Handelinge 2:1-13

Die waarheid en betekenis van Pinkster



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Vandag vier die Christelike kerk regoor die wêreld Pinkstersondag, vyftig dae na die opstanding van Jesus Christus of dan tien dae na sy hemelvaart. As ons dit sê, broers en susters, beteken dit egter nie dat almal dit op dieselfde wyse vier nie, juis omdat almal nie onder die Pinkstergebeure, soos dit hier in Handelinge 2 beskryf word, dieselfde verstaan nie. En kom ek noem een voorbeeld: waar ons, soos in die geval met al die ander feesdae in die kerk, op hierdie dag weer eens besin oor inhoud en betekenis van Pinkster, so glo ander kerke dat hierdie dag alleen gevier kan word indien 'n herhaling van wat op Pinksterdag gebeur het, bewerkstellig kan word. Hierby kom ons nou.

Verder, broers en susters, soos dit maar met alles in die kerk gaan, het ook die wêreld 'n standpunt(e) oor Pinksterdag. Waarvan een die ou storie is (soos in die geval van bv Jesus se opstanding en hemelvaart) dat dit 'n mite is, 'n storie, onwaar, nie moontlik nie, iets wat die moderne mens nie meer kan glo nie.

Ek wil vanoggend, gemeente, om uit te kom by wat ons onder die Pinkstergebeure en die betekenis daarvan vir die gelowige moet verstaan, begin deur kortliks iets meer te sê oor die twee voorbeelde wat ek so pas genoem het: een wat in sommige kerke leef, en die ander soos die wêreld dit sien.

Kom ons begin by die standpunt van sommige gelowiges/kerke, naamlik dat die Pinkstergebeure alleen sinvol gevier kan word indien 'n presiese herhaling daarvan bewerkstellig of beleef kan word. En hier is die argument soos volg: op Pinksterdag, toe die Heilige Gees uitgestort is, het die Gees op mense neergedaal. Hierdie neerdaling van die Gees het volgens hulle twee uitstaande eienskappe gehad: eerstens, party het die Gees ontvang, en ander nie. Tweedens, vir die wat die Gees ontvang het, was dit 'n geweldige emosionele ervaring, sodat hulle in tale begin spreek het. Met ander woorde: alleen hulle wat in tale kan spreek, alleen hulle wat op 'n emosionele wyse die Gees ontvang, is kinders van God. Want, sê hulle, die Bybel sê immers: niemand kan sê Jesus is die Here, behalwe deur die Gees van God nie. Dus: wat op Pinksterdag se viering moet gebeur is juis dit: mense moet so in aanbidding en gebed saamkom, dat die Gees kan beweeg, en dat mense wat die Gees ontvang, in tale kan begin spreek.

Nou, die tweede standpunt, hulle wat meen dat die Pinkstergebeure maar net 'n mitiese, onware storietjie uit die verlede is waarin daar geen waarheid steek nie. Hier is die redenasie soos volg: watter `een plek' in daardie tyd was groot genoeg om 3000 mense te akkommodeer (Hand 2:41), en hoe kon Petrus homself hoorbaar maak vir 3000 mense? Verder: waar het jy gehoor van mense wat sommer ewe skielik ander se tale kan begin praat? Wat meer is, van die wat daar was, hulle wat eerstehandse inligting kan gee, het self gesê dat die wat in tale begin spreek het, eintlik maar net dronk was. Bo alles: net Lukas hier in Handelinge vertel ons van hierdie gebeure, nie een van die evangelies (nie eers Lukas nie) of die ander skrywers in die Bybel vertel van hierdie gebeure nie. So: dit is niks anders as 'n vrome uitvindsel van Lukas nie.

Ek dink nie, broers en susters, dat dit eers nodig is om te sê dat beide hierdie twee standpunte nie reg laat geskied aan dit wat God op daardie dag vir die sondaarmens gedoen het nie. Wat op daardie dag gebeur het, was nie maar net 'n vrome uitvindsel van Lukas nie. Dit was veel meer: dit was die waar maak van 'n belofte van God!

Want in Handelinge 1:18 lees ons dat Jesus Christus self, net voor sy hemelvaart, belowe het: maar julle sal krag ontvang wanneer die heilige Gees oor julle kom. Wat meer is, dit is 'n belofte van God wat ons nie alleen by monde van Lukas hoor nie, maar ook verskeie kere veral deur Johannes, die skrywer van die vierde evangelie, as hy telkens by monde van Jesus sê: Ek gaan weg, maar Ek laat julle nie alleen nie. Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle die Voorspraak stuur, die Gees van waarheid.

Wat dus op Pinksterdag gebeur het, broers en susters, is niks anders as God wat sy belofte aan die sondaarmens waar gemaak het nie. En wel op so 'n manier dat Hy op 'n sigbare manier deur sy Gees in mense se lewens ingryp dat die mens nooit daaraan hoef te twyfel dat God self altyd in sy lewe teenwoordig is en sal wees nie.

Wat meer is, broers en susters, is dat Handelinge ons self vertel dat God nie maar net een keer hierdie gebeure laat plaasvind het nie. Want in Handelinge 8 lees ons dat Filippus, Petrus en Johannes aan mense (wat aanhangers van Simon die Towenaar was), die evangelie verkondig het, en dat hulle wat tot geloof gekom het, ook die Heilige Gees ontvang het. Ook in Handelinge 10 vind ons dieselfde soort gebeure, waar Kornelius, en baie ander mense wat nie eers Jode was nie, die Heilige Gees ontvang het.

Ook later in Handelinge lees ons iets anders raak wat ons ook moet onthou: nie alleen ontvang meer en meer mense die Gees van God nie, maar hulle wat die gees ontvang ontvang ook iets verder: die permanente teenwoordigheid van Gees in hulle lewens op so 'n manier dat die Gees hulle lewens rig, bestier en lei. Dat mense, deurdring van die Gees, nie anders kan as om te vertel van Jesus, te vertel van die reddende krag van God, te vertel van die nuwe lewe in Christus deur die Gees nie. Dat hulle so bestier was dat nie eers die keiser (Hand 27:24) gespaar word nie!

Wat dus, broers en susters, behoort die betekenis van Pinkster vandag vir ons te wees? Kom ek sê dit in die woorde van Karl Barth: ‘Waar dit gebeur dat die mens begryp dat hy net soos hy is, vol sonde en so anders as God, kind van God word, dat hy in die ewige arms van God opgeneem word, ten spyte van sy sonde en verganklikheid, en wel so dat hy nie meer die graf en eindoordeel vrees nie en selfs in 'n verwarde wêreld kan hoop, met ander woorde, daar waar mense in Jesus Christus glo, daar is dit nie sy klein menslike gees wat hom hierdie dinge wysmaak of laat glo nie, nee, daar is dit God se Gees wat so in sy/haar lewe getuig’.

Want waar dit gebeur, broers en susters, daar maak God eenvoudige mense getuies van die kragtige dade van God in ons lewe.

Pinkster wil sê dat ons nooit hoef te twyfel aan die dat van Pinkster nie, die feit dat God sy Gees aan ons gegee het nie. Wat meer is, die verhale in Handelinge wat by die Pinkstergebeure aansluit wil sê dat waar mense die Gees van God ontvang, dit nie altyd 'n ekstatiese, betowerende, oorweldigende en ongelooflike gebeurtenis hoef te wees soos baie dit wil hê nie.

Wat Pinkster egter wel wil sê is dat die resultaat van die ontvangs van die Gees in die mens se lewe oorweldigende en ongelooflike resultate behoort te hê.

Want kyk wat het gebeur met diegene wat in Handelinge vir ons beskryf word as mense wat die Gees van God ontvang het: hulle het hulle toegelê op die ware leer in Christus, op die verkondiging daarvan in woord in daad, op onderlinge eensgesindheid, in gebede vir die kerk en vir mekaar, in mededeelsaamheid, in liefde vir mekaar, en in ondersteuning aan mekaar, om maar net 'n paar op te noem.

Ook ons, broers en susters, almal van ons, nie een uitgesluit nie, het die Gees van God ontvang toe ons tot geloof gekom het. Want, sê die Woord, niemand kan sê Jesus is die Here behalwe deur die Gees van God nie. Wie dus kan bely dat Jesus Here is, wie nie anders kan as om te bely dat Jesus die enigste ware Verlosser is nie, het die Gees van God ontvang.

En nou sê Galasiërs 5:25 baie duidelik: `Ons lewe deur die Gees, laat die Gees dan nou ook ons gedrag bepaal'. Dit is goed om weer te hoor, broers en susters, dat ons nooit hoef te twyfel aan die dat van Pinkster nie, naamlik dat dit wel gebeur het nie, dit is goed om te hoor dat almal van ons wat glo dieselfde Gees ontvang het, maar dit is ook nodig om te hoor dat as ons dit glo, en dus die Gees in ons het, ons moet gaan lewe soos mense wat wys dat die Gees van God in hulle lewe.

Want alleen dan sê ons vir die wêreld: die uitstorting van die Gees is nie maar net 'n vrome uitvindsel van Lukas nie, alleen dan sê ons vir ander denominasies/kerkgroepe: 'n mens hoef nie ekstaties opgesweep of opgetower word om die gees te ontvang nie, dan alleen sê ons dat die gawes van die Gees nie alleen die sogenaamde spreek in tale is nie.

Want as ons toelaat dat die Gees ons lei, dan sal die vrugte van die Gees, naamlik sagmoedigheid, liefde, geloof, vriendelikheid, vrede, geduld, getrouheid en selfbeheersing, ons die nuwe mense maak wat God wil hê ons moet wees.

Dat die Gees op Pinkster gekom het, aanvaar ons so maklik. Maar aanvaar ons dit wat die Gees met ons wil maak, en wat die Gees wil hê ons moet word en wees?

Die verskriklike moontlikheid bestaan dus, broers en susters, dat wat op Pinkster gebeur het, onwaar gemaak kan word omdat ons ons nie wil oorgee aan die leiding van die Gees nie. Pinkster wil dus vra: Die Gees van God wat onbetwisbaar van God gekom het, het die Gees net gekom, of laat ons toe dat die Gees ons ook op die paaie van God neem?

Daarom bid ek persoonlik op Pinksterdag graag: Here, mag ander u Gees in my lewe sien. Mag dit ook vandag u gebed wees, en elke dag ons almal se gebed saam.
Amen