Lukas 1:34-35; Handelinge 1:6-8; 8:4-8, 14-17; Lukas 9:51-55

Kan mense regtig verander?



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:
Ons vier nou al langer as 'n eeu elke jaar in verskeie kerke Pinkster en ons bely elke Sondag dat ons in die Heilige Gees glo. Maar wat beteken Pinkster? En wat beteken geloof in die Heilige Gees - so prakties moontlik as wat ons dit kan stel?

Lukas 9 vertel dat Jesus eendag uit Galilea in die noorde op pad was na Jerusalem in die suide, waar die Paasfees binnekort gehou sou word. Jode wat die reis van noord na suid deur die land aangepak het, het altyd 'n ompad gevolg. Noord van Sigem (die huidige Nablus), het hulle oos gedraai, die Jordaan oorgesteek, aan die oorkant van die Jordaan langs suid gegaan tot by Jerigo waar hulle weer wes gedraai het, weer deur die Jordaan gegaan het, en so by Jerusalem uitgekom. Hoekom? Want deur Samaritaanse gebied het 'n Jood net nie geloop nie. Hulle was, om die minste te sê, bittere vyande.

Oor hierdie vyandskap tussen die Jode en die Samaritane sou 'n mense boekdele kon skryf. Teen die tyd van Jesus was daardie vete al meer as 'n duisend jaar oud, en het dit net al hoe erger geword. Die Samaritane het die Jode verag omdat die Jode volgens hulle die tempel - na aanleiding van hulle verstaan van die voorskrifte van Moses - nie op die regte plek gebou het nie, dit wil sê, in Jerusalem en nie op die berg Gerisem in Samaria nie. Aan die ander kant weer het die Jode die Samaritane afgeskryf, omdat hulle nie in Jerusalem wou aanbid nie.

Dit is terloops waarom die Samaritaanse vrou, wat Jesus in Johannes 4 by die put ontmoet het, vir Jesus gevra het waar die regte plek van aanbidding nou eintlik is: in Jerusalem of op Gerisem by Sigem? Die Jode het ook die Samaritane as onrein beskou. Daarom sou hulle nooit uit dieselfde beker as die van 'n Samaritaan drink nie. Dit was ook daarom dat die vrou so verbaas was dat Jesus, wat 'n Jood was, nie net met haar gepraat het nie, maar sowaar gevra het om uit haar skepding te drink. En dit is ook waarom Jesus se dissels so verbaas was om Hom by 'n waterput met 'n Samaritaanse vrou in gesprek te sien.

Die Jode het die Samaritane ook verag omdat hulle - volgens Joodse standaarde of oordeel - nie rassuiwer gebly het nie, maar met ander nasies ondertrou het. Wat die Jode betref, was die Samaritane dus min of meer melaats. Dit is ook waarom Jesus in een van sy gelykenisse (dié van die barmhartige Samaritaan) ter wille van die effek van kontras juis 'n Samaritaan gebruik het om 'n gewonde Jood langs die pad te versorg.

Nou sien ons dat Jesus volgens Lukas 9, desondanks die feit dat hy 'n Jood was en maar te goed bewus was van die vyandskap tussen die Jode en die Samaritane, op sy pad na Jerusalem nie met 'n ompad verby Samaria gaan nie. Inteendeel. Hy steek sommer kortpad regdeur Samaria. Maar toe Hy in 'n Samaritaanse herberg vir Hom en sy dissels vir die nag verblyf wou laat reël, het die Samaritane geweier dat Hy in hulle dorp oornag. Vir hulle was Jesus 'n Jood op pad na die verkeerde tempel, en dus nie welkom nie.

Onmiddellik, lees ons, was Jesus se dissipels woedend: `Here’, vra Johannes en Jakobus, `wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?’ Met ander woorde: `Tot u diens Meneer’, sê hierdie twee seuns van die donder (Mark 3:17), seker die twee mees fanatiese volgelinge van Jesus. En eintlik ook nie vreemd nie, want Jesus se dissipels was wel sy volgelinge, maar in hart en siel steeds Jode.

Die twee se aanbod het 'n lang geskiedenis in Jesus se groep gehad. Toe Jesus eendag vroeër van ly en sterf gepraat het (Mark 8:31), het Petrus Hom eenkant toe geroep om Hom te betig. Want hoe kan Jesus sy missie so maklik uit die oog verloor. Hy het tog gekom om die Jode van die Romeinse verdrukking te bevry en die Joodse ryk uit te roep. Hy kan dan mos nie nou wil gaan staan en sterf nie. En kort voor Jesus gekruisig is, lees ons in Markus 10:37, het die Jesusgroep nog steeds onder mekaar loop en stry oor wie van hulle nou eintlik die vernaamste pos in hierdie sogenaamde nuwe Joodse ryk sou kry. Die einste Jakobus en Johannes se ma wou selfs van Jesus weet of Hy darem vir elkeen van haar twee vuurvreterseuns 'n belangrike pos in die nuwe ryk sal gee. En self net voor Jesus se hemelvaart het sy dissipels nog nuuskierig vir Hom gevra of Hy nou die nuwe Joodse ryk gaan uitroep.

Daarom kan 'n mens verstaan dat hierdie twee vuurvreterseuns onder Jesus se volgelinge vra of Hy wil hê hulle hemelvuur op die ellendige Samaritane moet afbid. Maar Jesus, sien ons, betig hulle. Wat Hy vir hulle gesê het, weet ons nie, broers en susters, maar ek dink ons kan dit uit die parallelle verhaal in Handelinge 8 aflei.

In Handelinge 8:4-5 sien ons breek die vervolging van die Christene uit sodat hulle moet vlug. So beland Filippus ('n Jood), heel ironies, in 'n Samaritaanse dorp. Daar vertel hy vir die mense van Jesus van Nasaret. En snaaks genoeg, nou luister die mense van Samaria aandagtig na sy prediking (Hand 8:6). En wat meer is, daar gebeur die wonderlikste dinge: lammes en kreupeles word gesond en versteurde mense word normaal. Vers 8 sê selfs: `Daar was groot blydskap in daardie stad'.

Met ander woorde, broers en susters, hier gebeur nou presies die teenoorgestelde van dit wat die twee vuurvreterseuns in Lukas 9 wou doen. Die letterlike vuur wat hulle uit die hemel wou afroep, word nou vervang met geestelike vuur uit die hemel. En pleks daarvan dat die Samaritane verteer word, word hulle nou gesond! Nog wonderliker: toe dié tyding in Jerusalem aankom, was die dissipels daar ook bly. Trouens, hulle was so bly, dat hulle vir Petrus en Johannes - Johannes wat weke gelede nog helvuur op die Samaritane wou afbid - om die Samaritane te gaan seën en om die vuur van die Heilige Gees op hulle af te bid (Hand 8:14-17).

Ewe skielik dus, broers en susters, verkrummel 'n duisend jaar van vyandskap. Duisend jaar se mites en vooroordele oor mekaar verbrokkel. En bittere vyandskap word vervang met broederskap. Wat op aarde, wil 'n mens amper vra, het hier gebeur?

Die geheim van alles, broers en susters, lê in Handelinge 1:4 en 8, waar Jesus vir sy groepie sê om nie uit eie krag en met al hulle vooroordele hulle getuienis/sendingtaak in die wêreld (Jerusalem, Judea en Samaria) aan te pak nie, maar om te wag vir die krag van die Heilige Gees voordat hulle Samaria binnevaar. En wat Handelinge 1 met hierdie wag op die krag van die Heilige Gees' bedoel, glo ek, kan 'n mens net reg verstaan as ons 'n tweede parallel tussen Lukas se evangelie (Luk 1:34-35) en Lukas se tweede boek (Hand 1:6-8) raaksien.

Reg aan die begin van sy Evangelie vertel Lukas van 'n engel wat Maria besoek het en dat die engel vir haar gesê het: `Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek’ (Luk 1:35). En net voor Jesus weggaan het, lees ons aan die begin van die Handelingeboek, sê Jesus aan sy dissels: `Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom....’ (Hand 1:8). En die interessante is, broers en susters, dat in die Grieks hierdie twee uitdrukkings, alhoewel anders vertaal, presies eenders is.

Met ander woorde: Soos die Heilige Gees deur 'n mens geboorte gegee het aan die Seun van God - soos ons elke Sondag bely - so doen God weer en weer wanneer Hy deur sy Gees `oor mense kom’ en hulle met sy krag `oorskadu’. Of anders gesê: Wanneer die Heilige Gees werklik met 'n mens werk, wil ek amper sê, spreek jy nie in die eerste plek in tale of begin jy mense gesond te bid nie, nee, 'n nuwe mens word verwek, 'n nuwe mens word gebore, 'n mens wat soos God lyk en soos God optree. 'n Mens wat Samaritane gehaat het en nie nou meer nie. Ja, 'n mens soos Jesus.

Dit is waarom die Jesusvolgelinge in Handelinge 8 so anders optree as in Lukas 9. Toe die Heilige Gees oor hulle gekom het, hulle nuwe mense gemaak het, hulle van harte verander het, het haat verander in liefde, haters na sendeling wees, geweldbidders in mense wat seën. En daarom: ewe skielik verander die haat van meer as 'n duisend jaar binne 'n oogwink in vrede en blydskap.

Wat hier gebeur het, broers en susters, enkel en alleen omdat mense deur die Heilige Gees van God gegryp is, oorskadu is, wil my dadelik laat vra: Is u en ek werklik Christene? Verstaan ons wat die beteken om deur die Heilige Gees `oorskadu’ te word?

Begryp ons dat 'n mens 'n naloper van Jesus kan wees sonder om 'n navolger van Jesus te wees? Johannes en Jakobus het honderde kilometers agter Jesus aangeloop, sonder dat hulle werklik sy navolgers geword het. Juis omdat hulle met hulle eie agendas agter Jesus aangeloop het.

Maar toe die Heilige Gees 'n nuwe geboorte in hulle bewerkstellig, toe die Heilige Gees Jesus in hulle laat opstaan, het hulle ander mense geword met ander agendas. Toe eers het blydskap die plek van haat en agterdog ingeneem, toe eers het daar ware vrede in hulleself, teenoor mekaar, en teenoor ander gekom.

Op hierdie Pinkstersondag is die vraag aan ons dus: Glo ons regtig in Pinkster? Glo ons regtig in die Heilige Gees? Ja, ons glo in God die Vader. Want Hy sorg mos vir ons. Ons kry iets daaruit. En ons glo ook in God die Seun. Want Hy het vir ons aan die kruis gesterf. Daaruit kry ons ook iets, die ware lewe. Maar glo ons regtig in God die Heilige Gees? Ja, ons kry ook iets daaruit, die Gees as gawe. Maar dit vra ook van ons iets. Dit vra van ons dat Jesus in ons lewens sal opstaan. Dat God, in 'n sekere sin, in ons sal verskyn. En daarom dat ons nuwe mense sal word. Van harte nuwe mense. Al vra dit van ons wat.

Of, kom ons stel dit anders: Met watter agendas glo ons? Met dié van die donderseuns wat alles uit hulle pad wil vee as dit hulle nie pas nie, of dié van dieselfde Johannes en Petrus wat ander gaan seën?

Is ons dus, broers en susters, nalopers van Jesus, of navolgers van Jesus? Mense wat, omdat hulle, toe hulle tot geloof gekom het, ook die Gees as gawe ontvang het en nou toelaat dat die Gees van God hulle lewens oorskadu en beheer?

Want as dit so is, broers en susters, sal ons gemeente anders wees en lyk. Sal vergifnis, vrede en liefde in ons lewens die deurslag gee. Ons moet egter net baie goed onthou: As ons hiertoe nie bereid is nie, moet ons nooit weer dit durf waag om te bely dat ons in die Heilige Gees glo nie. Dat ons in Pinkster glo nie.

Want dan stap ons lankal nie meer die pad van onse Here nie! Dalk sê ons te maklik: Mense kan tog nie verander nie. Die Woord sê vir ons vanoggend baie baie duidelik: mense kan.

Die vraag is net: wil u en ek deel van daardie mense wees wat kan verander, en elke dag verander, omdat die Gees van God in ons leef.
Amen