Openbaring 2:8-11

Is God werklik vir ons die hoogste goed in die lewe?



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus

Ek begin vanaand met 'n paar algemene opmerkings oor die boek Openbaring: Openbaring is geskryf aan die sewe gemeentes wat genoem word in Openbaring waarskynlik rondom 90 n C. Omdat hierdie soort van geskrifte net voorkom wanneer daar een of ander soort van verdrukking plaasvind, aanvaar ons dat hierdie sewe gemeentes in een of ander situasie van verdrukking verkeer, en dat God wil hê dat Johannes, met die gesig wat hy ontvang, hulle moet bemoedig. In die gesig sê God dat:

  • dat die boodskap van Homself kom,
  • dat hulle nie bekommerd moet wees nie want Hy is die Alfa en die Omega, die een wat is en wat was en wat kom, die een wat uit die dood opgestaan het, en
  • dat God hierdie sewe gemeentes en hulle sewe leraars in sy regterhand styf vashou.

Dus: ‘n boodskap van troos en bemoediging reg aan die begin van die brief. Dan, sien ons, gee God aan Johannes die opdrag om vir elkeen van hierdie sewe gemeentes ‘n brief te skryf. Vanaand gee ons aandag aan die tweede van hierdie sewe briewe - dié aan Smirna.

Smirna, broers en susters, is die enigste van die sewe gemeentes in Openbaring 2 en 3 wat vandag nog bestaan, te wete as Ismir. Verder is dit interessant dat die Christelike kerk vandag nog daar bestaan, en wel in die vorm van die Oosters-Ortodokse kerk waaraan meer as die helfte van die inwoners van die stad behoort. Dus, eintlik ‘n pragtige getuigskrif: ‘n gemeente wat heel waarskynlik in 55 n C gestig is, bestaan, amper 2000 jaar later, nog steeds.

Die eertydse Smirna was, net soos Efese (aan wie die eerste brief geskryf is ), ‘n groot handelstad met ‘n pragtige doeltreffende hawe. Ons lei af dat die inwoners waarskynlik baie ryk was, alhoewel die Christene nie in hierdie rykdom gedeel het nie (Op 2:9). Ons sal later sien hoekom.

Smirna was verder een van die sogenaamde vry stede in die Romeinse ryk van daardie tyd. Dit het beteken dat, alhoewel die stad deel van die Romeinse ryk was, dit nogtans die vryheid gehad het om oor sy eie sake te besluit. Daar was egter een voorwaarde aan hierdie vryheid verbonde: Hulle moes bereid wees om die keiser te vereer en aan hom offers te bring, of dan, in kort, om hom te aanbid.

Keiseraanbidding, broers en susters, was aanvanklik nie afgedwing nie, maar het eerder as ‘n gebaar van dankbaarheid teenoor Rome spontaan ontwikkel. ‘n Offer aan die keiser het byvoorbeeld, aan die een wat offer, by wyse van ‘n sertifikaat die reg gegee om handel te dryf, te produseer, te koop en te verkoop. Selfs aan Jode, wat hiertoe bereid was, het dit “burgerskap” beteken, ‘n “jy-is-nou-een-van-ons” houding van die Romeine se kant af. Aanbidding van die keiser, asook die aanvaarding van die Romeinse kultuur en wyse van lewe, was dus ‘n paspoort tot die lewe, geld en sukses.

Die stad as geheel, byvoorbeeld, omdat hulle elke dag ‘n offer aan die keiser gebring het, was beskerm deur Romeinse soldate op koste van die keiser. Daar was dus ‘n soort mentaliteit van “die een hand was die ander”, julle aanbid my, en ek sorg vir julle.

In hierdie omstandighede dan, broers en susters, moes die gelowiges in Smirna Christene wees of probeer wees. Logies was hulle nie bereid om die keiser te aanbid nie. Hulle het net een Here geken, Jesus Christus. En juis omdat hulle nie bereid was om dit te doen nie, het hulle in ‘n posisie van verontregting gestaan. As jy nie die keiser wou aanbid nie, kon jy nie produseer en verkoop nie, kon jy nie deel word van die ekonomie van die stad en die hawe nie, kon jy nie ‘n inkomste genereer nie. Juis daarom sê Openbaring 2:9 dat hierdie mense arm was. Arm as gevolg van hulle verdrukking deur Rome. Maar bes het hulle nie gegee nie, lei ons af, want die keiser sou hulle nooit aanbid nie.

Die ironie, broers en susters, was egter dat hierdie nie hulle enigste of grootste probleem was nie. Nee, daar was ‘n ander probleem, naamlik sommige Jode wat deel van hulle gemeenskap was. Ons moet onthou dat, na die opstanding van Jesus en veral die val van die tempel in 70 nC, baie Jode nie vroeë kerk, gegrond op die woorde en dade van Jesus, as ‘n sekte gesien het, dit wil sê, as ‘n afwyking van die ware geloof, die Jodedom wat net aan die Ou Testament vasgehou het.

Hierdie Jode, wat in hoofsaak bely het dat die mens slegs deur onderhouding van die wet gered kan word, en nie deur die geloof in Jesus Christus soos die Christene van Smirna geglo het nie, kan ‘n mens aflei uit veral buite Bybelse bronne en ander geskrifte, het die wêreld vir die Christene, waar hulle ook al gekom het, baie moeilik gemaak.

Een van die maniere, lees ons (veral in Lukas-Handelinge en Johannes), was om die Christene verdag te maak by die Romeinse owerhede. Ons moet goed onthou dat die Jode (die vroeëre Fariseërs wat heel waarskynlik later as die rabbi’s bekend begin staan het) by grasie van Rome oor Palestina regeer het. Juis daarom het hulle ook invloed gehad oral waar hulle gekom het. En die manier wat hulle gebruik het om die Christene te na te kom (omdat hulle godsdienstige verskille gehad het) was om hulle verdag te maak by die owerhede, veral as anargiste en oproermakers. En natuurlik het die Romeine hulle geglo. Want hulle wou dan juis nie die keiser aanbid nie.

Hierdie mense, sê Johannes hier (Op 2:9), behoort tot die sinagoge van die Satan. Hierdie teks moet ons goed verstaan, broers en susters. Johannes sê nie hier, soos sommige mense op grond van hierdie teks beweer, dat hulle die Satan aanbid het nie. Nee. Hy sê dat hulle tot die sinagoge van die Satan behoort het. Wat sou dit beteken?

Ek meen dat Johannes 9:34 en veral 12:42 ons hier kan help. Op grond van hierdie twee tekste is dit duidelik dat Christene, omdat hulle openlik Jesus as die Here bely het, uit die sinagoges geban is. Wat maak hierdie sinagoges dus: Hulle leef in teen die wil van die Here. Hulle is ongehoorsaam teenoor die Here. Sinagoge van die duiwel beteken dus nie dat hierdie mense die duiwel aanbid het nie, maar eerder teen die wil van die Here ingeleef het.

Dieselfde geld vir vers 10. Dit is nie die duiwel wat hierdie Christene in Smirna in die tronk gaan gooi nie, maar diegene wat teen die wil van die Here inleef. In tekste soos Lukas en Hebreërs, broers en susters, wat min of meer in dieselfde tyd as Openbaring geskryf is - en dus ook vervolging ervaar het as gevolg van weiering om die keiser te aanbid - lees ons (of kan ons ten minste aflei), dat die Jode die oorsaak was dat baie Christene in die tronke gegooi is omdat hulle sogenaamd teen die regering was. Dit sien ons, kom nou hierdie Christene in Smirna ook oor. Hulle word, ter wille van hulle geloof, in die tronke gegooi.

In hierdie omstandighede, sê Johannes in vers 10, is daar egter ‘n drievoudige troos vir hierdie Christene, indien hulle bly vashou aan die Here en getuies vir die Here bly. Hulle hoef nie bang te wees nie, want die lyding sal net 10 dae lank duur. Hierdie 10 dae, broers en susters, en dit is seker nie eers nodig om dit te sê nie, moet simbolies, en nie letterlik, verstaan word. Hoekom 10 dae? In die Ou Testament, veral in Daniël (1:12-15) en Esegiël, sien ons dat die tydperk van 10 dae dui op ‘n afgeronde tydperk van toetsing. Met ander woorde, die Here sal hulle nie bo hulle vermoë toets nie, hulle sal, indien hulle aan die Here vashou, die lyding kan weerstaan.

Tweedens, is hulle troos dat hulle die lewe as kroon sal ontvang. Hoekom? Want, sê Openbaring 2:8, die boodskap kom na hulle toe van die Eerste en die Laaste, die een wat dood was en weer lewend geword het. Dus, omdat Jesus klaar die dood oorwin het, sal hulle ook lewe, al sterwe hulle.

Die derde boodskap van troos (Op 2:11) sluit dan ook hierby aan: hulle sal nie deur die tweede dood getref word nie. Die term “tweede dood”, broers en susters, is ‘n tipiese Joodse uitdrukking vir die dood van die goddeloses in die hiernamaals. Hulle het geglo - vergelyk gerus Openbaring 20:14 (en ook Jesaja 25:8 en Jeremia 51:39 en 57) - dat diegene wie se naam nie in die boek van die lewe staan, na die dood weer sal sterf, want hulle sal in die vuurpoel gegooi word. Hulle sal dus, by wyse van spreke, twee keer doodgaan. Smirna se gelowiges sal egter die tweede dood vryspring, want omdat hulle volhard, is hulle name in die boek van die lewe, en sal hulle lewe, al het hulle ook gesterwe, soos Johannes dit in Johannes 11:25-26 so pragtig uitdruk.

Dus, broers en susters, die boodskap aan hierdie gemeente is eintlik baie eenvoudig: As gelowiges moet hulle hulle geloof uitleef in ‘n oorwegende heidense wêreld. Hulle word beproef/bedreig van twee kante af: Aan die een kant vanaf die kant van die Romeine. Indien hulle ekonomies vooruit wil gaan, en baie ander regte wil bekom, moet hulle bereid wees om die keiser te aanbid en te vereer. Van die ander kant af word hulle geloof bedreig deur Jode wat nie in Christus glo nie. Hulle word, omdat hulle Christus as die Here bely, uit die kerk van die dag geban, en ook in die tronke gegooi. Deur mense, sê Johannes, wat teen die wil van God inlewe, en dus as dienaars van die bose, van Satan getipeer kan word. Maar hulle moet net volhard, want hulle sal nie sonder God lewe en sterwe nie.

Wat sê dit vir ons as gelowiges vandag, wat nie in veel ander omstandighede Christene moet wees nie? ‘n Mens so baie toepassings kan maak, maar kom ons beperk ons net, ter wille van die tyd, tot ‘n paar voorbeelde of toepassings.

In die eerste plek, broers en susters, is daar ook baie afgode in ons tyd, soos die keiser ‘n afgod in die Christene van Smirna se tyd was, wat kan maak dat ons die ware Here verloën. Geld, byvoorbeeld, is maar net een. Ons samelewing word vandag veral gekenmerk deur ‘n hoë vlak van bedrog. So maklik kan die kind van God vandag ook, om homself te verryk, of selfs om, in ‘n baie harde ekonomiese wêreld te oorleef, tot bedrog of oneerlike praktyke wend. Dan verloën ons God se opdrag om deur harde arbeid ons brood te verdien, en maak ons materiële voorspoed die hoogste goed in die lewe, al vra dit van ons wat. Gelowiges wat hierdie pad stap, het klaar God verruil vir ‘n ander god, te wete geld en materiële voorspoed.

Hierdie gevaar lê self baie vlak in die lewe van die kerk. So maklik, broers en susters, kan dit ook in die lewe en werk van die kerk gebeur dat geld so belangrik word, kan dat ons so vasgevang word in ons pogings om ekonomies te oorleef, dat ons later begin vergeet waaroor kerkwees eintlik gaan, naamlik om God te dien.

Die boodskap aan hierdie gemeente was egter baie duidelik: Staan vas, beskou die Here en die dien van die Here as die hoogste goed, volhard daarin, want die beloning wag.

Sal dit nie wonderlik wees nie, broers en susters, dat, 2000 jaar vorentoe, ons kinders se kinders se kinders sal sê: Omdat die Christene, ons voorgangers, in hulle omstandighede, 2000 jaar gelede, volhard het, nie bereid was om die geloof op te gee vir ‘n makliker, wêreldse lewe nie, kan ons vandag nog deel van hierdie gemeente wees.

As ons geloof ware geloof is, en ons belydenis dat God alleen die lewe sinvol maak, ‘n ware uit-die-hart-belydenis is, sal dit so wees. En God belowe ons, soos hy die Christene in Smirna belowe het, dat Hy die pad elke dag saam met ons stap

Dit is ons heerlike taak!
Amen