Efesiërs 4:1-7, 11-13; Galasiërs 5:22 (Preek 6)

Die vrug van die Gees is vrede



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
As ons sê dat die vrug van die Gees vrede is, dan sê ons iets wat eintlik so vanselfsprekend is dat 'n mens dit amper nie eers meer hoor nie. Want die evangelie is 'n evangelie van vrede, ons noem Christus die vredevors, wanneer Christus gebore word sing die engele van vrede, wanneer die dissipels by Jesus se oop graf staan verkondig die engele aan hulle vrede, wanneer Jesus aan sy dissipels verskyn na sy opstanding laat Hy aan hulle vrede na, gee Hy aan hulle sy vrede, en telkens wanneer ons die erediens begin en afsluit ontvang ons God se vrede. Daarom: as ons sê die vrug van die Gees is ook vrede, dan sê ons iets wat regdeur die Skrif bevestig word.

Maar wat beteken hierdie woordjie vrede waarvan ons so dikwels in die Bybel lees? Of beter gevra: hoe lyk evange­liese/Christelike vrede? In die Bybel, broers en susters, is vrede nie maar net — soos ons dikwels dink — die afwe­sigheid van konflik, onrus en stryd nie. Dit is nie maar net bloot 'n toestand waar 'n mens, ter wille van die `vrede’ eerder niks sê oor spanning en probleme nie. Waar 'n mens, `ter wille van die vrede’ 'n ander probeer vermy, 'n afstand handhaaf of 'n bepaalde saak doodswyg omdat enige ontmoeting of ophaal van die saak tot konflik sal lei nie. Met ander woorde, broers en susters, evangeliese vrede is nie 'n dikmond-stilswye, die ontevrede grimmige opkrop, verdra, uithou maar boekhou en onthou wat ons so dikwels vrede noem nie.

Nee, broers en susters: volgens die Bybel is vrede, sjalom, 'n toestand van totale harmonie, waar daar liefde tussen partye is, begrip, samewerking, aanvulling, asook 'n situasie waarin elkeen tot sy/haar volle reg kom.

Dit is daarom geen wonder, broers en susters, as wat ons hierbo van die evangeliese vrede gesê het korrek is, dat die Bybel in Efesiërs 4:12 sê dat Jesus self ons vrede is nie. Jesus is ons vrede. Want dit is Hy wat die stukkende verhouding tussen God en mens en mens en mens kom herstel het. Hy het, deur sy soendood, vrede tussen God en mens laat kom, die vyandskap tussen God en mens weggeneem, asook die moontlikheid van geen vyandskap tussen mens en mens. 'n Nuwe eenheid, waar almal, as deel van die liggaam van Christus, mekaar aanvul, dien en liefhet, en dan met begrip, samewerking, ondersteuning, eensge­sindheid en wedersydse ondersteuning.

Met dit alles in ag genome, is dit dan verder nie vreemd, broers en susters, dat Efesiërs 4:2-3 ons oproep om in hierdie vrede van Christus te leef nie, dat ons mekaar in liefde sal verdra, en ons daarop sal toelê om die eenheid wat die Gees tussen ons gesmee het te handhaaf deur werklik daarna te soek om in vrede met mekaar te lewe. Want hierdie eenheid, sê Efesiërs 4:4-6, is ontsettend belangrik: want daar is maar net een liggaam, en een Gees, een hoop waartoe ons geroep is, een Here, een geloof, een doop, en een God en Vader van almal, en dit smelt ons tot 'n wonderlike eenheid saam..

Om hierdie redes, sê Efesiërs, moet ons nie maar net alleen soek of hoop op vrede nie, maar moet ons ernstig daarna strewe om dié eenheid te bewaar. En die woordjie bewaar is hier baie belangrik, want in die Grieks beteken die woordjie bewaar wat hier gebruik word om haastig te wees, hartstogtelik te wees, 'n volle poging van al ons kragte in te span om hierdie eenheid tussen Christene te bewaar, te behou, te handhaaf, te koester en waar te maak. Met ander woorde: volgens die Bybel is eenheid en vrede nie maar net 'n luukse, 'n opsionele ekstra waaroor sommiges opgewonde mag raak en waaroor ander maar net hulle skouers kan opaal nie. Nee, volgens die Bybel is eenheid en vrede eintlik die geestelike en geloofslewe self. Waar dit nie teenwoordig is nie, is daar eintlik geen geloof en diens aan God nie. Want Jesus is ons vrede, Jesus is ons eenheid met mekaar, en ons almal glo tog in Jesus Christus. Christus en vrede gaan dus saam, dit kan nie anders nie.

Hoekom, broers en susters, moet ons hierdie band van eenheid onder mekaar bewaar? Juis omdat hierdie eenheid wat ons in Christus ontvang het, altyd weer en weer bedreig word. Op soveel maniere. Ons is byvoorbeeld nie dieselfde nie. Ons word ook nie engele wanneer ons tot geloof kom nie. Ons bly mense. Ja, in Christus en deur die Gees, word ons nuwe mense, maar tog mense. Met nog veel van die ou mens in ons. Met verskillende agtergronde, sienings, geaardhede, opvoeding en verbindings aan bepaalde tradisies.

Ons gee mekaar selfs soms aanstoot. Ons staan mekaar nie altyd aan nie. Ons het soms nie veel in gemeen nie. Ook in die kerk, en soms voel 'n mens: veral in die kerk. Trouens, die geskiedenis van die kerk asook die talle voorskrifte aan gelowiges in die gemeentes van die Nuwe Testament is sprekend van onvrede, spanning en verskille.

Juis daarom, broers en susters, pleit Efesiërs so dringend by ons dat ons mekaar in liefde sal verdra, en ernstig en hartstogtelik daarna sal strewe om tog die eenheid te bewaar, te behou, te koester, en sigbaar te maak. Ten spyte van verskille en somtydse geskille.

Hoe doen ons dit, broers en susters? Prakties. Hier gee die Nuwe Testament, veral deur die beeld van die huwelik te gebruik, vir ons 'n goeie en praktiese riglyn: nie deur gedwonge eendersheid nie, maar ook nie deur totale andersheid nie. Liewers: iewers tussen die twee uiter­stes.

Nie deur eendersheid te probeer afdwing nie, nie deur almal eenders te wil maak nie, eenders te wil laat glo, eenders te laat aanbid, eenders te laat sing of eenders te laat leef nie. Nie deur ander te dwing om hulle oortuigings en standpunte prys te gee nie. Ook nie om ander se belangstellings en inisiatiewe en eie aard te onderdruk nie.

Maar ook nie, broers en susters, deur skeiding te wil najaag nie. Nie byvoorbeeld deur maar te begin glo dat dit maar beter is as sommige gelowiges hulle maar moet afskei en op hulle eie moet begin glo, aanbid en leef nie. Nie deur te begin sê dat die verskille in opinies en gewoonte tussen ons so sterk is dat elkeen maar liewer sy eie pad moet gaan nie,

Nee, sê Efesiërs, ons bewaar die eenheid van die Gees deur die band van vrede as ons mekaar se eie aard en uniekheid respekteer, en tegelyk konsentreer op wat ons met mekaar deel, en juis hierdie gemeenskaplikhede vertroetel, uitbou en bevorder.

Want wanneer Paulus met nadruk sê dat daar in die kerk, in die nuwe eenheid in Christus, nie meer Jood of Griek, man of vrou, slaaf of vry mens is nie, bedoel hy nie daarmee dat almal nou, omdat hulle in Christus glo, presies eenders is nie. Want hy wel sê is dat, alhoewel ons nie skielik in Christus eenders word nie, ons tog wel een word. In Christus word ons tot een saamgebind, tot 'n nuwe band, wat sterker en groter is as al ons verskille. En dat ons hierdie band van eenheid en vrede so moet beoefen, bewaar en uitbou dat ons verskille en geskille nooit belangriker as die eenheid sal word nie.

Hoe doen ons dit prakties in die kerk, broers en susters? Nie deur mekaar te beskinder en te benadeel nie, maar mekaar te respekteer, te help, belangstelling te toon en mekaar te dien. Deur as gemeentelede vir mekaar om te gee, sorg te dra, en werklik Christelike gemeenskap met mekaar te beoefen. Deur tyd te maak vir mekaar, uit te vind oor ander se wel en wee, en mee te doen aan gesamentlike dienswerk, projekte en funksies.

Nie, broers en susters, omdat ons nie ook ons eie vriende het by wie ons eerder 'n uurtjie sou wou deurbring nie, nie omdat ons nie reeds baie ander verpligtinge, afsprake en verantwoordelikhede het nie, nie omdat ons enige besondere aangetrokkenheid voel tot ander in 'n wyk of die gemeente nie, maar eenvoudig omdat ons, deur ons gemeenskaplike geloof aan Jesus Christus aan mekaar verbonde is, en ons mekaar daarom eers moet ken, alvorens ons mekaar kan liefhê en dien.

Nie, broers en susters, dat 'n bewaring van eenheid dan net maanskyn en rose sal wees nie. Ook nie dat dit die maklikste weg is nie. Want kom ons wees eerlik: die weg van die vlees wat Galasiërs 5:20 beskryf, die weg van haat, vyandskap, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns en derglike dinge is eintlik baie makliker. Die feit van die saak is egter: die geloofwaardigheid van kerk, veral in ons huidige nuwe samelewing, hang van ons eenheid in die geloof af. Of almal in die kerk in vrede kan leef, juis dit wat in die wêreld daarbuite nie gebeur nie.

Hoekom, broers en susters, behoort die gelowige eerder die moeiliker pad te kies, die pad van vrede en eenheid? Eerstens, ter wille van onsself. Ter wille van die vreugde wat ons sal ervaar wanneer ons die genadewerkinge van God in ons lewens ook in ander se lewens 'n moontlikheid en ervaring maak.

En tweedens ter wille van Christus: ter wille van ons getuienis in die wêreld dat Christus werklik ons vrede is, dat Hy 'n band tussen mense gelê het wat sterker as alle verskille en geskille is, sodat mense ook kan glo dat Christus tussen ons en God 'n band kom lê het wat sterker is as alle verskille en geskille.

So, deurdat ons die eenheid van die Gees bewaar deur die band van vrede, word Jesus Christus verheerlik. En word ons volwasse mense in die geloof, wat saam opgroei na Christus toe.
Amen