Matteus 8:5-13; 15:21-30

‘n Groot geloof



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Dit is interessant dat die uitdrukking ‘’n groot geloof’ net twee keer in die Nuwe Testament voorkom, en wat meer is, dit in beide gevalle deur Jesus gebruik word ten opsigte van die optrede van ‘n heiden/iemand wat ‘n mens eintlik as ‘n ongelowige sou wou beskryf. In Matteus 8:10 sê Jesus van die heiden offisier dat Hy nog nooit so ‘n groot geloof teengekom het nie, en in Matteus 15:28 het ons gelees dat Hy van ‘n Kanaänitiese vrou dieselfde sê, naamlik dat haar geloof groot is.

Wat, broers en susters, is hierdie groot geloof waarvan Jesus praat? Ek dink die twee gedeeltes wat ons saamgelees het, gee ons die antwoorde op hierdie vraag. Maar voordat ons daarby kom, net eers een inleidende opmerking.

Ons lees dikwels in die evangelies dat Jesus by verskillende geleenthede in strydgesprekke/argumente betrokke geraak het met die Joodse leiers (die dominees van sy tyd). Sonder om ‘n klomp voorbeelde aan te haal, sien ‘n mens — wanneer jy na hierdie strydgesprekke kyk — dat die Joodse leiers telkens probeer het om Jesus in sy eie of met sy eie woorde uit te vang. Iets soos: maar jy het dan nou so pas so gesê, hoe kan hy nou dit ook wil sê, of dan kan jy nie mos so ook sê nie!

Ons sien egter dat Jesus te goed was vir sy teenstanders. Veral het Hy dikwels van gelykenisse gebruik gemaak en sy opponente so met Hom saamgeneem dat hulle nie anders kon as om met Hom saam te stem nie. Lukas 20:40 en Matteus 22:34 sê dan ook dat hy sy opponente se ‘monde gesnoer’ het, en dat hulle nie gewaag het om Hom enige verdere vrae te vrae of gewaag het om aan te gaan met die gesprek as Jesus klaar gepraat het nie.

Maar nie die vrou van Matteus 15 (en die man van Matteus 8, sal ons later sien) nie, broers en susters. Nee. Sy het nie opgehou om te waag nie. Inteendeel. Sy waag ... en sy wen! Wat die dominees van Jesus se tyd nie kon regkry nie, kry sy reg. Sy vang Jesus spreekwoordelik in sy eie woorde uit. En Jesus besef dit, en daarom spreek Hy haar vry. En oordeel dat sy ‘n groot geloof het.

Kom ek verduidelik. In Matteus 10 lees ons dat Jesus, wanneer Hy sy dissipels uitstuur, aan hulle die opdrag gee om nie af te draai na die heidennasies of die Samaritane nie, maar om te gaan na die verlore skape van Israel. Dus: die verlossing is eerste daar vir die Jode, dan die heidene.

En nou lees ons in Matteus 15 dat ‘n sekere vrou aanmekaar agter Jesus aanloop met die versoek dat Hy haar dogter sal help. Maar, vertel Matteus ons, Jesus steur Hom nie aan haar nie, want sy is ‘n heiden, ‘n Kanaäniet. En die verlossing gaan mos eers aan die Jode, en dan aan die heidene.

Die vrou gee egter nie bes nie. Sy bly hulle volg, en roep later so hard dat die dissipels Jesus versoek om darem nou ‘n plan met haar te begin maak.
Ek is hier, antwoord Jesus haar uiteindelik, nie vir jou nie, maar vir die Jode. Maar die vrou gee nie moed op nie. Sy waag weer. Asseblief, help my en my kind.

Waarop Jesus dan antwoord: dit is nie goed om die brood van die kinders te vat en vir die hondjies te gooi nie. Maar weer, sien ons is hierdie vrou met ‘n antwoord reg: dit is waar, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.

Wat gebeur presies hier? Ek wens, broers en susters, dat u hierdie gedeelte saam met my in die oorspronklike taal kon lees, want in die Grieks kom dit wat hier tussen Jesus en die vrou gebeur het pragtig na vore. Die Griekse woordjie vir hond is kunarion. En hierdie vrou is ‘n Kanaäniet. Dus: sy is die hondjie waarvan Jesus praat. Die verlossing is nog nie vir julle nie.

Maar, het ons gesien, sy gee nie tou op nie. Want sy antwoord Jesus met sy eie woorde. Ja Here, U is reg, maar daar val mos altyd maar krummeltjies van die tafel af en dit gebeur mos maar altyd dat die hondjies dit oplek, en niemand kla mos ooit daaroor nie! Noem my wat U wil, ek sal met die heel minste tevrede wees! En so, broers en susters, vang sy Jesus in wese in sy eie woorde.

Nog meer. Met haar volgehoue volg van Jesus (onthou, sy was immers ‘n Kanaäniet) sê sy eintlik vir Jesus: ek kom vra, want ek glo U kan iets doen. Maak nie saak waarvoor U gekom nie, U kan my help, ek glo dit, daarom bly ek vra, daarom is ek bereid om met die minste tevrede te wees. Waarop Jesus dan antwoord: groot is jou geloof!

In Matteus 8:5-13, broers en susters, gebeur iets soortgelyks tussen Jesus en die Romeinse offisier. Soos die vrou kom soek hierdie man Jesus op ter wille van iemand anders, sy slaaf, en soos hierdie vrou raak hierdie man ook met Jesus in ‘n spel van woorde betrokke.

En hier moet ons die teks baie fyn lees, veral vers 7. Op die offisier se versoek dat Jesus sy slaaf moet kom genees, antwoord Jesus ‘ek sal hom kom gesond maak’. Ons sou egter, broers en susters, die Grieks hier ook kon vertaal met: ‘maar verwag jy dan nou van My, Ek wat ‘n Jood is, en jy ‘n nie-Jood, dat Ek in jou huis moet ingaan om jou slaaf te kom genees? Jy weet mos dat dit nie so werk nie. Ek het immers ook eerste gekom vir die Jode.

En wat en hoe antwoord die man dan? Presies soos Jesus altyd met sy opponente gemaak het. Hy vertel ‘n gelykenis. Nee, Here, sê hy, dit is glad nie nodig dat U na my huis kom nie. Ek is ook iemand wat mense onder my het wat my volg, oor wie ek gesag het. En wanneer ek iets gedoen wil hê, hoef ek nie fisies te gaan na my manne toe nie. Ek kan maar net ‘n opdrag gee. Ek kan maar net ‘n woord spreek, en dit gebeur.

Daarom, doen U maar dieselfde. Spreek maar net ‘n woord, en my slaaf sal gesond word. Buitendien, ek is dit nie werd dat U onder my dak inkom nie! Meer nog: ek weet U kan, U kan enige iets doen. Ek weet net ‘n woord sal genoeg wees. Vers 10 sê Jesus was verwonderd. Nog nooit, sê Hy, het hy eers so ‘n groot geloof in Israel teengekom nie.

Waarin, broers en susters, het hierdie twee mense se groot geloof gelê? By twee sake, meen ek. Hulle was bereid om te waag. En omdat hulle bereid was om met Jesus te waag, het hulle gewen.

Tweedens, broers en susters, het hulle groot geloof ook iets anders na vore gebring: nooit maak hulle op hulle eie krag staat nie. Dit word juis duidelik in die feit dat hulle na Jesus toe kom. En hulle as ‘t ware voor sy voete neergooi. Gebare van afhanklikheid. ‘n Optrede wat sê: ek kan niks meer doen nie, maar U kan. Ek glo U kan, ek weet U kan, daarom kom ek. Daarom vra ek. Daarom waag ek!

Sien u dus, broers en susters, wat is ‘n groot geloof? Dit is juis nie groot nie. Dit is die teenoorgestelde daarvan. Dit is eintlik klein. Dit is nie krag nie, maar swakheid. Dit is ‘n leegheid, dit is om te sê, te bely, te erken, te glo: ek kan nie, maar U kan. Ek weet nie, maar U weet.

‘n Groot geloof, broers en susters, het dus niks te make met hoe goed ek glo of hoe sterk my geloof is of hoe groot my geloof sogenaamd is nie. Nee. Dit gaan oor hoe groot ons oor God dink. Oor wat ek glo God kan doen. En nie oor wat ek dink ek kan doen of hoef te doen nie. “n Groot geloof is om groot oor God te dink (oor wat Hy kan en wil doen) en klein oor myself, klein oor my eie vermoë en klein oor wat ek kan doen.

Ons vier vandag Pinkstersondag, die Sondag van die jaar wat ons nie net die gebeurtenis vier van die uitstorting van die Heilige Gees tien dae na Jesus se hemelvaart nie, maar ook vir ‘n slag weer bewustelik dink oor die werk van die Heilige Gees in ons lewens.

Maar, kan u sê, ons het dan vanoggend oor geloof gepraat, en nie oor die Heilige Gees nie. In wese het ons, broers en susters, oor die Heilige Gees gepraat, want die woord leer ons dat dit juis die Heilige Gees is wat geloof in ons harte kweek. Wanneer ons tot geloof kom, ontvang ons daarmee saam die Heilige Gees. En om te kan glo soos ons vanoggend gehoor het, om te kan glo dat God alles kan doen, al lyk alles soms vir ons verby, om klein te wees voor God wat groot dinge kan doen, om klein oor myself te dink en groot oor God, dit is by uitstek die werk van die Heilige Gees.

Of, soos die Heidelbergse Kategismus dit stel: Dit is die heilige Gees wat my deur ware geloof deel laat kry aan Christus en al sy weldade. Met ander woorde, dit is deur die Gees dat ons begin glo, in die geloof lewe, en die lewe in geloof lewe.

Wanneer ons swak is, staan die Gees ons by. Wanneer ons begin twyfel, maak die Gees ons oë vir God se grootheid oop. Wanneer ons begin dink alles is verby, maak die Gees ons oë oop om te weet, met oortuiging, dat God kan, en dat God wil. Ja, die Gees skep in ons die oortuiging om te sê en te glo: al is ek hoe swak, al is my omstandighede wat ook al, al is my geloof hoe klein, al is ek al by twyfel verby: God kan. Hy is groot.

‘n Groot geloof, broers en susters, verwag daarom niks van homself nie, maar alles van God. Groot geloof is om klein te dink oor my vermoë, en groot oor wat God kan doen.

Groot geloof het geen spiere nie. Groot geloof probeer niks self vermag nie. Groot geloof kyk die eie vermoë mis, en sien God, en God alleen, raak. Groot geloof hoor, weet en glo: God se genade alleen is vir my genoeg!

Mag die Gees so, broers en susters, in ons elkeen se lewens werk. Mag ons die kragtige werking van die Gees in ons lewens ervaar. Mag ons soek na die werking van die Gees in ons lewens. So sal ons raaksien dat God tog alles is. En ek niks. En dan kan ons dien. Daartoe sal die Gees ons in staat stel.
Amen