Matteus 5:9

Moenie die krag van 'n saadjie onderskat nie (Preek 6)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
So met die baie vakansiedae wat so pas verby is, het 'n mens geleentheid om weer vir 'n slag met ou vriende te kuier. Vriende wat deel van 'n mens se lewe geword het as gevolg van vroeëre gedeelde ervarings, mense vir wie 'n mens lief geword het, maar ook — en dit is tragies—mense wie 'n mens dikwels afskeep as gevolg van die gejaagdheid van die lewe.

Maar wanneer 'n mens weer vir mekaar tyd maak, broers en susters, besef 'n mens enersyds dat jy nie sonder ander kan lewe nie, en andersyds besef jy weer watter waarde diepgaande en indringende gesprekke het , veral gesprekke oor die lewe, jou werk, wat jy is, wat jy wil wees, waar jy nou is en waar jy eendag wil wees. Die soort gesprekke wat sin gee aan die lewe.

Ek wil vanoggend in die prediking, broers en susters, by so 'n gesprek aansluit om iets, hoop ek, nuuts en sinvol oor ons teksvers te sê. In die gesprek met 'n ou klasmaat het dit gegaan oor wonders, die wonderwerke van Jesus, wat dit was, hoekom Hy dit gedoen het, en natuurlik, of wonderwerke vandag nog moontlik is. Uiteindelik het die gesprek dan ook geëindig waar 'n mens meen jy wonders in jou lewe ervaar, en waar hy my vertel het van die ervaring van wat hy as 'n wonder in sy lewe beskou.

Ons gesprek oor wonders, broers en susters, het my 'n paar dae later laat dink aan iets wat ek vroeër gelees het, en wat ek graag, om te begin met dit wat ek vanoggend oor vrede wil sê, met u wil deel,

Wil jy 'n wonderwerk sien, het die skrywer gevra, en dan die volgende geskryf: as jy 'n wonderwerk wil sien, probeer dan die volgende. Vat 'n saadjie, maak nie saak hoe groot of klein. Maak dit toe onder die grond, en gee dit water. En maak jou dan gereed vir 'n wonder. Want berge gaan versit word, want maak nie saak of die grond bo-op die saadjie letterlik miljoene keer swaarder as die saadjie is nie, die saadjie gaan dit opstoot. Wat meer is, dit gaan later 'n groot boom word, en dit gaan heel waarskynlik 'n groot masjien kos om dit uit te grou indien jy dit later wil verwyder. Dus, moenie die krag van 'n saadjie onderskat nie.

En dieselfde geld as dit kom by vrede, broers en susters. Iemand wat vrede bevorder, is iemand wat in wese saadjies van vrede saai. Saadjies van vrede wat se krag nie onderskat moet word nie.

Hoe goed is ons, geliefdes, met die saai van vrede? Maar voor u antwoord, kom ek maak dit vir ons makliker. Ek praat nie hier van die oplos van internasionale politieke konflikte, die oplos van alle konflikte in ons eie land in ons eie tyd nie, maar van geleenthede waar ons die voorreg het om 'n baie belangriker iets te doen: om innerlike vrede te bring in mense se onstuimige harte en vredelose lewens.

Soos byvoorbeeld die vrede wat Jesus in mense se harte gebring het. Interessant, Jesus het nie baie geskille besleg of konflikte afgeweer nie. Maar ons sien wel dat Hy vrede en harmonie gekweek het deur dade van liefde:

  • Hy was byvoorbeeld die voete van mans wat Hy weet Hom of gaan verraai of in die steek laat;
  • Hy eet saam met 'n skelm belastinggaarder; en
  • Hy vereer 'n sondige vrou wat deur die gemeenskap verwerp is.

Jesus het brûe gebou deur hartseer te genees. Hy het konflik voorkom deur mense innerlik aan te raak. Ja, Hy het harmonie en rustigheid gekweek deur die saad van vrede in vrugbare harte te saai.

Weer die vraag, broers en susters: hoe vaar ons met die saai van saadjies van vrede? Kom ons toets onsself, en kom ons begin deur vir 'n oomblik stil te raak en te dink aan die mense wat ons elkeen se lewens bevolk. Kom ons stel ons voor ons blaai deur 'n fotoalbum waarin die mense se gesigte is wat vir ons belangrik is.

Kan u hulle gesigte sien? Op die eerste bladsy is ons huweliksmaat. Dan volg, op die volgende bladsy, die gesiggies van ons kinders. Dan miskien sien ons die gesig van ons beste vriend. En dan volg die gesigte van die res: jou tannie daar ver, jou bure, jou kinders se vriende se ouers, jou kollegas by die werk, as jy op die kerkraad dien, die gesigte van die mense in jou wyk, of, die gesig van jou ouderling of diaken, die wat elke Sondag voor jou in die kerk sit. En so kan ons aangaan.

En terwyl u aan hierdie mense dink, broers en susters, hou vir 'n oomblik hulle in u gedagtes vas, terwyl ek u vertel hoe sommiges van hulle heel waarskynlik voel. En in die beskrywing van hoe hulle heel waarskynlik soms voel, hoe ons heelwaarskynlik soms voel, wil ek gebruik maak van dit wat my vriend my vertel het hy as 'n wonder in sy lewe ervaar het.

Die afgelope tyd, vertel hy, het hy so 'n snaakse pyn in die bors gehad. Eers het hy dit geïgnoreer, maar later besef dat hy liewers maar moet dokter toe, iemand in sy gemeente. Daar gekom, moes hy maar die snaakse agter oop jurkie aantrek, is elektrodes op sy bors vasgeplak, en moes hy die fietsie begin trap. Met dit afgehandel, is hy aangesê om in die spreekkamer te gaan wag.

Daar het hy gesit en vir die muur gekyk. En besef: eintlik is hy nie siek nie. Hy is eintlik net dood moeg. Want die elke dag se geruk en gepluk aan hom deur die lewe het net te veel geword. Die lewe het hom gedreineer, hy het uitgemergel gevoel.

Toe kom die dokter in. Na 'n paar sekondes se kyk na die uitslae van die vroeëre toets, het hy sy jas uitgetrek en sommer net met hom begin gesels. Dit was maar 'n kort geselsie, net so vyf minute. Hy het hom uitgevra oor sy gesin, oor sy werklas, oor alles wat hy elke dag doen. Hy het hom gevra oor sy stres. En hy het ook gesê dat, alhoewel hy nie altyd met alles saamstem wat hy preek nie, hy die preke geniet en ook waardering het vir die ander werk wat hy in die gemeente doen. Nie 'n diepgaande gesprek nie, sommer so in die algemeen.

Toe het hy sy jas aangetrek en die ondersoek afgehandel op die gebruiklike manier. En toe hy klaar is het hy hom gemaan om nie die hele wêreld op sy skouers te wil dra nie, gesê daar is nie werklik iets met hom verkeerd nie, en hom gegroet met die woorde: ‘En maak seker dat jy aandag gee aan die mense wat jou liefhet, en gee jou kinders elke dag 'n drukkie, want per slot van rekening is jy nie veel werd sonder hulle nie’.

En toe hy by die deur uitstap, sê hy, het hy besef: hier was 'n wonderwerk, hier hy hy presies die medisyne gekry wat vir hom nodig was. Bo alles, hier het hy beleef hoe iemand letterlik en figuurlik die saadjie van vrede in sy hart gesaai het.

En net so, broers en susters, sit baie van die mense wie se gesigte u vanoggend voor u het, dalk vandag, of elke dag, op 'n koue stoel en kyk teen die muur voor hulle vas. Hulle is nie siek nie. Hulle is dalk net moeg. Hulle het dalk aan hulleself begin twyfel. Die elke dag se geruk en gepluk deur die lewe het vir hulle dalk net te veel geword. Miskien vreet eensaamheid diep binne een van hulle, of dalk het bekommernis oor een van hulle 'n donker kombers getrek.

Wil u 'n wonderwerk sien, broers en susters? Plant 'n woord, dalk selfs net 'n woordjie, van vrede in so iemand se hart. Koester dit verder met gebed, bid ernstig vir so iemand, en kyk dan wat gebeur. Dit kan 'n kompliment wees, 'n oor wat luister, 'n woord van bemoediging, dalk net 'n woord wat sê: ek verstaan.

Want om sade van vrede te saai, broers en susters, is soos die boontjies wat ons kinders soms vir 'n eksperiment by die skool tussen die watte moet sit. Voor jy sien, stoot dit al die watte weg, net soos 'n klein ou saadjie al die bogrond wegbeur, en soms baie seerkry uit die pad druk. Daarom weer: moenie die krag van 'n saadjie vergeet nie.

God het nie, broers en susters. Toe sy koninkryk verwoes was, en die volk selfs sy Naam vergeet het, het Hy sy saadjie van vrede kom saai.Toe die grond van menseharte al 'n klipharde bokors gevorm het, het hy sy saadjie kom plant. Ja, toe godsdiens vir die meeste 'n ritueel, 'n stuk vormgodsdiens geword het, en sy huis 'n handelshuis geword het, het hy sy saadjie kom plant.

En soos hierdie saadjie opgegroei het, het Hy feitlik sy hele leeftyd daaraan spandeer om al die klippe te verwyder wat sy vader se grond 'n rommelhoop gemaak het:

  • Die klippe van wettiesheid wat mense belas het;
  • die klippe van onderdrukking wat mense letterlik en figuurlik gebreek het;
  • die klippe van vooroordeel wat mense uitgesluit het;
  • 'n bepaalde verstaan van Hom wat gemaak het dat mense nooit in sy huis mog gekom het nie; en
  • klippe van interpretasie van sy woord wat mense in onvrede gelaat het, eerder as in vrede.

Selfs die laaste klip, daardie swaar een voor die graf, kon nie bly vasstaan teen die krag van hierdie saadjie van God nie. Want die aarde het gebewe, en die klip voor die graf het weggerol. En die blom van Paasfees het geblom. Bo alles, daar was nou vrede tussen God en mens.

Daarom is hy die Seun van God genoem. God se kind. Net so sal ons, broers en susters, ons wat saadjies van vrede saai, God se kinders genoem word.
Amen