Matteus 5:1-12

Heilige vreugde: wat is dit, en het ons dit? (Preek 1)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Tydens Jesus se lewe op aarde het niemand meer rede gehad om ongelukkig te wees as Hy nie — en tog was daar niemand vreugdevoller as juis Hy nie. Hy wat God was, sê Filippense, het mens geword, en selfs nog meer, dienskneg vir die mense vir wie Hy mens geword het.

Op harde grond het Hy geslaap, en as Hy gelukkig was, op 'n geleende bed, kan 'n mens uit die Evangelies aflei. Hy het nooit enige vorm van vervoer gehad nie, ook nie volop kos nie. Van die graan van die lande en vrugte van bome het Hy geleef. Hy het geweet hoe dit voel om nat te reën, wat dit beteken om geen blyplek te hê nie, om deur jou dorp en mens verwerp te word. Party het selfs gesê Hy is mal, of dat Hy van Beëlsebul is, 'n gesant van die duiwel.

Hy wat nooit geweet het wat dit is om siek te wees nie, was nou omring deur siekte. Hy wat God is, is nou bespot, en deur die mense, vir wie Hy juis mens geword het, is hy tereggestel sonder 'n regverdige verhoor.

Die wat Hom nie bespot het nie, het Hom probeer misbruik. Hulle wou gunste hê, hulle wou toertjies en wonders sien. Baie wou saam met Hom gesien word, by Hom wees, omdat hulle iets daaruit kon kry.

Tot dit uit die mode geraak het om saam met Hom te wees of om te erken dat jy Hom enigsins geken het. Hy is ten einde laaste beskuldig van 'n misdaad wat Hy nooit gepleeg het nie. Getuies is gehuur om te lieg en Hom uit te verkoop. Niemand is aangestel om Hom te verdedig nie. 'n Regter het, op grond van politieke druk die doodsvonnis oor Hom uitgespreek.

Hy is, na die mees skandelike dood aan die kruis, in 'n geleende graf begrawe, as dit nie was vir 'n paar laaste goedgesinde vriende nie.

Vanuit hierdie hoek gesien, broers en susters, moes Jesus eintlik 'n baie ongelukkige en verbitterde mens gewees het. 'n mens sou selfs kon sê dat Jesus rede gehad het om woedend vir die mense te wees vir wie Hy juis mens geword het.

Maar Hy was nie. Inteendeel. Hy was vol blydskap en vreugde. Mense, broers en susters, loop nie agter swaarmoedige en negatiewe mense aan nie. En mense weet ons, het in hulle massas Jesus gevolg. Mense luister ook nie na jobstroosters nie. En die mense, weet ons, het oor mekaar geval om na Hom te luister. Hoekom?

Hy was vol blydskap. Al het Hy niks gehad nie, was Hy blymoedig. Al het feitlik almal Hom verlaat, Hy het blymoedig sy pad bly stap. En selfs toe Hy aan 'n kruis gespyker was, het veroordeling en woede nie die oorhand in sy lewe gekry nie.

Jesus, broers en susters, was die toonbeeld van hardnekkige blydskap. So stel Bonhoeffer dit. Blydskap wat geweier het om te swig voor die winde van swaar tye. Blydskap wat kon stand hou teen pyn, verwerping en onregverdigheid.

Watter soort blydskap is hierdie, broers en susters? Wat is hierdie blymoedigheid wat in Jesus was? Ek wil dit vanoggend beskryf met die uitdrukking heilige vreugde. Dit is heilig, want dit is nie van hierdie wêreld nie. Dit is heilig, want dit behoort aan God, en kom van God.

Dit is egter ook vreugde wat verras, wat mense se lewens verander het. Dit is die uitdrukking op Andreas se gesig by die aanskoue van brood en vis wat eenvoudig net nie opraak nie. Dit is die uitdrukking op die melaatse se gesig omdat waar net 'n stompie was, nou 'n vinger is, dit is die vonkel in die oog van 'n moeder wat kos by 'n feesmaal voorsit wat eintlik vir die begrafnis van 'n kind bedoel was. Dit is die uitroep van 'n parapleeg wat vanaf sy bed opstaan en daarvandaan wegloop, van 'n verlamdes wat sy krukke eenkant toe gooi en letterlik bollemakiesie wil slaan.

Net so, broers en susters, is daardie gevoel waar 'n dag se loon betaal word aan hulle wat net een uur gewerk het, die daad van 'n pa wat die reuk van varke van sy kind se rug afskrop, die gevoel in die hart van 'n owerspelige vrou wat vergewe uit 'n binnehof stap met klippe wat besaai lê en nie mee gegooi is nie.

Heilige vreugde, broers en susters, is die goeie nuus wat by die agterdeur van 'n mens se hart inkom. Dit is dit waarvan jy altyd gedroom het, maar gedink het dit nooit kan gebeur niet. Dit is dit wat te goed was om waar te wees wat bewaarheid geword het. Dit is om te weet dat jy God se kind is, al is dit eintlik, op grond van wat jy is, nie moontlik nie. Dit is om God as jou vader te hê, jou advokaat en trooster (soos Johannes dit stel). Dit is om te weet dat God aan jou kant is, dat Hy jou verstaan, dat Hy weet wat jy nodig het.

Hierdie dinge, dit wat God is en wat Hy ons gee, behoort ook in ons, broers en susters, 'n heilige vreugde te laat lewe. Heilig, omdat God dit vir ons gee. En vreugde, omdat God se handelinge in ons lewe ons roer. En omdat dit heilig is, broers en susters, kan dit nie van ons gesteel word nie, wat meer is, dit kan ook nie voorspel word nie. Want dit is vreugde wat God vir ons gee omdat Hy dikwels vir ons so verrassend goed is, dat ons dit eenvoudig net nie kan glo nie.

Dit is vreugde wat in die oë van doopouers vanoggend hier by die doopvont behoort te skyn. Omdat nie hulle, of ons, dit enigsins werd is om kinders as geskenke van God te ontvang nie. Meer nog: dat nie een van ons dit werd is om 'n verbond mee gesluit te word nie. Want ons kant van die verbond, die gehoorsaamheid wat God van ons vra, kan nie een van ons nakom nie. Nie een van ons, of ons nou vanoggend ons kinders doop of al gedoop het nie, kan werklik ons doopbelofte, soos God wil, uitleef en nakom nie, maar tog sluit God met ons hierdie verbond. En daarom behoort heilige vreugde ook in ons te leef. Vreugde wat uitstyg bo die alledaagse van elke dag, bo die middelmatige in die lewe.

Hoe, broers en susters, word hierdie vreugde, dit wat in Jesus was, ook deel van ons lewens. Jesus, die Een wat die definisie van vreugde was, sit dit vir ons hier in Matteus 5:3-10 baie duidelik, en baie eenvoudig, uiteen.

Dit begin waar ons ons nood, die onmoontlikheid om jouself te red, besef, en ons daarom algeheel afhanklik voor God verklaar. Waar ons uit ons eie mensgemaakte lewetjie uitstap en voor God gaan staan soos ons is, as bedelaars wat niks verdien nie.

Wanneer dit gebeur, sê Jesus, wanneer iemand so voor God gaan staan, sien so iemand raak hoe anders hy/sy as God is, hoe sondig ons is. Dit laat ons dan treur oor ons toestand. So iemand, sê Jesus, word dan sagmoedig, hy hou op om te wil voorskryf en gee die beheer van sy lewe aan God oor. Want dan gebeur, sê Jesus, is wonderlik. Want dan word so iemand so dankbaar en afhanklik van God se teenwoordigheid in sy/haar lewe, dat hulle honger en dors word na God, dat hulle begin smag na meer en meer van God se teenwoordigheid.

En omdat God hulle bly vergewe, vir hulle bly goed wees, word sulke mense, sê Jesus, ook goed vir ander. Hulle word barmhartig. Hulle sien ander raak, omdat God hulle raaksien.

Dan sê Jesus word sulke mense rein van hart, hulle verander hulle lewensopvatting, en leef die vreugde wat God gee so in hulle harte, dat hulle vredemakers word, en mense wat in vervolging 'n blydskap uitstraal wat ander nie kan verstaan nie. Want die blydskap wat dan in hulle leef, is nie van hierdie wêreld nie, dit kom van God.

Hoe ver, broers en susters, het u en ek al op hierdie pad gestap? Hoe lyk ons vreugde? Word dit nie maar te dikwels geblus deur slegte weer, verkeersknope, lang toue en so baie gebeurlikhede van elke dag nie? Word ons vreugde, broers en susters, die feit dat ons aan God behoort, dat ons sy kinders is en mag wees, en dat ons daarom anders behoort te wees, nie te maklik deur omstandighede geroof nie?

En hoe kan ons, broers en susters, veral in tye en omstandighede soos hierdie, 'n doopbelofte voor God en aan ons kinders uitleef as daar niks van God se vreugde in ons harte leef nie? Vreugde wat verras, wat die wêreld kan toon en ons kinders kan leer dat om aan God te behoort, die heel beste is wat ons ooit kon kry.

As dit nie vir ons, broers en susters, die heel beste is nie, sal ons nooit deur leer en lewe ons kinders kan bring dat dit ook vir hulle die heel beste is nie.

Kom ons gaan lees vanoggend by die huis weer rustig deur hierdie gedeelte in Matteus 5. En kom ons gaan bepaal waar ons staan wat betref hierdie pad na vreugde wat Jesus Christus vir ons hier so eenvoudig uitgespel het.

Dalk sal ons dan verstaan hoekom ons lewens soms so anders is as wat God wil hê dit moet wees, hoekom lewensvreugde, lewe gewende vreugde, dit wat ons lewens anders behoort te maak, behoort te laat uitstyg bo die alledaagse, so skaars in ons en om ons is.

Maar ook: hulle wat hulle weer afhanklik voor God stel, en dan die pad stap wat hier in Matteus 5 beskryf word, hulle sal verbaas staan omdat die brood en vis nie opraak nie, hulle sal ervaar dat hulle vry wegstap terwyl die klippe waarmee gestenig moes word op die grond bly lê, hulle sal blomme in die brakland van die lewe sien wat ander nie sien nie, hulle sal hoop sien waar ander hooploos geword het, ja, hulle sal lewe, waar ander reeds die lewe afgeskryf het.

Mag dit u ervaring wees, my broer en suster. En mag u wat vanoggend u kind kom doop, hierdie ervaring aan u kinders voorleef. Want dit is tog ook wat die doopbelofte van ons verwag.
Amen