Openbaring 2:18-3:6

Die briewe aan Tiatira en Sardis



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus

Ek begin vanaand met 'n paar algemene opmerkings oor die boek Openbaring: Openbaring is geskryf aan die sewe gemeentes wat genoem word in Openbaring waarskynlik rondom 90 n C. Omdat hierdie soort van geskrifte net voorkom wanneer daar een of ander soort van verdrukking plaasvind, aanvaar ons dat hierdie sewe gemeentes in een of ander situasie van verdrukking verkeer, en dat God wil hê dat Johannes, met die gesig wat hy ontvang, hulle moet bemoedig. In die gesig sê God dat:

  • dat die boodskap van Homself kom,
  • dat hulle nie bekommerd moet wees nie want Hy is die Alfa en die Omega, die een wat is en wat was en wat kom, die een wat uit die dood opgestaan het, en
  • dat God hierdie sewe gemeentes en hulle sewe leraars in sy regterhand styf vashou.

Dus: ‘n boodskap van troos en bemoediging reg aan die begin van die brief. Dan, sien ons, gee God aan Johannes die opdrag om vir elkeen van hierdie sewe gemeentes ‘n brief te skryf. Vanaand gee ons aandag aan die vierde en vyfde briewe, dié aan Tiatira en Sardis.

Die stad Tiatira, broers en susters, alhoewel nie so groot en belangrik soos byvoorbeeld Efese, Smirna en Pergamum nie, was ‘n stad wat gewemel het van tekstielwerkers, skrynwerkers, pottebakkers en leerlooiers - dus relatief welvarend. Ons lees byvoorbeeld dat Lidia, die purperverkoopster (Hand 16:14), afkomstig was van Tiatira. Interessant is die feit dat daar ‘n hele paar gildes, of dan, vakbonde bestaan het wat na hierdie werkers se belange omgesien het.

Verder, broers en susters: so mooi soos die pers wolmateriaal was waarin Lidia handel gedryf het, so mooi is God se getuigskrif van hierdie gemeente: hulle is ‘n voorbeeld in liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding.

Maar tog, sê God in vers 20, is daar in hierdie gemeente ook dinge wat verkeerd is: die gemeente laat die vrou Isebel begaan. Wie was hierdie Isebel? Ons moet hier nie dink, broers en susters, aan ‘n spesifieke persoon wat die gemeente verlei nie. Volgens 1 Konings 16:31 het Agab met Isebel, die dogter van die heidense koning van Sidon getrou. En gou het Isebel gesorg dat Baäl en Astarte, die afgode van haar volk, die volk Israel tot onsedelikheid verlei. So het Isebel dan ‘n simbool geword vir afrokkeling tot en heulery met heidense afgode en gebruike.

Hoe het dit presies in die gemeente Tiatira gebeur? Om te kon koop en verkoop, te kon produseer, te kon handeldryf, moes jy aan die gilde/vakbond behoort wat daar vir jou bedryf was. Elkeen van hierdie vakbonde het sy eie beskermgod gehad. En om aan die vakbond te kon behoort moes jy bereid wees om aan hierdie afgod se heidense feeste deel te neem.

En hiermee was God nie tevrede nie: geen heulery met of verdraagsaamheid teenoor die heidense afgodery en onsedelikheid was/is vir Hom aanvaarbaar nie.

Dan was daar ook diegene wat die sogenaamde “diep geheimenisse van Satan” aangehang het. Hierdie het, om dit eenvoudig te stel, daarop neergekom dat party gemeen het om God alleen te dien is nie genoeg nie. Solank ‘n mens net God dien, kan jy mos maar ander afgode ook dien, veral as dit so aantreklik is met al hulle geheime feeste, gewoontes en gebruike.

Aan hierdie mense sê Johannes egter: hou net vas aan wat julle het tot die Here weer kom. Geloof in die opgestane Here is voldoende. Hulle het niks meer nodig nie, veral nie die sogenaamde “geheimenisse van Satan” nie.

Sardis, broers en susters, aan die ander kant, kry weer ‘n totaal ander getuigskrif van God as Tiatira: waar Tiatira ‘n voorbeeld is in liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding, daar sê God van Sardis: Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood.

Hoekom sê God dit van hierdie gemeente? Sardis, broers en susters, was geleë, amper as” t ware, op die top van ‘n berg wat net deur een pad bereik kon word. Wat dan ook so bewaak was dat niemand daardeur kon kom nie. Die res van die berg was, volgens die inwoners van Sardis, so ontoeganklik, dat niemand dus die stad so kon inneem nie. Tog, twee keer in die geskiedenis lees ons het vyandige magte die stad ingeneem, juis omdat die inwoners nie gewaak het nie.

Dieselfde was dan ook die geval met die Christene in Sardis se geestelike lewe. Nêrens in die brief kry ons die indruk dat hierdie Christene met valse profete en heidense godsdienste te kampe gehad het nie. Nee. Hulle het ‘n ander probleem gehad: hulle het sommer net, omdat hulle te op hulle gemak was, geestelik flou begin raak en begin afsterf. En soos die stad twee keer onverhoeds betrap is omdat hulle nie gewaak het nie, so is hulle, wat hulle geloofslewe betref, ook onverhoeds betrap: hulle besef dit nie, maar hulle dien God eintlik nie meer nie.

Dit dan, broers en susters, min of meer die tersaaklike opmerkings om iets van die teks se agtergrond en die teks self te kan verstaan. En kom ons probeer om die boodskappe aan hierdie twee gemeentes ook op ons van toepassing te maak.

Hierdie twee gemeentes se “geloofsgeskiedenis” broers en susters, om dit so te stel, wil ons waarsku teen drie houdings wat by die gelowige kan posvat en sodoende die gelowige in sy geloofslewe en in sy verhouding met God geweldig kan skaad.

Die eerste houding is dié wat ons by Tiatira vind, naamlik, om te kan koop en verkoop, om aanvaar te word, om “in” te wees, word die eie geloofsoortuiging totaal oorboord gegooi. Waarmee die gelowige eintlik sê: hierdie ander dinge is belangriker as God. Maar ook: omdat God sogenaamd nie hier vir my kan sorg nie, moet ek maar vir myself sorg. Ons kan oor hierdie houding baie voorbeelde in ons eie tyd opnoem: om ekonomies te oorleef, is ek hier en daar maar so ‘n bietjie skelm, om my agenda tot uitvoering te bring - in kerk en wêreld - heul en koukus ek maar so ‘n bietjie agteraf, om in te wees by ander, om deur ander aanvaar te word, verlaat ek my eie oortuigings en hang die aan van diegene by wie ek graag “in” wil wees of by wie ek graag aanklank wil vind.

Die tweede houding vind ons ook by Tiatira: ek aanbid mos God, ek kom mos kerk toe, ek lees mos my Bybel en ek bid mos gereeld, ek is mos ‘n kind van God, so hoekom dan nie hier en daar so ‘n bietjie ook “oortree” nie. Want God is mos genadig, God sal mos vergewe, Jesus het mos vir my sondes aan die kruis gesterf. Dus, waar die eerste houding sê, verlaat God en sy weg maar ter wille van sogenaamde “meer voordeel”, sê hierdie tweede houding: God en die ander dinge.

Die derde houding, en seker die gevaarlikste van almal, en miskien die een wat die meeste in die lewe van die gelowige gesien word, soos in die geval van Sardis, is: Ek is mos kind van God, ek is mos gedoop, ek het mos belydenis van geloof afgelê, my naam staan mos op die boeke van die kerk, en God het mos ‘n ewige verbond met my, so: Ek hoef nie juis iets veel meer van my kant af te doen nie. Ek kan maar net rustig met my lewe voortgaan, rustig my Bybel lees en in die kerk kom, maar veel meer hoef ek nie te doen nie. Geloof is tog die norm. Goeie werke kan my die red nie. Dit sê die kerk tog baie duidelik: So: hoekom werklik daarna streef om ‘n godvrugtige, toegewyde, heilige en gehoorsame lewe te lei wat uitmond in die werklike doen van die goeie werke? As ek dan glo. Dan doen ek mos genoeg!

Kom ons wees maar eerlik, broers en susters. Hierdie drie houdings, is maar altyd, op een of ander manier, so dikwels in ons lewens teenwoordig. En juis daarom kan ons maar gerus luister na die vyfvoudige oproep wat Johannes aan Sardis rig:

  • word wakker: om geestelike gereed te wees, beteken om altyd geestelik wakker te wees;
  • versterk wat nog by julle oorgebly het: alles is nooit vir die gelowige verby nie. Ander het Jesus verniet gesterf. Dus, wat geestelik smeulend is, moet aangeblaas word om weer vlam te vat. En dit doen ons eerstens deur na die Woord te luister, en dit ook te doen. Om eers ons verhouding met God te herstel, en dan aan onsself te begin werk, onder leiding van die Gees van God, om werklik te begin leef soos ons weet God van ons verwag;
  • dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang het en daarna geluister het: ons het mos al die ware evangelie gehoor. En herstel begin altyd by die begin, te wete die boodskap dat ons as sondaarmense verlos is, nuutgemaak is, weergebore is, anders geword het, en daarom anders kan begin lewe;
  • hou daarmee vol: moenie halfhartig nie, lewe met oorgawe. Want dit alleen, broers en susters, bring geluk en tevredenheid in die lewe van die gelowige. Dit alleen bevry ons van ‘n skuldige gewete; en
  • bekeer julle: draai terug op die weg waar julle hoort, die weg van God. Doen dit daagliks, doen dit met erns, doen dit met oorgawe.

Vyf oproepe, broers en susters, met eintlik net een boodskap: Julle het die naam dat julle lewe, dat julle glo, sorg dat dit van julle waar word. Waar word in alles waarmee julle besig is.

Hierdie, broers en susters, is nie te veel gevra nie. Inteendeel. Dit is die absolute minimum wat God van ons verwag. Wie sy/haar redding verstaan, God se liefde, genade en geduld met ons verstaan, sal dit doen. Want hy/sy sal nie anders wil lewe nie!
Amen