2 Korintiërs 1:12-2:4

Die vrug van die Gees as getrouheid (Preek 9)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Wanneer Galasiërs 5:22 sê dat die vrug van die Gees getrouheid is, word daarmee eintlik bedoel betroubaar­heid of dan, geloofwaardigheid. Of anders gesê: iemand is betroubaar/geloofwaardig as ander mense weet wat hulle aan jou het. As jy eg is. As ander op jou kan staatmaak. As dit duidelik is wie jy is, waarvoor jy staan en dat jy daarvoor vertrou kan word.

Want in die lewe werk dit eenvoudig so, broers en susters: ons glo net iemand as hulle geloofwaardig is, as so iemand betroubaar lyk en is, as ons die gevoel het dat ons op hulle peil kan trek, kan staatmaak op wat hulle sê, onderneem en belowe.

Net so is die teendeel hiervan waar: as ons iemand nie heeltemal vertrou nie, glo ons gewoonlik nie wat so iemand sê nie, want as iemand wat onbetroubaar blyk te wees iets sê, dan wonder ons altyd: wat bedoel hy nou werklik?, wat gaan eintlik in sy kop aan?; wat is eintlik sy bedoeling en planne?

So, broers en susters, het die gemeente in Korinte blykbaar ook oor Paulus begin voel. Paulus het skynbaar twee keer die Korintiërs belowe dat hy hulle sal besoek, maar het toe nie gegaan nie (vgl 2 Kor 1:15-16). Hy het belowe, maar nie gekom nie. En vir die Korintiërs het dit die idee gegee dat Paulus vleeslik is, onbetroubaar. Hy maak beloftes, maar as sake begin druk, verander hy maklik van plan. Wanneer sake begin druk, soek hy uiteindelik eerste sy eie voordeel, sy eie gerief. Daarom, het hulle gereken, kan hy nie vertrou word nie. Hulle het vermoed dat sy eie persoonlike belang altyd die finale deurslag gee. Daarom was hy vir hulle onbetroubaar, en ongeloofwaardig.

Vir Paulus se eie gevoel was die klagtes, die vermoedens en afleidings van die Korintiërs vals en onwaar. Daarom skryf hy so indringend hier aan hulle. Hy was nie onopreg toe hy aan hulle belowe het dat hy sou kom nie. Ook was hy nie haastig om maar net beloftes te maak, of selfsugtig of deur menslike oorwegings gelei toe hy uiteindelik nie gekom het nie.

Nee, sê Paulus, hy het nie gekom nie, want hy wou hulle spaar. Daar was twis in die gemeente. Daar was onmin. Van die lidmate het mekaar gehaat. Daar was onreëlmatighede wanneer hulle nagmaal gehou het, party het geroem op hulle gawes, daar was partyskappe. En, impliseer Paulus, hy sou daaroor moes praat, hy sou hulle moes aanspreek, selfs met hulle moes raas, en dit sou net hartseer en droefheid bring. en daarvoor was hy nie lus nie. Daarom het hy besluit om eerder vir hulle te skryf, en, omdat hulle vas staan in die geloof, gehoop dat hulle die probleme selfs sal kan oplos. En sal verstaan dat hulle siening oor hom net 'n misverstand is. Dat hy sy nie kom goed bedoel het, maar dat hulle dit verkeerd verstaan.

Vir Paulus, dus, broers en susters, as verkondiger van die evangelie, was dit baie baie belangrik dat ander hom as geloofwaardig sou beskou. Dat hulle op hom kon staatmaak. Juis omdat, vir Paulus, die geloofwaardigheid van die evangelie wat hy verkondig het, nie onder verdenking mag gekom het nie. Daarom wou hy seker maak dat ander raaksien dat sy lewe by sy woorde pas.

'n Saak, broers en susters, wat vir ons as gelowiges vandag net so belangrik behoort te wees. 'n Geweldige belangrikheid wat ons dalk nie aldag besef nie. Maak ons die evangelie wat ons glo en bely waar deur ons dade? Bely ons een saak, en lewe dan so? Of doen ons anders en juis daarom vertrou ander ons nie, en glo hulle ook nie die evangelie wat ons verkondig nie?

Kom ek noem u 'n paar voorbeelde waar so iets wel kan gebeur, eers 'n algemene voorbeeld, en dan so twee of meer voorbeelde uit ons eie lewens: op 'n geleentheid, word vertel, wou die nar van die koning die mense van 'n dorpie waarsku dat die dorp van een kant af aan die brand was en dat hulle moes vlug. En hoe erger en ernstiger hy gepleit en geskree het, hoe snaakser het die mense hom gevind, hoe meer het die mense gelag en hoe minder het hulle hom geglo. Hoekom? Want sy hele lewe lank het hy net grappe gemaak, hoekom sou hy nie nou ook nie?

'n Paar voorbeelde uit ons eie lewe: as Christene praat ons van die oorvloedige blydskap wat daar in Christus is, maar ons sombere, mistroostige, klaerige en ondankbare lewe weerspreek dit elke oomblik. As Christene praat ons van die vrede van Christus, maar is maar te gereeld betrokke by konflikte en stryd. Ons praat van die eenheid wat daar in Christus tussen ons is, maar dan is die teendeel daarvan soms so sigbaar, selfs in ons eie huise, selfs in ons eie gemeente. Ons praat van versoening, maar wat ons met mekaar doen getuig die teendeel. Ons sing heerlik saam `Jesus neem die sondaars aan' maar ons suk­kel soms maar om hulle wat nie goed by ons inpas nie, aan te neem. Dan, broers en susters, maak ons die evangelie, en ook ons eie lewens, 'n toonbeeld van onbetroubaarheid en ongeloofwaardigheid, en moet ons nie verbaas wees as ander ons skepties aankyk nie.

Hoe verkry ons as God se kinders, broers en susters, geloofwaardigheid (in die algemeen), maar miskien ook weer geloofwaardigheid daar waar ons optrede gemaak het dat ander ons nie weer of meer wil vertrou nie?

Deur te leef, sê Paulus hier in 2 Korintiërs 1, soos God is. God se getrouheid, sê Paulus, is nie in dieselfde asem ja en nee nie. En Christus, sê Paulus, is die bewys hiervan. Hy was die ja aan die mens op al God se beloftes, Hy was die vervulling van al God se beloftes. En ons sal kan byvoeg: God het belowe Hy sal sy Gees aan sy kinders gee. En Hy het dit gedoen.

En hieroor kan ons tog nie twyfel nie, sê Paulus hier. Want Jesus het mens geword, het aan die kruis ons smet God kom versoen. En die Gees het ons ontvang toe ons tot geloof gekom het. Daarom is al God se beloftes ja en amen, sê Paulus.

Wat wil Paulus met hierdie argument bereik? Hy wil hê dat die gemeente van Korinte moet insien en raaksien dat dit hierdie betroubare God is wat hy dien, en dat Paulus, net soos God, ook betroubaar wil wees. Ook hy wil altyd daad by die woord voeg, ook hy wil altyd sy beloftes waar maak. Ook hy wil toon hy het hulle lief, soos God aan die hele wêreld in Christus getoon het. Ook hy wil iemand wees op wie hulle kan staatmaak, soos die sondaarmens op God kon en kan staatmaak. So is God, sê Paulus, en so wil hy ook wees. Betroubaar. Ook in die oë van alle mense. En Paulus wil hê dat die gemeente moet weet hy is so. Hulle moet weet hy is geloofwaardig. Sodat hulle dit sal glo as hy getuig dat God so is.

En presies so, broers en susters, sê Galasiërs 5:22, moet ons ook wees. In ons verhoudinge. In ons gesinne. In ons families. In ons huwelike. Teenoor ons kennisse. Met ons vriende. In die gemeentelike, kerklike, openbare, ekonomiese en politieke lewe. Mense moet op ons kan staatmaak, omdat hulle weet ons is eg, omdat hulle sien ons doen wat ons sê ons glo.

Baie sal ons natuurlik nie so sien nie. Nie glo dat ons werklik betroubaar is en wil wees nie. Soos hulle immers ook nie wil glo dat God betroubaar is nie. Soos die Korinte Paulus nie sonder meer wou sien en glo nie.

Daarom sal 'n mens met sommige mense soms 'n lang pad moet loop voor hulle sal glo jy is wat jy sê jy is. Paaie van agterdog en twyfel. Totdat hulle eendag deur ons dade oortuig sal word. 'n Pad wat soms, veral waar 'n mens wel teleurgestel het, baie lank, baie steil en baie moeilik kan en sal wees.

Dit is egter die enigste en al pad. Waar ons in ons eie harte, diep in ons eie harte, daar waar ons presies weet wie, hoe en wat ons sê, eerlik vir onsself sal kan sê: maar ek is opreg. My motiewe is suiwer. Ek soek werklik nie my eie belang nie. Ek soek werklik die belang van die een voor of langs my. My woorde is nie maar net praatjies om ander te beïndruk, my eie belang te bevoordeel of valse voorwendsels nie. Ek sal ander nie in die steek laat nie. Wat ek praat en belowe bedoel ek werklik, en ek sal dit doen. Ek sal my beloftes uitvoer. Ek sal die Here navolg. En soos Paulus in vers 23 by te voeg: Ek roep God daarvoor as getuie. Dan, broers en susters, dan is sake nie speletjies nie. Dan is iemand ernstig.

Wanneer ons hierdie gesindheid in onsself vind, broers en susters, wandel ons nie alleen in en deur die Gees nie, maar sal ons vir ander betroubaar wees. Dalk nie vir almal dadelik nie, maar tog later wel. Want waar woorde en dade mekaar aanvul, daar kan niemand iets teen 'n ander inbring nie
Amen