Matteus 5:7; 18:21-35

Geseënd is die barmhartiges, want hulle alleen is vry (Preek 4)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Dalk onthou u nog wat op 24 Maart 1989 gebeur het, die dag toe die Exxon Valdez, na 'n botsing met 'n koraalrif aan die kus van Alaska, seker die mooiste watergebied in die wêreld met 50 miljoen liter ru-olie besoedel het, en letterlik alles swart gesmeer het: die bodem van die see, die otters, die strande en die seemeeue. En die hele Alaska, en baie ander in die wêreld, was woedend.

Nou wel 'n botsing van 'n skip op see, broers en susters, maar 'n botsing wat baie ooreenkom met die botsings wat soms ook in ons eie lewens plaasvind. Ons ken dit: iemand voldoen nie aan ons verwagtings nie, beloftes word dalk nie nagekom nie, iemand kom jou gruwelik te na, of iemand laat jou werklik in die steek.

Met die gevolg: die romp van jou hart bots teen die rif van iemand se optrede, en daar kom as 't ware 'n gat in jou hart. En uit hierdie gat loop woede, woede wat jou hele lewe swart bevlek met haat, bitterheid, en suurheid. 'n Gat in jou hart wat jou lewe versuur en jou vreugde versmoor.

Dalk het u en ek vandag elkeen so 'n gat in ons hart, broers en susters. Dalk is dit 'n ou wond. 'n Ouer wat jou mishandel het, 'n onderwyser wat jou verneder het, 'n maat wat jou verraai het, of dalk 'n sakevennoot wat jou verkul het. En ons is kwaad, en woede maak ons lewens donker en swart.

Of dalk is dit 'n vars wond. Die man wat jou geld skuld ry rond in 'n splinternuwe motor, die een wat jou in diens geneem het met baie beloftes kom dit nie na nie, of dalk lyk dit of die kinders wat jy grootgemaak het, van jou bestaan vergeet het.

En ons voel seergemaak. Een gedeelte van ons voel gebreek, en die ander deel is verbitterd. Een deel van ons wil huil, en 'n ander deel wil baklei. Die trane wat ons stort, is warm, want dit kom diep uit die hart, daar waar 'n vuur brand. 'n Vuur van woede wat hoog brand, alles wil verteer en alles wil verwoes.

Wanneer 'n mens, broers en susters, in hierdie situasie kom, is daar eintlik net een van twee moontlikhede. Jy kan of die vuur blus, of jy kan dit stook. Jy kan of oor alles kom, of jy kan wraak neem. Jy kan alles daar los, of jy kan 'n wrok begin koester. Jy kan of jou wonde toelaat om te genees, of jy kan seker maak dat jou seerkry verander in haat. Jy kan die verlede verlede laat wees, of jy kan 'n grief begin koester.

En nou weet ons mos, broers en susters — en kom ons wees maar hier eerlik, want dalk is dit onsself van wie ons nou praat — hoe mense lyk en optree wat 'n grief koester teen alles en almal wat hulle, volgens hulle oordeel, iewers te na gekom het. Iemand het een keer gepas gesê: om naby 'n gegriefde mens te wees en 'n grommende hond te streel, is omtrent ewe lekker. Want iemand wat gegrief is, of iemand wat 'n wrok koester, en 'n woedende dier is baie dieselfde. Albei is geïrriteerd, albei wil net ontplof, albei is rasend.

Verder is griefdraers gewoonlik ook moddergooiers. Omdat ek seergemaak is, moet ander ook seergemaak word. Omdat ek beskuldig is, moet ander ook beskuldig word. En so word vyande gemaak en mure opgerig.

Bo alles, broers en susters, ploeter mense wat griewe dra deur die dik, swart slyk wat hulleself geskep het. Die wip is uit hulle stap, hulle dans nie meer van blydskap in die veld van die lewe nie, hulle geniet nie meer die vars lug van vrede nie.

Is dit, broers en susters, hoe ons soms ons seerkry hanteer? Laat ons soms toe dat ons seerkry in haat verander? Indien wel, kom ons vra onsself vanoggend ernstig af: werk dit? Bring griewe en haat 'n mens iets in die sak? Bring griewe en wrokke enige verligting, lewer dit vir 'n mens vreugde op?

Wat meer is: kom ons veronderstel ons kan iemand in gelyke munt terugbetaal. Kom ons sê ons kry dit reg om iemand ons pyn met rente terug te betaal. En kom ons stel onsself voor ons staan langs die graf van so iemand wat ons gehaat het, maar darem tog in die lewe kon terugbetaal. Sal ons dan vry wees? Sal ons dan beter voel?

Nee, broers en susters. Inteendeel. Want haat is altyd die hondsdol hond wat sy baas aanval. En weerwraak is die verwoestende vuur wat die brandstigter self verbrand. En net so is dit met bitterheid: dit is die valstrik waarin die jagter self trap. Dit maak nie vry nie, dit maak gevangenes.

Maar wat dan, broers en susters, maak 'n mens vry as dit kom bitterheid, gevoelens van haat en weerwraak, as dit kom by wrokke en gegriefde mense? Daar is net een ding wat 'n mens daarvan vry maak, sê Jesus, en dit is barmhartigheid.

En nie net alleen vry maak nie, maar ons selfs ook geseënd maak. Want geseënd, sê Jesus, is die barmhartiges. Hulle wat barmhartigheid aan ander toon is hulle wat werklik geseënd is. En waarom? Jesus antwoord die vraag sommer self: want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.

Aan die barmhartiges, sê Jesus, sal barmhartigheid bewys word. Hulle ervaar genade. Hulle is geseënd want hulle is getuienis van 'n groter goedheid. Want om ander te vergewe, broers en susters, help ons om te sien hoe God vergewe het. Of anders gesê: om ander te vergewe is die sleutel om God se genade te verstaan, want dit is wanneer ons ander vergewe, dat ons begin voel soos God voel.

Wat beteken dit, broers en susters? Kom ons laat Jesus ons vertel. Daar was eendag 'n koning wat besluit het om sy boeke na te gaan. Hy het toe al sy skuldenaars ingeroep en geëis dat hulle hulle skuld betaal. Die meeste het dit betaal, maar daar was een man wat die koning soveel geskuld het dat hy dit nooit sou kon betaal nie. Maar toe die koning die man voor hom sien staan en sy verhaal hoor, het hy hom jammer gekry en al sy skuld afgeskryf.

Toe die man buite kom, het hy iemand teëgekom wat hom 'n klein bedraggie geskuld het. Hy het hom gegryp, gewurg en geëis dat hy sy skuld moet betaal. Die man het om genade gepleit, maar dit was tevergeefs, hy is deur die een wat so pas so baie aan die koning geskuld het, in die tronk gegooi. Toe die koning hiervan hoor was hy woedend. Hy het die man laat vang en hom oorgegee om gemartel te word totdat hy al sy skuld betaal het.

Kan dit waar wees, broers en susters, dat iemand wat miljoene skuld, vrygeskeld kan word en tog daarna nie in staat is om 'n veel kleiner skuld te vergewe nie? Kan iemand vrygelaat word en tog daarna ander in die tronk laat gooi?

'n Mens hoef nie 'n teoloog te wees, broers en susters, om hierdie vraag te beantwoord nie; 'n mens hoef maar net in die spieël te gaan kyk. Want wie van ons, broers en susters, het nie al Sondag om God se genade gepleit, en Maandag met alle mag en mening geëis dat geregtigheid nou moet geskied nie? Ja, broers en susters, is daar iemand onder ons wat nie al een keer die rykdom van God se goedheid, verdraagsaamheid en geduld geminag het omdat ons nie besef het dat dit ons juis tot bekering wil bring nie (om hier Romeine 2:4 aan te haal)?

Maar let op, broers en susters, wat God doen wanneer ons soms ons barmhartigheid tog so noukeurig afmeet: Hy gee ons ook, soos die man in die verhaal, oor om gemartel te word. Gemartel te word deur woede. Gewurg te word deur bitterheid. Verteer te word deur wraakgedagtes. En met geen vreugde dag na dag deur die storm van die lewe voort te ploeter, met geboë skouers teen die wind en voete wat slepend sonder vreugde ook maar net byhou. Dit, broers en susters, is hoe iemand gestraf word wat God se genade smaak maar weier om dit met ander te deel.

Maar vir diegene wat God se genade beleef en dit ook aan ander uitdeel/deurgee, is die beloning 'n geseënde bevryding. Die tronkdeur swaai wyd oop, en die gevangene wat vrygelaat word, is jy self.

Jy self word vry, vry van jouself, maar ook vry vir God. Vry om God raak te sien. Vry om jou hemelse Vader se gesig raak te sien, die gesig van Hom wat jou vergewe het.

Miskien, broers en susters, is dit juis waar ons moet begin. Om weer vir 'n slag diep in die oë van die Vader te kyk wat aan jou genade betoon het toe niemand anders gedink het dat jy iets werd is nie.

Wat meer is, broers en susters, gaan soek die gesig van God in die gesig van dié een wat jy moet vergewe. En dan, omdat God jou meer vergewe het as wat ooit van jou verwag sal word om 'n ander te vergewe, laat dié wat jy moet vergewe, en jouself, vry.

En laat die wonde in jou hart toe om te genees. Want wie barmhartigheid bewys, word deur God geseën, word deur God in sy versorging opgeneem. Maar diegene wat nie barmhartigheid wil bewys nie, word aan hulleself oorgelaat. En in wie se hande wil u en ek wees, broers en susters? In God s 'n of in ons eie? Laat ons elkeen maar self antwoord.
Amen