Galasiërs 5:24-25; Romeine 8:1-10

Die Gees maak lewend (Preek 1)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Christene, broers en susters, is geroep om Christelik te lewe. Wat dit beteken, kan vanuit die Bybel op verskillende maniere beskryf/verduidelik word. Volgens die Evangelies beteken dit om navolgers van Christus te wees. Paulus weer sê dit beteken om in Christus 'n nuwe lewe te lewe. Petrus weer sê 'n Christelike lewe beteken om sulke goeie werke te doen dat die wêreld dit met respek en verbasing sal moet erken. En Jakobus weer sê 'n Christelike lewe is 'n lewe waar jou dade bewys dat jy glo.

Wanneer ons egter rondom ons kyk, en veral na onsself kyk, broers en susters, besef ons egter met groot skaamte dan min van hierdie dinge in ons as Christene se lewe sigbaar is en word. Heel dikwels volg ons nie vir Christus nie, lewe ons nie die nuwe lewe in Christus nie, doen ons nie sulke goeie werke dat die wêreld met verbasing staan nie, en wat meer is, lyk ons dade dikwels juis na die van mense wat nie glo nie.

Maar tog, broers en susters, moet ons daarna streef om Christelik te lewe, daarna streef om ons roeping uit te leef. En hierdie strewe bring 'n mens, juis omdat ons dit dikwels juis nie reg kry nie, onmiddellik by die vraag: goed ek wil, maar ek sien ek kry dit nie altyd reg nie, hoe kan ek dit regkry?

Een van die duidelikste antwoorde op hierdie vraag in die Nuwe Testament is dat dieHeilige Gees dit aan ons skenk. Die Heilige Gees stel ons in staat om hierdie nuwe lewe te lewe, om goeie werke te doen, om Jesus te volg, om met ons dade te toon dat ons werklik glo.

'n Antwoord, broers en susters wat dadelik 'n volgende vraag na vore roep: As die Heilige Gees ons in staat stel om dit te doen, hoe doen die Heilige Gees dit aan ons? Of anders gestel, wat kan ons van die Gees in hierdie verband verwag?

Wanneer ons van die werk van die Heilige Gees praat, broers en susters, koester verskillende gelowiges verskillende verwagtings. Sommige verwag geweldige herlewing. Ander weer verwag , wanneer die Heilige Gees werk, 'n geweldige aantal bekerings. Ander weer verwag een of ander warm, geestelike, emosionele ervaring. En ander weer verwag 'n baie intense persoonlike ervaring, 'n ervaring wat hulle so sal verander dat hulle bo die alledaagse sal uitstyg en ewe skielik heeltemal in staat sal wees om Christelik te lewe.

Teenoor hierdie verwagtinge, broers en susters, is die Bybel egter baie meer nugter oor wat ons van die Gees kan verwag. Want in die Bybel lees ons dat die Gees na die wêreld gekom het om Christus te verheerlik, met ander woorde, om sy werk te kom voortsit en te voltooi. Om dit wat Christus vir ons aan die kruis verwerf het, deel te kom maak van ons lewens, om dit wat Christus vir ons moontlik gemaak het, vir ons 'n werklikheid te maak.

Wat het Christus vir ons moontlik gemaak? Om te leef soos mense, ware mense, mense wat leef soos God bedoel het hulle moet leef. Mense wat, omdat hulle in Christus glo, waarlik kan leef: in oorvloed, met blydskap, met sin en met vreugde, met rigting en koers, met ander woorde, dat hulle iets het om voor te leef (wat baie min mense deesdae het).

Maar kan mense sonder Christus nie ook so leef nie? Die Bybel sê nee. Sonder Christus kan 'n mens nie waarlik mens wees nie. Want sonder Christus is mense nie vry en gelukkig nie, maar gebonde en blind. Want sonder Christus is hulle onder die mag van die sonde en die dood, leef hulle vleeslik, en omdat hulle vleeslik leef, is hulle nie in staat om te weet en te bedink hoe God wil hê hulle moet lewe nie.

Juis omdat hulle nie vry is nie, omdat hulle lewens deur magte beheer word wat groter as hulle is, omdat hulle slawe van die wêreld en die sonde is, slawe van die dood, tevergeefsheid, alledaagsheid, oppervlakkigheid, en eintlik ook maar van hulleself.

En dit is hier nie net die Bybel wat so praat nie, broers en susters. Ook die letterkunde, romans, poësie en allerlei ander kunsvorme praat dikwels ook so oor die mens sonder God: mense wat se lewens bestaan uit 'n tevergeefse passie na nog meer, wat hunker na groter en nog iets anders, na iets wat die lewe meer sinvol sal maak, maar dit tevergeefs in hierdie dinge nie vind nie.

Die punt is egter duidelik, broers en susters: al wil ons waarlik leef, al lyk dit soms of ons en ander waarlik leef — die Bybel sê: as Christus ons nie vry maak van die magte van sinloosheid en ons nuwe lewensmoontlikhede bied nie, is ons reeds dood.

En ervaar ons dit nie ook soms nie broers en susters? Ons almal was al op een of 'n ander keer vasgevang in sonde, selfverwyt, verslawing, frustrasie, doelloosheid, hooploosheid, vasgevang in vergewingsloosheid, vasgeloopte verhoudings, persoonlike probleme of wat ook al. En net so was baie van ons al diep bewus van 'n verlange na iets anders, iets wat alles sinvol sal maak, maar iets wat ons of nie kon vind of selfs nie eers kan beskryf nie.

Daarom, broers en susters: of ons dit nou wil weet of nie, wil erken of nie: sonder Christus kan 'n mens nie leef nie.

Maar nou is dit egter nie genoeg nie, broers en susters, om dit te weet dat 'n mens nie sonder Christus kan lewe nie of net te sê dat Jesus Christus vir ons die voorbeeld is van hoe om waarlik te kan lewe nie. Want in wese is ons magteloos om dit te doen. Dit help nie dat Christus vir ons 'n nuwe lewensideaal word, 'n beeld wat vir ons sê: Leef so, dan sal julle vervuld en gelukkig wees nie. Want ons kan nie. Ons kan nie. En as u my nie wil glo nie, kyk maar net elke dag rondom u.

Iets meer is nodig om so te kan lewe. En dit is dat ons vrygemaak word. Die mag van die sonde oor ons moet gebreek word. 'n Nuwe lewe moet van buite af aan ons geskenk word. 'n Nuwe begin moet met ons gemaak word.

Hoe? God self doen dit, en Hy doen dit deur sy Gees. Deur sy Gees aan ons te gee Dit wat die Bybel wedergeboorte noem, wat die Bybel vrymaak noem, of dan ons lewend maak noem. Waar Hy sy gees aan ons skenk, en ons so die krag en moontlikheid gee om te gaan lewe soos God van ons vra.

En oor hierdie gee van sy Gees aan ons, broers en susters, moet daar nie by ons misverstande wees nie. Dat die Gees ons nuut maak, lewend maak, ons wederbaar (hoe ons dit ook al wil noem), verwys nie na een of ander mistieke, bonatuurlike, geheimsinnige, emosionele of innerlike saak nie, maar verwys na iets prakties en alledaags.

Met ander woorde: ons moet nie sit en wonder of dit nou al met ons gebeur het of dalk nog met ons gaan gebeur nie. Want om deur die Gees wedergebore te word of lewend gemaak te word, verwys nie na 'n eenmalige gebeurtenis wat jy self moet doen nie. Nêrens sal u in die Bybel 'n opdrag lees wat sê: ‘Word wederbaar’, ‘word lewend’ of `word wedergebore’ nie.

Eerder: hoe weet ek of ek nuut gemaak is, lewend gemaak is, wedergebore is? Gaan kyk hoe jy leef. Gaan kyk of jy die lewenskanse wat God jou bied aangryp, of jy werklik waar jy die kans gegun word geduld beoefen, vergewe, liefde betoon, die sonde oorwin. En dan in hierdie proses ontdek: maar dit werk! Omdat die Gees in my lewe, en ek daarom glo en na sy leiding luister, kan ek nuut en anders leef. En dat my lewe daarom sin en rigting het.

Kom ek sê dit weer: dat die Gees ons nuut maak, is nie 'n geheimsinnige, emosionele of mistieke saak nie, maar 'n praktiese saak. Juis daarom gaan ons in die volgende aantal preke aandag gee aan alledaagse dinge. Dinge soos my persoonlike lewe en huislike lewe, oor my openbare lewe en verhoudings met almal rondom my. Oor ons alledaagse lewe, as doodgewone mense in hierdie wêreld.

Kom ons som op: Die Gees, sê die Bybel, maak ons lewend. En dit is nie 'n belofte net vir enkeles, spesiales, toegewydes of heiliges nie. Net vir uitgesoektes of bevoorregtes nie. Dit is 'n belofte aan ons almal. Ook is dit nie 'n droom of illusie nie. Dit is die normale Christelike lewe, vir almal.

Dat die Gees ons lewend maak is ook nie iets waarvoor ons passief moet sit en wag dat dit moet gebeur nie, dat ons as' t ware eers moet wag dat daar iets oor ons moet kom nie. As ons daarvoor wag, sal niks gebeur nie. As ons egter begin lewe in en deur die Gees, sal ons nuwe lewensmoontlikhede, nuwe lewenswyses, vreugde en sin sien en beleef. Dit moet gedoen word.

Daarom is die nuutmaking van die Gees ook 'n bewuste proses. Want dit gaan juis nie oor iets geheimsinnigs of bonatuurliks nie. Dit kom eerder tot uiting, en word sigbaar, in bewuste lewenskeuses, lewenshoudings en lewensdade. In die feit dat ons bereid word om keuses te maak, na te dink oor ons lewens, te besin oor wat God van ons verwag, en dit dan daar buite in die lewe te gaan doen. Dit, broers en susters, is wat die beteken om deur die Gees nuutgemaak te wees.

En juis daarom, broers en susters, is elke Pinkstertyd, daardie aspek van die kerklike jaar waar ons die koms van die Heilige Gees vier, nie iets ekstra of spesiaals wat gebruik kan word om godsdienstige gevoelens weer so 'n bietjie op te warm en aan die gang te kry nie.

Dit is eerder 'n tyd van verlange na die Gees, van nadenke oor die eie lewe, en oorgawe aan 'n Christelike lewe, 'n lewe van navolging en goeie dade.

Want om nuutgemaak te word deur die Gees, om wedergebore te word, is nie maar net 'n eenmalige saak nie. Iets wat jy ontvang nie. Dit is ook om in ons gewone alledaagse lewe soos Christus te leef. Soos ware mense te leef, soos mense wat God wou gehad het ons moes wees. Soos God se mense. Vol lewensvreugde, sin en rigting. In God se wêreld.

En dit alles is moontlik omdat die Gees nie alleen die belofte van nuwe lewensmoontlikhede is, maar ons ook die krag gee, van buite af, om wel so te kan lewe. Bo die alledaagse uit te styg, en werklik te lewe. Hoe ons dit kry, hoe die Gees dit in ons doen, daaraan sal ons volgende Sondagaand aandag gee.
Amen