Openbaring 3:14-22

Is ons vir God bruikbaar?



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus

Ons gee vanaand aandag aan die sewende en laaste brief van Johannes aan die sewe gemeentes, te wete die brief aan die gemeente in Laodisea.

Die verse in hierdie gedeelte, broers en susters, wat baie duidelik uitstaan, (verse wat die meeste van ons miskien ken), is verse 15 en 16: Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.

Hierdie twee verse, broers en susters, het in die volksmond, wil ek amper sê, ‘n standaard verklaring ontvang, of anders gesê, mense sê (en hieroor is groot eenstemmigheid) dat hierdie twee verse die volgende beteken:

As gelowige, as kind van God, moet ‘n mens een van twee dinge doen: Of jy moet warm vir die Here wees, of yskoud. Betekende dan: Wie warm vir die Here is kom elke keer kerk toe, lees die Bybel sonder ophou, bid sonder ophou, is die hele dag met die Here besig, is die hele dag besig om goeie werke te doen. Alles is godsdiens, van die oggend tot die aand. Want dan is jy ‘n “warm” Christen. Aan die ander kant: koud wees vir die Here beteken om te glo Ä ja, ‘n mens moet darem glo Ä maar verder moet jy nie te aktief wees nie. Om die waarheid te sê: indien jy nie kans sien om sogenaamd “warm” vir die Here te wees nie (soos hierbo beskryf), dan moet jy liewers niks doen nie. Koud wees vir die Here. Hoekom: want hierdie verse sê mos. Wees liewers warm of koud. Maar moet net nie lou wees nie. Moet dus nie so halfpas probeer nie. Sit óf alles in óf doen liewers niks. Want die Here sê: diesulkes, hulle wat nie warm of koud is nie, hulle wat so halfpas probeer, hulle wat lou is, hulle sal Ek uit my mond uitspoeg.

Wat eenvoudig beteken, broers en susters, dat nie een van ons dit sal maak nie. Want nie een van ons is altyd “warm” vir die Here nie, om die term van die teks te gebruik. Ja, natuurlik is ons godsdiens vir ons ‘n erns, maar kan ons sê dat dit altyd ons erns is? Aan die ander kant weer, broers en susters, is ons ook nie koud vir die Here en die saak van die evangelie nie. Ons staan tog nooit totaal negatief en belangeloos teenoor God en die evangelie nie. Al dwaal ons soms af. Al doen ons soms sonde.

Nee. Die beste waarop ons lewens voor God beskryf kan word, is dat ons in die meeste gevalle lou is. Bedoelende: ons weet ons kan beter, maar ons doen darem ook tog nie niks nie. Ons lewe verantwoordelik voor God en sy gebod, maar nie altyd nie. Ons dien God, maar nie altyd soos ons sou wou nie. Ons is dus, in terme van die teksverse, lou. Met die implikasie dan: dit is verby met ons. Want warm is die beste, koud is ook aanvaarbaar, maar net nie lou nie. Dan sal die Here jou verwerp. Jou uit sy mond uitspoeg. ‘n Verklaring van hierdie verse dus, broers en susters, waarmee jy iemand lekker kan dreig om sy sokkies in die geloof op te trek.

Ek wil egter vanaand beweer, broers en susters, dat hierdie ‘n totale misverstaan van hierdie twee verse is, veral omdat dit nie die hele brief aan die gemeente in Laodisea in ag neem nie. Ek wil dus beweer dat, indien ons gaan kyk na wat in die res van die brief staan, en ook hoe hierdie stad gelyk het, ons ‘n ander moontlike verklaring van hierdie twee verse sal kan gee.

Die stad Laodisea, broers en susters, het die volgende uitstaande kenmerke gehad:

  • Naby aan die stad was daar warmwaterbronne soos ons dit vandag ken. Die water van hierdie bronne het dan ook na die stad toe geloop en is gebruik as drinkwater. Dit was lou teen die tyd wat dit by die stad aangekom het, en moes dus eers afkoel voor dit gedrink kon word. Van die warm water by die bronne self is geglo dat, indien jy daarin gaan sit, dat baie siektes genees het.
  • Die ander naaste water was aan die ander kant van die stad, naby Kolosse. Hierdie water was baie koud, reg om gedrink te word, maar te ver van die stad af.
  • Van die boere rondom die stad het egter met ‘n soort swart bok geboer wat hierdie water gedrink het. Van die wol van hierdie bokke is dan ook pragtige klere, swart klere, gemaak wat oral bekend was in die streek.
  • Verder het die stad Laodisea ook bekend gestaan as die plek waar die meeste oog- en oorsiektes genees kon word. Van die kalk wat uit die water by die warmbronne geskif het, het hierdie mense ‘n mengsel gemaak waarvan geglo is dat dit enige oog- en oorsiekte kan genees.

Met hierdie as agtergrond, broers en susters, kom ons kyk weer na hierdie twee verse. Wat sê God presies hier? Ek meen die volgende: die warm water by die bronne self kan gebruik word. Mense kom sit daarin en word gesond, en julle gebruik dit ook om van salf te maak vir allerhande siektes. Aan die ander kant is die koue water naby Kolosse ook bruikbaar, want die bokke Ä van wie se wol julle die mooi klere maak, drink dit.

Maar julle, inwoners van Laodisea, julle is nie vir my bruikbaar nie. Julle is soos die lou water wat by die dorp uitkom wat, indien ‘n mens dit dadelik wil drink, dit jou naar maak en daarom uitgespoeg word. Soos dit is, is dit onbruikbaar. Met ander woorde, soos julle is, is julle vir my onbruikbaar.

Vind ons verdere bewyse in die brief dat so ‘n verklaring moontlik is, broers en susters? Ek meen so. Hoekom is hierdie gemeente nie meer vir God bruikbaar nie? Vers 17 sê dit. Hulle sê: Ons is skatryk, ons het niks meer nodig nie. Ook nie meer vir God nie. Hulle het so selfversorgend geword, so ryk geword, sulke goeie medisyne vir allerhande siektes uitgevind, sulke mooi klere gehad om aan te trek, dat hulle begin sê het: Eintlik het ons nie meer vir God nodig nie.

Daarom sê God vir hulle (en hierdie is baie interessant): Kom koop by my goud, ware rykdom, dit wat gelouter is en vir ewig sal bly bestaan, dit wil sê, kom koop by My die evangelie en redding. Kom koop by My ook wit klere, dit wil sê, laat Ek julle sondes afwas. En laastens: Kom koop by My oogsalf. Oogsalf wat, indien julle dit aansmeer, julle sal sien hoe nodig julle My het.

Die boodskap van hierdie brief, broers en susters, meen ek dus handel oor die vraag: Is ons vir God bruikbaar? Die warm/koue water is bruikbaar, maar nie die lou water nie. Daarmee kan niks gedoen word nie. Net soos God niks met mense kan doen wat meen dat hulle so welgesteld en selfversorgend geword het, dat hulle begin meen dat hulle ook nie vir God nodig het nie. Omdat hulle dink dat hulle God nie nodig het nie, dink hulle nie daaraan dat God hulle dalk nodig het nie.

God, broers en susters, kan natuurlik sonder ons klaarkom. Want God is almagtig. Maar God werk nie so. God het dit so gekies dat ons die werk wat Jesus Christus begin het, die verlossing wat Hy gebring het, moet voortsit. Dat ons nou, soos Hy toe Hy nog op aarde was, aan almal God se liefde en genade en verlossing sal verkondig.

Met woord en daad. Met ander woorde, deur toe te laat dat ons hande God se hande word, ons oë God se oë, ons woorde God se woorde, ons aanraking God se aanraking, ons geduld God se geduld, ons vergifnis God se vergifnis, ons liefde God se liefde. Want so wil God ons gebruik. Want dit is die enigste manier waarop die wêreld, ander gelowiges en ongelowiges kan sien wie en wat God - en sy boodskap - werklik is.

Laat u toe, broers en susters, dat God u gebruik? Is u beskikbaar vir God? Het die gemeente u al geroep tot ‘n bepaalde taak, maar u het geweier? Wat was die redes daarvoor? Geregverdig, of nie-regverdigbaar? Wat staan in ons pad dat God ons regtig kan gebruik? Het ons werklik al die tekortkominge en gebreke wat ons dink ons het, en daarom sogenaamd nie die werk van die Here kan doen nie? Is my tyd werklik so min dat ek niks meer tyd vir die kerk oor het nie?

Dit, broers en susters, is die vrae wat hierdie teks van vanaand na vore roep. Dit is vrae wat die Here aan ons elkeen persoonlik vra. Dit is vra wat u nie hoef te beantwoord aan ander mense nie. Want hierdie saak is nie ‘n menslike saak, ‘n saak tussen mens en mens nie. Nee. Hierdie is ‘n saak tussen mens en God. Aan Hom moet dus die antwoorde gegee word.

En sy vraag vanaand aan u en my is: Is jy beskikbaar en bereid vir my werk? Is jy bruikbaar, of is jy nie?
Amen