Lukas 24:13-35

God is in beheer, in hierdie lewe en in die lewe hierna



Broers en susters in onse Here Jesus Christus
Kleopas en sy vriend was twee gebroke mense. Hulle was twee mense wie se wêreld rondom hulle inmekaar getuimel het. Hulle gesigte was somber, sê vers 17. En terwyl hulle die 12 kilometer afstap Emmaus toe, praat hulle oor alles wat gebeur het. En dit is nie moeilik om jou hulle woorde in te dink nie: Waarom het sy eie mense teen Hom gedraai? Hy kon mos van die kruis afgekom het as Hy wou; hoekom het Hy nie? Hoekom het Hy toegelaat dat Pilatus Hom boelie? En bo alles: wat staan ons nou te doen? Want Hy wie ons gedink het die Messias was, wie Israel sou verlos, Hy is dood. Waarheen nou?

Terwyl hulle so stap, kom 'n vreemdeling na hulle toe. Dit is Jesus, maar hulle herken Hom nie. Ook nie vreemd nie, want teleurstelling doen dit aan 'n mens. Dit maak jou blind vir die teenwoordigheid van God in jou lewe. Moedeloosheid laat ons dikwels ons oë na binne keer. En al loop God langs ons, belemmer ons wanhoop ons sig.

Maar wanhoop doen ook iets anders aan 'n mens, broers en susters. Dit verhard ook ons harte. Ons word sinies. Ons word vereelt. En wanneer ons goeie nuus kry, verwerp ons dit omdat ons bang is ons word weer teleurgestel. En dit is presies wat met Kleopas en sy vriend gebeur het.

Want lees wat sê hulle: bo alles het 'n paar vroue uit ons kring ons nog verder ontstel deur ons te vertel dat hulle sy liggaam nie kon kry nie. Hulle vertel verder dat 'n engel aan hulle verskyn het en gesê het Hy lewe.

Dit is wat hulle sê. Maar wat bedoel hulle? Dit: is dit nie erg genoeg dat ons verwagte messias, Jesus, doodgemaak is nie. En nou moes 'n grafdief boonop kom en sy liggaam steel, en bo alles probeer om ons, en ons vriende te mislei deur te sê Hy lewe.

Dus duidelik: hulle is nie bereid om hierdie vroue te glo nie. Hulle is een keer om die bos gelei deur te glo dat Jesus die messias was, 'n tweede keer gaan hulle dit daarom nie toelaat nie. Of anders gesê: Kleopas en sy vriend beskerm hulle hart. Hulle gaan nie nog 'n risiko neem nie. Hulle gaan nie weer seerkry nie.

Eintlik maar 'n algemene reaksie onder ons mense, broers en susters, is dit nie? Het liefde jou al seergemaak? Moet dan nie weer liefkry nie. Is jou hart deur iemand gebreek? Moet dit dan nie weer weggee nie. Is 'n belangrike belofte aan jou verbreek? Moet dan nooit weer iemand vertrou nie. Nog beter: laat jouself beter voel deur die wêreld vir jou omstandighede te blameer en jou hart te verhard.

Daar is 'n fyn lyn, broers en susters, tussen byvoorbeeld teleurstelling en woede, tussen seerkry en haat, tussen bitterheid en die veroordeling van ander. Die feit is egter: op 'n stadium moet 'n mens se lewe aangaan. 'n Mens kan nie altyd byvoorbeeld jou seerkry bly vertroetel of jou bitterheid bly voed nie. Nee. Op 'n stadium moet 'n mens weer begin lewe. En toelaat dat Jesus Christus vir jou doen wat Hy vir hierdie twee mans gedoen het.

Wat het Hy vir hulle gedoen? In die eerste plek het Hy na hulle toe gegaan. Jesus het nie — by wyse van spreke — met gevoude arms teruggesit en gesê: waarom kan die twee my dood nie aanvaar nie? Of by die engel gaan kla deur te sê: waarom glo hierdie twee nie dat Ek opgestaan het nie? Of gesê: waarom is hierdie twee so moeilik om tevrede te stel?.

Nee, broers en susters. Hy het hierdie twee in hulle pyn, verwarring, gebrokenheid en somberheid tegemoetgekom. Ek wil amper sê: hoewel Hy aan die kruis die sonde vernietig het, en deur op te staan die dood verwoes het, het Jesus nie afgetree nie. Hy het opgestaan en na lydende harte begin soek.

Wat was hulle lyding? Dit lees ons in verse 19-24: hulle het gehoop, hulle het gehoop dat Jesus Israel sou verlos. Dat Hy die Romeine sou uitskop. Dat Pilatus uit sou wees en Jesus in. Maar nou was Pilatus nog in beheer en Jesus dood.

Met ander woorde: al wat hulle gehad het was leë verwagtinge. Hoekom? Omdat God nie gedoen het soos hulle wou gehad het Hy moes nie. Want hulle het immers mos geweet wat om van Jesus te verwag, wat Hy veronderstel was om te doen. As Hy die Messias was, sou Hy mos nie gesterf het nie. Hy sou gedoen het wat hulle van Hom verwag het!

Maar dit is nie wat God gedoen het nie, broers en susters. En is ons nie daaroor bly vanoggend nie? Is ons nie bly dat Kleopas en sy vriend se verwagtinge en gebede nie beantwoord is nie? Want dan sou ons nie vanoggend kon hoor: Hy het opgestaan, Hy lewe, en daarom kan ons ook lewe, nie!

Nie dat Kleopas en sy vriend slegte mense was nie, broers en susters. Hulle was goeie dissipels. Met goeie harte. En opregte gebede. Hulle het egter net die verkeerde verwagtings gekoester. Soos ons dikwels ook maar doen. Ons wil hê ons lewens moet so of so verloop, of hierdie of daardie kant toe ontwikkel. Ons meen dat ons dit of dat behoort te kry, en dan ook nie môre of oormôre nie, maar vandag.

Maar God weet meer van die lewe as wat ons van die lewe af weet. Hy weet wat beter vir ons is. Hy weet wat die beste vir ons is. Mense wou gehad het Hy moes Israel verlos, maar God het beter geweet. Hy wou eerder hê dat sy mense moes tydelik verdruk word as om ewig verlore te wees. Toe God moes kies tussen 'n geveg met Pilatus en een met Satan, die sonde en die dood, het Hy die een gekies wat ons nie kon wen nie, maar net Hy kon.

Ek vra weer eens, broers en susters, is ons nie bly dat Hy dit gedoen het nie? En is ons nie bly dat Hy dit nog steeds doen nie? En kom ons wees maar eerlik. Is ons bly as Hy nee sê vir dit wat ons wil hê en ja vir dit wat Hy weet ons nodig het? Nie altyd nie. Want dit was nog nooit maklik, broers en susters, in elk geval nie vir my nie, om te aanvaar as God nie doen wat ons vra nie. Dit sal ook nooit wees nie. Geloof is egter die oortuiging dat God meer as ons weet omtrent die lewe en dat Hy ons sal lei.

Maar kom ons keer terug na Kleopas en sy vriend. Jesus, het ons gesê, het hulle in hulle verwarring, lyding en moedeloosheid tegemoet gekom deur na hulle te gaan. Maar wat maak Hy toe Hy by hulle kom? Hy het hulle 'n verhaal vertel. 'n Verhaal wat begin by Moses en eindig by Homself wat uit die graf opstaan en die dood oorwin.

Hy het vir hulle God se plan met die mensdom vertel. Hy het hulle vertel dat God in beheer is. Al lyk dit nie so nie. Al lyk dit of die messias sterf, is dit nie so nie. Hy lewe, want God is in beheer. En niks is verby voor God nie gesê het dit is verby nie. Hy het die laaste sê, die laaste sê oor ons lewens, en oor die dood. En sy laaste sê was dat die dood nie wen nie, maar die lewe. Want die graf het oopgegaan.

Ek sluit af: wanneer u en ek in 'n trein ry, en die trein gaan 'n donker tonnel binne, spring ons uit? Nee. Ons bly sit, want ons weet, vorentoe is die uitgang van die tonnel, en dan sal dit weer lig word. Ons weet, die treindrywer sal ons uit die tonnel kry.

Waarom het Jesus hierdie verhaal aan Kleopas en sy vriend vertel, en ook, by implikasie, aan ons? Sodat ons kan weet God bestuur ons lewe. Sodat ons kan weet: Hy is in beheer. Van lewe en dood. Van die dood omdat Hy die graf oorwin het, van die lewe omdat Hy beter weet as ons, beter weet as Kleopas en sy vriend.

Daarom: wanneer ons volgende keer teleurgestel word, hoef ons nie bang te word nie. Hoef ons nie blind te word vir die teenwoordigheid van God in ons lewens nie. Ons kan maar net weer hierdie verhaal lees. Maar net weer hoor dat God steeds in beheer is. En al dink ons soms so, niks is verby voor God dit nie beveel nie. Nie eers die lewe wanneer ons sterf nie. Want Hy het opgestaan, Hy lewe, en daarom sal ons lewe.

In die lewe hierna, maar ook in hierdie lewe. Want in hierdie lewe is Hy in beheer. Al dink ons nie so nie. Al het Kleopas en sy vriend nie so gedink nie. Hy is in beheer. Vanaf Moses tot vandag toe. Dit wil hierdie verhaal ons vertel. En as u daaraan twyfel, ooit daaraan twyfel, gaan lees dit maar weer. En weer.
Amen