Galasiërs 5:16-18; 22-25

Die vrug van die Gees (Preek 3)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

In ons reeks preke oor die Heilige Gees, broers en susters, het ons die afgelope twee weke aandag gegee aan twee sake: eerstens, dat die Gees ons nuut wil maak, aan ons nuwe lewensmoontlikhede wil skep.  En tweedens: hoe doen die Gees dit?  As ons begin wandel in die Gees.  As ons toelaat dat die Gees ons gedrag bepaal.

Dat die Gees ons gedrag moet bepaal, broers en susters, is egter nie 'n saak van keuse nie.  Met ander woorde: ek kan nie besluit dat die Gees my gedrag moet bepaal, en dan sê ek vir myself: hiervoor is ek lus maar daarvoor nie, hierdie is ek bereid om te doen, maar nie daardie nie.  Of: ek stel in hierdie belang maar nie in daardie nie.

Want daar is sulke mense, broers en susters, en ons is dikwels deel van sulke mense.  Aan die een kant lewe hulle vroom en godsdienstig, van buit af, daar waar ander hulle sien, lyk hulle soos mense wat werklik toegewy aan die Here lewe.  Maar terselfdertyd lewe hulle in kwaaivriendskap met van hulle naaste (ten minste in die hart), is hulle ongeduldig met die naaste aan hulle, en is oneerlik daar waar ander dit nie kan uitvind nie.

Met ander woorde: hulle kies in wese 'n evangelie waarvan hulle hou, hulle wandel in die Gees net daar waar dit hulle pas, hulle doen net dit waartoe hulle bereid is, en laat die res doodeenvoudig.  En so bly daar sekere aspekte van hulle lewens oor waarop die lig van die evangelie glad nie val nie.

En dit kan doodeenvoudig nie, broers en susters.  Ten minste nie as iemand opreg, met dodelike erns toegewy in die Gees wil wandel nie.  Want die doel van die werk van die Gees in ons lewe is nie om aan ons 'n lysie van korrekte dade, gesindhede of wat ook al voor te hou waaruit ons kan kies waarvoor ons lus is nie.  Dit is alles of niks.  Want as Christus sy hand op ons lewe lê, vra Hy ons hele lewe.  Soos Hy bereid was om sy hele lewe ter wille van ons te gee.

Dit is dan ook waarom die Bybel praat van die vrug van die Gees.  In die enkelvoud.  Nie van vrugte van die Gees nie, maar van één vrug.  Een produk, een einddoel.  Die een eindpunt waarheen die Gees met ons op pad is.

Nou kan ons vanaand sê, broers en susters, dat ons al hierdie dinge al gehoor het, en wat meer is, dat ons dit werklik ook verstaan.  Maar as dit so is, is die vraag wat homself aan ons opdring maar te duidelik: hoekom vertoon ons dan, as ons dit verstaan, weet wat die Woord vra, so min van hierdie vrug in ons lewens?

Want is ons nie maar te dikwels so onherkenbaar tussen ongelowiges nie?  Veral daar waar oor die alledaagse gesels word: oor lewensprobleme, moedeloosheid, sorge, oor geld, oor verhoudings, oor geduld, oor waarheid en versoening, oor geregtigheid en vrede, oor geweld … dan, broers en susters, praat ons dikwels dieselfde taal, dink ons vanuit dieselfde standpunte, vleeslike standpunte.  En verraai ons so eintlik maar net ons werklike gesindhede en opvattinge, vleeslike gesindhede en opvattinge.

Wat meer is, ons bly dikwels oor jare heen ook maar net presies dieselfde.  Daar is soms so min tekens van vernuwing en verandering.  Ons ou swakhede bly eenvoudig maar net daar.  Soms besef ons dit darem nog (en praat dit dikwels goed met allerhande verskonings), ander kere weer besef ons dit nie eers meer nie.  Omdat ons vrede gemaak het met die sonde in ons.

So, broers en susters, leer die Woord ons, kan en mag dit egter nie met Christene wees nie.  Ons kan nie en mag nie onherkenbaar tussen ander mense wees nie.  En ons kan nie maar net altyd dieselfde bly sonder om te vernuwe nie.

Want dit is juis deur die vrug van die Gees (en veral die liefde as een aspek daarvan), waarvan Jesus sê dat ons daaraan geken sal word.  Of anders gesê: die vrug van die Gees, dit wat sigbaar is, word die toets of ons werklik glo.

En laat ons mooi hieroor nadink, broers en susters.  Die geestelike is dus nie maar net iets waarvan net ek weet, 'n saak net tussen my en God nie.  Inteendeel.  Die geestelike lewe is so sigbaar dat die wêreld, en veral die ongelowige, dit sal opmerk, herken of erken.

En natuurlik beteken dit nie, broers en susters, dat die ongelowige/wêreld ons noodwendig vir 'n opregte godsdienstige lewe sal respekteer nie.  Ongelowiges sal nie noodwendig dink dit is oulik, en ook so wil leef nie.  Inteendeel.  Hulle sal met baie dinge juis nie met ons saamstem nie.  En selfs soms kwaad praat van ons, en ons in onguns wil bring.

Hieroor moet ons geen illusies hê nie.  Ons moenie dink dat , as ons deur die Gees sou wandel, as ons die vrug van die Gees vertoon, die wêreld ons sal eer en prys nie.  Net soos dit met Jesus was.  Verwerping in sy lewe was daar meer as aanvaarding.  Hy het mense kom wys hoe hulle moet leef, hoe mense waarlik kan leef, en sy loon was dat hulle Hom gekruisig het.  Terloops: dit is waarom ons kan sê dat die vrug van die Gees eintlik niks anders is as die lewe van Christus nie.  Maar hieroor volgende week meer.

Hoe kry 'n mens dit reg om hierdie vrug van die Gees te dra, broers en susters?  Is dit net ons inspanning?  Hang dit net van ons af?  Ja en nee.  Ja, omdat, soos ons verlede week gesien het `om te wandel in die Gees’ beteken dat ons bereid moet wees om dit te doen, dat ons ons samewerking moet gee.  Ons moet ons deel doen.

Maar ook nee, broers en susters.  Want die vrug van die Gees is ook 'n gawe, iets wat God deur sy Gees aan ons skenk uit genade.  Hoe werk dit?  Kom ons dink aan 'n letterlike vrug, 'n vrug aan 'n boom.  Sodra 'n vrug aan 'n boom na vore kom, begin dit eenvoudig spontaan te groei.  As die boom gevoed word met water en wat ook al, word die vrug groter, sterker, ryper en later so ryp dat almal dit sien.  Sonder inspanning.  Dit gebeur eenvoudig net.

Presies moet dit so ook in ons lewens met die vrug van die Gees werk.  Die vrug van die Gees is nie iets wat ons moet doen, of nie doen nie.  Die vrug van die Gees is iets wat in ons lewens moet groei, groter, sigbaarder en meer moet word.  En hoe gebeur dit?  Deur, soos Johannes sê, in Christus te bly, deur die evangelie meer en meer deel van my lewe te maak, deur die inhoud van die Woord meer en meer in my lewe te laat posvat, deur soos 'n kind van God te begin leef.  Met oorgawe, positief en met blydskap.

Waar die vrug van die Gees nie opdrag is nie, maar uitnodiging.  Waar ons nie moet hoor: gaan doen so of so nie, maar: probeer dit of dat.  En kyk watter verskil dit maak.  Doen hierdie of daardie, en jy sal beleef dat dit vreugde en vrede bring.

Maar wat is hierdie vrug van die Gees, broers en susters?  Hoe lyk dit, en hoe sal ons lyk as ons vol van hierdie vrug is?  Daaroor gaan ons in die volgende weke aandag gee, deur te gaan kyk na vrug soos dit in Galasiërs 5:22 opgenoem word.

Die basiese punt, glo ek, is egter duidelik: as ons gevra sou word hoe die Gees ons lewens moet laat lyk, sou baie mense dalk antwoord: jy moet godsdienstig wees, vroom, ernstig, heilig, selfs wêreldvreemd, anders as al die ander mense. So half afgesonder, eenkant, eintlik snaaks.  Want dit is nou maar eenmaal baie mense se idee van hoe 'n waarlik geestelike lewe moet lyk.

Die Nuwe Testament sê egter nee.  'n Lewe van wandel in die Gees sodat die vrug van die Gees in jou lewe sigbaar word, is nie 'n eenkant-en-snaakse saak nie.  Dit is nie 'n kwessie van inspanning, swaarkry-en-sug nie.  En ook nie 'n kwessie van kies en los nie.  Dit is eerder 'n alledaagse, praktiese saak.  'n Vrolike saak, 'n midde-in-die-volle-lewe saak.  Dit is om anders in die gewone dag te lewe.

Wat dit egter prakties beteken, sal ons verder oor moet nadink.  Dit gaan ons vanaf volgende week doen.
Amen