Matteus 5:5; 10:26-31

Die rower van vreugde (Preek 3)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In die omgewing waar ek en my gesin tuisgegaan het gedurende my studie oorsee het ons van 'n betrokke bank se dienste gebruik gemaak wie se naam ontleen is aan 'n bekende koetsroete van daardie tyd wat deur 'n struikrower met die naam van Swart Bart geterroriseer is. Tydens sy veldtog van koets rooftogte het Swart Bart 20 koetse met hulle inhoud beroof sonder om een skoot te skiet. Dit was nooit vir hom nodig nie, want sy wapens was intimidasie en reputasie.

'n Swart kappie het sy gesig verberg, en niemand het ooit sy gesig gesien nie. Niemand kon ook aanvanklik 'n spoor van hom iewers vind nie. Dit was egter nie nodig nie, want alleen sy teenwoordigheid was genoeg om almal lam te lê. Almal was vir hom doodbang.

En ek begin die prediking vanoggend, broers en susters, met hierdie voorbeeld omdat die verhaal van Swart Bart my laat dink aan 'n ander dief, een wat vandag tussen ons beweeg. Ons ken hom, al het ons nog nooit sy gesig, soos in die geval van Swart Bart, gesien nie. Hierdie dief wat tussen ons beweeg se stem kan ons nie beskryf nie, ons kan ook nie ;n prentjie van hom teken nie. Maar wanneer hy in die omgewing is, weet jy dit oombliklik.

Wanneer ons in die hospitaal lê en wag vir 'n groot operasie, voel ons sy aanraking. Wanneer ons in die nag lê en rondrol, weet ons dat dit hy is wat ons slaap kom steel het. Want ons ken hom. Dit is hy wat ons hande so laat sweet wanneer ons vir 'n werksonderhoud gaan. Dit is hy wat jou oorreed om jou beginsels weg te gooi ter wille van gewildheid. Dit is hy wat skelm in jou oor fluister `jy is volgende’ wanneer jy hoor van iemand wat weer vermoor is of dodelik siek geword het.

Hy is die Swart Bart van die siel. Hy wil nie jou geld hê of jou motor kaap nie. Nee, hy wil iets baie kosbaarders hê hy soek jou gemoedsrus, hy soek jou blydskap. Want sy naam is vrees. En sy taak is om jou van jou moed, blydskap en vreugde te beroof, en jou bang en bewend agter te laat.

Want sy werkwyse is duidelik: hy maak jou bang met die onbekende, hy tart jou met die onvoorsiene, hy maak jou bang met vrees vir die dood, vrees vir mislukking, vrees vir God, vrees vir die toekoms. En sy doelwit is net so eenvoudig as sy naam: hy wil bang en vreugdelose mense skep, mense wat meen dat hulle maar net aan die wêreld oorgelewer is en maar net die slegste moet verwag.

Natuurlik, broers en susters, gaan lê ons nie altyd maar net in die gesig van vrees nie. Daar is baie metodes wat ons het om te probeer om hom teë te werk. Party kyk vrees in die oë met geweld, ander doen dit met die sogenaamde verkryging van mag (want as ek magtig is hoef ek vir niemand bang te wees nie), ander installeer sekuriteitstelsels, party weer vergader rykdom en besittings, ander weer kweek roem en status.

Maar werk hierdie metodes, broers en susters? Kan mag, of besittings byvoorbeeld ons bevry van vrese? As mag kon, dan moes Josef Stalin, die berugte Russiese eerste minister, vreesloos gewees het. Maar hy was nie, hy het ander so gewantrou dat hy sewe presiese slaapkamers gehad het dat niemand kon weet waar hy slaap nie, en hy het selfs iemand aangestel om sy teesakkies telkens vir gif te ondersoek. En as rykdom ons vreesloos sou maak, dan moes die bekende multimiljoenêr Howard Hughes ook vreesloos gewees het. Hy was egter so bang vir kieme dat hy as 'n kluisenaar opgesluit in sogenaamde kiemvrye kamer stoksielalleen gesterf het.

Wat wil ek sê? Die volgende: uiterlike ondersteuning, krukke wat onsself oprig mag ons soms tydelik afskerm teen die moontlike negatiewe in die lewe en veral vrees. Maar nie vir altyd nie. Wat 'n mens egter wel instaat stel om vrees vir wat ook al te oorwin, is innerlike oortuiging, 'n bepaalde iets binne jou wat jou dapper maak.

En hierdie iets is juis dit wat Jesus aan die orde bring in Matteus 5:5: die besef dat my swakheid as sondaarmens, veral die erkenning van my swakheid en al my vrese, my uitbring by die enigste Bron van ware krag, naamlik God. 'n Mens oorwin jou vrese vir die lewe, of wat ook al, impliseer Jesus hier, wanneer ons sagmoedig word, wanneer ons bereid is om ons lewens volkome aan God te gee, so volkome dat ons volledig deur Hom gebruik kan word as instrument in sy hand.

Want wanneer ons ons so aan God oorgee, sê Jesus in Matteus 5:7, is gevolg daarvan moed. Moed wat sal maak dat ons die nuwe aarde sal ontvang. Hoekom? Omdat die aarde en sy vrese ons nie meer sal oorweldig nie, juis omdat ons Hom volg wat volledig oor die aarde en sy vrese heers.

Kom ons maak dit wat ek so pas gesê het meer konkreet. Kom ons vra: het u en ek so 'n bietjie moed nodig, sak ons dalk meer terug in ons vrese as wat ons vorder? Kom ons luister dan hoe Jesus by geleentheid die onrus en vrees by sy senuagtige dissipels verdryf het, en kom ons kyk of ons nie ook by hierdie woorde van Jesus kan baat nie.

Ons moet onthou, broers en susters, dat die dissipels eenvoudige mense was aan wie 'n reusetaak opgedra was. Voordat hulle later evangelies geskryf het, of heiliges in die gekleurde glas van verskeie katedrale oor die wêreld geword het, was hulle mense soos ons. Was hulle iemand se buurman wat ook maar net 'n bestaan probeer maak het en ook maar hulle kinders moes grootmaak. Hulle was ook nie opgelei as groot teoloë of op bonatuurlike voedsel grootgemaak nie. Hulle was mense soos ons.

Maar hulle was mense wat toegewyd was in hulle volg van Jesus. Hulle was bereid om alles agter te laat en Jesus te volg. Juis daarom kon hulle later 'n paar buitengewone dinge doen. Maar hulle sou niks reggekry het as hulle nie eers geleer het om al hulle vrese vir die lewe, die toekoms, mense of wat ook al te oorkom nie. En Jesus het dit geweet, daarom het hy hulle dikwels moed ingepraat.

Maar kyk die vreemde manier waarop Jesus dit doen in Matteus 10. Voor Jesus hulle uitstuur om te gaan doen wat Hy doen, gee Hy hulle 'n paar laaste opdragte. Moenie ekstra geld of klere saamneem nie. Ons hoor al die vraag: Geen geld nie, Here?'. Ja, sê Jesus, geen geld nie, want Ek stuur julle uit soos skape tussen wolwe.

Weer kan ons die vrae hoor: `maar wat beoog u hiermee Jesus?’. Sy antwoord gee beslis geen moed nie. ‘Julle is soos skape tussen wolwe omdat julle aan owerhede uitgelewer, geslaan en gearresteer sal word'. En dit word net erger: `Wat meer is, julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word'.

'n Paar het seker maar die oë neergeslaan, broers en susters. En hoewel niemand dit gesê het nie, het 'n paar seker maar gedink: `Is dit te laat om hier uit te kom, of kan ek nou nog opstaan en vlug?’

Maar dan antwoord Jesus (en Hy herhaal dit drie maal in die ses verse van Matteus 10:26-31): ‘Moenie bang wees nie’. Moenie vir mense bang wees nie, of vir wat ook al nie, want niks is bedek wat nie geopenbaar sal word nie, niks is geheim wat nie bekend sal word nie'.

Op die oppervlakte, broers en susters, lyk hierdie woorde nie na troos of 'n bron van vrede nie, eerder na woorde wat paniek kan saai. Want wie van ons sal wil hê dat elke gedagte van ons geopenbaar sal word? Wie van ons sal wil hê dat al ons sondes aan almal verkondig sal word? Wie van ons kan opgewonde raak oor die gedagte dat elke sonde wat ons ooit gedoen het, aan almal verkondig sal word?

Ek dink nie een van ons nie, broers en susters. Want die blote gedagte dat die geheime van my lewe en my hart blootgelê sal word laat ons uiters bang en verleë voel. Om die waarheid te sê, dit maak ons vrees net soveel meer as minder. Maar waarom dan, moet ons vra, verwys Jesus na die dag wat dit alles sal gebeur, daardie dag wanneer ons almal voor Sy regterstoel sal verskyn en ons hele lewe oopgevlek sal word, as 'n dag van moed? Hoe kan ons krag put uit dit wat vir ons 'n oomblik van benoudheid gaan wees?

Romeine 2:6 gee die antwoord: ‘Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig’. Kom ons lees weer: wanneer God deur Jesus Christus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel.

Dit sal 'n oordeel wees, broers en susters, wat in wese nie 'n oordeel sal wees nie. Want Jesus is die skerm, Hy is die Een waardeur God kyk wanneer Hy oor ons sondes sal oordeel.

En hiervan is baie beloftes in die Bybel, broers en susters. Kom ons noem net 'n paar:

  • God oordeel regverdig omdat Hy almal vryspreek wat in Jesus glo (Rom 3:25);
  • elkeen wat glo, word deur Hom vrygespreek van alle sondes (Heb 8:12), en
  • daar is dus nou geen veroordeling meer vir dié wat in Christus is nie (Rom 8:1).

Verstaan u nou, my liewe broer en suster? Wanneer iemand in Christus is, is hierdie beloftes nie alleen 'n bron van vreugde nie, maar ook 'n bron van moed. Want ons word gewaarborg dat wanneer God na ons kyk, wanneer God na ons sonde kyk, Hy ons nie raaksien nie, maar die Een wat ons omring. Die Een wat ons nuwe mense gemaak het deur ons sondes aan die kruis weg te neem.

Wat eenvoudig beteken, broers en susters, dat ons vir niks hoef bang te wees nie, dat ons niks hoef te vrees nie, want die oorwinning is reeds verseker. En as die oorwinning verseker is, waarvoor hoef 'n mens bang te wees, hoekom kan ons nie vol moed wees nie?

En kom ek verduidelik dit, en hiermee sluit ek af, met 'n eenvoudige voorbeeld: gestel jy is 'n gimnas in 'n kompetisie. Jy is in die eerste plek met net nog een rondte oor. Natuurlik sal so iemand bang wees: bang dat daar 'n fout gemaak kan word, dat jy miskien kan skeeftrap, verkeerd kan land, die balans kan verloor, of wat ook al. En dan, net voor jy aantree vir die laaste sprong, hoor jy die ander se punt. En jy besef: al kry jy nie een punt vir jou laaste sprong nie, jy het klaar gewen. Die oorwinning is reeds behaal. Sal jy nog bang wees, of sal jy juig van vreugde? Wat meer is: hoe gaan jy jou laaste sprong aanpak? Versigtig, of vol moed en vertroue? Natuurlik laasgenoemde.

Aardse vrees, broers en susters, vrees vir die toekoms, die lewe, vir môre, of wat ook al, is dus eintlik geen vrees nie. Want ons uiteindelike bestemming is gewaarborg. Het die sondaarmens die antwoord op die groot vraag van die ewigheid, of ons eendag by God sal wees of nie, is al hierdie vrees weg, dan val al die klein vragies van die lewe in plek, dan hoef daar nie meer by ons vrees te wees nie.

Inteendeel. Ons kan met moed die lewe aanpak, die lewe aanpak met vreugde omdat ons instrumente in sy hand is. Mense wat vir Hom lewe, mense wat nie op hulle eie krag staatmaak nie, maar sagmoedig wag op die Here.

Wie egter met eie krag en harde moed die lewe en al sy vrese wil oorwin, sal baie skynrowers raaksien. Skynrowers wat intimideer en ons vreugde steel. Skynrowers wat ons bang vir die lewe maak en ons van alle vrymoedigheid, hoop en blydskap stroop.

Wie egter sag van moed is, wie hoop op God, het reeds die nuwe aarde beërwe. Hierdie aarde met sy skynrowers van vreugde oorwin. Want dan lê ons krag in die ware Bron van krag, Jesus Christus, wat reeds hierdie wêreld oorwin het, en al ons sonde, selfs die oordeel van God. As God vir ons is, wie of wat kan teen ons wees?

Maar dan, broers en susters, moet ons bereid wees on God te ken, te volg en onsself volledig aan Hom oor te gee. Want wie dit nie wil doen nie, maak nog staat op eie krag en insig. En eie krag en insig sal nooit hierdie wêreld, of vrees, oorwin nie.
Amen