Matteus 18:21-35; Galasiërs 5:14-15, 22

Die vrug van die Gees is geduld (Preek 7)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die vrug van die Gees, sê Galasiërs 5:22, is ook geduld, of soos die 1933-vertaling sê, lankmoedigheid. Wat beteken geduld, broers en susters?

Ons kry so 'n ietwat indruk daarvan wanneer ons in Galasiërs 5:14-15 lees wat Paulus daaronder verstaan het: Die hele wet, sê hy, word in een woord saamgevat naamlik dat ons mekaar moet liefhê. Maar, sê hy vir die Galasiërs, julle byt en verskeur mekaar. Pasop dat julle nie so aangaan en aangaan dat julle mekaar later heeltemal verslind nie.

Nog 'n beter indruk van wat geduld beteken, broers en susters, kry ons egter by Jesus self waar Hy hier aan die woord in Matteus 18 is. Jesus is hier besig om sy dissipels te leer hoe hulle moet omgaan met diegene wat na hulle oordeel, sondig, ook teen hulle sondig. Hy begin deur te sê dat wanneer jou broer verkeerd opgetree het teenoor jou (let wel: nie teen iemand anders of so in die algemeen verkeerd was nie), waar hy jou te na gekom het, jou benadeel het, dan moet jy hom eenkant en alleen teregwys. En as hy na jou luister, dan het jy jou broer teruggewen. Net so. Klaar. Niks meer nodig nie. Alles nou reg. Want dan het jy jou broer mos teruggewen. Dan is sake weer reg tussen julle. En dit is mos hoe jy dit wou gehad het.

Dit is natuurlik 'n mondvol wat Jesus hier sê, broers en susters, laat ons maar eerlik wees. Want jou broer is nie gestraf nie. Hy het nie gely vir sy dade nie. Niemand weet eers daarvan nie. Alles het juis eenkant gebeur. Niemand weet dat jy verontreg was nie. Niemand weet dat hy moes luister, skuld moes erken, en sy gedrag verander nie. Niemand kry jou jammer nie, en niemand dink die broer was darem eintlik 'n regte skurk nie. Inderdaad 'n hele mond vol van Jesus se kant af.

Interessant, broers en susters, is dat ons uit die teks aflei dat hierdie nie vir Petrus 'n probleem was nie. Hy het goed geluister. Want onmiddellik verstaan hy dat Jesus hier besig is om met hulle oor vergifnis te praat. Wat natuurlik nooit 'n maklike saak is nie. Veral as jy deur die optrede van 'n ander werklik benadeel is. Tog lyk dit of Petrus wat Jesus hier sê, aanvaar.

Maar tog bly Petrus ook 'n mens. En daar is iets wat hom pla. Die saak rondom die grens van vergifnis. Om te vergewe is vir hom aanvaarbaar, maar hoeveel keer moet hy bereid wees om dit te doen? Daar moet tog seker êrens 'n grens wees? Daar kom tog seker 'n punt waar 'n mens moet sê: genoeg is nou genoeg. Nou kan dit nie verder gaan nie.

Tipies van die wettiese mens, wat presies wil weet wat hy mag en nie mag nie, wat jy moet en nie moet nie. Waar die grens kom wanneer jy nie meer jou hoef te bekommer nie. Waar, wat jy gedoen het, duidelik genoeg was. Daarom stel Petrus 'n perk. Sewe keer, reken hy Jesus, sal seker genoeg wees. Daar is seker ten minste die grens van wat van jou verwag word.

Maar dan gee Jesus hom 'n aangrypende antwoord. Nie sewe maal nie, maar sewentig maal sewe. Vergifnis, sê Jesus, het nie te maak met somme nie. Vergeet van tel, vergeet van boekhou. En om dit verder te verduidelik, vertel Jesus 'n gelykenis.

Daar was 'n man, sê Jesus, wat soveel geskuld het dat hy sy skuld nie kon regmaak of aflos nie. Met hierdie skuldlas het hy geleef, en geweet dat die dag van afrekening tog eendag sou aanbreek, 'n dag wat hy logies gevrees het. En toe breek die dag aan.

Verkoop alles, sê die koning, wat hy het, ook sy vrou en sy kinders. Nie omdat dit enigsins sy skuld sou aflos nie, maar omdat reg en geregtigheid moes geskied. Maar die man smeek en pleit. Om tyd, om uitstel. Met ander woorde: hy pleit om die geduld, die lankmoedigheid van die koning. En dan gee die koning dit. Hy kry hom jammer, en laat hom gaan.

'n Mens kan jou maar net indink hoe bly hierdie man moes gewees het! Ewe skielik was hy vry. Hy kon huis toe gaan, na sy eie huis, na sy eie familie. Maar toe hy buite kom, vertel Jesus, gebeur amper die onbegryplike: hy gryp 'n medeamptenaar wat hom geld skuld, wurg hom en eis wat hy hom skuld. En soos hy vir uitstel tyd, met ander woorde, geduld en lankmoedigheid gepleit het, pleit hierdie man by hom. Met die verskil dat hierdie man seker wat hy geskuld het sou kon betaal.

Maar die een wat pas vergewe is, wat pas aan die mooi kant van geduld en lankmoedigheid gestaan het, wil nie wat hy so pas ontvang het uitdeel nie. En toe die koning dit hoor, roep hy hom terug en gee hom oor om gemartel te word. Want, sê hy: moes jy hom nie jammer gekry het soos ek jou jammer gekry het nie?

Dit is baie maklik om af te lei, broers en susters, hoe Jesus Petrus se vraag beantwoord het. God het onbeperkte geduld en vergifnis, daarom moet ons ook, juis teenoor ons skuldige naaste. Want ons is hierdie amptenaar, broers en susters. Dit is ons oneindige skuld wat vergewe is, en dit is waarom ons dieselfde aan ons medemens moet doen. So eenvoudig is dit. Behalwe natuurlik, broers en susters, as ons nog nooit self ervaar het wat dit beteken om vergewe te word nie, as ons nie 'n snars van hierdie gelykenis en die koninkryk verstaan of wil verstaan nie.

En hierdie, broers en susters, is juis die groot gevaar van oppervlakkige prediking en moralistiese mooipraatjies oor die geestelike lewe.. As ons nie verstaan wat sonde en skuld en vergifnis is nie, as ons maar net dink die evangelie wil van redelik ordentlike mense nog 'n meer ordentlike mense maak, het ons nog nooit verstaan waaroor diens aan God gaan nie. Iemand wat nog nooit raakgesien het dat God met ons oneindige geduld het nie, sal daarom nie met ander geduld kan hê nie.

Wat beteken dit alles prakties, broers en susters? Hoe, sê die Bybel, beoefen 'n mens hierdie geduld, as vrug van die Gees, prakties? Nie deur mekaar te byt en later op te vreet nie. Nie deur ander dop te hou, te kritiseer, te verwyt, te beskuldig en later te haat nie. 'n Ander niks te gun en ander te probeer aftakel, verwoes, slegmaak en afbreek nie. Ook nie deur ander te belaster te beskinder, te beswadder en te benadeel nie.

Ook nie, broers en susters, om vergifnis en geduld te beoefen soos Petrus wou nie. Petrus wou nie byt en opeet nie, hy wou vergewe. Maar hoekom? Hy wou dit doen omdat dit voordelig was, omdat dit beter menslike verhoudings moontlik gemaak het, omdat daar vrede sou wees (onheilige vrede).

Met ander woorde: hy wou vergewe, maar tog onthou, tog tel, sodat, wanneer die skuld te veel en te erg geword het, hy dit sou kon ophaal en straf. Hy wou vergewe maar nie vergeet nie. Hy wou vergewe, maar tog onthou, ingeval dit later nodig sou wees. Hy wou vergewe met 'n dreigement: ek vergewe jou nou, maar pasop as jy dit die sesde keer doen, want dan….

Vergifnis, geduld, lankmoedigheid, broers en susters, leer Jesus ons, is egter iets anders. Dit is om waarlik, van harte, te vergeet. Nie om te maak of jy nie sien en nie weet nie, maar, om terwyl jy weet, te vergewe, die mens te aanvaar, en 'n nuwe lewe te gun.

Daarom: geduld, as vrug van die Gees, is om mense 'n kans te gee. Om hulle ou mislukkings nooit weer teen hulle te hou nie. Want dit is tog wat God met ons doen. Hy tel nie. Ons mag ook nie. Daarom: wie tel, ken God nie.
Amen