Johannes 20:19-23

Ontvang die Gees en lewe!



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die gedeelte wat ons vanoggend saamgelees het kan miskien soos volg opgesom word: Jesus Christus was dood, het opgestaan en lewe, die dissipels lewe, maar was eintlik dood en begrawe binne in ’n graf. Want toe Jesus gesterf het, het hulle doodeenvoudig besluit dat daar niks meer oor was om voor te lewe nie. Alles wat sin gemaak het, alles wat die moeite werd was, al hulle hoop en verwagtings was daarmee heen. Hulle het lewende dooies geword.

Dieselfde gevoel van doodsheid, broers en susters, kom ook soms oor ons wanneer ons iets in die lewe verloor wat vir ons baie belangrik was. ‘Toe my kind in ’n ongeluk dood is’, het ‘n ma my een keer vertel, ‘het ek ook stukkie vir stukkie doodgegaan. Die lewe het alle sin en betekenis vir my verloor’. ‘’n Vriend van my is reg voor my doodgeskiet in ’n rooftog’, vertel ’n polisieman. ‘Eintlik moes dit ek gewees het. Ek weet dit, en ek sukkel om met my lewe aan te gaan. Ek sien oor en oor dieselfde toneel voor my oë afspeel’. Alles is so dood binne my.

Net so was dit ook met Jesus se dissipels hier in ons gedeelte van vanoggend. Johannes skryf dat dit die aand van Paassondag was. Die dissipels was doodbang dat hulle ook soos Jesus doodgemaak sal word. Want in daardie tyd het dit eenvoudig so gewerk dat, omdat hulle van Jesus se volgelinge was en die Romeine hulle in die hande sou kry, hulle ook doodgemaak sou word. Toe sluit hulle hulself maar agter slot en grendel vas. Agter toe deure het hulle hulleself weggesteek vir die wêreld. Maar ook vir hulle seer. Hier, alleen, kon niks hulle seer maak nie.

Net soos ons ook partykeer maak. Ons is bang vir die wêreld daarbuite, daarom bly ons maar liewer binne ons huise. Ons bou mure om onsself en verskans ons diepste gevoelens agter veiligheidshekke en agt voet hoë betonmure. Die wêreld is veeleisend, en die wêreld maak ons soms so seer: daarom trek ons maar terug in onsself, weier ons om met ander mense kontak te maak, weier ons om uit te reik na ander mense; net ingeval ons dalk met ander mense moeite moet doen.

Maar toe kom staan Jesus skielik daar tussen die dissipels. Hy kom deur die mure en slotte en grendels en ystertralies en veiligheidshekke en skielik staan Hy tussen die vreesbevange dissipels. Presies, broers en susters, wat God so goed kan doen: omdat Hy God is, kom Hy deur die deure waaragter ons onsself so goed wegsteek. Hy ken al ons vrese en hartseer. Hy weet van die dinge waaroor ons skaam voel en waaroor ons met niemand kan praat nie. Hy weet hoe dood ons soms in onsself voel. Daarom kom Jesus Christus na die dissipels, en God na ons elkeen om ons weer lewend te maak.

Hoe doen Jesus dit met die dissipels? Hy groet met die woorde: ‘Vrede vir julle.’ Hierdie groet, broers en susters, was die gebruiklike en gewone Hebreeuse groet, ‘n groet wat beteken het: hoe gaan dit?. Vertel my, want ek stel in jou welwese belang. Ek stel werklik belang om te hoor hoe dit met jou gaan. Dalk kan ek iets vir jou doen.

Presies so gebruik Jesus hierdie groet hier: hoe gaan dit met julle? Ek wil graag hoor. Want Ek, wat God is, wil vir julle doen en gee wat julle nodig het. Wat meer is, Christus herhaal die groet. Waarmee Hy wou sê: ek wil regtig hoor, Ek wil regtig help, waar dit nodig is. Ek wil julle omstandighede verander. Ek wil hê dat julle weer sal lewe. Kyk na my hande en my sy. Sien dat Ek lewe. En weet, omdat Ek lewe, wil Ek ook vir julle die lewe gee. Die ware lewe in hierdie lewe.

En hoe doen Hy dit, broers en susters? Hy blaas oor hulle en sê: ‘Ontvang die Heilige Gees’. Presies soos ons in Genesis 2:7 lees ons hoe God die asem van die lewe in die mens geblaas het, en die mens begin lewe het. Wat was die gevolg hiervan in die lewe van die dissipels? Ons lees dit nie in hierdie gedeelte nie, maar ons ken dit goed.

Hulle het God se getuies geword in Judea, Samaria, en tot aan die einde van die wêreld. Hulle is voor howe en amptenare gebring en vervolg omdat hulle dit gedoen het. Maar hulle het dit gedoen. Want hulle het nuwe lewe ontvang. Die ware lewe. Die ware lewe wat daaruit bestaan om deur God vergewe te kan word, sy liefde en genade te kan ontvang, en elke dag daaruit te kan leef. Ja, dit is wat daardie Sondagaand agter daardie toegesluite deure gebeur het. Die Here het die dooie dissipels weer laat lewe. Hy het vir hulle die moed gegee om aan te gaan met die lewe. Hulle het die Heilige Gees, die krag van God ontvang. En daarom kon hulle.

Presies so maak God ook met ons. Dit is immers wat Pinkster onder andere beteken. God kom ook na ons, elke dag, kom staan voor ons en sê: ‘Vrede vir jou.’ Ek stel in jou, my kind belang. Ek stel in jou omstandighede belang. Wat meer is, dit waarin Ek die meeste belang stel, dit wat Ek die graagste vir jou wil hê, is dat jy, my kind, werklik sal lewe. Ja, in die donkerte met ons deure en harte gesluit, met die vensters so dig dat ’n mens skaars kan asemhaal, met ons harte so geslote dat niemand daar binne-in kan kyk nie, kom staan Jesus voor ons en sê: ‘Vrede vir jou.’ Maak nie saak waaroor jy skaam voel nie, maak nie saak waar jy misluk het, en hoe gebreek jy daaroor voel nie, maak nie saak hoe dikwels jy, my kind, my versaak het nie, Ek is hier by jou. Ek bring vrede, Ek bring lewe. Ontvang my Gees!

Hoekom, broers en susters, doen God dit vir ons? Hoekom, broers en susters, het God ons so lief? Hoekom is dit vir Hom so belangrik dat ons werklik sal lewe? Die antwoord op al hierdie vrae lê opgesluit in vers 20 waar Jesus sy hande en sy sy aan sy dissipels wys. Of kom ons sê dit anders: waar Hy die littekens aan sy liggaam vir hulle wys.

Hierdie littekens was die bewys van Jesus se identiteit. Dit was vir hulle die bewys dat dit Hy, Jesus Christus was wat aan daardie kruis gesterf het. Meer nog: daardie littekens was hulle littekens. Die litteken van Petrus wat gemaak het asof hy Jesus nie geken nie, die littekens van Johannes en Jakobus wat so vol van hulleself was en net belang gestel het om die belangrikste onder die dissipels te wees, die litteken van elke dissipel wat weggehardloop het toe Hy hulle die nodigste gehad het. Al hierdie dissipels se foute, al hulle littekens het nou sy littekens geword. Hy het dit weggeneem, op Homself geneem, dit was hulle vergewe. Hulle was nou as ‘t ware sonder sonde. Omdat God hulle liefgehad het. Tot die dood toe. Maar nou het Jesus weer gelewe, en kon hulle ook weer begin lewe.

Ons dink so dikwels, broers en susters, dat God net daardie mense sonder foute aanneem. Die mense wat suksesvol is, met baie geld en ’n goeie opvoeding. Mense wat elke Sondag in die kerk kom, mense wat blyk geen gebreke het nie. Mense wat nie geskei is nie, wat nie seer het nie, mense wat nog nooit in hulle lewe spyt was oor dinge wat hulle gedoen het nie. Ons dink mos soms dat die evangelie van Jesus Christus die evangelie van sondeloses is, vir mense sonder littekens. Ek wonder waar ons ooit hierdie gedagte gekry het.

Jesus Christus, broers en susters, het dan juis sy evangelie verkondig aan die laagste van laagste mense: in sy tyd: aan prostitute en vissers, die onreines en straatkinders, die skelms, en die hongeriges. En daardie aand het Hy vir sy dissipels met hulle eie seer en littekens en skaamkry gewys dat Hy juis na hulle toe kom. Hy het sy eie littekens met Hom saamgedra, vir ons en die dissipels kom wys dat Hy elkeen van ons se seerkry ken. Meer nog, dat Hy dit op Hom geneem het. Ja, Hy het vir ons en sy dissipels kom wys dat Hy nie mense eenkant toe stoot as hulle foute maak en self ’n klomp littekens en seerkry met hulle saamdra nie.

Meer nog: Hy het ons kom wys dat Hy wil hê dat ons waarlik sal lewe. Daarom het Hy aan hulle sy Gees gegee. En gee Hy dit ook aan ons. Dat ons werklik kan lewe.

Wat is hierdie lewe, hierdie ware lewe? Dit lees ons in vers 23. Toe Jesus nuwe lewe aan hierdie dooie, moedelose dissipels gegee het, het Hy hulle nie net daar in die kamertjie met toegesluite deure gelos nie. Nee, Hy het hulle uitgestuur met ‘n opdrag: ‘Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek ook vir julle. As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe.’

Wat beteken dit? Die Here Jesus stuur hierdie dissipels die wêreld in om ook ander mense lewendig te gaan maak. Hulle moes oral waar hulle kom vir mense die storie van Jesus vertel. Hulle moes vir mense vertel dat Jesus self aan die kruis gesterf het, dat Hy almal se littekens aan sy liggaam dra, sodat elkeen nou, sonder sy littekens en seer en skaamkry weer kan begin lewe. Hulle moes vertel: nuwe lewe is moontlik. Want God maak dit moontlik. En in die besonder deur sy Gees wat lewe gee.

Jesus Christus, broers en susters, gee ook hierdie opdrag wat Hy aan sy dissipels gegee het aan elkeen van ons wat vanoggend hier is. God sê vanoggend vir ons dat dit ook ons taak in hierdie wêreld is om weer vir ander mense lewe te gee deur vir hulle van God se vergifnis te vertel. Vertel vir die ma wat ’n kind verloor het en nie meer kan aangaan met die lewe nie dat God vergewe, dat God seerplekke weer gesond maak. Vertel vir die polisieman wat skuldig voel omdat sy vriend dood is en hy lewe, dat God weet wat Hy doen, dat God hom in hierdie wêreld wil gebruik. Vertel vir al die mense met letsels en seerkry wat voel die lewe is net te veel, dat Jesus Christus weer lewendig maak, dat Hy al ons foute en tekortkominge vergewe. Vertel vir al die mense wat hulle agter slotte en grendels toesluit, wat voel dat die lewe net nie die moeite werd is nie, dat God deur hierdie deure kan kom en ook vir hulle sê: ‘Vrede vir julle’.

Vertel dit vir elkeen wat julle mag teëkom, want Jesus Christus het een Sondagaand toe die son al begin sak het, deur ’n toe deur gekom en vir bang en moedelose mense weer moed en vreugde gegee. Hy het mense wat nie meer kans gesien het vir die lewe, nuwe asem gegee deur die Gees vir hulle te gee. Die Gees wat ons Trooster is, wie nuwe lewe in ons wek. Wie ons lei en rig. wie ons leer hoe om waarlik te lewe.

Presies so staan God vanoggend weer tussen ons. Elke sitplek besoek Hy hier in die kerk met sy Gees, en met die woorde: vrede vir jou! Ontvang my Gees en gaan lewe!

Wat meer is, hierdie selfde Gees sal ons leer, as ons regtig wil weet, wat dit beteken om waarlik te lewe! Want Pinksterdag, wat ons vandag vier, het dit moontlik gemaak.

Vir ons, broers en susters, klink hierdie ware lewe deur die Gees vanoggend miskien onmoontlik, maar vir God is alles moontlik. Want Hy is God. En Hy het ons lief. Daarom het Hy ons sy Gees gegee!
Amen