1 Johannes 3:1-8

Dit is hoe die wind waai



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Wanneer ‘n mens tot geloof kom, en saam met die geloof as gawe ook die gawe van die Gees ontvang, maak dit (behoort dit) ‘n geweldige verskil in ‘n mens se lewe. Die bekende Hollandse teoloog, Bavinck, beeld hierdie gebeure in die gelowige se lewe uit met ‘n seilbootjie wat in die middel van die see in ‘n windstilte beland het. Die see is spieëlglad, daar is nie ‘n rimpeling op die water of eers ‘n briesie nie. Geen roering in die seile nie. Wat ‘n gevoel van magteloosheid! Uitgelewer aan die seestrome onder jou gebeur daar net niks.

Totdat die wind begin waai. Dan verander die hele prentjie. Eers is daar die ligte geklap van die seile, ‘n sagte suising oor die dek, dan begin die seile bol te staan, en statig begin die skip vorentoe te beur, totdat die skuim later oor die boeg spat. Die gevoel van magteloosheid word ‘n gevoel van vreugde. Ons beweeg, daar is hoop, ons gaan landwaarts, op pad huis toe.

Watter matroos wat by sy volle verstand is, broers en susters, sal, as die wind so waai, die seile wil stryk. Wie sal as die krag daar is, oral om jou is, op eie krag wil staatmaak? Wie sal, as die wind die boot vorentoe beur, opdrag gee dat die roeispane uitgehaal moet word en dat almal hard moet begin roei? Want wie verkies nou jou eie ou roeispaantjies as dit met jou regtig voor die wind gaan?

Ons doen dit, broers en susters, en ons doen dit dikwels. Ons sogenaamde verligte en moderne mense verkies dikwels ons eie roeispane bo die krag van God. Ons is immers onafhanklik, verlig en soms so kundig. Ons het immers al ‘n ruimtetuig op Mars laat neerstryk, al op die maan geloop. Wat meer is, ons staan op die punt om mense te kloon. Ons leef in ‘n tydperk van asemrowende tegnologiese prestasies, ons leef in ‘n doen-dit-self-era, ons is baie goed met kitsoplossings, kitsverpakkings en kitsveranderinge.

Om nou te gaan sê dat ons deur ‘n krag van buite aangehelp moet word, beweeg en gelei moet word, dat ‘n krag van binne ons moet kom vernuwe, is niks anders as ‘n belediging vir ons vermoëns en reeds bereikte prestasies nie.

Buitendien, die woord wedergeboorte (want dit is dit waaroor dit hier gaan) is een van daardie uitgediende oudkerklike woorde wat dalk destyds vir mense iets gesê het, maar wat sedertdien uitgedien en betekenisloos geraak het. Nee wat, indien dit wel nodig is dat ek anders moet begin lewe, dat ek ‘n nuwe mens moet word, sal ek dit sommer self doen.

Die probleem is net, broers en susters, dat indien ons werklik nuwe mense wil word, ons dit nie self kan bewerk nie, al sou ons dit bitter graag en hoe opreg wou doen. Wedergeboorte, soos die Bybel dit gebruik, is en kan op geen manier die gevolg wees van eie prestasie, insig, genialiteit of godsdienstigheid nie. Wedergeboorte, soos die Bybel dit beskryf, is nie maar net die aantrek van ‘n nuwe baadjie oor my ou lyf nie, dit is nie maar net die toestop en toeverf van ou krake nie, ook is dit nie maar net nuwe grimering oor my ou godsdienstige gesig nie.

Nee, wedergeboorte volgens die Bybel is ‘n vernuwing wat net God self in my kan bewerkstellig. Dit is veral nie maar net nog ‘n nuwe wet wat ek by al die ander kan voeg om my bestaande voorraad van vroom en godsdienstige vermoëns nie.

Nikodemus het heel waarskynlik so gedink. Hy was ‘n baie vroom mens, laat ons nie daaroor twyfel nie, wat al die wette van sy godsdiens baie getrou nagekom het. Maar een ding het by hom bly knaag, een ding het hy nie opgehou om hom oor te bekommer nie: is daar nie dalk een wet wat ek misgekyk het, waarvan ek nog nie gehoor het nie?

Daarom kom hy na Jesus toe, iemand in wie hy sekerlik God werksaam gesien het, iets waaraan ek persoonlik geensins twyfel nie. Dalk, het Nikodemus gedink, kan hierdie man van God aan hom ‘n spesiale openbaring in hierdie verband doen. Dalk weet hierdie rabbi van daardie plus, daardie ekstra, daardie laaste regulasie of reël wat hom by ‘n staat van volmaaktheid sal uitbring. Daarom vra hy, by implikasie aan Jesus: Rabbi, het u nie vir my daardie roeispaan wat my by die oewer van die ewigheid sal uitbring nie? Of verklaar dan net vir my daardie ekstra energie wat ek vir my roeispaanpoging nodig het om nie uit te sak voor ek so op my eie die oewer bereik nie.

Wat Nikodemus vra, broers en susters, is presies dit wat wedergeboorte nie is nie. Want wedergeboorte is eerder die neerlê van ons roeispane, die staak van ons roeipogings. Dit is eerder die oopvou van ons seile na die wind van God, veral is dit ‘n verwondering oor die krag van God se wind.

Kyk wat sê vers 6: Wat uit die mens gebore is, is mens, en wat uit die Gees gebore is, is gees. Die mens is mens is, vlees is vlees wat moet en sal ondergaan in God se oordeel in Jesus Christus daar op Golgota. Want dit is wat wedergeboorte is: dit is nie opknapping nie, maar ondergang, dit is nie verfraaiing nie, maar vernie¬tiging, nie herrangskikking nie, maar herskepping, nie an¬ders roei of meer roei nie, maar om totaal op te hou om self te wil roei.

Hoor hoe pragtig sê ‘n ander teoloog dit: Die mens is in sonde gebore en leef daarin. Hy kan vir homself niks doen nie, hy kan homself net benadeel. Die mens begin vandag te erken dat ten spyte van al sy godsdienstige, morele en ander opvoedingspogings, hy nie self werklik en grondig sy hart kan verander nie. Die mens het tevergeefs geswoeg om sy morele doelwitte te bereik of homself te verander deur sy eie omgewing te verander. Nou is ons ontnugter en ons besef dat hierdie wesenlike verandering op een of ander manier van binne moet kom.

Ons kan onsself nie verander nie, broers en susters, maar die goeie nuus is: ons hoef ook nie. Hoe ons wel kan verander, werklik nuwe mense kan word (soos ons verlede week probeer verduidelik het), wil ek beskryf deur gebruik te maak van die beeld van die bootjie en die wind aan die begin van die preek.

Let op. Luister mooi. Hoor jy dit? Sien jy dit? Die seile roer die wind. Klap-klap. Kyk, dit staan al bol n die wind! Die skip beweeg. Want die Gees waai waar Hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar Hy vandaan kom en waarheen Hy gaan nie. Wie kan Hom keer? Wie kan Hom inperk? Wie kan ‘n hand vol lug gryp en sê: nou het ek dit!

Nee, Hy het ons. Hy omsluit ons, die Gees omsluit ons van alle kante. Op duisendvoudige maniere. Hoor hoe sê die Gees: daar het jy iemand te na gekom, gaan maak dit reg. Daar was jy selfsugtige, so leef God se kinders nie. Die besluit wat jy nou wil neem, weet jy is nie die regte besluit nie. Jy weet wat die Gees wil, besluit liewer so. Hoor wat hierdie een sê: wat hy sê, is eintlik niks anders as die antwoord waarvoor jy nou so lank al wag nie.

Dit is die Gees, broers en susters, wat ons op ‘n stille maar indringende stem daarop wys dat ons lewens soms so sinneloos is. Dit is die Gees wat ons bevry van ons verborge vyandighede en wraaksugtigheid. Dit is die Gees wat ons van ons angste bevry, wat ons leer hoe om teenoor die lewe op te tree.

So werk die Gees, broers en susters, op verskillende maniere in die lewe van verskillende mense. So maak die Gees ons van binne af nuut. In sommige mense se lewe moet die wind van God so hard waai dat ‘n orkaan losbars om mense met krag nuut te maak, in ander weer is ‘n sagte suising van vermaning, vertroosting of bemoediging alleen nodig. Sommige van ons moet soos Paulus op pad na Damaskus met krag omgekeer word, ander weer moet maar net die briesie van God se genade op hulle velle voel. By die een is dit so, by die ander anders. Feit is, die wind waai, die Gees werk, die skip van God, met al sy kinders daarin, is op pad na ‘n eindbestemming.

En ons, broers en susters, wat van ons? Dit is opvallend dat die gesprek tussen Jesus en Nikodemus ‘n oop einde het, daar word nie gesê wat met Nikodemus gebeur het, wat hy met Jesus se raad gaan maak het nie. Ook is dit baie interessant watter woorde Jesus hier gebruik: eers praat Hy met ‘n man, ‘n spesifieke man, Nikodemus, dan word dit iemand, dit wil sê, enigiemand, en later praat Jesus van elkeen, dit wil sê, almal.

Die verhaal sê dus: die Gees werk, die wind waai. Dit vra aan elke man, elke vrou, aan iemand, aan elkeen, aan almal, aan ons, aan u en aan my: span jy jou seile na God se wind? Of slaan jy die Gees in die wind?

Vlees is vlees, en Gees is Gees. Alleen dit wat uit die Gees gebore word, wat vanuit God gebore word, wat van bo-af gebore word, sal staande bly. Bly ons staande in die lewe? Of gaan ons onder? Wag ons vir die wind om te waai, of roei ons dat ons blase op die hande, en op die harte, het?
Amen