidelik hoe ons verander sal word: “Ek sal julle ’n nuwe hart en nuwe gees gee; Ek sal die klip hart uit julle liggaam uithaal en julle ’n hart van vlees gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom”. Só word ons hart, die setel, die oorsprong van ons lewe, heeltemal nuut gemaak. My eie “ek” word verander! Waar my sondige natuur voorheen altyd my lewe beheer het, word my lewe nou deur die Heilige Gees beheer, Hy word nou die middelpunt van my bestaan! Waar die die sondemag ons van God vervreem het, bring die Gees ’n terugkeer tot God! Waar die beeld van God deur die sonde in my geskend is, kom herstel die Heilige Gees daardie beeld in my! Waar ek voorheen tevrede en onbesorg oor die sonde was, wek die Gees nou berou en afsku daarvoor!

Gemeente, nou wanneer ontvang ons dan die Heilige Gees? Moet iets buitengewoon met ons gebeur sodat ons die Gees kan ontvang? Het ons eers die Heilige Gees ontvang as ons in tale kan praat, of in totale histerie agteroor val en mal raak van vreugde en blydskap?

Een ding moet ons baie goed verstaan: Die wedergeboorte en die ontvangs van die Heilige Gees is onlosmaaklik deel van mekaar. Ons ontvang die Heilige Gees die oomblik as ons ons lewe vir die Here gee. Hoe dan anders? Jy kan nie gelowig wees sonder dat jy die Gees van God ontvang het nie! Jy word juis gelowig omdat die Heilige Gees in jou hart gewerk het! Dit is die groot probleem in die meeste gelowiges se geestelike lewe: Hulle erken en aanvaar nie die teenwoordigheid van die Heilige Gees in hulle lewens nie as gevolg van onkunde en sekere wanopvattings. Sekere sektegroepe beweer dat jy slegs ’n ware gelowige kan wees as jy die “gees” gevang het, en in tale kan praat. As ons ons gelese gedeelte reg verstaan, dan word daar uitdruklik vir ons gesê dat die dissipels nie onverklaarbare en onverstaanbare tale gepraat het nie. Nee, God se Gees het hulle bekwaam gemaak om as getuies uit te gaan na die verskillende wêrelddele (vgl Hand 1:8) om in dáárdie volke se eie moedertaal die wonderlike verlosingsboodskap van die Here Jesus te gaan verkondig.

Buitendien, ons het nie nodig om die Gees te gaan soek nie, of om “gees” te vang nie ... nee, die Gees van God kom soek jou! Hy is daardie Voorspraak waarvan Jesus gesê het: “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees ...” (vgl Joh 14:16). Die Heilige Gees wil by ons kom pleit om vanuit die Vader se liefde en genade, en vanuit die Seun se versoening en vergifnis te leef! Hy word ook genoem “die Gees van die waarheid” omdat Hy gekenmerk word deur die waarheid. Hy dien die waarheid; alles wat Hy doen en getuig, is die waarheid. Hierdie Voorspraak sal in ons wees; Hy sal kom woning maak in die kerk van Christus en daarom ook in die hart van elke gelowige. Die oomblik as jy jou hart oopmaak vir die Heilige Gees, dan ontvang jy ook God se liefde en genade, en die Seun se versoening en vergifnis. Dit is waarom ek vir julle vroeër gesê het dat Pinkster ons juis daaraan wil herinner dat God se Gees die volheid van die werk en leer van Jesus se aardse lewe bevestig.

Geliefdes van ons Here Jesus, julle moet dit deeglik besef dat die Heilige Gees die hemelse Vader se troosvolle belofte is dat Hy, as God, in hierdie huidige bedeling -tussen hemelvaart en wederkoms - met ons sal wees totdat Hy weer sy Seun sal stuur. Ja, dit is die Heilige Gees wat ons ook lewend hou in ons geloof dat Jesus die enigste Verlosser is, en dat ons hemelse Vader vir ons ook deur sy Seun as sy eie kinders, sy eie erfgename, aangeneem het. Daarom leer die Gees van God ons om gereeld uit te roep: “Kom Here Jesus, ja, kom spoedig weer!” So voltooi die Heilige Gees die werk van die Vader en die Seun.
Amen