Psalm 27:1-6

Die huis van God (Preek 1)



(Die reeks preke wat volg is gebaseer op die werk van Lucado, M, The great house of God, Nashville: Nelson Place Publishers.  Erkenning word hiermee gegee wat betref die basisstruktuur van die preekreeks, asook sekere homiletiese opmerkings

Votum en seën
Lofsang: Lied 20:1-3 (Proefsangbundel)
Na wet: Gesang 265:1-3
Na belydenis: Lied 30:1-3 (Proefsangbundel)
Gebed
Skriflesing: Psalm 27:1-6
Sang: Gesang 45:1-2
Prediking:
Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
As iemand vir ons sou vra wat ons adres is, waar ons woon, wil hulle eintlik weet waar ons huis is. As hulle ons verder sou vra om ons huis te beskryf, sou ons dalk die volgende sê: daar is ‘n fondament, en die krake in die vloer sê dat die fondament iewers gekraak is. Die paar kolle op die plafon sê dat die dak iewers lek, ons kon nog net nie agterkom presies waar nie. Die mure is van baksteen gebou, en hier en daar is ‘n krakie te sien. Maar eintlik is die huis stewig en sterk. In die kombuis is die kaste nie altyd vol kos nie, en soms is daar nie koue water in die yskas om ons dors te les nie. Maar dit is die plek waar ons bly. Die plek waar daar darem die meeste van die tyd rus en vrede is. Waar ons veilig voel.

Vir die kind van God, broers en susters, is dit egter nie die enigste huis waarin ons bly, of dan, behoort te bly nie. Want daar is ook ‘n ander huis waarin ons kan bly. ‘n Huis, so solied, soos ons nog nooit vantevore gesien het nie. Eintlik ‘n wonderlike kasteel. Hierdie huis se dak lek nooit nie, die vloere en mure is nie gekraak nie, die fondament is nie iewers so effens gesak nie. Wat meer is, dit is ‘n huis met ‘n uitkyktoring wat jou elke dag nuwe perspektiewe op die lewe bied, dit is ‘n huis met ‘n kerkie binne wat jou elke dag nederig kan hou, daar is ‘n studeerkamer vol boeke (veral een), wat jou rigting gee, en bo alles, die kaste en yskas is altyd vol. Nooit sal jy in hierdie huis dors wees of honger kry nie.

Van watter huis praat ons hier? Dalk het u reg geraai: die huis van ons siel. Ons geestelike huis. Het ons al ooit, broers en susters, werklik in hierdie huis gaan bly? Die kanse is miskien maar skraal! Of anders gesê: het ons al ooit werklik gedink oor die behuising van ons siel? Wat meer is: ons bou met groot moeite huise vir ons liggaam om in te bly, maar ons siel word gehuisves in ‘n pondokkie waar ons siel in die koue nagte verkluim en ons papnat reën. Nie verniet dat die wêreld so wemel van koue harte nie.

Dit hoef egter nie so te wees nie. Ons hoef nie, wat ons siel betref, op die vlakte te bly nie. Dit is nie God se plan dat ons harte in die woestyn moet rondswerf nie. God wil hê dat ons uit die koue sal uitkom en onder sy dak sal kom bly. Want onder sy dak is baie plek. Wat meer is: aan sy tafel is daar vir u en vir my ‘n plek gedek, en in die woonkamer is daar vir ons ‘n gemakstoel gereserveer. God wil hê dat ons in sy huis moet kom bly.

Hoekom? Die antwoord is maklik: want Hy is ons Vader. En ons as sy kinders is bedoel om in ons Vader se huis te bly. Presies soos dit met ons as vaders, moeders en kinders is. Net soos ons hartseer is omdat ons kinders nie by ons wil bly nie, so is dit met God. En net soos enige plek vêr van ons huise vir (ons) kinders gevaarlik is, so is dit met ons en God.

Wat meer is, broers en susters, is dat God nie alleen wil hê dat ons by Hom sal bly nie, Hy wil hê dat ons in Hom sal bly. Ja, u het reg gehoor. Nie maar net by Hom nie, maar in Hom. Ons geestelike huis is nie maar net God se huis nie. Dit is God self.

Daarom nooi God ons nie om by Hom te kom bly nie, maar in Hom. Hy is ons geestelike huis. Hoor hoe mooi sê Paulus dit in Handelinge 17:28: ‘(W)ant in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons’. Moet nooit dink, my broer en suster, dat u van God geskei is nie. Dat Hy aan die bopunt van ‘n lang leer is en ons aan die onderpunt nie, dat Hy op Venus sit en ons op planeet aarde nie. Want omdat God Gees is, (Joh 4:23) is Hy by ons: God self is ons dak, ons muur, ons fondament.

Daarom: God kan ons woonplek wees. Meer nog: Hy wil ons woonplek wees. Maar hoor mooi: God stel nie daarin be­lang om vir ons ‘n naweekhuisie in die berge, of ‘n rondaweltjie iewers in die somer te wees nie. Hy wil ook nie vir ons ‘n vakansiehuis by die see of ‘n aftreeplekkie wees nie. Hy soek ons vir altyd onder sy dak.

Dit wat ek vanaand hier vir u probeer sê, broers en susters, mag miskien vir u ‘n nuwe gedagte wees, dalk selfs ‘n vreemde gedagte. Want ons dink dikwels aan God as ‘n bewerker van wonderwerke, nie as ‘n woning nie. Ons dink aan Hom as die groot Skepper wat ons in heiligheid moet aanroep, nie as ‘n huis om in tuis te gaan nie. God wil egter vir ons meer as dit wees. Hy wil die Een wees in wie ons leef, beweeg en bestaan.

Hy is altyd by ons, en Hy wil hê dat ons altyd by Hom sal wees. En Dawid, die man na God se hart, soos hy in die Ou Testament beskryf word, het hierdie begeerte van God verstaan. Want kyk watter begeerte spreek hy uit in Psalm 27 wat ons gelees het: ‘Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag: dat ek my lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe en daaroor na te dink in sy tempel. Op die dag van gevaar sal die Here my wegsteek in sy huis, my veilig laat skuil in sy woonplek, my hoog op ‘n rots laat staan’.

Wat is hierdie huis van God waarna Dawid hier verlang? Beskryf hy hier ‘n werklike huis, of selfs die tempel, die kerk, die plek van samekoms? Verlang hy hier na ‘n gebou met vier mure en ‘n deur waardeur hy kan ingaan. Nee, kom ons lees mooi wat hier staan. Wanneer hy in Psalm 27 sê dat hy sy lewe lank in God se huis mag woon, of in Psalm 23:6 sê dat hy in die huis van die Here sal bly tot in lengte van dae, praat hy nie van ‘n gebou nie, maar praat hy van God, en meer spesifiek, van God se teenwoordigheid, om in God se teenwoordigheid te kan wees. Buitendien, in Handelinge 17:24 lees ons baie duidelik dat ‘God nie in tempels woon wat deur mense gemaak is nie’. Daarom: Dawid smag om in die huis van sy Vader te wees, om in God te wees, om elke oomblik in God se teenwoordigheid te wees. Daar wil hy sy siel laat woon, tot rus laat kom, laat vertoef.

Nou weet ek maar te goed, broers en susters, dat u miskien by uself kan dink en sê: maar dit is darem Dawid van wie hier gepraat word. Hy was ‘n digter en ‘n prins en ‘n seun wat ‘n reus doodgemaak het, hy was ‘n koning met al die voordele daaraan verbonde. Hy het nie motor- en huispaaiemente en babadoeke en ‘n baas gehad wat soos ‘n draak in sy nek geblaas het nie. Ek sal ook graag in God se huis wil bly, maar op hierdie oomblik is ek in die harde realiteite van die lewe vasgevang.

U moet my maar vergewe, broers en susters, maar ek verskil. Ons is nie maar net vasgevang in die realiteit van die lewe nie. Inteendeel, ons is elke oomblik van ons lewe nie verder as een tree van God se huis af nie, van God se teenwoordigheid af nie. Waar jy ook al is. Hoe laat dit ook al is. Of dit Donderdag by die kantoor of Saterdag langs jou kind se sportveld is, jy is net ‘n besluit weg van die teenwoordigheid van God. Jy hoef nie jou straatadres of posadres te ver­ander nie; al wat jy moet verander is jou persepsie.

Wanneer jy in die verkeer vasgevang sit, kan jy, as jy in hierdie huis van God woon, in God se kapel ingaan. Wanneer die versoekings op jou pad te veel word, kan jy agter die muur van God se krag gaan skuil. En wanneer ander jou beledig en verkleineer, kan jy maar gerus op God se swaaibank op sy stoep gaan sit. Hy sal daar by jou sit om jou te vertroos.

Hierdie huis van God, broers en susters, is egter nie van bakstene gebou nie. Jy sal sy huis nie op ‘n kaart kry nie. Sy huis word nie geadverteer in die brosjure van ‘n eiendomsagent nie. Waar jy dit wel sal kry, is in jou Bybel. En al besef jy dit nie, jy het dit al vantevore in jou Bybel gekry. Jy ken al reeds die name van die vertrekke van God se huis, en jy weet hoe die grondplan daarvan lyk. Die kanse is egter goed dat jy nog nooit vantevore daaraan gedink het as ‘n huisplan nie. Jy het dalk eerder die verse beskou as ‘n gebed. En jy was reg. Want die grondplan van God se huis, en die verskillende vertrekke daarin, lyk so:

Ons Vader wat in die hemel is;
laat U naam geheilig word;
laat u koninkryk kom;
laat u wil ook op aarde geskied;
net soos in die hemel.
Gee ons vandag ons dag se brood;
en vergewe ons ons oortredings
soos ons ook dié vergewe
wat teenoor ons oortree;
en laat kom ons nie in versoeking kom nie;
maar verlos ons van die Bose.
Aan u behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid
tot in ewigheid.
Amen

Kinders memoriseer hierdie gebed, geestelikes dra dit voor, studente bestudeer dit en teoloë skryf daaroor. Maar ek wil u vanaand uitdaag om saam met my in die volgende aantal weke iets anders daarmee te gaan doen.

Kom ons beskou dit as die grondplan van ons geestelike huis, die grondplan van God se huis waarin hy wil hê ons siel moet woon. Want hierdie woorde van die Onse Vader, broers en susters, sê baie meer as om maar net te sê wat ons vir God in die gebed moet sê; hierdie woorde sê veral vir ons hoe ons saam met God kan leef, hoe ons in God se huis kan leef.

Van volgende keer af gaan ons begin om saam in hierdie huis van God rond te kyk. Ons gaan elke vertrek daarin besoek. En waar ons gaan begin, is in die woonkamer van hierdie huis. Meer spesifiek, ons gaan by die kaggel in die woonkamer begin, en nog meer spesifiek, by ‘n skildery wat bo die kaggel in God se huis hang. God nooi almal uit wat in sy huis inkom om daar te begin. By daardie skildery wat vir Hom baie kosbaar is. Want by daardie skildery begin almal wat die huis inkom, om die waarheid van ons hemelse Vader te ontdek.

Ek hoop hierdie reis deur God se huis, wat ook ons huis moet word, vir u net so interessant sal wees as wat dit vir my is en was.
Amen

Dankgebed in die vorm van sang: Gesang 294
Slotsang:
Slotseën