Lukas 4:16-21; Handelinge 2:14-21

Wat beteken dit om ontvanger en draer van die Gees te wees?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons vier vandag Pinkstersondag, die tiende dag nadat Jesus na die hemel opgevaar het, die dag waarop God sy Gees op die mens uitgestort het. Daarom kan ons nie anders as om vanoggend in die prediking aan die Gees, as die derde persoon van die Drie-eenheid, aandag te gee nie.

Dit is ook miskien vir 'n slag goed so, juis omdat die Gees dikwels die afskeepkind van die Drie-eenheid in die kerk geword het. Ons gee dikwels aandag aan God die Vader, as die een wat vir ons sorg, wat ons troos, wat aan ons genade en liefde mildelik uitdeel. Ook gee ons dikwels aandag aan Jesus Christus: dat Hy gesterf het vir ons sonde, opgestaan het uit die graf, en opgevaar het na die hemel. Ons bid deur Hom tot God, ons bely Hom as ons Verlosser.

Met die Gees is dit egter nie altyd so nie. Ja, ons bid dikwels dat die Gees in ons lewens teenwoordig moet wees, dat Hy ons moet lei en help om die prediking te verstaan, dat Hy ons elke dag moet lei om gehoorsaam voor God te lewe. En daar stop dit dikwels.

Daarom, dit kan net goed wees om weer vir 'n slag goed na die Gees te gaan kyk. En in die besonder wil ek vanoggend aandag gee aan die funksie of die rol wat die Gees van God in die gelowige se lewe vervul. Of anders gesê: wat is die implikasie of betekenis van die feit dat ons as gelowiges God se Gees ontvang het, en wat behoort die effek daarvan in ons lewens te wees?

Om hierdie vrae te antwoord, broers en susters, moet ons by die Ou Testament begin, daar waar ons die eerste keer van die Gees van God lees. Heel aan die begin van Genesis lees ons dat, voor die skepping van die hemel en aarde, die Gees van God oor die waters gesweef het, en dat die Gees as deel van die Drie-eenheid besluit het om mense te maak. Dus, om dit eenvoudig te stel: die Gees was daarbo, as God by God, nie by die mense nie.

Op grond van byvoorbeeld Psalm 2, Jesaja 11, 2 Samuel 7 en Joël 2 sien ons egter dat 'n nuwe funksie aan die Gees toegeken word: die koning van die volk, as God se verteenwoordiger op aarde, word gesien as die een wat nie alleen die Gees ontvang nie, maar ook die draer van die Gees is. Omdat hy die Gees van God ontvang, word hy die seun van God genoem, en omdat hy die draer van die Gees is, is hy die verteenwoordiger van God onder die volk, en daarom word hy ook soms die messias genoem.

Met ander woorde, en dit moet ons hier raaksien, om ontvanger en draer van die Gees te wees, beteken volgens die Ou Testament om seun van God te wees, om God se verteenwoordiger op aarde te wees. En omdat die koning dit is, is hy die bringer van 'n aardse koninkryk, 'n koninkryk wat die Ou Testament min of meer in politieke/staatkundige terme verstaan.

Wanneer ons by die Nuwe Testament kom, en in die besonder by Lukas 4, sien ons 'n ontwikkeling van die funksie van die Gees soos beskryf in die Ou Testament. Die Gees van God word uitgestort, nie op die koning nie, maar op Jesus Christus. Omdat Jesus die ontvanger van die Gees is, is Hy Seun van God. En omdat Hy draer van die Gees is, is Hy die Een wat die koninkryk van God/hemele aankondig. Dit doen Hy deur die evangelie te verkondig, die verdruktes tegemoet te kom, en sondes te vergewe. En omdat dit gebeur, sê Lukas, breek die genadejaar van God aan.

In Handelinge 2 sien ons is daar 'n verdere ontwikkeling wat hierdie saak betref. Die Gees word nou op alle mense (gelowiges) uitgestort, en daarom word hulle seuns van God genoem. Maar ook, omdat hulle draers van die Gees is, word die koninkryk van God sigbaar deur hulle werke, 'n koninkryk wat gesien word as die sabbatsjaar van die Here, die jaar van volheid en die jaar van rus.

U sien dus die parallelle: die koning as ontvanger van die Gees is seun van God, Jesus as ontvanger van die Gees is Seun van God, en die gelowiges as ontvangers van die Gees is seuns (en natuurlik ook dogters) van God. Verder: as draer van die Gees moet die koning 'n aardse koninkryk tot eer van God daarstel, as draer van die Gees bring Jesus die koninkryk van die God, en as draers van die Gees moet ons nou, as seuns van God, die koninkryk van God wat Jesus daargestel het, op aarde sigbaar maak.

Of, alles in kort saamgevat: om ontvanger van die Gees te wees beteken om draer van die Gees te wees, en om draer van die Gees te wees beteken om 'n bepaalde funksie te hê. In ons geval, om as die verteenwoordigers van God, om as seuns en dogters van God, die koninkryk van God op aarde sigbaar te maak.

Wat beteken dit, broers en susters, in terme van ons praktiese geloofslewe? Ten minste drie dinge, en hieraan wil ek ten slotte aandag gee.

In die eerste plek beteken die feit dat ons God se Gees ontvang het — en ons almal het God se Gees ontvang toe ons tot geloof gekom het, 'n ontvangs van die Gees wat die Bybel beskryf as om met die Gees gedoop te word — dat ons moet toelaat dat die Gees ons lewens omvorm. Dit doen die Gees deur ons te ondersoek vir sonde, ons te oortuig dat daar sonde in ons lewens is, en ons te bring om daardie sondes voor God te bely. En as ons aan hierdie werk van die Gees in ons lewens gehoorsaam is, word ons, in die woorde van die Johannesevangelie, nuwe mense. Mense in hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie, mense wat lewe, maar ook in besit is van die ware lewe, die ewige lewe.

Tweedens: as nuwe mense, gee die Gees aan elkeen van ons, nie een uitgesluit nie, bepaalde gawes. Party ontvang die gawe om te preek, ander om te dien, ander om 'n woord van wysheid te spreek, ander om siekes te ondersteun, ander weer om met kinders te kan werk, ander om te kan luister, en ander weer om te lei, te volg of te administreer. En so kan ons aangaan. In wese kom dit egter daarop neer dat God deur sy Gees gawes so uitdeel dat sy kerk kan werk en leef, en dat elkeen in die kerk sy plekkie het waar hy/sy kan dien en werk.

Derdens, broers en susters, is ons ontvangers van die Gees en draers van die Gees om reg te kan lewe en te kan bid. Daar is baie sake wat deel is van ons tyd waarvoor daar nie direkte antwoorde in die Bybel is nie. Die Bybel sê tog nie iets oor byvoorbeeld aborsie of proefbuisbabas nie. Maar wat die Bybel wel sê is dat die Gees ons die onderskeidingsvermoë gee om oor alles in die lewe te kan oordeel. Met ander woorde, deur te luister na die Gees kan ek weet wat God van my in elke situasie verwag. En as ek nie weet nie, of dan twyfel, bid die Gees saam met my tot God die Vader vir leiding en helderheid.

Wat is die gevolg van dit alles, broers en susters? Die wonderlike: as ons toelaat dat die Gees ons nuwe mense maak, as ons bereid is om ons gawes van die Gees ontvang, uit te leef, as ons bereid is om die Gees toe te laat om ons reg te laat lewe, as bringers van die koninkryk van God, verteenwoordigers van God op aarde, Sy seuns en dogters.

Dit wil sê: sy kinders. Ja, nog deel van hierdie lewe, maar reeds in besit van die ewige lewe. Nog in hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie, en daarom die hande, voete en oë van God. Nuwe mense. Ander mense. Mense met vreugde en vrede.

En nou vier ons vandag Pinkstersondag, en is dit ook ons voorbereidingsdiens tot die Nagmaal. En deur dit te vier, broers en susters, of deur net vanoggend hier te wees, sê ons dat ons ontvangers en draers van God se Gees is, dat ons toelaat dat God ons deur sy Gees daagliks nuwe mense maak, aanvaar ons dat ons elkeen 'n gawe(s) van Hom ontvang het wat ons moet uitleef, erken ons dat sy Gees ons elke dag lei om reg, gehoorsaam en dankbaar te lewe.

As ons egter nie wil toelaat dat Hy ons lewens daagliks vernuwe nie (ja, want 'n mens kan God se Gees weerstaan) of nie bereid is om onsself byvoorbeeld voor die Nagmaal te ondersoek nie, as ons nie wil aanvaar dat Hy aan ons elkeen 'n gawe(s) gegee het en daarom nie ook in sy kerk wil dien nie, as ons nie wil toelaat dat die Gees ons daagliks wil lei om reg te lewe nie, moet ons nie vandag Pinkster vier nie. Moet ons ook nooit weer saam met die gemeente bely dat ons in die Heilige Gees glo nie.

Want dan sê ons een ding, maar ons doen 'n ander. Dan is ons geloofsbelydenis sonder dade, handeling sonder hart, iets uiterliks wat innerlik niks aan ons doen nie. Dan is dit 'n dooie geloof, dan lewe ons maar eintlik ook nie.

En dan verloën ons die Gees. Want die Gees is juis die een wat lewe gee.
Amen