Efesiërs 1:3-14

Laat die hoop wat in ons leef, ons waarlik laat leef! (Afskeidspreek by aanvaarding van beroep)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

In 1 Petrus 3:15 lees ons dat God se mense nie alleen met eerbied voor God moet lewe nie, maar dat God se mense altyd bereid moet wees om te getuig (met woord en daad) oor die hoop wat in ons leef.

Wat is hierdie hoop wat in ons leef, broers en susters, hierdie hoop wat in God se mense leef wat ander – wat nie glo nie – nie het nie?  In Efesiërs 1:5-8 beskryf Paulus hierdie hoop pragtig: dat ons deur Jesus Christus God se mense is, dat God in Christus genadig was teenoor ons, dat ons oortredings ryklik vergewe is deur die bloed van Christus, dat ons verloste mense kan wees, begenadigde sondaars.  Dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan God.  In hierdie lewe, maar ook in die lewe hierna.  Dat ons dus elke oomblik van ons lewe kan hoop, eintlik kan weet, dat ons nooit sonder God is en sal wees nie.

Maar kan ons dit weet, broers en susters, regtig weet?  Of hoop ons dit maar net?  Is die feit/hoop dat ons aan God deur Jesus Christus behoort maar net – soos iemand eendag gesê het – ‘n ‘pie in the sky’, of kan ons dit regtig weet, en daarom regtig kan hoop?

In Efesiërs 1:13-14 lees ons dat dit amper is asof Paulus, nadat hy die feit van ons kindskap aan die gemeente gestel het, in hulle harte iets van hierdie twyfel hoor.  Is dit regtig so?  Is ons werklik verlos?  Behoort ons regtig aan God?  Kan ons dit regtig weet?  Of kan ons maar net hoop dat dit wat jy hier sê, Paulus, regtig die waarheid is?

En dan antwoord Paulus vanaf vers 13 so: ek het na julle gekom en aan julle die evangelie verkondig, julle het dit gehoor, en dit geglo.  Daarom is julle nou kinders van God.

En wil julle weet of dit regtig so is?  Soek julle ‘n bewys dat wat ek sê waar is?  Kom ek gee julle ‘n bewys.

Toe julle tot geloof gekom het, het God sy Gees aan elkeen van julle gegee.   Die woorde wat Paulus hier gebruik is: ‘die Heilige Gees wat deur God belowe is, [het] julle as die eiendom van God beseël’.  Baie oordeel dat die beeld wat Paulus hier gebruik verwys na die gewoonte van byvoorbeeld die Romeinse keisers van sy tyd wat, as hulle ‘n brief aan iemand gestuur het, die brief met was en ‘n afdruk van sy ring verseël het.  Om daarmee te sê: wat binne hierdie opgerolde briefie is, kom van my, die keiser af.  Hierdie brief is my daad, dit behoort aan my, en ek stuur dit nou vir jou.  Dit is my eiendom, want dit dra my merk, en ek stuur dit nou vir jou.

Net so, sê Paulus, wys God aan ons dat ons regtig aan Hom behoort.  Om te sê ons is syne, ons behoort aan Hom, het Hy ons sy Gees gegee.  Daarom: elke keer wat ons ervaar dat God se Gees in ons lewens werksaam is (en dit hoef ek darem seker nie te verduidelik nie) weet ons: ek behoort aan God.  Omdat ek gehoor en geglo het, het God sy Gees vir my gegee.  En nou ervaar ek die werking van sy Gees in my lewe.  En dit is, wil ek amper sê, die bewys dat ek behoort, aan God behoort, en kan hoop op sy teenwoordigheid elke dag in my lewe.

Maar dit is nie al nie, broers en susters.  Paulus gaan nog verder.  Hierdie Gees, sê Paulus, is nie alleen God se geskenk aan ons as bewys dat ons aan Hom behoort nie, dit is ook ons waarborg dat eendag, wanneer ons hierdie lewe verlaat, een by God sal wees.  Of in die woorde van Paulus: dat God ons eendag volkome sal verlos.

In kort is die boodskap van die Woord van God hier dus baie duidelik: Wil jy weet of jy regtig in Christus God se kind is?  God het sy Gees vir elkeen van sy kinders gegee.  Lewe in die Gees. Lewe deur die Gees.  Ervaar hoe die Gees werksaam in jou lewe is.  En elke keer wat jy ervaar die Gees is werksaam in jou lewe (oortuiging oor sonde, leiding, vertroosting) weet hierdie werking van die Gees sê iets van jou verlede en toekoms.  Van jou verlede: jy het die geloof ontvang, jy behoort aan God.  Van jou toekoms: jy het ‘n waarborg, jy sal nooit weer sonder God wees nie, ook nie na hierdie lewe nie.  Jy is kind van God, loof en prys God daarom daarvoor.

Vir baie gelowiges, broers en susters, is hierdie besef, kom ons noem dit miskien insig, die eindpunt van hulle geloof.  Nou is ek gered, nou behoort ek aan God, nou is alles in plek.  Vir God, broers en susters, is die redding wat Hy gee in Jesus Christus egter die beginpunt van alles, nie die eindpunt nie.

God red ons, sê Paulus in Galasiërs, met ‘n roeping.  Hy red ons om iets te word en iets te doen.  Of, in die woorde van Efesiërs 1:10: ‘sy bedoeling met ons redding in Christus is om alles en almal onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus’.  Ons is nou ‘in Christus’, nuwe mense, en daarom almal broers en susters van mekaar.  Broers en susters van mekaar, almal met een roeping.

Wat is hierdie roeping?  Om God se koninkryk in hierdie wêreld sigbaar te maak.  Hoe doen ons dit?  Efesiërs 4:1-6 sê dit mooi: laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.  Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en lewe saam in liefde.  Met ander woorde, dra die vrug van die Gees, soos Paulus dit in Galasiërs 5 beskryf: lewe in liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid en nederigheid.  Wie in Christus is, is ‘n nuwe mens, en lewe daarom soos ‘n nuwe mens.  En hierdie nuwe mens, sê Efesiërs 4:24, beklee homself met die werke van die Gees.

Waar, broers en susters, moet ons, as God se mense, hierdie roeping uitlewe?  Natuurlik oral waar ons lewe, werk en beweeg, maar veral in die gemeente waarvan ons deel is.  Dit is immers wat die heel eerste gemeente gedoen, waarvan ons in Handelinge 2:42 lees: hulle het hulle toegelê op die besig wees met die Woord van God, hulle het hulleself in liefde onderling aan mekaar verbind, gereeld saamgebid, gereeld saam die brood gebreek.

Want hulle was nou, in Christus, broers en susters van mekaar.  Daarom het hulle mekaar vasgehou, regop gehou, mekaar gedra, mekaar versorg, vir mekaar werklik omgegee.  Anders gesê: hulle het al die gawes en wysheid wat hulle van God in oorvloed ontvang het  (soos Efesiërs 1:8 dit stel) aan mekaar uitgedeel.  Hulle het liefde van God ontvang, en dit daarom ook aan mekaar uitgedeel.  Hulle het genade ontvang, en dit uitgedeel.  Hulle het versorging van God ontvang, en dit aan mekaar uitgedeel.  Hulle het omgee van God ontvang, en dit ook uitgedeel.  In Christus het hulle nuwe mense geword, God se mense, as bewys dat hulle syne is het God aan hulle sy Gees gegee, en daarom het hulle uitgedeel.  Oorvloedig.  Omdat hulle in oorvloed ontvang het.  En so het die koninkryk van God sigbaar begin word.

Vir bykans 16 jaar, broers en susters, het ek presies dit in hierdie gemeente beleef.  Hierdie is ‘n gemeente vol mense wat nuut geword het, omdat hulle die gawe van die geloof en die Gees ontvang het.  In hierdie gemeente is gelowiges wat vir mekaar omgee, mekaar in liefde vasgryp, mekaar dra.  Ek sou soveel voorbeelde hiervan kon gee.  Die gelowiges van hierdie gemeente woon die eredienste by, hulle sorg vir hulle wat oud geword het, sorg vir hulle wat sonder ouers groot word, en sorg vir hulle wat baie minder as ons het, wat soms selfs niks het nie.  Nooit het ek ‘n gebrek aan omgee vir ander beleef nie.  Wat God hier gegee het, is mildelik aan ander uitgedeel.  En ja, so het ons ook ietsie, al is dit hoe klein, van God se koninkryk sigbaar gemaak!

En so nie alleen getuig van die hoop wat in ons leef nie, maar ook hoop in ander se lewens geskep.  Dit is hoe ek hierdie gemeente sal onthou, en ek weet: dit is hoe u altyd sal wees.  Dankie daarom, vir die voorreg om hier predikant te kon wees!

Mag God deur sy Gees so in u almal werksaam wees, dat die uitleef van u roeping net meer en meer sal word.  Hou mekaar van as broers en susters, hou mekaar regop wanneer die lewenswinde oor u waai, vertroos mekaar wanneer nodig, wees daar vir mekaar soos God dit van u verwag.

So sal u die grootheid van God prys, soos Efesiërs 1:14 dit stel.  So sal u God se naam laat lewe, God groot maak.  Want aan Hom alleen kom al die lof toe.

My gebed vir u, broers en susters, is dat elkeen van u, elke oomblik van elke dag, die wonderlike ervaring sal hê dat God deur sy Gees by u is.  Want Hy is.  Hy is by sy kinders, hulle wat sy Gees ontvang het.  En terwyl u hierdie teenwoordigheid van God ervaar, doen God se werk.  Wees sy hande, voete, oë, ore, sy aanraking, sy liefde, sy genade.  Dan sal God, wanneer Hy eendag weer kom, vir u sê: dankie my goeie en getroue dienskneg.

Ek sluit af met die woorde van Numeri 6:24-26:

Die Here sal julle seën en beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!
Amen

Gebed: Paulus se gebed vir die Efesiërs (Ef 2:15-23)