Matteus 5:3

Ons God van verrassings (Preek 2)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ek het by geleentheid oor hierdie selfde teks gepreek waarin ek probeer sê het dat hulle wat werklik afhanklik voor God lewe, mense is wat vreugde beleef juis omdat hulle God met al die voorspoed en teenspoed in hulle lewens vertrou. Vanaand wil ek dieselfde teks gebruik (in die reeks preke oor die saligsprekinge) om aan te toon dat hulle wat werklik op God vertrou, mense is wat beleef dat God vol verrassings is, of anders gesê, dat hulle wat werklik afhanklik voor God lewe, ervaar dat God so in hulle lewens handel dat 'n mens soms totaal verstom staan oor hoe God soms in hulle lewens handel. Handelinge van God wat bepaalde invloed behoort te hê op ons verhouding met God.

Maar hierby sal ek aan die einde van die preek vanaand kom. Ek wil egter begin deur aan u vier vertellinge uit die Bybel voor te hou. Vertellinge wat pragtig illustreer wat met mense gebeur wat eers nie afhanklik voor God wou lewe nie, en wat die resultaat daarvan was, maar tog hierna bereid was om hulleself afhanklik voor God te verklaar, en wat dan die uiteinde daarvan was.

Die eerste verhaal is die van Sarai en Abram in Genesis 16. In hulle gryse ouderdom beloof God aan Abram en Sarai 'n seun. Maar na tien jaar in Kanaän besluit hulle dat God tog nie sy belofte gaan nakom nie, en besluit daarom om selfs iets aan die saak te doen.

Oortuig deur Sarai dat God hulle in die steek gelaat het, besluit Abram om Hagar (een van sy slavinne) as vrou te neem. En toe Hagar agterkom sy is swanger, begin die probleme. Hagar is hoogmoedig. Sarai is jaloers. En Abram is skoon duiselig van al die probleme in sy huis. Selfs God noem die seun ‘n ‘wilde donkie’, iemand wat uit hardkoppigheid gebore is om al skoppende die lewe in te gaan.

Veertien jaar later besoek God egter weer vir Sarai en Abram. Teen hierdie tyd het Abram opgehou om na Sarai se raad te luister, en sy self het seker al opgehou om dit te gee. Begin dink aan 'n naam vir julle seun, is God se woorde. En Abram en Sarai reageer albei dieselfde: hulle lag. Deels seker omdat dit te goed is om waar te wees, maar seker dalk ook uit blydskap dat dit miskien tog wel kan gebeur. En dan gebeur vir hulle die sogenaamde onmoontlike: Isak word gebore.

Maar God gaan ook verder: Abram, die vader van een, word nou Abraham, die vader van 'n menigte. Sarai, die onvrugbare, word Sara, die moeder. Ook hulle ingesteldheid verander God, en hulle geloof. Veral die wyse waarop hulle die woordjie onmoontlik verstaan het. Maar ook verander God hulle gesindheid oor vertroue in Hom. En wel op so 'n manier dat Abraham en Sara, heel waarskynlik na Isak se geboorte gesê het: God is altyd reg. As jy dinge op jou eie manier doen, kry jy kopseer. Maar as jy God laat oorneem, kry jy 'n seun.

Die tweede verhaal is die van Petrus in Lukas 5. Die hele nag het Petrus en sy maats vis probeer vang. Keer op keer het hulle die net ingegooi, om dit maar net telkens leeg uit te trek. En teen dagbreek was die bootjie op die strand en hulle gereed om huis toe te gaan.

Maar dan kom die opdrag van Jesus wat 'n rukkie vroeër langs die see begin leer het: vaar weer in en gooi die net uit.

As visserman wat geweet het dat 'n mens op die Gennesaretmeer net in die nag vis kan vang, en nie in die dag nie, het Petrus heel waarskynlik met 'n gebrom van beterweterigheid die meer ingeroei. Nogal diep water toe, om alles te kroon, want dit is waarheen Jesus hulle gestuur het.

Om maar net met die eerste intrek van die net amper oor die boot se kant geruk te word van die gewig van al die visse in die net. En die les wat Petrus geleer het? Hy het besef wie hy is, naamlik dat hy die een was wat vir God gesê het dat Hy nie weet wat Hy doen nie. Daarom ook sy belydenis aan die Here: gaan van my af weg Here, want ek is ‘n sondige mens. Ek het nie geglo dat so iets moontlik is nie, want ek was nie bereid om my afhanklik voor u te verklaar nie. Maar nou besef ek, waar ek sê onmoontlik, daar sê u: maklik.

Die derde verhaal is die van Saulus. Voordat Hy Christus ontmoet het, was Paulus ietwat van 'n held onder die Fariseërs. Hy het al die Joodse wette tot in hulle kleinste besonderhede geken en hulle ook nagekom tot in die kleinste besonderhede. Joodse ma's het hom heelwaarskynlik as voorbeeld van wat 'n Joodse seun behoort te wees, aan ander voorgehou. Die voorste gestoeltes is altyd aan hom afgestaan, en hy was goed op pad om sy leermeester Gamaliël se plek oor te neem.

Met die blou bloed in sy are en met lasbriewe in die hand om hulle te gaan arresteer wat nie deel van die koninkryk sou wees nie, het alles daar op die pad na Damaskus (Hand 9) egter tot 'n einde gekom. Want daar word hy deur Christus gekonfronteer, en voor hy homself kan kry bevind hy hom blind en verdwaas in 'n geleende slaapkamer.

Daar het God hom 'n paar dae gelos met skille so dik oor sy oë dat al wat hy kon sien, net homself was. En hy het nie gehou van wat hy sien nie. Om sy eie woorde te gebruik: die grootste van alle sondaars. 'n Werkheilige. 'n Bombastiese grootprater wat daarop aanspraak gemaak het dat God maar so 'n bietjie een kant toe staan, omdat hy presies weet wat God wil hê. 'n Uitdeler van geregtigheid wat verlossing op 'n skaal van goeie werke en wette afgemeet het. En toe hy uiteindelik moed opgee met alles, het God ingegryp. So ingrypend dat Saulus nie eers verskonings gemaak het nie. Hy het eenvoudig net om genade gepleit. En so is Saulus die werkheilige begrawe, en Paulus die bevryder gebore. Hierna was hy nooit weer dieselfde nie. En nog minder die wêreld.

Die laaste verhaal is dié van die ryk jongman (Matt 19; Mark 10; Luk 18). Wat Here, het hy gevra, moet ek doen om gered te word. Kom die gebooie na, was Jesus se antwoord. Maar ek doen dit, het hy gesê, al vandat ek 'n kind is. Goed, het Jesus geantwoord, as jy dan so volmaak is, so alles self kan doen, en dus jouself werklik heeltemal wil red, gaan verkoop al jou goed, en gee dit aan die armes.

Waarop hy omgedraai en weggestap het.

So het ons dan vier (vyf) mense, broers en susters. Die ryk jongman, Abraham, Sarai, Simon en Saulus. 'n Eienaardige draad bind hulle aanmekaar – hulle name. Die laaste vier se name is verander: die ongelowige Sarai na Sara die moeder, die ongelowige Abram na Abraham die vader van alle gelowiges, Simon wat nie op die Here wou vertrou nie na Petrus, die rots waarop God later sy kerk gebou het, en Saulus, wat God se kinders wou vervolg tot Paulus, self kind van God. Maar die eerste een, die ryk jongman, se naam word nie verander nie, inteendeel, dit word nooit eers genoem nie.

Dalk is dit dan ook die beste verduideliking van hierdie saligspreking, gelukkig is hulle wat afhanklik van God is. Die een wat vir homself naam gemaak het, bly naamloos en raak vergete. Maar die wat eers op hulle eie alles wou doen, maar daarna op grond van genade Jesus se naam aangeroep het – en Sy naam alleen – het 'n nuwe naam gekry, en selfs nog meer, 'n nuwe lewe.

'n Nuwe lewe waarin hulle totaal afhanklik voor God gelewe het. En juis omdat hulle dit gedoen het, in sy Naam soveel vermag het. Kom ons neem ten slotte hier Paulus as voorbeeld.

Na sy bekering op die Damaskuspad het Paulus net een boodskap gehad: Ons verkondig Christus wat gekruisig is. Nie dat hy nie ook ander temas vir preke gehad het nie, maar juis omdat hy hierdie tema nie kon uitput nie. Die liefde van Christus, het hy gesê, dring ons.

En let wel, geliefdes: Paulus het nie 'n kursus in sendingwerk geloop nie. Hy het ook nooit 'n boek oor kerkgroei of gemeente opbou gelees nie. Hy het ook nooit die een na die ander belangrike vergadering waar strategiese beplanning gedoen is, bygewoon nie.

Nee. Toe hy homself aan God oorgegee het, het die Gees van God hom so geïnspireer dat hy vandag nog as die groot sendeling bekend staan. En hoekom? Omdat hy bereid was om afhanklik voor God te lewe, en in afhanklikheid te doen wat God hom gevra het om te doen. Wat vir ons en almal onmoontlik gelyk het, was toe uiteindelik maklik.

En vir ons, broers en susters, kan dit net so wees. Maak nie saak wat die omstandighede, uitdaging of opdrag is nie. Maar dan moet ons bereid wees om die Naam van die Here aan te roep, en nie ons naam nie.

Of kom ek sê dit anders: Wys iemand op sy mislukkings sonder Jesus en jy kan hom gerus iewers in 'n rioolsloot gaan soek. Gee iemand godsdiens sonder om hom aan sy sondesmet te herinner, en die gevolg is arrogansie en die prys van die eie naam.

Maar kry die twee in dieselfde hart – kry die sonde om die Verlosser te ontmoet en die Verlosser om die sonde te ontmoet, en die gevolg is verreikend: mense wat weet hoe afhanklik hulle van God is, mense wat weet dat hulle uit hulle selfs niks kan wees nie, mense wat nie eie naam probeer maak nie, maar mense wat lewe in en deur die Naam van Jesus. Mense, soos Matteus 5:3 dit stel, wat reguit in die koninkryk inloop.
Amen