Galasiërs 5:22; Lukas 15:1-10 (Preek 5)

Die vrug van die Gees is vreugde



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Daar is baie redes waarom Christene vol vreugde behoort te wees. Hulle het rede om bly te wees oor die gawes van die lewe, van die skepping, van menswees, van verlossing, van nuwe lewe, van kindskap en vergifnis (en so kan ons aangaan). Ook die vrug van die Gees, wat gelowiges van God ontvang, is iets wat ons bly behoort te maak.

Vanaand handel ons dan ook oor die vreugde as vrug van die Gees. Maar anders as wat u verwag, broers en susters, wil ek nie vanaand begin deur te vra wat ons bly maak nie, maar dit wat God bly maak. Met ander woorde, ek wil begin met die vraag: sê die Bybel vir ons wat God bly maak? Ek dink so.

Want die vreugde van God is presies waaroor die drie verhale in Lukas 15 handel. Die eerste is die van die gelykenis van die 100 skape waarvan een wegraak. Die eienaar los alles, en gaan soek sy skaap met oorgawe. Hy vind dit, en toe roep hy al sy bure en vriende om saam met hom groot fees te vier en bly te wees.

En dan sê Jesus: net so is dit in die hemel, net so is dit by God. By God is daar ongelooflike blydskap as net een verlore sondaar weer by God uitkom.

Die tweede vertelling wat handel oor die verlore muntstuk is in wese net 'n ander versie van die wat handel oor die verlore skaap. Die penning raak weg, en wanneer die vrou dit na baie moeite kry, vier sy fees saam met feitlik elke ander vrou wat sy ken.

En dan sê Jesus presies dieselfde as by die vorige gelykenis: net so is God geweldig bly wanneer een sondaar tot bekering kom. Want God se hart gaan uit na sondaars, verlorenes, na behoeftiges.

Die gelykenis van die verlore seun (of liewer, die gelykenis van die vreugde van die vader) se eerste gedeelte is eintlik ook maar net 'n herhaling van die eerste twee gelykenisse. Die seun loop weg, maar keer later terug. Ons ken die verhaal baie goed. Sy terugkeer maak die vader uitbundig bly, so bly dat hy hom tegemoet hardloop — iets wat in daardie tyd totaal onwaardig vir 'n Oosterse vader was.

God, wil Lukas dus hier sê, gee nie om om Homself te verneder nie, neer te buig, onwaardig te maak om die sondaar te red nie. Daarom buig Hy Homself neer in Jesus Christus, en wanneer mense, sondaarmense, in die man aan die kruis glo, dan is God bly, dan, sê Jesus in vers 24, begin God vrolik word.

Want so is God, so klop God se hart. So voel God oor ons. Daar is plek in sy hart vir almal van ons. Daarom is Hy bly as ons by Hom tuiskom en terugkom.

Wat ons egter ook moet raaksien, broers en susters, is dat hierdie drie gelykenisse, en veral die laaste een, nie alleen vir ons wil sê hoe God is nie, maar ook hoe ons is. Hoe ons, wat kerkmense is, wat goeie mense is, wat godsdienstige mense is, se vreugde soms lyk. Daarom vertel Jesus ook die tweede deel van die gelykenis van die verlore seun, die gedeelte oor die oudste broer.

Die oudste seun, vertel Jesus, was in die veld toe die jongste seun teruggekeer het. En toe hy van ver af aankom en die gelag en die blydskap hoor, was hy onmiddellik vies. En daar het seker 'n hele paar sake deur sy kop gemaal. Sake soos: hierdie broer is eintlik 'n skelm nikswerd, hy verdien wat met hom gebeur het, behoort getugtig en gestraf te word, en nou is almal bly dat hy terug is. Hy kom seker net nog geld vra, en homself dan weer uit die voete maak. Hy is nou maar eenmaal 'n sondaar, en bo alles is sy pa alte sagsinnig.

Daarom: laat jonger boetie gerus maar sy las dra, hy sal nie verander nie, behandel hom volgens sy dade, moenie hom nog 'n kans gee nie. Daarom ook sy woorde aan sy pa: dit is ek of daardie skelm. As hy binne bly, bly ek buite. Dit is net een van ons, maar nie albei nie.

Maar omdat die vader hierdie seun ook liefhet, smeek hy weer by die seun om in te kom. Maar die oudste wil nie. Nee, sê hy, hy verstaan sy pa nie. Hoekom het sy pa nie vir hom en sy vriende, almal ordentlike, goeie en voorbeeldige mense soos hy, ook 'n bokkie geslag nie?

Maar steeds sien ons word die vader nie kwaad nie. Hoekom nie? Want in sy oë was hierdie seun ook verlore. Verlore omdat hy nog nie ontdek dat 'n mens juis deur liefde vir ander ware blydskap kan ontdek nie. En daarom nooi hy hom weer uit, om in te kom, maar ook om saam met almal oor die boetie bly te wees.

En dan, broers en susters, baie insiggewend: net daar hou Jesus op. Hy sê nie wat verder gebeur het nie, of die oudste ingegaan of weggestap het nie. Hoekom doen Jesus dit? Hoekom vertel Hy die storie nie klaar nie?

Omdat Hy wil hê dat ons die storie elkeen self klaar moet vertel. Waar ons twee keuses het: of ons stap weg en draai so ons rug, nie alleen op ander nie, maar in wese op God, of ons gaan in, en ons is bly omdat iemand weer by die Here uitgekom het, dat iemand se sonde vergewe is, al was sy sonde, sonde teenoor my, al was ek die een wat gelei het onder so iemand se dade.

Want dit is die vreugde wat vrug van die Gees is. Die vreugde as vrug van die Gees, dus as vrug wat van God af kom, is God se vreugde. En wat maak God bly? Wanneer sy kinders tuis kom. Wanneer sondaars weer God vind. Wanneer 'n verlore skaap in die gemeente eendag skielik weer 'n sitplek hier tussen ons kom vul.

Wat het ons gedink, broers en susters, is vreugde heel waarskynlik as vrug van die Gees? Dat ons bly sal wees, blymoedig sal wees, nooit hartseer nie, opgeruimd onder alle omstandighede, blymoedig ook in donker dae? Heel waarskynlik. Maar hier sien ons ons was verkeerd: vreugde as die vrug van die Gees is om bly te wees waaroor God bly is en bly word.

Om saam met die Vader bly te wees oor broers en susters wat terugkom in die Vaderhuis, om bly te wees, nie in die eerste plek oor ons eie seëninge nie, maar oor ander se vasgeloopte lewens wat omkeer in hoop en vreugde, om ook sondaars, vyande, te leer vergewe, aan te neem en te dien, en bly te wees hulle is nou saam met ons in die Vaderhuis.

Die drie gelykenisse sê, broers en susters, dat elke keer wanneer iets wat weg was gevind is, daar blydskap in die hemele was. En ek wonder soms, broers en susters, of hierdie blydskap soms helaas nie maar net in die hemel is nie, en glad nie in die kerk nie. Hoekom sê ek so?

Want die Vader het iemand soms lankal vergewe, dan verwyt, oordeel en wantrou ons so 'n persoon (in die kerk). Die Vader het soms iemand reeds omhels en gesoen, dan trek ons soms steeds die neus in die lig en keer ons onsself van so 'n persoon in meerwaardigheid af (in die kerk). Die Vader noem mense, my kinders, en dan weier ons steeds om hulle ons broers en susters te laat wees en hulle so te behandel. Die Vader gaan uit na sy kinders en nood in die wêreld, en al wat ons soms maak is om mekaar hier in sy huis warm te broei. Ja, die Vader wil vir ons 'n groot feesmaal berei, saam met al sy kinders, maar ons wil eenkant, selftevrede, onsself vermaak saam met ons vriende.

Mag die Gees ons help, broers en susters, dat ons die Vaderhart van God sal verstaan, en begin om sy vreugde en vreugdes te deel. Wanneer dit gebeur, word ander belangrik in my lewe, nie ek nie, wanneer dit gebeur, het die Gees ons werklik gelei om nuwe lewensmoontlikhede raak te sien.
Amen