Galasiërs 5:14, 22; 1 Johannes 3:11-18

Die vrug van die Gees bepaal wat liefde is (Preek 4)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons reeks preke oor die Gees tot dusver kan ons baie kort soos volg opsom: die Gees maak ons lewend, of anders gesê, dit wat Christus vir ons moontlik gemaak het (om 'n nuwe mens te wees en te word), dit maak die Gees vir ons 'n werklikheid. Hoe die Gees dit doen, is nie op 'n geheimsinnige emosionele manier nie, maar in die praktiese leef van elke dag, naamlik dat ons deur die Gees wandel. As ons toelaat dat die Gees ons gedrag bepaal. Dan, sê die Bybel, gaan daar vir ons nuwe lewensmoontlikhede oop, en word die vrug van die Gees in ons lewens sigbaar.

Vanaand gee ons aandag aan die liefde as die vrug van die Gees. Maar nie die liefde as een van die vrugte nie, broers en susters, maar die enigste vrug. Want al die ander sake wat Galasiërs 5:22 onder die vrug van die Gees noem (bv vreugde, vrede, geduld) is slegs gesigte van die liefde. Galasiërs 5:14 sê dit mooi: `Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jyself'.

Met ander woorde, die vrug van die Gees is, in die eerste, en enigste plek, die liefde. En dit is ook geen wonder nie, broers en susters, want 1 Johannes 4:8 sê byvoorbeeld: God is liefde. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde, en 1 Johannes 4:16 voeg daartoe by: God is liefde, en wie in die liefde bly, bly in God en God in hulle. Dus: God is liefde.

Die probleem is egter, broers en susters, dat ons soms geneig is om hierdie stelling om te draai en te begin sê: liefde is God. En dan begin ons ons eie opvatting van die liefde te aanbid en te vergoddelik. Vanaf vrye, losbandige liefde tot enige, selfsugtige groeps- of familieliefde, of watter vorm van die liefde ook al. Die logika bly egter dieselfde: Ons begin by ons eie — vleeslike — soort liefde, en noem dit `god’.

Wat wil ek sê? Dit: as ons wil begryp wat dit beteken dat God liefde is, en dat die vrug van die Gees die liefde is, dan moet ons baie goed hoor na wat God self oor die liefde sê, en nie self wil besluit wat liefde beteken nie.

Wat sê God oor die liefde? Die eerste is dat God met sy liefde bereid is om die inisiatief te neem. Kom ek probeer eenvoudig verduidelik wat ek hiermee bedoel. Wanneer iemand vir ons mooi is, vriendelik is of gaaf en aangenaam, of van dieselfde familie of afkoms is as ons, of wat ook al, raak 'n mens later vir so iemand lief (natuurlik om verskeie redes). Feit van die saak is: daar is 'n rede vir ons liefde, die voorwerp wat ons liefhet roep die liefde na vore, en dus is ons liefde in hierdie geval ter wille van iets/iemand.

Teenoor hierdie natuurlike liefde, broers en susters, is die Christelike liefde nie ter wille van nie, maar ten spyte van. Soos God se liefde vir ons. Hy het ons ten spyte van ons sonde eerste liefgehad, en het ons nog elke dag lief ten spyte van wat ons is, ten spyte van alles wat ons anders as Hom maak.

En so moet ons liefde ook wees. 'n Ten spyte van liefde, nie 'n ter wille van liefde nie. Want ten spyte van liefde het ander in die oog, maar ter wille van liefde het myself in die oog.

Wat ons dan ook bring by die tweede belangrike saak wat God in sy Woord oor die liefde sê, naamlik dat die Christelike liefde altyd uit selfopoffering , selfprysgawe bestaan. 1 Johannes 3:16 sê dit mooi: `Hieraan weet ons wat die liefde is. Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort daarom ook ons lewe vir ons broers af te lê.'

Sonder rede, broers en susters, sonder enige verdienste aan ons kant, was Jesus bereid om die pad enduit, tot aan die kruis, vir ons te loop. En daarom, skryf Johannes hier, moet ons ook bereid wees om vir iemand anders die pad enduit te loop. Luther sou hiervan sê dat die Christelike liefde eers dáár nodig word waar my naaste my gekrenk het en net my haat verdien. Jesus het immers ook opgemerk dat as ons net hulle liefhet wat ons liefhet, ons geen loon sou hê nie, omdat almal dit doen.

Daarom, broers en susters, of ons dit nou wil hoor of nie: die Christelike liefde is liefde wat bereid is om die pad te loop van die minste te wees en te dien. En dit is amper nie eers nodig om dit toe te pas in ons huwelike, mense­verhoudings of wat ook al nie. Dit is so vanselfsprekend.

Net: dit sê nie: eers vat ek vir myself wat ek wil hê en dan gun ek jou dieselfde nie. Nee, dit sê eerder: wat myne is is joune, tot selfs my lewe, want Christus het syne vir my gegee. Of soos iemand dit eendag mooi gesê het: die Christelike liefde is die bereidheid om dit wat waarde het vir my eie lewe oor te gee sodat dit die lewe van 'n ander kan verryk. En u en ek kan maar self besluit wat van werklike waarde in ons lewens is.

Laastens, broers en susters, sê God dat die Christelike liefde, die liefde wat die inisiatief neem, ten-spyte-van-liefde is, wat bereid is tot selfoorgawe en selfopoffering, nie maar net 'b blote gesindheid of praatjies is nie — maar dade. Ek meen 1 Johannes 3:18 kan dit nie duideliker sê nie.

So dikwels, broers en susters, meen ons dat liefde 'n sekere gevoel bedoel word, 'n sterk emosie, 'n gewaarwording, of selfs 'n emosionele toegeneentheid teenoor iemand. Natuurlik is die liefde dit ook, maar dit is nie al wat die liefde is nie. Wat meer is, dit is in die eerste plek nie wat die Christelike liefde is nie.

Hoor hoe mooi sê Luther dit: die liefde is nie 'n verborge toestand nie, dit is sigbare dade. Ons is soms sulke maklike praatjiemakers, broers en susters. Ons kan soms so aangeraak wees deur die nood van ander, maar as dit by die konkrete doen kom, dan raak ons traag.

Ja, selfs in liefdesverhoudings kan dit gebeur. Dit help tog nie dat 'n man vir sy vrou (of anders om) sê hy het haar lief en dit aanhoudend en oortuigend hartstogtelik betuig, as hy diep in sy hart eintlik net homself en die ekstase van die verhouding , en dit wat hy daaruit kan haal, soek nie. Dit is tog nie liefde nie. Want as hy haar waarlik liefhet, sal hy dit deur baie ander dade wys: deur vir haar om te gee, haar gevoelens te respekteer, haar voordeel te soek?

Hoe die Gees ons elkeen lei om hierdie liefde te leef, te doen, broers en susters, is egter onmoontlik om vooraf te sê. Waarvan die Gees ons elkeen sal oortuig, in ons gesinslewe, in ons familie, in ons werkkringe, in ons gesprekke oor die openbare en politieke lewe, in ons omgang met ons eie besittings en geleenthede, kan ons ook nie vooraf sê nie. Hoekom nie, broers en susters?

Omdat die liefde van God in Christus geen wet, reël of voorskrif is wat ons bloot net moet toepas nie. Die bedoeling van die Christelike liefde is eerder dat die Gees ons elkeen so sensitief sal maak, in ons eie konkrete, spesifieke lewensomstandighede, dat ons met Christus se oë na ander sal begin kyk.

En dit mag beteken, broers en susters, dat sovele omstandighede waaraan ons al so gewoond geraak het, skielik opnuut, of dalk vir die eerste keer, swaar op ons gewetens en harte mag begin lê. Omdat ons mense se nood begin raaksien, omdat ons mense anders as in die verlede begin raaksien, en begin raaksien dat juis, omdat liefde dade is, ons 'n verskil kan maak, dat ons dalk kan help.

Goed, wel deur opoffering heen, maar dit is mos hoe Jesus vir ons die voorbeeld gestel het. Deur self inisiatief te neem, tot ons voordeel, ten spyte van wat ons is en was, en so te doen dat daar vir ons 'n nuwe lewe moontlik gemaak is. Wanneer ons dieselfde vir ander doen, ook vir hulle ‘n nuwe lewe moontlik maak, leef hierdie liefde in ons.
Amen