Esegiël 37:1-14; Handelinge 2:37

Woorde wat lewe gee



Tema: Woorde wat lewe gee
Die gekose teks(te) maak die genoemde perikope veral geskik vir prediking rondom Pinkster. Soos uit die onderstaande preek afgelei kan word, is die perikoop uit Esegiël ook geskik vir prediking rondom die bediening van die sakrament van die doop. Met effense aanpassing sal die preek ook kan dien tydens die geleenthede van die aflê van openbare geloofsbelydenis en/of die bevestiging van kerkraad.

Moontlike preek
Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

In Psalm 77 bid Asaf dat die Here hom sal help. Maar dan antwoord die Here nie. En hoe harder Asaf bid, hoe stiller bly God. Totdat Asaf besluit dat hy God liewer maar moet afskryf. Want God wil nie meer help nie, dalk, sê Asaf, kan God nie meer nie.

Ook ons, broers en susters, kom soms in hierdie situasie. Dinge gebeure met ons, goed kom ons oor, probleme of probleempies stap oor ons lewenspad, ons drome word nie bewaarheid nie, wat ons gehoop het gaan met ons in ons lewens gebeur gebeur toe nie so nie, daar kom angs oor ons oor ‘n bepaalde situasie, noem maar op. Almal sake wat maak dat ons by ‘n punt in die lewe kom waar ons voel, soos Asaf, dat God weg is.

Of dalk, broers en susters, ervaar ons God afwesig in ons lewe as gevolg van sonde wat ons gedoen het. Dit is ook moontlik. Waar ons so verwerp in onsself voel dat ons nie meer kans sien vir die lewe nie. Ons almal, broers en susters, ken daardie doodsheid wat soms oor ‘n mens sak, ‘n doodsheid wat ‘n gevoel van nutteloosheid en totale moedeloosheid oor ‘n mens laat kom.

In Esegiël 37 vind ons vir Esegiël in presies dieselfde situasie. Behalwe dat die volk in ballingskap was (dit wil sê, weg van hulle land, hulle tempel en baie van hulle mense), is al wat hulle gehoor het die oordele van God. Lees gerus maar Esegiël so van hoofstuk 12 af deur. Die profete is soos jakkalse, daarom gaan Ek gaan hulle straf, los julle afgode, julle gaan sterf, vuur gaan julle verteer, Jerusalem sal soos ‘n klein boompie platgevee word, die wat sondig gaan sterf, ellende wag op my volk, Ek gaan optree teen die profete. Net oordele. Dit is al wat hulle hoor.

Alles was soos die dood. Daar was niks meer om voor te lewe nie. So het die volk gevoel. Maar ook die profeet Esegiël. Ook hy was maar goed moedeloos. Wat meer is, deur die krag van die Here, lees ons, kom Esegiël in ‘n laagte vol doodsbeendere aan. En wat sien hy? Presies wat hy voel. Baie bene wat droog is, ‘n hele laagte vol. Presies soos sy hart vol dood is. Dus: wat hy voel, is nou maar net wat hy sien. Alles is vir hom en die volk dood, alles is verby.
Maar dan gebeur daar iets. Terwyl Esegiël so tussen die bene rondloop, kom God na hom toe met ‘n vraag. Dink jy, Esegiël, dat daar weer lewe in hierdie bene kan kom? Esegiël se antwoord, broers en susters, dat net die Here weet, beteken eintlik: nee wat Here, daar is nie ‘n kans nie. Menslik gesproke is dit nie moontlik nie. Hoe kan ‘n klomp dooie droë bene weer begin lewe? Maar u sal weet, Here. Maar weet, ek dink nie so nie.

Wat dan gebeur, broers en susters, moes Esegiël seker tot skaamte gebring het. Gaan jy Esegiël, sê die Here, en sê vir hierdie bene: lewe weer. En wat gebeur? Met die hoor van die woord van die profeet beweeg die bene na mekaar toe, word dit met senings oorgetrek, en kom daar ‘n vel oor. En daar lê almal toe, kan ons sê.

Toe kom die Here weer na Esegiël, sien ons, en sê vir hom: sê vir die Gees om in hierdie mens in te gaan. En toe Esegiël dit doen, gaan die Gees in almal in, en hulle staan regop.

Wat, broers en susters, het hier gebeur? Ons kan dit alles eintlik baie eenvoudig en kort saamvat: die volk was dood. Hulle het gevoel God is weg. Daar is nie weer kans tot lewe nie. Toe kom God en gebruik ‘n mens, sy profeet om twee dinge te doen. Sy woord te verkondig dat daar lewe in God is, en God te bid om sy Gees weer uit te stort. Met twee gevolge: God se volk het weer begin lewe, en, baie belangrik, almal het besef dat die Here God is. Dat Hy wel in beheer is, dat Hy lewe wil en kan gee.

Kom ons sê dit nog korter: God gee lewe deur sy Woord en sy Gees. Daar waar sy woord verkondig word, en waar sy Gees hierdie woord op mense se harte laat val, daar kom lewe. So eenvoudig, broers en susters, werk God. Baie kerke maak vreeslik baie van die gebeure rondom Pink¬sterdag soos ons dit in Handelinge 2 raaklees.
Wat het eintlik daar gebeur, as ons dit in sy eenvoudigste boodskap wil raaklees? Soos belowe, het God se Gees uitgestort. Onder leiding van hierdie Gees, soos die geval met Esegiël, verkondig Petrus dat Jesus gesterf het, opgestaan het, opgevaar het, dat Hy lewe, en ons wat dit glo, ook sal lewe. En wat gebeur? Deur die Gees word hierdie woord deur meer as 3000 gehoor, wat tot bekering kom en God se kinders word.

Waar nie lewe was nie, was nou lewe. Hoekom? Omdat iemand, die Woord verkondig het, en God deur sy Gees hierdie Woord op vrugbare grond laat val het. So een¬voudig, broers en susters, dat ons nie meer dink dat dit moontlik is dat God nuwe lewe kan gee nie.

Want ons koppe werk anders. Ons is moderne mense. Ons dink in terme van prosesse. In terme van oorsake en gevolge. Dinge moet vir ons redelik en logies wees. En as ons kan sien wat aan die gebeur is, nog beter. Want dan kan ons dit selfs beskryf, en dalk nog beter verklaar.

God, broers en susters, werk nie so nie. Soveel te meer werk die Gees ook nie so nie. Johannes 3 sê juis die Gees is soos die wind, hy waai wanneer en waar Hy wil. Ons kan Sy werking nie sien nie. Maar beteken dit, broers en susters, omdat ons die werking van die Gees nie kan sien nie, dat die Gees nie werk nie, nie nuut kan maak nie?

Soos Esegiël gedink het. Nee wat Here, hierdie klomp ou dooie en droë bene? Daar is nie ‘n kans nie. En wat ge¬beur toe? Esegiël moes erken dat die Here God is. Wat meer is, hy moes erken dat deur sy woorde, in opdrag van God, onder leiding van die Gees, lewe gegee het.

Besef ons, broers en susters, dat ons woorde in ons dra wat die lewe kan gee aan ander? En al dink ons dit is nie moontlik nie, is dit so. Hoekom? Want wanneer die Gees in ons lewe, lewe die Woord van God ook in ons. Wat meer is, dit is nie uit eie krag of insig wat ons hierdie Woord moet verkondig nie. Dit is nie op eie stoom nie. Want ook die krag wat ons nodig het om deur ons woorde en dade die woorde en dade van God te word, kom van die Gees.

Ons moet dit net met woord en daad gaan verkondig. Al dink ons dat dit geen effek sal hê nie. Esegiël het vir die Here gesê: nee wat Here, hier kan nie weer lewe in hierdie doodsbeendere kom nie. Maar toe hy gaan doen wat die Here gevra het, het daar lewe ge¬kom. Want, sê vers 14, die Here het dit gesê, die opdrag gegee, en dit deur Esegiël gedoen.

Dit geld ook, en veral, vir hulle wat vanoggend hulle kindjie gaan doop, en ons wat reeds ons kinders gedoop het. Die doopformulier sê in hierdie verband ‘n paar besondere dinge. Eerstens, alleen deur nuwe mense te word, word mense kinders van God. Tweedens, deur in die naam van die Vader, die Seun en die Gees gedoop te word, beteken dat al die beloftes van die Vader beloftes vir ons kinders is, die redding van die Seun ook die enigste redding vir ons kinders is, en dat die Gees die beloftes van die Vader en die redding van die Seun in ons kinders se lewens waar sal maak. Maar die formulier sê ook: ons as ouers word opgeroep tot ‘n nuwe gehoorsaamheid. ‘n Nuwe ge¬hoorsaamheid om weer en weer hierdie Woord aan ons kinders te verkondig en voor te leef. En wat sal die gevolg wees? Soos Esegiël sal ons sien: daar het lewe gekom. Net omdat ons bereid was om dit te gaan doen.

Kan alles so eenvoudig wees, broers en susters? Ja. Want God werk nie anders nie. Dit is juis wat Pinksterdag wil sê. Toe Jesus gedoop is, het die Gees oor Hom gekom, en so is Hy bemagtig om die evangelie te verkondig. Met Pinkster het die Gees oor mense gekom. Hoekom? Sodat ons in staat sal wees om te gaan verkondig en te gaan leef, en so nuwe lewe te wek.

Kom ons bid, broers en susters, en sê dankie dat God ons so wil gebruik. Kom ons bid dat ons sal raaksien dat dit is hoe God werk. En kom ons bid sat God ons so sal gebruik, dat lewe geskep word waar ons beweeg en werk.

Wanneer en waar dit gebeur, maak ons almal wat ouers is ons doopbelofte waar, maar maak ons ook Pinkster waar. Esegiël het verkondig, en dooie bene het lewend geword. Petrus het verkondig, en drie duisend mense het tot bekering gekom. Wie verstaan dat God vandag nog sy kinders so gebruik, sal lewe gee.
Amen