Galasiërs 5:22; Romeine 2:1-5; Titus 3:3-5

Die vrug van die Gees is vriendelikheid (Preek 8)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Wanneer ons sê die vrug van die Gees is ook vriendelikheid, en ons wil sê wat hierdie vriendelikheid spesifiek beteken, kom ons onmiddellik voor 'n paar probleme te staan.

En laat ek dit so eenvoudig as moontlik probeer verduidelik. Die spesifieke woord wat hier in Galasiërs 5:22 gebruik word, broers en susters, kom net 10 keer in die hele Nuwe Testament voor. As jy egter die hoeveelheid kere wat die woord vriendelikheid in die Nuwe Testament gebruik word gaan tel, dan sien jy dat dit baie meer as net 10 keer is. Met ander woorde: weens gebrek aan Afrikaanse woordeskat het die vertalers ook ander Griekse woorde met vriendelikheid vertaal. Wat eenvoudig beteken dat wanneer ons wil bepaal wat met vriendelikheid hier in Galasiërs 5:22 bedoel word, ons nie maar net na al die kere gaan kyk wat die woord vriendelikheid in die Nuwe Testament voorkom nie.

Verder broers en susters, het die vriendelikheid waarvan Galasiërs 5:22 hier praat klaarblyklik niks te make met dit wat ons dikwels onder vriendelikheid verstaan nie. Dit is nie die soort vriendelikheid waarvoor telefoniste, sekretarisse of TV-aankondigers betaal word nie, ook nie 'n oppervlakkige, aangeleerde trek van die gesig wat ons 'n glimlag noem en met vriendelikheid geassosieer word nie.

Maar as dit nie die vriendelikheid is waarvan Galasiërs 5:22 praat nie, wat is dit dan? Veral twee gedeeltes in die Nuwe Testament, broers en susters, wat presies dieselfde Griekse woord as Galasiërs 5:22 gebruik as Galasiërs 5:22 na vriendelikheid verwys, kan ons hier help, naamlik Romeine 2:4 en Titus 3:4. Kom ons kyk eers na Romeine 2:4.

In Romeine skryf Paulus veral aan vrome en trotse Jode wat gedink het dat hulle beter is as ander mense, en dat juis daarom hulle, en nie ander nie, God se goedheid verdien. Paulus se antwoord hierop is dat hulle hulleself nie alleen misgis nie, maar dat ook hulle, soos alle ander mense, onder die oordeel van God staan. Wat meer is: die enigste rede waarom God hulle nie onmiddellik in sy toorn geoordeel het nie, is dat Hy met sy goedheid, verdraagsaamheid/goedertierenheid en geduld/vriendelikheid in die sin van Galasiërs 5:22 hulle tot bekering wil lei Met ander woorde, deur sy goedheid, goedertierenheid en vriendelikheid verdra God hulle omdat Hy hulle wil red. En dan nie omdat hulle dit verdien, daarop aanspraak kan maak omdat hulle Jode is of goed is nie, maar omdat God met hulle iets goeds bedoel.

Afgelei dus, broers en susters, sou ons kon sê dat vriendelikheid, as vrug van die Gees die volgende beteken: dit beteken om mense te verdra, geduldig te vergewe, kans te gee, ten spyte van hulle sonde en foute, en dit alles eenvoudig omdat jy dit goed bedoel met hierdie mense, hulle wil red, wil help, êrens wil bring. Dít, is vriendelikheid volgens Galasiërs 5:22, en nie maar net om te glimlag en aangenaam te wees nie.

Die tweede gedeelte, wat presies wil sê wat die vriendelikheid van Galasiërs 5:22 beteken, en waarna ek hierbo verwys het, is Titus 3:4. En ook hier is die argument amper presies dieselfde as in Romeine 2:4: ons het straf verdien want ons was op die verkeerde pad, was haatlik en het mekaar gehaat (vers 3). Maar toe het die goedheid/vriendelikheid (die woord wat vir vriendelikheid in Galasiërs 5:22 gebruik word) van God verskyn, wat ons behou het, wat gemaak het dat God nie in sy toorn oor ons geoordeel het nie (vers 4). En dit alles (vers 5), het God gedoen ten spyte van wat ons was. En hoekom: omdat God ons wou red (vers 6-7), omdat dit sy goeie bedoeling met ons was. Dít is vriendelikheid.

Kom ons vat saam: vriendelikheid, in terme van die spesifieke word wat daar gebruik word, is nie maar net 'n vriendelike glimlag, positiewe lyftaal, 'n aangename persoonlikheid of geaardheid nie. Nee, dit is:

  • om mense te verdra;
  • hulle geduldig te vergewe;
  • te weier om met hulle te handel op grond van dit wat hulle ons of ander aangedoen het;
  • hulle 'n kans te gee;
  • ten spyte van die feit dat hulle verdien om eintlik geoordeel te word;
  • omdat ons dit goed bedoel met so iemand;
  • dat so iemand gered kan word.

Dit is om dieper te sien as iemand se foute en verkeerdheid, om so iemand se moontlikhede raak te sien. Verder: soos God sy vriendelikheid sigbaar kom toon het in die daad van die stuur van Jesus, is vriendelikheid nie maar net 'n gevoel nie, maar 'n daad, iets wat jy sigbaar doen. En: soos God sy Seun vir die wêreld, vir alle mense gestuur het, moet hierdie vriendelikheid deur ons aan alle mense bewys word. Dan bepaal die Gees ons gedrag.

Wat beteken dit prakties, broers en susters? Dat ons sal moet afleer om mense as hopeloos op te gee of om hulle af te skryf. Dat ons sal leer om by mense se tekorte verby te kyk, hulle moontlikhede raak te sien en hulle te help om dit te bereik. Dat uitsprake soos: `Nee wat, ek het julle mos gesê', `Ek het dit eintlik van hom verwag', of `Wat het julle dan eintlik anders gedink?' nie meer deel van ons woordeskat sal wees nie.

Mense, broers en susters, is in 'n baie groot mate wat ons van hulle maak. As mense vertrou word, probeer hulle dikwels om te bewys dat hulle daardie vertroue waardig is. As mense egter die idee kry dat hulle nie vertrou word nie, gee hulle nie eintlik om wat hulle doen nie. As mense weet almal dink hulle gaan in elk geval misluk, dan misluk hulle heel dikwels. As mense egter weet dat ander van hulle goeie verwagtings koester, probeer hulle dit dikwels vervul.

Met ander woorde: Christelike vriendelikheid beteken om só met mense om te gaan dat ons die beste in hulle te voorskyn help haal, en hulle nie afbreek en verwoes nie.

Wat natuurlik nie beteken dat ons mense maar net laat begaan nie, broers en susters. Want die vriendelikheid waarvan Galasiërs 5 hier praat is nie swakheid nie. Dit is nie om nie om te gee wat van ander word nie. Dit is nie 'n onverskilligheid oor die toestand of lewe van ander nie.

Want om iemand te aanvaar, jou kind, jou man, jou vrou, jou vriend, is nie dieselfde as om so iemand maar net te laat begaan nie. Vriendelikheid beteken juis om nie by ander verby te leef nie, en nie die oë te sluit vir die pad waarop hulle besig is om te stap nie.

Ook beteken dit nie dat ons die eie ideale wat ons het, of die ideale wat ons vir ander koester, op ander sal afdwing nie. Hierdie is ongelukkig juis die oorsaak van soveel ongelukkigheid in so baie verhoudings, veral verhoudings tussen ouers en kinders. Ons het 'n idee hoe ons 'n ander wil hê, en dan probeer ons om hierdie beeld of idee op 'n ander af te dwing. Dan hou ons mekaar dop. Ons kritiseer mekaar. Ons verwyt mekaar. Ons kla oor mekaar. En in die proses breek ons dikwels die eie unieke aard van die ander een af.

Christelike vriendelikheid, broers en susters, is juis die teenoorgestelde. Dit is om in die eerste plek 'n ander een te verdra, al verskil ek hoeveel van so iemand. Dit is om 'n ander een geduldig te vergewe as so iemand byvoorbeeld my te nagekom het. Te weier om met so iemand te handel op grond van dit wat hulle ons of ander aangedoen het, hulle 'n kans te gee, ten spyte van die feit dat hulle verdien om eintlik geoordeel te word. Hoekom? Omdat ons dit goed bedoel met so iemand, en iemand so wil begelei dat so iemand weer by God sal uitkom.

Dit is hoe God met ons gehandel het, volgens Romeine 2 en Titus 3. Dit het God gedoen om ons te red, ons met Hom te versoen. Geesvervulde mense, mense wat toelaat dat die Gees hulle gedrag bepaal, moet dit ook doen.
Amen