Openbaring 2:12-17

Wat is die gelowige se eerste taak en opdrag in hierdie wêreld?



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus

Ons gee vanaand aandag aan die brief aan die gemeente in Pergamum. Die skrywer begin deur te sê dat die stad waarin hierdie gemeente woon, of dan, die plek waar hulle hulle bevind, die plek is waar die troon van Satan is. Die eerste gedagte wat by ‘n mens opkom wanneer ‘n mens die teks so met die eerste oogopslag lees, broers en susters, is dat hierdie mense in ‘n stad gewoon het waar Satan aanbid is. Met ander woorde, soos ons dit vandag in ons tyd ken en dikwels daarvan hoor en lees, dat daar in hierdie stad ‘n plek was waar Satan as persoon/persoonlikheid/mag - hoe ons ook al die Satan/bose wil beskryf - aanbid is. Uit die teks, en as ons die omstandighede van hierdie gemeente in ag neem, wil dit egter nie so lyk nie. Ek wil dus beweer dat ons hier ‘n bietjie anders moet dink as wat ons normaalweg dink wanneer ons in vandag se tyd van Satansaanbiddery hoor of lees. Kom ek verduidelik:

Die uitdrukking, die troon/plek van Satan, in vers 13 kan op verskeie maniere verklaar word:

  • Die eerste moontlikheid is dat hierdie uitdrukking hier verwys na die Asklepion, die tempel van Asklepios wat in hierdie stad bo op ‘n heuwel gestaan het. Die god Asklepios het as “die redder” bekend gestaan, en sy embleem was ‘n slang. (Dit is dan ook waar die gebruik vandag nog vandaan kom om die slang as embleem te gebruik vir veral die mediese wetenskap wat “red”/gesond maak.) Die wyse waarop Asklepios aanbid is, is dat siek mense in die donker tempel vir ‘n nag gelos is, en dan geglo is dat van die sogenaamde “mak” slange in die tempel hulle sou kom aanraak/pik, wat dan sogenaamd tot genesing gely het. Baie mense van oor die hele Klein-Asië het daarom soms ook soontoe gestroom. Want daar was redding, is geglo. As ons nou in ag neem dat die gelowiges in Pergamum heel waarskynlik die die slang van Genesis 3 met Satan verbind het, is dit dan verstaanbaar dat hulle hierdie tempel as die tempel van Satan gesien het.
  • 'n Tweede moontlikheid is natuurlik dat hierdie uitdrukking na die tempel van Zeus, die hoofgod van die Grieke, verwys. Soos in die geval van Asklepios, was daar ook ‘n tempel vir Zeus in die stad, ook hoog op een van die heuwels wat die stad omring het. Van Zeus is geglo dat hy nie alleen ‘n god was nie, soos die God van die Christene ook as een van die “gode” gesien is, maar die hoofgod. Die god van al die gode, by wyse van spreke. En omdat die Christene dit logies nie saam met ander inwoners in die stad wou bely, of offers aan Zeus wou bring nie, en die Zeus-godsdiens seker ook maar as ‘n teenstander in die verkondiging van Christus ervaar het, het hulle die tempel as die plek van Satan beskryf, as die plek wat die Christelike godsdiens wou teëstaan en vernietig.
  • Daar is egter ook ‘n derde moontlike verklaring van hierdie uitdrukking, broers en susters, wat myns insiens die heel waarskynlikste is. U sal onthou dat ons op ‘n vorge keer gehandel het oor die keiseraanbidding wat aan die orde van die dag was in die die tyd wat hierdie boek geskryf is. Omdat die keiser die sogenaamde “vredebringer” was, die “heilbringer”, die magtigste persoon van daardie tyd, het daar gou die gedagte ontstaan dat hy god self was. Wat op sy beurt weer gelei het tot ‘n kultus van keiseraanbidding.

Pergamum, broers en susters, was die hoofsetel van hierdie kultus. Ons lees dat keiser Augustus reeds in die jaar 29 n C toestemming gegee het dat ‘n tempel in Pergamum gebou kon word tot eer van die “goddelike Augustus”, en ook vir die “godin Rome”, verwysend na die Romeinse staat. Dus, Pergamum was dié plek waar die Christene die keiseraanbidding op sy felste beleef het en moes teenstaan.

Die wat nie die keiser wou aanbid nie, het natuurlik groot probleme gehad. Ek wil nou nie weer hierop uitbrei nie, maar in kort het dit daarop neergekom dat die wat nie voor die keiser se beeld wou buig of tot ere van hom wou offer nie, of van hulle alledaagse voorregte ontneem is (soos die geleentheid om te werk en handel te dryf), of in die tronk gegooi is (omdat hulle dan kwansuis teen die staat sou wees), en soms selfs gedood is. Die keiser was dus teen die Christelike evangelie, die teenstander van God, en daarom niks anders as die Satan nie. Daarom, Pergamum was die plek waar die troon van Satan was.

Verder, broers en susters, het die prokonsul (amptenaar) van Rome (iets soos ‘n burgemeester), wat in beheer was van Per-gamum, die “reg van die swaard” van die keiser ontvang om die reg te handhaaf. Met die swaard is almal en almal se regte in die stad sogenaamd beskerm. Daarom begin die brief ook met die uitdrukking dat dit kom van Hom “wat die skerp swaard met twee snykante het”. Hierdie swaard, met twee, en nie net maar een snykant nie, dit is regverdigheid. Dit is verlossing. Dit red en beskerm. Want dit is God se swaard, dit is regverdigheid, dit bring ware vrede, en nie die valse, wrede vrede van Satan/keiser/ Rome nie.

Soos in die geval van Smirna broers en susters, die vorige brief, was hierdie verdrukking deur onder andere die swaard egter nie die grootste bedreiging vir die voortbestaan van hierdie gemeente en die volgehoue verkondiging van die ware evangelie nie. Die grootste gevaar vir die voortbestaan van die gemeente, en die evangelie, het dus nie van buite gekom nie, maar van binne.

Wat was hierdie gevaar. Party gelowiges in die gemeente, sê Johannes, het die leer van Bileam begin aanhang. Met die leer van Bileam word hier nie bedoel ‘n bepaalde leerstuk nie, maar het eerder te make met die feit dat Bileam se advies aan die volk (waarvan ons in Numeri 22 en 31 lees), daartoe gelei het dat Israel met die vroue van Moab onsedelikheid begin bedryf het, en in ruil daarvoor begin het om die god van die Moabiete te aanbid en ook aan hulle heidense feesmale deelgeneem. Bileam het dus vir Balak, die koning van Moab, beïnvloed om Israel sedelik te ondermyn deur sy vroue tot hulle beskikking te stel. En laat ons maar sê, broers en susters, sedelike verval is ‘n magtige “vreedsame” wapen om mense af te takel.

Ons lei dus af dat van die lede van die gemeente dus begin het om aan die heidense feesmaaltye rondom hulle deel te neem, en op die spyskaart van hierdie maaltye was daar altyd ‘n tikkie godsdiens, ‘n maaltyd en onsedelikheid.

Hiervan moet die gemeente hulle bekeer, sê die Here. As hulle dit doen, sal hulle twee belonings ontvang: Die verborge manna, en ‘n spierwit klippe met ‘n nuwe naam daarop gegraveer. Die verborge manna waarna hier verwys word, broers en susters, verwys heel waarskynlik na die manna wat in die ark bewaar is (Eks 16) wat die volk altyd aan God se voorsiening tydens die trektog deur die woestyn herinner het. Met ander woorde, God belowe aan hulle sy versorging en teenwoordigheid. Hulle kan weet: hulle lewe nou en in die toekoms uit die hand van God. En daardie hand sal sorg.

Die tweede beloning is dat hulle ‘n spierwit klippe sal ontvang met ‘n nuwe naam daarop geskrywe, wat niemand anders ken nie, net hy wat dit kry. Daar is verskeie moontlike verklarings vir hierdie wit klippie. Daar was byvoorbeeld in daardie tyd aan die einde van ‘n verhoor aan die beskuldigde een van twee klippies gegee, ‘n witte of ‘n swarte. Wat dit ‘n swarte, was hy skuldig, was dit ‘n witte, dan is hy vrygespreek. So verstaan, sê God dat, as hulle hulle bekeer, hulle vrygespreek sal word.

'n Tweede moontlikheid is dat bepaalde klippies soms gebruik is as ‘n soort van toegangskaartjie tot sekere feeste, veral koninklike maaltye. Wie dus die klippie ontvang, sal eendag toegang by God se feesmaaltyd kry.

Daar is egter ook ‘n derde moontlikheid: in die antieke wêreld het mense die gewoonte gehad om hangertjies te dra met ‘n geheimsinnige naam daarop gegraveer, wat as hulle beskerming moes dien. Indien iemand anders as hy wat die hangertjie dra, in staat was om die naam op die hangertjie uit te lê, is daar geglo, het hy mag gekry oor die draer van die hangertjie. (Iets soos die toordoktersgeloof in ons tyd.) Indien ‘n ander persoon dit egter nie kon doen nie, het die draer van die hangertjie mag oor hom gehad.

Nou sien ons dat die gelowiges ‘n klippe sal kry met ‘n geheimsinnige naam daarop, wat net hulle ken, en niemand anders nie. Dus: God sal hulle teen alles en almal beskerm, hulle moet net in die geloof aan Hom vashou.

Dit, broers en susters, is min of meer die inhoud van hierdie boodskap aan Pergamum. In die toepassing daarvan op ons, wat vandag soveel jare later leef, en seker ook nie meer dieselfde soort van gewoontes het nie, wil ek, ook ter wille van die tyd, net aan een aspek wat uit hierdie brief na vore gekom het, aandag gee.

Die grootste gevaar vir die kerk, die voortbestaan van die kerk, maar ook die voortbestaan van die evangelie, is dat ons soms dink dat ons grootste teenstand van buite af, van die wêreld af kom. Daarom reageer ons soms fel, en dit is natuurlik nodig, teen alles in die wêreld wat teen die evangelie is. Ons kan maar net dink aan die pas afgelope wetgewing oor aborsie en pornografie, om nie eers te praat van die miskenning van die dag van die Here nie.

Natuurlik is dit nodig dat die kerk aan hierdie sake sal aandag gee en daarop reageer. Maar soms, broers en susters, wil dit voorkom dat ons so besig met al hierdie dinge is, dat ons ophou aandag gee aan die dinge binne die kerk wat net so ‘n kanker is wat aan die lewe van die kerk kan vreet.

Daar is soms onder ons soveel liefdeloosheid in, belangeloosheid teenoor, en onbetrokkenheid ten opsigte van die kerk en die werk van die kerk. Aan die een kant skree ons dus wolf-wolf teenoor die wêreld, maar in eie boesem is die klein jakkalsies, by wyse van spreke, besig om die wingerd te verniel.

Die kerk sal nooit, broers en susters, nooit, enige getuieniskrag teenoor die wêreld hê indien die wêreld nie sien, werklik sien, dat wanneer die kerk praat, dit ‘n gemeenskap is wat praat wat anders is nie, ‘n gemeenskap wat werklik self bepaalde waardes aanhang en dit onverskrokke uitleef nie.

So, kom ons begin liewers by onsself. Kom ons leef eers die liefde in die kerk, en in besonder die gemeente uit, kom ons kry eers ons eie huis in orde. Dan kan ons, en sal ons, met oortuiging teenoor die wêreld kan getuig wat God wil hê. Want eers as die wêreld sien, in ons lewenswyses, dat hierdie God in wie ons glo, vir ons werklik belangrik is, werklik normatief vir die lewe is, sal hulle begin glo dat dit dalk ook so moet wees wat die gemeenskap en wêreld betref.

Ons kan tog nie die wêreld bekeer as ons nie eers self bekeer is nie. Ons kan tog nie die wêreld ‘n beter plek probeer maak, ‘n plek van vrede, verdraagsaamheid, ‘n plek waar verskille gerespekteer en erken moet word, as al hierdie dinge nie eers in die kerk werklik ‘n werklikheid geword het nie.

Dit is ons opdrag. En dit is moontlik. Want soos in die geval van Pergamum, belowe God aan ons ook sy versorging en bystand, nou en vir altyd. En ons ken mos die enigste naam op hierdie wêreld wat werklik iets werd is, wat sin kan gee in alles: Jesus Christus. As Christene, met ander woorde, volgelinge van Christus, is hierdie ons taak. Ons kan daarby nie verby nie.

En ons het soveel geleenthede. Waarvan die eerste hierdie week is wat ons onsself moet ondersoek voor ons volgende Sondag aan die tafel van die Here kom aansit. Kom ons kry eers die eie huis in orde, kom ons sit eers aan die tafel van die Here aan as werklike geloofsgenote, want dan sal ons met krag teenoor die wêreld kan getuig.
Amen