Galasiërs 5:16-25

Die Gees bepaal ons gedrag (Preek 2)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons het verlede week gesien dat die Gees ons lewend maak, of anders gesê, dit wat Christus vir ons moontlik gemaak het (om 'n nuwe mens te wees en te word), dit maak die Gees vir ons 'n werklikheid. Vir almal van ons, en dan nie op 'n geheimsinnige emosionele manier nie, maar in die praktiese leef van elke dag.

Maar hoe doen die Heilige Gees dit? Hoe gebeur dit? Hoe ontvang ons hierdie nuwe lewe? Hoe kry ons daaraan deel? Galasiërs sê: ons kry daaraan deel as ons deur die Gees wandel. As ons toelaat dat die Gees ons gedrag bepaal. Dan, sê die Bybel, gaan daar vir ons nuwe lewensmoontlikhede oop.

Nou is dit verder so, broers en susters, dat die Bybel verskillende uitdrukkinge gebruik om 'n lewe waar die Gees ons gedrag bepaal, te beskryf: dit is 'n lewe van oorgawe, toewyding, heiligmaking, vurig van Gees wees, vervul met die Gees wees, of om te wandel in die Gees.

Maak egter nie saak watter term ons gebruik nie, almal maak dieselfde punt: Dit wil sê dat die werk wat die gees doen — om ons Christene te maak, om ons ware gelukkige mense te maak — dit geskied nie sonder ons medewerking nie.

Met ander woorde, broers en susters, en dit het ek verlede week gesê en wil ek dit vanaand weer sê (juis omdat dit só belangrik is), die lewendmakende werk van die Gees gebeur nie op 'n geheimsinnige manier, deur die grootdoop of wat ook al nie, sonder ons medewete en samewerking nie. Inteendeel. Die lewendmakende werk van die Gees vra van ons deelname, ons bydrae, vra dat ons ook ons deel sal doen, vra ons volle samewerking.

Samewerking waartoe? Bereidheid waartoe? Galasiërs antwoord hierop: ons bereidheid om die stryd van die Gees teen die vlees met volharding te stry.

Wat is die stryd teen die vlees waarvan die Bybel hier praat? Dit is nie maar net, soos ons dikwels dink, dinge wat ons hier en daar verkeerd doen nie (soos bv die najaag van die seksuele, of te veel genietinge in terme van eet en drink). Nee. Volgens die Bybel is 'n lewe in die vlees baie meer as dit: dit is 'n beskrywing van 'n manier van leef.

Meer spesifiek: 'n manier van selfsugtig leef. Vlees, met ander woorde, is selfsug. Dit is om te gryp na die lewe asof al wat in die lewe belangrik is, dit wat jy daaruit kan haal. Dit is om jou hart te verloor op dit wat vergaan. Om te swoeg en te sweet ter wille van die onmiddellike voordeel. Vlees is om te gryp na die gawes in plaas van die Gewer. Vlees is om jouself te soek en te dien in plaas van God die Skepper.

Om vleeslik te lewe, broers en susters, het dit te make met 'n sekere gesindheid teenoor God en jou naaste. Dit is om nie God se wil te erken nie, en daarom jou eie wil en idees het oor wat lekker en goed en voordelig en belangrik is. Dit is 'n lewe waar ons ons eie reëls en norme het, waar ons elkeen ons eie wet en eie baas is. Daarom, sê Galasiërs 5:19, lei 'n lewe in die vlees tot ongebondenheid, dronkenskap en uitspattighede.

En wat ons naaste betref beteken 'n lewe in die vlees dat ons altyd die middelpunt van alles wil wees, ons wil moet altyd geskied, en daarom lei dit tot vyandskap, haat, woede, rusies, afguns, verdeeldheid en skeuring, volgens Galasiërs 5:20-21.

Vleeslikheid, broers en susters, is dus volgens die Bybel ons hele lewe sonder Christus. Juis daarom kon iemand soos Luther sê dat ons is vlees so groot soos ons is. Dit is nie maar net 'n deel van ons nie, naamlik ons liggaamlikheid nie. Die vlees is onsself, alles wat ons is. Dit is ons lewenstyl. Ons oriëntasie, ons aard. Dit is die totale mens wat in die sonde geval het. En wat die vlees bedink, sê die Bybel, is vyandskap teen God. En dit, sê die Bybel, is die dood.

Juis daarom staan die Gees, broers en susters, wat ons lewend wil maak, wat ons wil leer hoe om as ware kind van God te leef, teenoor die vlees. En daarom is daar altyd 'n stryd in ons harte. In ons denke. In ons dade. In ons bedoelings. In onsself. Daarom is daar altyd in ons 'n stryd tussen die verkeerde gesindhede wat uit ons harte opkom, en die gesindheid wat die Gees vir ons wil gee.

Daarom, broers en susters, soos die Gees almal van ons nuut maak en wil maak, so is hierdie stryd tussen vlees en Gees ook in almal van ons se lewens teenwoordig. Dit is 'n stryd in almal van ons wat as Christene wil leef. En dit is 'n stryd wat nooit ophou nie. Want die aard van die vleeslike, die natuurlike van die vlees, is om te doen juis dit wat die Gees nie wil nie.

Daarom, broers en susters, as ons hierdie voortdurende stryd nie ervaar of ken nie, is dit nie omdat ons volmaak geword het nie, maar omdat ons êrens selftevrede geraak het en daarom die stem, die uitnodiging van die Gees, nie meer hoor te midde van ons selfsugtige lewe nie. As ons daarom nie soms bewuste keuses maak om anders te lewe en te wees, en die voorneme het om daarby te bly nie, het ons waarskynlik die stryd reeds opgesê en laat ons lankal nie meer die Heilige Gees toe om ons gedrag te bepaal nie.

Want as een ding waar is, dan is dit dit: 'n lewe van wandel in die Gees is nie iets wat ons volledig, eensklaps, eenmalig ontvang en daarmee klaar is nie. Hoe leer 'n groot tennisspeler om goed te wees? Hoe leer 'n mens om jou werk goed te doen? Dit kom met tyd. Dit kom met oefening. Dit kom met aanhou. Dit kom met voortdurende oefening, inoefening en beoefening.

So ook die lewe in die Gees. Ons moet daarom nie in die oggend bid: `Vervul my Gees, laat my in U wandel’ en dan verwag dat iets dramaties sommer net so in die dag sal gebeur, en dat alles net volgens die Gees sal wees nie. Nee, ons moet hierdie gebed bid, en dan van ons knieë af opstaan en gaan wandel in die Gees. Ons moet dit gaan doen.

Maar hoe, broers en susters, weet 'n mens hoe God wil hê ons moet lewe? Galasiërs 5:18 gee die antwoord: ons moet deur die Gees van God gelei word. En wat beteken dit, op sy beurt weer?

Dit beteken nie dat daar klinkklare wette, reëls en voorskrifte is wat altyd vir almal in alle omstandighede sal geld nie. Nee. Wat moet gebeur, sê Paulus hier, is dat ons moet toelaat dat die Gees ons lei, ons gedrag bepaal. Wat nie beteken, broers en susters, en dit wil ek baie duidelik stel, dat ons suggesties in ons gedagtes, hemelse stemme of merkwaardige inmenging of wat ook al moet verwag nie.

Nee, die Gees lei iemand deur in so iemand 'n oortuigings en insigte te laat groei, 'n nuwe gesindheid te kweek, die onderskeidingsvermoë te gee tussen reg en verkeerd, en ons so in staat te stel om onder alle omstandighede soos Christene te leef en te dink.

Waar die Gees ons verander, ons gemoed vernuwe, ons leer om sensitief vir sekere dinge te wees, ons dinge te laat begryp, ons leer om in die spieël te bly kyk. En so, broers en susters, help die gees ons om te beproef, te ondersoek, en stap vir stap uit te vind hoe ons behoort te lewe.

Dit, broers en susters, is waartoe ons bereid moet wees. Bereid moet wees om saam met al die ander gelowiges rondom ons die evangelie, die inhoud van die Bybel, so deel te maak van ons lewens, dat wat in die Bybel geleer word tot diep oortuigings in ons harte groei. En dan so te lewe.

Want dit is wat dit beteken om deur die Gees te lewe, om die Gees toe te laat om ons gedrag te bepaal. Die Gees lei ons, saam met ander gelowiges, deur ons te oortuig. Deur ons by 'n punt te bring waar ons vir God kies, omdat ons eintlik nie anders kan nie. Deur nuwe insigte aan ons te skenk.

Nuwe maniere van dink aan ons te gee. Nuwe maniere om mense te sien en oor sake te praat, nuwe waardes, nuwe belange en nuwe prioriteite. En hoe meer ons dit in ons lewens toelaat, broers en susters, hoe meer ons oor Christus en die evangelie nadink, hoe meer ons volgens die riglyne van die Bybel leef en wil leef, hoe meer ons die riglyne in en waardes van die Bybel ons riglyne en ons waardes maak, hoe meer sal ons die leiding van die Gees in ons lewens ervaar en verstaan.

Met ander woorde: ons sal die leiding van die Gees leer ken deur dit te doen.

Ek wil afsluit: Luther het gesê om deur die Gees te wandel vra ons hele self, dit vra ons hele lewe. 'n Lewe in die Gees gaan nie om maar net 'n deeltjie van ons lewens, bloot net ons gedagtes, of ons godsdienstige lewe, of ons emosies of belewenisse alleen nie. Dit gaan oor my hele lewe.

Dit is ook nie 'n vreemde soort lewe nie. 'n Lewe deur die Gees beteken nie 'n wêreldvreemde, anderse en vreemde soort lewe nie. Ook nie maar net 'n blote innerlike, godsdienstige lewe nie.

Om te wandel in die Gees is nie om te begin leef in 'n ander lewe nie, maar om in hierdie wêreld op 'n ander manier te begin lewe.

En om dit reg te kry, gee God ons die vrugte van die Gees. Daaroor handel ons volgende week.
Amen